SEMANALISE

Julia Kristeva gebruik sowel Freudiaanse as Lacaniaanse psigoanalitiese konsepte om ‘n teorie van die sprekende subjek, of semanalise, op te bou. Vir Kristeva moet die teorie van die sprekende subjek kan rekenskap gee van die kwessie van ‘n subjek in ‘n geskiedenis, en semanalise is dan ‘n interartikulering van psigoanalise en materialisme. In ooreenstemming met die Lacaniaanse beginsel dat die subjek in taal bestaan, sal die koppelvlak tussen psigoanalise en materialisme ‘n SEMIOTIEK van taal wees. Kristeva se werk oor die teken self, en op die gebied van die semiotiek oor die algemeen, gee ‘n verdere infleksie aan Lacan se kommentaar oor die Saussuriaanse teken. Kristeva onderneem ‘n kritiek van die teken ten einde aan te toon dat dit geensins ‘n stabiele en selfgenoegsame eenheid van kommunikasie is nie, maar in werklikheid aan alle kante te bowe gegaan.word deur ‘n proses, en wel ‘n proses van betekening en van die subjek. Die doelwit van die teorie is om die tipe subjek te analiseer wat geïmpliseer word deur betekeningsisteme in ‘n poging om subjek en betekeningsisteem te transformeer.

In La révolution du langage poétique (1974a) sê Kristeva dat die studie wat sy gedoen het, teenoor Formalisme en POSITIVISME staan. In die voorwoord tot hierdie werk vind menings weerklank wat sy uitgespreek het in werke soos Seméiotikê (1969): Studies wat hul studieobjek skei van dit waardeur hulle voortgebring word, versterk bloot die status quo en volbring bloot hul eie determinering deur o.a. (epistemologiese) faktore soos die kapitalistiese produksiewyse en ‘n liberaal-humanistiese politieke etiek. Die linguistiek, maar ook vroeë ontwikkelinge in die semiotiek, wat swaar steun op die linguistiek, formaliseer taal en soek na ‘n waarheid van “statements suspended nowhere” (1974a: 11); deur die uitsluiting van historisiteit skyn sulke stellings ideale “tokens” te wees van ‘n ideale tipe; deur die uitsluiting van die subjek word die Cartesiaanse subjek, vir wie die taalstrukture vanselfsprekend en ingebore is, noodwendig geïmpliseer en gewoon veronderstel. Die sluiting van formele semiotiek dui ook op ‘n fragmentering en isolering van idiolekte en studieterreine; taal word geformaliseer as iets wat duidelik afgeskeie is van ‘n sosio-historiese konteks, en van ‘n subjek wat bloot net daarvan gebruik maak; poëtiese taal is bloot ‘n onreëlmatige gebruik van kommunikatiewe taal, wat nietemin geformaliseer kan word in die studies van bv. die strukturaliste.

Semio-strukturalistiese analises word dus, deur hulle afhanklikheid van die linguistiese model, op twee maniere beperk: in die eerste plek word hulle beperk tot ‘n suiwer deskriptiewe studie van betekeningsisteme en in die tweede plek kan hulle nie die sprekende subjek verklaar nie. Dit lei tot ‘n onvermoë om betekeningsisteme in hul materialiteit te verklaar, asook tot ‘n chroniese onvermoë t.o.v. die literêre teks wat nie heeltemal binne die linguistiese model of selfs binne kommunikatiewe interaksie fungeer nie. Waarvan ‘n klassieke semiotiek ten slotte nie rekenskap kan gee nie, is produksie of die produktiwiteit van poëtiese taal, aangesien dit op die teks as (linguistiese) produk fokus. So is die belangrikste ontdekking van die semiotiek, nl. dat elke sosiale praktyk grotendeels op dieselfde manier beteken as ‘n taal, ook sy belangrikste beperking. Wat dus nodig is, is ‘n betekenisteorie wat nie beperk sal wees tot ‘n beskrywing van die semiotiek van sisteme nie, maar wat horn sal uitdruk as ‘n kritiek van hierdie sisteme. Dit is hierdie betekenisteorie wat die vorm aanneem van ‘n teorie van die sprekende subjek, of semanalise: die studie van die proses wat deur die subjek en taal in ‘n sosio-historiese konteks loop.

