NARRATOLOGIE

Die term narratologie word soos volg gedefinieer: “narratologie is de theorie van verhalende teksten” (Bal, 1980: 12); “Narratology is the study of the form and functioning of narrative” (Prince, 1982a: 4).

Die bestudering van verhale is baie oud en gaan in ons Westerse beskawing terug tot by Plato en Aristoteles. Die objek van ondersoek is genoem EPIEK, fiksie (vgl. FIKTIWITEIT), prosa, of nader omskryf: epiese gedigte en dramas, romans, novelles, verhale en kortverhale. Hierdie soorte literatuur is ondersoek, ontleed en beskryf, en daar is baie geskryf oor die poëtika van verhalende literêre soorte. Die teoretiese besinning oor verhale in watter vorm ook al kan met die algemene term verhaalteorie aangedui word.

In die 20e eeu het daar ‘n nuwe belangstelling in ou en nuwe verhale gekom met die werk van mense soos Propp en Jolles (Propp, 1971; Jolles, 1956). Die baanbrekerswerk van die RUSSIESE FORMALISTE in die literatuurstudie, veral Tomaševskij se essay “Thematics”, en Saussure in die linguistiek, het die grondslag gelê vir die STRUKTURALISTIESE en semiotiese ondersoek van die literatuur (Lemon & Reis, 1965; Saussure, 1960).

Sedert die vyftigerjare was daar ‘n geweldige opbloei in die belangstelling vir die strukturalistiese ondersoek van verhale. Lévi-Strauss se strukturalistiese antropologie het in Frankryk groot invloed uitgeoefen ook op die bestudering van die literatuur. Die Franse strukturaliste, Bremond, Greimas, Todorov, Barthes en Genette, was spesifiek in die verhaalstruktuur en die binnetekstuele verhoudinge van verhale geïnteresseer. Hulle het bekend geword as die Franse strukturalistiese narratoloë, en hulle narratologiese studies het aanleiding gegee tot en as prikkel gedien vir die ontwikkeling van die narratologie as ‘n gespesialiseerde en spesifieke vorm van die studie van verhalende tekste (Fokkema & Kunne-Ibsch, 1978: 61-71; Lévi-Strauss, 1976; Barthes, 1977; Bremond, 1977; Greimas, 1971; Todorov, 1977; Genette, 1980). (Vgl. NOUVELLE CRITIQUE.).

Alle bestaande verhaalteorieë staan nie bekend as narratologie nie. Die Anglo-Amerikaanse verhaalteorie tot in die sestigerjare asook die Duitse verhaalteorie het selfstandig ontwikkel, los van die strukturalisties georiënteerde narratologie (Du Plooy, 1986, hfst. 1).

Die invloed van die Franse narratoloë het egter wyd uitgekring, en literatuurwetenskaplikes en linguiste oor die wêreld het oor die laaste 10 tot 15 jaar in die narratologie geïnteresseerd geraak.

Die terrein van ondersoek van die narratologie is verhalende tekste, waar tekste beskou word as betekenisvolle tekenstelsels, wat dus nie tot een medium beperk is nie. Die begrip verhalende tekste sluit in: mondelinge verhale (vgl. MONDELINGE LITERATUUR) (selfs skinderstories), geskrewe verhalende taaltekste wat fiksioneel (vgl. FIKTIWITEIT) van aard is (ongeag kwaliteit, d.w.s. sowel verstrooiingslektuur (vgl. TRIVIAALLITERATUUR) as literatuur), nie-fiksionele geskrewe taaltekste wat verhalend is soos koerantberigte, nuusverslae, ander verslae, tydskrifartikels, geskiedskrywings, ens., maar ook verhale in beeld soos TELEVISIEDRAMAS en films, dokumentêre en opvoedkundige televisieprogramme en films wat verhalend van aard is. Strookprente en strookfilms, ‘n skildery of ‘n reeks skilderye wat ‘n verhaal vertel, danse (simboliese volksdanse en klassieke ballet) en musiekstukke of musieksiklusse kan almal op grond van sekere verhalende eienskappe verhalende tekste genoem word.

