FANTASIE

Fantasie kan gedefinieer word as ‘n simboliese modus in die literatuur en die visuele kunste waarin verbeelding voorrang geniet bo waarneming. REALISME, die nougesette weergawe van ons gewone wêreld, word ondergeskik gestel aan psigologiese of religieuse betekenis. Dit beteken nie dat alle fantasiewerke ALLEGORIES is en ‘n vaste betekenis het nie, hoewel dit soms wel die geval is, soos met C.S. Lewis se Narnia-reeks. Hulle is dikwels eerder misteries as wat FABELS is, en hulle betekenis word nie beperk deur die bewuste bedoeling van die OUTEUR nie. Simbole is komplekse entiteite waarvan die effek in vertellings sterker is hoe minder opsetlik dit is (die versoeking is om te sê: hoe minder hulle verstaan word). Vanweë die wesenlik simboliese aard van die fantasiemodus word dit gekenmerk deur sterk visuele beelding.

Die verwerping van realisme (wat in elk geval maar ‘n onlangse konvensie is) wat kenmerkend is van die fantastiese word aangetref in die skilderkuns (vanaf die Middeleeuse kunstenaars tot by Hieromymus Bosch en tot by moderne fantasiekunstenaars soos Boris Vallejo); in opera (Der Ring des Nibelungen; Aïda); in drama (die meeste van Shakespeare se werk); in prosafiksie (die werke van Tolkien of William Morris); in die poësie (Paradise Lost of The Faerie Queene); in speletjies waar rolle gespeel word soos ‘Dungeons and Dragons’; in rekenaarspeletjies; en oorweldigend in films. Die bespreking wat hieronder volg, konsentreer op die literatuur.

Die eenvoudigste en opvallendste kenmerk van fantasie is die versteuring van die normale wette van oorsaak en gevolg van die primêre wêreld. Hierdie versteuring of VERVREEMDING word aangetref in werke so uiteenlopend soos Henry James se The Turn of the Screw, waarin die teenwoordigheid van die dooies ‘n sinistere mag uitoefen oor die lewendes, en Homeros se Odusseia met sy mitiese diere en betowerings. Dit kan die vorm aanneem van bonatuurlike verskynsels soos spookmotors wat in ‘n moderne stad “rondsluip” of die meer tradisionele drake en duiwelskunstenaars. Dit moet benadruk word dat die voorkoms van sulke elemente uit VOLKSVERHALE en SPROKIES nie noodwendig ‘n teken is van sataniese bedoelings by die outeur nie. Hierdie dinge is METAFORE vir aspekte van die gees.

Fantasie het oorspronklik “die verbeelding” beteken, soos bv. in Milton se gedig “At a Solemn Music”, waar die oorsprong van die woord se latere ontwikkeling gesien kan word: die digter doen ‘n beroep op die verbeelding om dinge te kan sien wat hoër en werkliker as die prosaïese aardse werklikheid is. In hierdie eeu het dit ‘n aparte kategorie geword by uitgewers asook die onderwerp van talryke kritiese studies (hieronder in die bibliografie aangegee). Dit is belangrik dat fantasie as ‘n literêre kategorie nie ‘n aanduiding is van ‘n enkele soort werk nie, maar eerder ‘n spektrum werke wat strek vanaf dié waarin die bonatuurlike ‘n skimeffek het op die gewone wêreld (spookbesoeke soos in The Turn of the Screw) via werke waarin geskiedkundige gebeure ‘n belangrike magiese dimensie verkry (soos Judith Tarr se The Golden Horn) tot by werke wat volledig in ‘n denkbeeldige wêreld geplaas is (soos Tolkien se The Lord of the Rings). Die kategorieë van uitgewers, wat uiteraard maar taamlik grof is, bestaan tans uit swaard-en-toweryverhale (soos Conan the Barbarian en die wat daaruit voortgekom het), wat nou meer dikwels heldefantasie genoem word, dan gruwelfentasie (Poe; die sensasiebehepte werke van Stephen King; Bram Stoker se Dracula) en epiese fantasie (werke waarvan die groot omvang, goddelike ingrypings en krygshelde ‘n mens laat dink aan die eposse van die antieke wêreld). Fantasie omvat ‘n veld wat strek van uiters populêre fiksie tot mistieke boeke soos William Morris se The Well at the World’s End. Die moderne kritiek sluit gruwelverhale dikwels van die kategorie fantasie uit, soos ook in die onderstaande bespreking gedoen word.