Omdat poëtiese taal vir Kristeva die bevoorregte gebied is waardeur die ekonomie van die subjek in en deur taal gedramatiseer word, is dit by uitstek geskik vir die soort studie wat sy voorstel: d.w.s. om die verskyning en deurbreek van ‘n betekeningsisteem aan te toon wat terselfdertyd gebonde is aan kommunikatiewe taal en dit verbygaan, dit transformeer juis deur die feit dat dit sy subjek impliseer en sowel opbou as vernietig. Taal en subjek word nie as skeibare entiteite gesien nie, en hulle kan ook nie betekenisvol bestudeer word sonder om die sosio-historiese in ag te neem nie. Die Marx-Freud-artikulasie wat Kristeva voorstel vir die studie van poëtiese taal, is belangrik juis omdat dit ons toelaat om die interdeterminerings van taal, subjek en maatskappy te dink. So bied dit ‘n alternatief vir die fragmentering van studie in die geesteswetenskappe. Deur hierdie artikulasie word dit moontlik om aan poëtiese taal te dink, nie as ‘n anomalie nie, maar as ‘n translinguistiese betekeningspraktyk waarin betekenis en die subjek self slegs momente in ‘n proses is. Hierbenewens bied dit ‘n materialistiese basis vir hierdie translinguistiese betekeningspraktyk wat bedryf word via Freud, deur wie se werk ‘n mens ‘n subjek kan konsipieer wat saamgestel is uit enersyds bio-fisiologiese drange en andersyds sosio-familiale beperkings, en die tussenganger hiervan is taal.

In haar bespreking van poëtiese taal ken Kristeva ‘n bevoorregte posisie toe aan die tekste van die AVANT-GARDE en gee veral aandag aan die werke van Lautréamont, Mallarmé en later Sollers, Céline en Duras. Vir Kristeva ontlok hierdie tekste ‘n “ontploffing” van DISKOERS en van die subjek binne sy IDEOLOGIESE beperkings, en hulle kan dus beskou word as bewys van ‘n sosiale krisis op ‘n oppervlakkige peil. Kristeva wys egter self daarop (1974a: 13) dat drie vrae omtrent hierdie “ontploffing” gevra moet word:

  1. Indien, soos blyk uit hierdie tekste, modifikasies van taal ‘n modifikasie van die status van die subjek behels, dan is genormaliseerde taal self een manier waarop die proses van betekenisgewing of signifiance (d.w.s. die liggaam, die dinge daarbuite en taal) geartikuleer word. Hoe word hierdie dinge geartikuleer? Wat is hulle onderlinge verhouding in die betekeningspraktyk?
  2. Dit is ook duidelik dat aangesien hierdie tekste hoegenaamd moontlik is, die kapitalistiese produksiewyse hom nie langer streng binne die norme van taal en ideologie hoef te hou nie, maar in der waarheid die proses as sodanig in kunsvorme kan integreer wat in werklikheid die voorwaardes van moontlikheid in daardie taal en daardie ideologie kan blootlê. Wat is die omvang van die integrasie en in watter omstandighede word dit onmisbaar, gesensureer, onderdruk of marginaal?
  3. Op welke historiese moment steun of noodsaak sosiale uitruiling die manifestasie van die betekeningsproses in sy poëtiese of esoteriese aspek? Dit wil sê, in watter omstandighede verskuif signifiance werklik die grense van ‘n betekeningspraktyk (en tree dit dus so op in korrelasie met ‘n sosio-ekonomiese mutasie of transformasie), en in watter omstandighede bly dit eerder “the gentle gratification of an order which uses it so as to extend and perpetrate itself and render itself more supple”? (1974a: 14)

Wat dus in hierdie vrae op die spel is, is die doelmatigheid van die teks as “revolusie”. Dit is miskien juis om die volkome en onmiddellike emaskulasie van poëtiese taal te voorkom dat die teks en sy revolusie noukeurig begrens is: poëtiese taal doen vir die subjek wat ‘n politieke revolusie in die maatskappy sal inbring. Daar is egter nog steeds baie op die spel: ‘n revolusie van poëtiese taal sou impliseer dat dit moontlik is om die verhouding van die subjek tot die betekeningsisteem te transformeer.