Die narratologie word beoefen deur literatore en linguiste wat primêr in taaltekste geïnteresseer is. Die kommunikasiekunde, opvoedkunde en sielkunde maak ook ‘n studie van die narratologie, want die verhaalstruktuur toon ooreenkomste met sekere menslike leer-, denk-, en onthouprosesse.

Kennis van die verhaalstruktuur maak die gebruik van die kommunikasiemedia, opvoedkundige programme en onderrigmetodes doeltreffender, terwyl die psigoanalise en -terapie grootliks baat vind by ‘n gedetailleerde kennis van daardie werkinge van die menslike gees wat soos verhale met chronologie, logika en kousaliteit te make het.

Antropoloë, semiotici (wat die SEMIOTIEK as ‘n oorkoepelende dissipline sien), teoloë en filosowe doen almal o.a. navorsing oor die narratologie in die mate wat dit by hulle spesifieke vakgebiede aansluiting vind (vgl. bv. Berlin, 1983; Journal of Pragmatics, 6, 1982; Doležel, 1972; Doležel, 1976a; Doležel, 1976b).

Die terrein van die ondersoek van die narratologie is enersyds wyer as die terrein van die tradisionele verhaalteorie, maar andersyds enger. Die verhaalteorie werk net met geskrewe en mondelinge verhalende taaltekste en is uiteraard spesifiek geïnteresseer in artistieke geskrewe verhale, of dit nou ROMANS, NOVELLES of KORTVERHALE is. Die verhaalteorie is egter gemoeid met al die eienskappe en variasies van geskrewe verhale en nie slegs met die verhalende eienskappe nie. Volgens die oorspronklike definisies is die narratologie slegs in die verhalende eienskappe van verhalende tekste geïnteresseer, sodat sake soos artistieke kwaliteit of ideologiese agtergrond slegs van sekondêre belang is. (Dit sluit egter nie uit nie dat die dissipline kan ontwikkel en aangepas word om buite-tekstuele en kontekstuele gegewens te hanteer.) Die narratologie werk met alle, en ook alle moontlike, verhalende tekste, ongeag die medium waarin die verhaal vertel word, soos hierbo uiteengesit.

Die narratologie is ‘n tipies strukturalistiese dissipline en wil met eksakte definisies op ‘n wetenskaplike manier ‘n sistematiese geheel van algemene uitsprake stel, waardeur die strukturele kenmerke van alle verhalende tekste en ook alle moontlike verhalende tekste beskryf kan word. Daar moet kenmerke geformuleer word waarmee die korpus tekste afgebaken kan word, en dit word gedoen deur soveel moontlik verhalende tekste te ondersoek en tot ‘n beskrywing van ‘n narratiewe stelsel te kom. Dit veronderstel dat ‘n oneindige aantal verhalende tekste beskryf kan word deur ‘n eindige aantal begrippe, wat ook die narratiewe stelsel as sodanig beskryf.

Die narratologie word druk beoefen. In 1979 is ‘n simposium, Synopsis 2, oor die onderwerp Narrative Theory and Poetics of Fiction gehou by die Porter Institute for Poetics and Semiotics aan die Universiteit van Tel Aviv. Die referate wat hier gelewer is, verskyn in drie uitgawes van die tydskrif Poetics Today, nl. vol. 1(3), 1(4) en 2(2), en hierdie drie uitgawes is uitsluitend aan die narratologie gewy. Daar is uiters insiggewende en gespesialiseerde artikels oor ‘n verskeidenheid onderwerpe rakende die narratologie in hierdie tydskrifte. Probleemareas soos die kwessie van verhaalgrammatikas (Prince, 1980) (vgl. STORIEGRAMMATIKA) of die probleme rondom die begrip FOKALISASIE (Bronzwaer, 1981; Bal, 1981) word bespreek. Die waarde van tradisionele begrippe soos FABULA EN SJUŽET, waarheid en outensiteit vir die kontemporêre narratologiese navorsing word ondersoek (vgl. Culler, 1980; Doležel, 1980). Verder word interessante aspekte van verhale narratologies beskryf en ontleed, bv. dinamiese struktuur (Kloepfer, 1980), RUIMTE (O’Toole, 1980), herhaling (Rimmon-Kenan, 1980) en tekssamehang (Reinhart, 1980). “Speakers, voices, positions” is die onderwerp van ‘n hele uitgawe van Poetics Today (vol. 2(2)).