‘n Belangrike onderskeidende kenmerk van fantasie is dat dit sg. ‘sekondêre wêrelde’ voorstel, wêrelde wat in sommige opsigte soos ons eie is maar wat hulle eie interne reëls en logika het, waarin simbole soos die draak of oertipes soos die Groot Woesterny konkrete werklikheid aanneem. Afgesien van wat dit gemeen het met sprokies, mites en legendes, is fantasie die moderne afstammeling van die ROMANSES van die Middeleeue soos die siklusse oor die Heilige Graal en die stories van Arthur. Gevolglik is die sekondêre werelde daarvan baiekeer ‘n droomweergawe van die Middeleeue, baie nadruklik ‘n pre-industriële wêreld: in fantasie word tegnologie vervang deur toorkuns as ‘n simbool van die mag van die gees oor die wêreld. (Vgl. WETENSKAPSFIKSIE vir ‘n bespreking van die betekenis van ‘wêreld’ in werke van hierdie aard.)

Deesdae is dit ‘n soort gemeenplaas dat die wêrelde wat uitgebeeld word in fantasie landskappe is van die gees wat die onbewuste direkter openbaar as wat realistiese fiksie dit doen. Baie studies is al aan hierdie aspek gewy. Invloedryke studies in dié verband is Tolkien se essay “On Fairy Stories” (Tolkien, 1983), Joseph Campbell (1949), Ursula Le Guin (1979) en Derek Brew­er (1980). Ursula Le Guin het bv. gesê dat “fantasie, soos poësie, die taal van die nag praat” (Le Guin, 1979: 11). Sowel sy as Tolkien het aanklagte verwerp dat fantasie bloot “ontvlugting” is. Tolkien, wat wesenlik dieselfde standpunt inneem as Milton (hierbo), het beklemtoon dat fantasie ten diepste ernstig is en ons bevry van die beperkings van die sg. “werklikheid” wat volgens Le Guin ‘n bousel is van die noodwendig beperkte intellek. In A Dictionary of Symbols onderskei Chetwynde (1982: 240) tussen “the male conscious, logical, thinking side of the mind in contrast with the feminine emotional side of the mind which expresses itself in symbols”. Miskien is dit nie toeval dat so baie skrywers van moderne fantasie vroue is nie. In sy bespreking van die “inner landscape, or country of the mind”, skryf Chetwynde dat dit nie werklik binne die liggaam geleë is nie, maar dit is “the cosmos as viewed from the inside, with intuitions reshaping the contours of mountains, and moods affecting the weather, whipping the sea to storms, in order to depict the value and meaning of the actual cosmos for man” (1982: 239). In sekere sin doen alle letterkunde dit, maar in fantasie is die rol van die verbeelding meer promi­nent. Hoewel die aanspraak dat fantasie ‘n soort psigologiese allegorie is (Le Guin se “psychomyth”) verrassend mag wees, toon ‘n studie van die geskiedenis van romanses aan dat hierdie dimen­sie van die begin af deel was van fantasievertellings, van die Sumeriese Epos van Gilgamesj uit die tweede millenium v.C. tot by die middeleeuse Graallegendes soos Wolfram von Eschenbach se Parzival, droomvisioene soos die Middelengelse Pearl en allegorieë soos Piers Plowman en The Pilgrim’s Progress. Moderne studies wat put uit Jung en Freud sien religie en psigologie al hoe meer as twee aspekte van ‘n geheel, verskillende modi vir die begryp van dieselfde dinge.