Poëtiese taal word as ‘n praktyk gedefinieer omdat dit sy subjek impliseer in sy dubbele inbedding (drange/sosio-familiale beperkinge). Omdat dit so is, artikuleer dit die werking van die drange en die *kode van sosiale en linguistiese kommunikasie, maar behou hulle heterogeniteit. Kardinaal in Kristeva se praktyk is dus hierdie ontmoeting tussen twee heterogene prosesse: sonder die behoud van heterogeniteit kan die twee prosesse nie deursnydend wees en die een in ‘n dialektiese verhouding deur die ander loop nie – hulle sal eenvoudig inmekaarvloei. In so ‘n geval sal daar geen moonlike transformasie wees nie, wat juis dit is wat praktyk omskryf: “All functions which suppose a frontier (in this case the fissure created by the act of naming and the logiolinguistic synthesis which it sets off), and the transgression of that frontier (the sudden appearance of new signifying chains), are relevant to any account of signifying practice, where practice is taken as meaning the acceptance of a symbolic law together with the transgression of that law for the purpose of renovating it” (1985: 217).

Hierdie omskrywing van praktyk is die skakelpunt van die studie wat Kristeva in La revolution gedoen het. Indien dit wat semanalise van DEKONSTRUKSIE onderskei, is om ‘n sprekende subjek in ‘n oneindigende proses van betekening te impliseer asook die implikasies daarvan vir die subjek in ‘n sosio-historiese konteks, is dit wat dit onderskei van skisoanalise, die aandrang op die aanvaarding van die simboliese wet ten einde dit te oortree. Dit word in haar teorie weerspieël deur die kardinale belang wat aan die tetiese fase toegewys word, wat ooreenkom met die spieëlfase en die kastrasiekomplek en waardeur die subjek tot die simbool vorder.

Seméiotikê: recherches pour une sémanalyse (1969) is ‘n versameling essays waarin die vraag na die funksionering van poëtiese taal, in teenstelling met suiwer kommunikatiewe taal, ter sprake gebring word. Dit is te uitgebreid en kompleks om hier oorsigtelik te behandel, maar geen volledige begrip van Kristeva se werk is daarsonder moontlik nie. Die wesenlike punt is haar siening van poëtiese taal as negatiwiteit en as paragrammatisme. “Pour une sémiologie des paragrammes” is ‘n poging om aan te toon dat poëtiese taal nie ‘n anomalie of ‘n afwyking van die taalkode is nie, maar volgens ‘n ander logika fungeer omdat dit translinguisties is. Poetiese taal kan miskien presieser omskryf word as die oneindigheid van die taalkode, aangesien al die moontlikhede van daardie kode slegs in poëtiese taal ondersoek en geaktualiseer kan word. Terwyl kommunikatiewe of rasionele taal volgens ‘n bivalente 0―1-logika fungeer (d.w.s. volgens die wette van niekontradiksie en die uitgeslote middel), fungeer paragrammatisme volgens komplementêre logika: of, anders gestel, ‘n logika wat sowel die lineêre, bivalente logika van “gewone” taal as die oneindigheid van die taalkode is (dit wil sê 0—2-logika). Die samestellende komplementariteit van die paragram bepaal alle aspekte van poëtiese taal (foneties, grafies, sintakties, ens.) en is onderliggend aan die feit dat die paragram sowel die wet as die vernietiging of oortreding daarvan bevat. Juis dit laat die produksie van “nuutheid”, of nuwe betekeningsmoontlikhede in die paragram toe.