Die Amerikaanse tydskrif Style wy in 1983 ook ‘n hele uitgawe aan die narratologie (vol. 17(2)) en baie belangrike aspekte van die narratologie word onder oë geneem, bv. die ideologiese (vgl. IDEOLOGIE) grondslag binne die teks (Hamon, 1983), die nadere omskrywing en toepassing van die begrip MAKROSTRUKTUUR in tekste (Doležel, 1983), verhaalafsluiting (Mortimer, 1983), bskrywing in verhalende tekste (Van Rossum-Guyon, 1983) en weer eens fokalisasie en verteltegniek (Bal, 1983; O’Neal, 1983).

Wanneer die narratologie in ander dissiplines gebruik word, word die werkwyse vanselfsprekend aangepas by die spesifieke behoeftes van daardie dissipline (vgl. De Beaugrande, 1982).

Gerald Prince (1982a), Mieke Bal (1980), Shlomith Rimmon-Kenan (1983) en Seymour Chatman (1978) gee almal breedvoerige uiteensettings van watter begrippe en watter werkwyses gebruik kan word in ‘n narratologiese ondersoek van artistieke literêre geskrewe taaltekste, wat aantoon dat die narratologie ‘n stimulerende en uitvoerige studie van literêre verhale moontlik maak. Nuwere teoretiese ontwikkelinge maak ook aanpassings (soms ingrypend van aard) in die narratologie t.o.v. sowel benadering as werkwyse. So is daar DEKONSTRUKTIEWE, IDEOLOGIESE, psigoanalitiese en FEMINISTIESE narratologiese studies wat teoreties en analities met verhalende tekste omgaan (vgl. die werk van Julia Kristeva).

 

Hier is die narratologie as belangrike aspek van die Strukturalisme oorsigtelik behandel. Die volgende bydraes gaan uitvoeriger in op ander fasette van verhalende tekste:

AKTANT EN AKTANSÏELE MODEL

ANACHRONIE OF TEMPORELE VERHOUDINGE IN NARRATIEWE TEKSTE

DIëGESIS (baie belangrik)

DISKOERS

FABULA EN SJUŽET

FOKALISASIE

GESKIEDENIS/STORIE/VERHAAL EN TEKS

INNERLIKE MONOLOOG

KARAKTER/KARAKTERISERING

MOTIEF

NARRATIEWE WEERGAWES/MODUSSE

PERSPEKTIEF IN DIE PROSAKUNS

PLOT

RAAMVERTELLING

RUIMTE (EPIEK)

SEMANALISE

STORIEGRAMMATIKA

TYD IN DIE LITERATUUR

VERTELLER (EPIEK)

Raadpleeg ook algemene bydraes soos:

BEWUSSYNSTROOMVERHAAL, EINFACHE FORMEN, EPIEK, FIKSIE, KORTKUNS, KORTKORTVERHAAL, KORTVERHAAL, KRONIEK, MITE IN DIE MODERNE ROMAN, NOUVEAU ROMAN (NUWE ROMAN), OUTEUR (EPIEK), PIKARESKE ROMAN, PROSAGEDIG, REISVERHAAL, RITME (IN DIE PROSA), ROMAN, SAGA, SAGE, WETENSKAPSFIKSIE, SIKLUS IN DIE PROSA, SINTAKSIS (VAN DIE PROSA), SKETSTAALHANDELING EN DIE LITERATUUR en VERTELLING.