Die verbintenis met *mite is die hoofrede waarom karakterisering in romanses selde so kompleks is soos in die tradisionele 19e-eeuse ROMANKARAKTERS is nie soseer komplekse mense op hul eie nie maar eerder kontrasterende aspekte van die outeur en die leser se persoonlikhede. So bv. is die slegte karakters in Tolkien se The Lord of the Rings die polêre teengesteldes van die goeie: die geruïneerde hobbit Gollum word gestel teenoor Frodo, die hoofprotagonis, en verwesenlik ook Frodo se soektog vir hom; die gevalle kryger Boromir is ‘n donker beeld van Aragorn, die held; die verdorwe duiwelskunstenaar Saruman is die donker helfte van Gandalf, die towenaar. Die karakterisering is ekstern, deur die vermenigvuldiging en interaksie van figure. Die “goeie” karakters hoef nie soos mense in die “werklike” of primêre wêreld hulle donkerder aspekte in hulself te beliggaam nie. ‘n Fantasie is dikwels ‘n soort psigomachia of worsteling wat in die gemoed plaasvind.

Fantasievertellings is gewoonlik, selfs meer as WETENSKAPSFIKSIE, gestruktureer rondom die Soektog, wat simbolies word van die reis van die siel na ‘n vorm van integrasie of inisiasie. Dit is hierin dat die mistieke en die psigologiese een word: moderne fantasie is een van die aangesigte van die moderne mite wat verklaar waarom huidige skrywers dit laat saamsmelt met wetenskapsfiksie, soos Gene Wolf gedoen het in sy belangrikste werk, The Book of the New Sun. Fantasie word vandag al hoe belangriker, wat die wanbalans in die Westerse wêreld se klem op die wetenskaplike en die rasionele ophef. Die sukses van The Lord of the Rings was grotendeels toe te skryf aan die toenemende besorgdheid op universiteitskampusse oor ekologie in die sestigerjare. Volgehoue bemoeienis met die heelheid van die individu en die fundamentele eenheid van alle lewe op ons bedreigde planeet wat gesien word as ‘n enkele ekosisteem of entiteit (soos in die hedendaagse Gaia-teorie wat geleidelik aanvaar word) beteken dat fantasie waarskynlik ‘n toenemend belangrike literêre modus sal word wat waardes uitdruk wat die lewe van die individu en die planeet respekteer en ‘n afskaduwing is van ons diepste insigte in onsself en die wêreld.

Bibliografie

1. Uitgesoekte bibliografie van studies oor fantasie en verwante geskrifte.

Beer, G. 1971. The Romance. London: Methuen.

Brewer, D.S. 1980. Symbolic Stories. Cambridge: Brewer.

Campbell, J. 1949. The Hero with a Thousand Faces. London: Grafton.

Campbell, J. 1974/1975. The Mythic Image. Princeton: Prince­ton University Press.

Frye, N. 1976. The Secular Scripture: A Study of the Structure of Romance. Cambridge, Mass.: Harvard University Press.

Hall, H.R. (ed.). 1987. Science Fiction and Fantasy Reference Index, 1878-1985: An International Author and Subject Index to History and Criticism. Detroit: Gale Research Company.

Hume, K. 1984. Fantasy and Mimesis: Response to Reality in Western Fiction. London: Methuen.

Jackson, R. 1981. Fantasy: The Literature of Subversion. London: Methuen.

Jung, C.G. 1964/1979. Man and his Symbols. London: Aldus.

Le Guin, U.K. 1976. The Wind’s Twelve Quarters. London: Gollancz.

Le Guin, U.K. 1979. The Language of the Night: Essays on Fantasy and Science Fiction. New York: G.P. Putnam’s Sons.

Le Guin, U.K. 1989. Dancing at the Edge of the World: Thoughts on Words, Women, Places. New York: Grove Press.

Lem, S. 1984. Microworlds: Writings on Science Fiction and Fantasy. New York: Harcourt Brace & Jovanovich.