Die paragram gaan hand aan hand met die wesenlike negatiwiteit van poëtiese taal (gepaard met die doodsdrang) en met ‘n konsepsie van die subjek wat nòg die tot eenheid geworde sprekende subjek van kommunikatiewe rasionaliteit is, nòg geheel en al die onderdrukte onbewuste van ‘n gesplete sprekende subjek.

(Dit lyk miskien na ‘n verrassende skuif in Kristeva se teorie, maar dit is belangrik in die lig van haar poging om te definieer watter tipe subjek geïmpliseer word deur die betekeningspraktyk van kommunikatiewe rasionaliteit en deur dié van die paragram. Volgens ‘n Freudiaanse psigoanalise word die gesplete sprekende subjek daargestel deur die werking van ontkenning, wat aan die Hegeliaanse Aufhebung herinner, aangesien dit te triadies is – ‘n onderdrukte element word genegeer maar behou en bly so onderdruk. Die onbewuste word daargestel of kom na vore in ooreenstemming met hierdie bewuste oordeel. Deur ontkenning verkry die bewuste ‘n mate van selfstandigheid van die beperkinge van die genotbeginsel: ontkenning wat op presies dieselfde wyse as die Aufhebung werk, word dan die basis van die samestelling van die “intelligente” oordelende subjek, die sprekende subjek wat die woord (Logos) en die teken impliseer. Die terme wat dus saamgedink moet word in die wêreld van die Logos, is: triadiese negasie – 0—1-logika – teken – sprekende subjek. As enigeen hiervan versteur word, bring dit ‘n ooreenstemmende versteuring in die hele bouwerk mee. Die onbewuste, wat noodwendig deur die sprekende subjek geïmpliseer word, is die een “opstandige” sone en dit is juis in daardie sone waarin die onderdrukte term – die vroeër logiese term – geleë is. Dit beteken egter nie dat die onbewuste die gebied is wat met ‘n suiwer paragrammatiese rotate ooreenstem nie, aangesien die onbewuste omskryf word vanuit die perspektief van die rasionele subjek as dit wat die residu’s bevat wat nie in rasionele diskoers kan optree nie. Dit wil dus voorkom of dit rasionaliteit is wat optree en waarvan die onbewuste in die droom en in die fantasie ‘n mate van vryheid verkry, maar tog daaraan gebonde bly. Dit is presies dieselfde wyse as waarop die poëtiese teks gesien word deur ‘n samelewing wat deur die Logos gereguleer word, of selfs deur die tekste wat binne die perspektief bly, en fungeer as ekspressie en as representasie – as teken. Om die rede deel die realistiese teks, of alle ekspressiewe tekste, die struktuur en funksie van die FANTASIE. Die betekeningspraktyk van die paragram kan dus nie deur die sprekende subjek beheer word nie – dit is eerder ‘n voortbring van betekening, wat nie die subjek soos ons dit ken, impliseer nie. As die verhouding van die teken tot die denotatum gereduseer word tot zero, soos wat in die paragrammatiese netwerk gebeur, wat slegs konnotatiewe effekte oplewer, word die subjek, wat terselfdertyd as die denotatiewe teken verskyn, ook tot zero gereduseer. Die ruimte van die paragram word gereël deur ‘n veralgemeende negatiwiteit, wat die subjek oplos en ‘n ruimte aanwys waarin betekenaars mekaar ophef. Die subjek wat deur die paragram geïmpliseer word, is die zerograad van die subjek – ‘n zerologiese subjek. Die betekenings wat deur hierdie strukturering geproduseer word, kan nie geïdentifiseer of gerekupereer word deur die struktuur van fantasie nie, juis omdat hulle nie binne die ruimte van die teken gedink kan word nie: in hierdie geval kan ‘n mens nie van ‘n onbewuste praat nie.)