 

Bibliografie

Bal, M. 1978/1980. De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho.

Bal, M. 1981. Notes on narrative embedding. Poetics Today, 2(2).

Bal, M. 1983. The narrating and the focalizing: a theory of the agents in narrative. Style, 17(2).

Barthes, R. 1974. SIX. New York: Hill & Wang.

Barthes, R. 1977. Introduction to the structural analysis of narratives. In: Barthes, R. Image-Music-Text. Glasgow: Fontana.

Berlin, A. 1983. Poetics and Interpretation of Biblical Narrative. Sheffield: Almond Press.

Bremond, C. 1977. De logika van de narratieve mogenlijkheden. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken.

Brink, A.P. 1987. Vertelkunde. Pretoria: Academica.

Bronzwaer, W. 1981. Mieke Bal’s concept of localization. Poetics Today, 2(2).

Chatman, S. 1978. Story and Discourse. Ithaca: Cornell University Press.

Culler, J. 1980. Fabula and sjužet in the analysis of narrative. Poetics Today, 1(3).

De Beaugrande, R. 1982. The story of grammars and the grammar of stories. Journal of Pragmatics, 6.

Doležel, L. 1972. From motifemes to motifs. Poetics, 4.

Doležel, L. 1976a. Narrative semantics. PTL, 1.

Doležel, L. 1976b. A scheme of narrative time. In: Matejka, L. & Titunik, I.R. (eds). Semiotics of Art: Prague School Contributions. Cambridge: MIT Press.

Doležel, L. 1980. Truth and authenticity in narrative. Poetics Today, 1(3).

Doležel, L. 1983. International function, invisible worlds, and Franz Kafka. Style, 17(2).

Du Plooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1978. Theories of Literature in the Twentieth Century. London: Hurst.

Genette, G. 1980. Narrative Discourse. Oxford: Blackwell.

Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik. Braunschweig: Vieweg.

Hamon, P. 1983. Text and ideology: for a poetics of the norm. Style, 17(2).

Jolles, A. 1930/1956. Einfache Formen. Halle: Niemeyer.

Kloepfer, R. 1980. Dynamic structures in narrative literature. Poetics Today, 1(4).

Lemon, L.T. & Reis, M.J. (eds). 1965. Russian Formalist Criticism. Lincoln: University of Nebraska Press.

Lévi-Strauss, C. 1976. Structural Anthropology. New York: Basic Books.

Mortimer, A.K. 1983. Narrative closure and the paradigm of self-knowledge in La princesse de Cleves. Style, 17(2).

O’Neal, M.J. 1983. Point of view and narrative technique in the fiction of Edith Wharton. Style, 17(2).

O’Toole, L. 1980. Dimensions of semiotic space in narrative. Poetics Today, 1(4).

Prince, G. 1980. Aspects of a grammar of narrative. Poetics Today, 1(3).

Prince, G. 1982a. Narratology: the Form and Functioning of Narrative. New York: Mouton.

Prince, G. 1982b. Narrative analysis and narratology. New Literary History, 13(2).

Propp, V. 1968/1971. Morphology of the Folktale. Austin: University of Texas Press.

Reinhart, T. 1980. Conditions for text coherence. Poetics Today, 1(4).

Rimmon-Kenan, S. 1980. The paradoxical status of repetition. Poetics Today, 1(4).

Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative Fiction: Contemporary Poetics. London: Methuen.

Saussure, F. de. 1960. Course in General Linguistics. London: Owen.

Todorov, T. 1977. The Poetics of Prose. Oxford: Blackwell.

Tomaševskij, B. 1965. Thematics. In: Lemon, L.T. & Reis, M.J. (eds). Russian Formalist Criticism. Lincoln: University of Nebraska Press.

Van Rossum-Guyon, F. 1983. Aspects and functions of fictional description: Balzac’s The Village Priest. Style, 17(2).

 
Heilna du Plooy