Hoewel dit in ‘n ruimte voortgebring word wat radikaal ongelyksoortig m.b.t. kommunikatiewe rasionaliteit is, kan die “nuutheid” of “andersheid” van die paragram ingevoeg word in die betekeningsisteem wat beheers word deur die sprekende subjek. Die negatiwiteit van poëtiese taal is wesenlik ‘n voortbrengsel – of destrukturering/strukturering – wat hom by sosiale en subjektiewe grense lokaliseer en slegs jouissance en revolusie kan wees op voorwaarde dat hy in homself simboliese wette bevat wat hy terselfdertyd oortree. Dit is presies die definisie van jouissance, aangesien begeerte self daargestel word deur wette, volgens Lacaniaanse psigoanalise.

Die beskouing kan gehuldig word dat La revolution, met sy postulering van die semiotiese en simboliese disposisies en met sy idee van ‘n subjek onder verhoor en in geding (“le sujet en procès”), die materialistiese inbedding verskaf vir die formalisering van die paragram in Seméiotikê. Dit wil sê die paragrammatisme en die komplementêre logika daarvan as sodanig word deur die semiotiese disposisie moontlik gemaak, en meer spesifiek deur die deurbreek daarvan tot in die simboliese. ‘n Verdere onderskeid wat korreleer met die onderskeid tussen 0—1-en 0—2-logika en tussen semiotiese en simboliese disposisies, is dié tussen fenoteks en genoteks. Die onderskeid fenoteks-genoteks beskryf op teksvlak wat 0—1- en 0—2-logika op die vlak van die logiese werkinge van poëtiese taal en die semiotiese/simboliese op die vlak van psigiese werkinge beskryf. Kort gestel is fenoteks die fenomenologiese teks, die struktuur van die teks, terwyl die genoteks dit is wat onderliggend daaraan is en dit oorskryf – die strukturering daarvan. Hierdie onderskeid blyk egter nie so fundamenteel te wees as dié tussen semiotiese en simboliese disposisies nie. Die sentrale vraag in La Revolution is dus dié na die tipe subjek of onbewuste prosesse waardeur hierdie “ander” logika bedryf word.

As die taal van rasionaliteit moontlik is op grond van ‘n tot eenheid geworde sprekende subjek, berus die paragrammatiese teks op die werkinge wat in hierdie eenheid tot uiting kom en dreig om dit te ontwrig. Die onderskeid tussen die semiotiese en die simboliese disposisie stel ‘n mens in staat om die twee ruimtes met hulle onderskeie “subjekte” te konseptualiseer. Hierdie onderskeid berus op die prosesse van projeksie/ekspulsie wat die tetiese fase uitmaak, wat die subjek in staat stel om toegang tot ‘n buitenste, en beheer daaroor te verkry en dus tot die simboliese (wet) te vorder, en stel ons in staat om die prosesse te sien wat die teks as praktyk definieer.

Kristeva self bied die bondigste uiteensetting van hierdie onderskeid in “The speaking subject” (1985: 217): “By semiotic, I mean the primary organization (in Freudian terms) of drives by rhythms, intonations and primary processes (displacement, slippage, condensation). Genetically, the semiotic is found in the first echolalias of infants. Logically, it functions in all adult discourses as a supplementary register to that of sign and predicate synthesis. Plato speaks of this in the Tïmeus, in his invocation of a state of language anterior to the word, even to the syllable, and calls this the chora, the receptacle, the place before the space which is always already named, one, paternal, sign and predication.

By symbolic, I mean precisely the functioning of the sign and predications. The symbolic is constituted beginning with what psychoanalysis calls the mirror stage and consequent capacities for absence, representation of abstraction. The symbolic is a matter, therefore, of language as a system of meaning (as structuralism and generative grammar study it) – a language with a foreclosed subject or with a transcendental subject-ego.”

Juis die feit dat die semiotiese in die simboliese na vore kan tree en so die eenheid van die transendentale ego kan versteur, lei tot die betekeningspraktyk van poëtiese taal, in werking gestel deur die gefragmenteerde subjek van die semiotiese chora – die zerologiese subjek – aangesien die semiotiese wesenlik presubjek is. Die tevoorskyntreding van die semiotiese in die simboliese lei tot die verskillende “afwykings” wat kenmerkend van poëtiese taal is: die fokus op KLANK, die oordeterminering van elemente, sintaktiese onreëlmatighede, ens. Die semiotiese chora bied m.a.w. die psigiese begronding van die komplementêre logika wat eie aan die paragram is. Dit kan verduidelik word deur ‘n uiteensetting van Kristeva se argument in “The speaking subject” (1985: 211—220).

Hierin word die domein van betekening in die volgende diagram voorgestel:
Sr   Sd

R   Objeksituasie Betekenbaar
x Onbekende                                x gekonstrueer deur denkbeeldige     =
Die werklike “Onmoontlike”                  en simboliese                                  ∞
gekonstrueer deur spreker                                                                        iets van weg, bly oor.
‘n Verplasing aangevoel
as ondeursigtigheid.
Die liggaam.

– waar Sr/Sd – R teorieë van uitdrukking of van diskoers verteenwoordig wat ‘n uitdrukking- of diskoerssosiologie of -psigologie kan verklaar. As slegs dit egter in ag geneem word, word die sprekende subjek (d.w.s. as gesplete subjek) nie verklaar nie – wat die teken hier laat werk, is ‘n transendentale ego. Die betekenbare word bygevoeg om die sprekende subjek te verklaar.Die betekenbare is dit wat “nie die werklike” is nie (nie x nie, maar x1). Die verhouding tussen die betekenbare en die werklike is nie een van identiteit nie, maar van verplasing. Die betekenbare brei uit in ‘n poging om betekening uit te put, en om die werklike op die een of ander manier toeganklik te maak, of te assimileer. Dit het die potensiaal om hierdie proses tot in die oneindige voort te sit, “but something is left over, a remnant, experienced as the body” (Kristeva, 1985: 215). In poëtiese taal word die uitbreiding van die betekenbare die duidelikste. Poëtiese taal is trouens die enigste betekeningspraktyk wat “kompenseer” vir die arbitrêre verhouding tussen betekenaar en betekende deur die nodige verhoudings tussen betekenaars onderling in te stel en so voorsiening te maak vir ‘n gemotiveerde betekenaar. Dit lei tot ‘n versteuring van die sintaktiese ketting. Die grondslag vir hierdie motivering is die semiotiese chora, waarvan die prosesse “vertoon” word in poëtiese taal, en wel op so ‘n wyse dat hierdie taal ‘n subjek daarstel wat tegelyk onder verhoor en in geding is. Wat deur so ‘n sisteem aangeval word, is “the coherence of the sign and of the predicative syntheses (…) the guarantors of the unity of the speaking subject” (215), ‘n aanval wat egter verbied word deur rasionele diskoers – vandaar subjek onder verhoor. Die subjek is aldus “onder verhoor” vir die ondermyning van dit wat subjek-predikaat-logika waarborg. Die subjek word egter ook onder verhoor gebring vir oortreding van die mees basiese sosiale verbod: die bloedskandetaboe. Die simboliese is paternaal en impliseer nakoming van die wet, maar die semiotiese chora is wesenlik infantiel (preöedipaal) en maternaal. As sodanig is poëtiese taal ‘n vorm van bloedskande: “If it is true that it is the incest prohibition which simultaneously constitutes language as a communicative code and women as objects of exchange so that a society may be founded, for the subject on trial and in process (‘sujet en procès’), poetic language would be the equivalent of incest: it is in the economy of signification itself that the subject on trial and in process appropriates this archaic, drive-governed and maternal territory, and in doing so, simultaneously prevents the word from becoming simply a sign, and the mother from becoming prohibited like all other objects” (1974b: 19).

Die subjek in die betekeningspraktyk van poëtiese taal word nooit werklik gevestig as ‘n subjek nie: dit is ‘n proses eerder as ‘n entiteit. Die subjek (en terselfdertyd betekenis), voortgebring deur die wisselwerking tussen die semiotiese en die simboliese, “undergoes a transition to a void, to zero = loss of identity, afflux of drive, and a return of symbolic capacities, but this time in order to take control of drive itself” (1985: 217). Die uitbreiding van die betekenbare wat plaasvind deur die terugkeer van die semiotiese, waarin die simboliese egter nie verlore gaan nie (dit is wat die diskoers van die digter onderskei van dié van die “kranksinnige”), lei tot die invoeging van “nuwe” betekenisse wat so in die simboliese orde voortgebring word. Die vermoë tot vernuwing is gegrondves in die semiotiese disposisie: in die subjek se vermoë tot genot/jouissance. Hierdie vernuwing gaan ten slotte die liggaam aan: “a new aspect of the displacement between the referent/signifiable, a new aspect of the body, has thus found its signification” (1985: 217).

Soos ons gesien het, kan ‘n teks as praktyk omskryf word slegs in soverre dit sy subjek impliseer in die voortbring van sy betekenisse. Presieser gestel: die voortbring van betekenis kan nie plaasvind nie, behalwe waar ‘n werking ongelyksoortig aan betekenis of sin aan die gang is. Hierdie werking is dié van die semiotiese disposisie wat die subjek desentreer en betekenis verskuif, en wat ook die materialistiese grondslag van die teorie is. Die avant-garde-tekste van die laat 19e eeu is voorbeelde van die praktyke waarin die subjek “uitmekaargeskiet word” – ‘n plek van onderdrukking vir bourgeois IDEOLOGIE. So bied die teks ‘n sekere kennis in antisipasie van die wetenskap. Hierdie kennis het betrekking op die subjek onder verhoor en in geding: die semiotiese disposisie, wat berus op die negatiwiteit van die doodsdrang, is ‘n indeks van die omkeer van die status van die subjek. ‘n Beheerposisie wat taal transendeer, is nie meer houdbaar nie. Die teks is egter ‘n tussenganger tussen die geweld van die semiotiese disposisie en die maatskaplike, of liewer: dit sosialiseer die uitbarsting van die doodsdrang. Dit is “positiewe geweld”.

Kristeva se latere werk verskil van werke soos Seméiotikê en La révolution daarin dat politieke verbondenheid in Marxistiese en Maoïstiese terme enigsins afgeneem het. (Kyk “My memory’s hyperbole” (1984b) en onderhoude met Kristeva (1984a & 1986).) Hierdie verskuiwing blyk duidelik in essays soos “Psychoanalysis and the Polis”, waar die wesenlike negatiwiteit van psigoanalise, a.g.v. die funksie van die nosie van gebrek binne sy teoretiese premisse, meebring dat dit enige politieke program voortdurend ondermyn. Die werk oor FEMINISME toon ook ‘n subtieler verhouding met die politieke.

Die analise van die semiotiese chora word uitgebrei in Pouvoirs de l’horreur (1980) deur die ontwikkeling van die nosie van die veragtelike. Hoewel dit te kompleks is om hier aangeroer te word, is dit ‘n uiters belangrike poging om “agter” die onderskeid subjek/objek te kom en rekenskap te gee van ‘n proses van oerskeiding wat nog nie toeganklik is vir simbolisering nie, maar wat die grondslag lê van sowel simbolisering as die ondermyning daarvan. Die veragtelike is dit wat nòg subjek nòg objek is, dit wat die daarstelling van die subjek en die objek voorafgaan. Hoewel dit dus die sprekende subjek as sodanig (en dus die onbewuste) diachronies voorafgaan, dui dit die moment van ‘n argaïese skeiding aan. Hierdie skeiding tussen die liggaam van die subjek en dit wat buite hom is, geskied met gevoelens van walging en afkeer, wanneer die “objek” van afkeer nog nie simboliseerbare status verwerf het nie. Kristeva gebruik die voorbeeld van walg aan voedsel as die mees elementêre en argaïese vorm van veragtelikheid (1980: 10). Voedsel wat deur die baba/kind as walglik ervaar word, maar wat nog nie simboliseerbaar is nie, is ‘n teken van die begeerte na die moeder/vader. Die walging wat ervaar word, dui egter ‘n skeiding m.b.t. die moeder/vader aan, sonder dat die bron van walging, of die moeder/vader, al in ‘n posisie van die ander is. Om hierdie rede word die subjek, wanneer die walglike element geëkstrajekteer of uitgewerp word, deur homself gewalg, deur homself uitgewerp en verag. Vandaar die gevoel van veragtelikheid. Stilisties lei veragtelikheid tot onmoontlike spanning tussen fragmentering en harmonie, waardeur die strategies van veragtelikheid, wat Kristeva identifiseer as strategieë van verwerping, skeiding, herhaling-veragting, ‘n “simboliese bestaan” vind, terwyl dit terselfdertyd alle vorme van simboliese logika korrupteer (1980: 22). ‘n Baie interessante uitvloeisel van die teorie van die veragtelike word verduidelik via Celine se anti-Semitisme: “[Céline’s] anti-Semitism also has a more subtle foundation, more intrinsically linked to the psychic instability of the writer and the speaking subjek in general: it is the fascination with the wandering and elusive other, who attracts, repels, puts one literally beside oneself. This other, before being another subject, is an object of discourse, a nonobject, an abject. This abject awakens in the one who speaks archaic conflicts with his own improper objects, his abjects, at the edge of meaning, at the limits of the interpretable, and it arouses the paranoid rage to dominate those objects, to transform them, to exterminate them” (1982: 91).

Die bruikbaarheid van die nosie van die veragtelike vir teorieë van rassisme is duidelik. Kristeva het haar werk oor die verhouding tot die ander voortgesit, spesifiek in die konteks van die “emigrant-ander” en probleme van nasionalisme, in haar jongste werk, Étranges à nous-mêmes (1988), wat ongelukkig nie hier bespreek kan word nie.

Spesifiek vir die literatuurstudie, leen Kristeva se teorie hom nie tot die ontwikkeling van modelle wat op die teks toegepas kan word nie. Kristeva se oogmerk was nooit die ontleding van die teks as sodanig (die fenoteks) nie, maar eerder die ontleding van die samestelling van die teks, d.w.s. die onderliggende sisteme en prosesse wat dit moontlik maak – die genoteks. Hierin sien ons hoe die Kristeveaanse procédé sy eie teorie geïnkorporeer het. Hierdie procédé is egter nie een wat die teks (of, soos in baie gevalle, beeldende kuns) ignoreer nie: die meeste van haar belangrikste teoretiese formulerings het ontstaan uit uitvoerige teksontleding, waar daar ‘n wisselwerking tussen teks en teorie is, en wel op so ‘n wyse dat die grense tussen hulle gedurig veranderlik is, soos trouens ook in sekere mate die geval is met die konseptuele boukern wat sy gebruik.

 

Bibliografie

Kristeva, J. 1969. Seméiotikê: recherches pour une sémanalyse. Paris: Seuil.

Kristeva, J. 1974a. La revolution du langage poétique. Paris: Seuil.

Kristeva, J. 1974b. Sujet dans le langue et pratique politique. Tel Quel, 58.

Kristeva, J. 1980. Pouvoirs de l’horreur. Paris: Seuil. Kristeva, J. 1982. Psychoanalysis and the Polis. Critical Inquiry, 9.

Kristeva, J. 1984a. “Two interviews with Julia Kristeva” by Elaine Hoffman Baruch & Perry Meisel. Partisan Review, LI(1).

Kristeva, J. 1984b. My Memory’s Hyperbole. New York Literary Forum, 12-13.

Kristeva, J. 1985. The Speaking Subject. In: Blonsky, M. (ed.). On Signs. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Kristeva, J. 1988. Etranges á nous-mêmes. Paris: Fayard.

Raadpleeg ook:

Kristeva, J. 1980. Desire in Language: A Semiotic Approach to Literature (transl. Roudiez). Oxford: Blackwell.

Moi, T. (ed.). 1986. The Kristeva Reader. New York: Columbia University Press.

 
Annamaria Carusi