Matthews, J. 1981. The Grail: Quest for the Eternal. London: Thames & Hudson.

Rabkin, E.S. 1976. The Fantastic in Literature. Princeton: Princeton University Press.

Rossi, L.D. 1984. The Politics of Fantasy: C.S. Lewis and J.R.R. Tolkien. (Studies in Speculative Fiction No. 10.) Ann Arbor: UMI Research Press.

Reilly, R. (ed.). 1985. The Transcendent Adventure: Studies of Religion in Science Fiction/Fantasy. (Contributions to the Study of Science Fiction and Fantasy, No. 12.) Westport, Conn.: Greenwood Press.

Rottensteiner, F. 1978. The Fantasy Book: An Illustrated History from Dracula to Tolkien. London: Macmillan.

Sackman, E. 1986. Great Masters of Fantasy Art. Berlin: Taco Verlagsgesellschaft und Agentur mbH.

Schlobin, R.C. 1979. The Literature of Fantasy: An Annotated Bib­liography of Modern Fantasy. New York: Garland.

Schlobin, R.C. (ed.). 1982. The Aesthetics of Fantasy Literature and Art. Notre Dame, IND: University of Notre Dame Press.

Slusser, G.P., Eric, S.R. & Scholes, R. (eds). 1983. Co-ordinates: Placing Science Fiction and Fantasy. Carbondale: South Illinois University Press.

Swinfen, A. 1984. In Defence of Fantasy. London: Routledge & Kegan Paul.

Todorov, T. 1970. The Fantastic: A Structural Approach to a Literary Genre. Ithaca: Cornell University Press.

Tolkien, J.R.R. 1983. The Monsters and the Critics and Other Essays. London: George Allen & Unwin.

Vallejo, B. 1985. Fantasy Art Techniques. New York: Arco Publishing Inc.

Whitmont, E.C. 1969. The Symbolic Quest. Princeton: Prince­ton University Press.

Wolfe, G.K. 1986. Critical Terms for Science Fiction and Fanta­sy. New York & London: Greenwood Press.

2. Uitgesoekte bibliografie van fantasieskrywers

Adams, R. 1974. Shardik. Harmondsworth: Penguin.

Adams, R. 1980. The Girl in a Swing. Harmondsworth: Penguin.

Adams, R. 1984. Maia. Harmondsworth: Penguin.

Cherryh, C.J. 1976-1979. The Chronicles of Morgaine. London: Methuen.

Cherryh, C.J. 1988. Exile’s Gate. New York: DAW.

Eddison, E.R. 1922. The Worm Ouroboros. London: Ballantine Books.

Eddison, E.R. 1935. Mistress of Mistresses: A Vision of Zimiamvia. London: Ballantine Books.

Eddison, E.R. 1941. A Fish Dinner in Memison. London: Ballantine Books.

Eddison, E.R. 1958. The Mezentian Gate. London: Ballantine Books.

Hodgson, W.H. 1908. The House on the Borderland. New York: Carroll & Graf.

Hodgson, W.H. 1912. The Night Land. London: Sphere.

Le Guin, U.K. 1967-1972. The Earthsea Trilogy. Harmondsworth: Penguin.

Le Guin, U.K. 1986. Always Coming Home. London: Grafton.

Lewis, C.S. 1950-1956. The Chronicles of Narnia. Harmondsworth: Penguin.

Lindsay, D. 1920. A Voyage to Arcturus. New York: Ballantine.

Morris, W 1894. The Wood Beyond the World. New York: Ballantine.

Morris, W. 1896. The Well at the World’s End. New York: Ballantine.

Peake, M. 1946. Titus Groan. London: Methuen.

Peake, M. 1950. Gormenghast. London: Methuen.

Peake, M. 1959. Titus Alone. London: Methuen.

Tolkien, J.R.R. 1937. The Hobbit. London: Unwin Hyman.

Tolkien, J.R.R. 1966. The Lord of the Rings. London: Unwin Hyman.

Tolkien, J.R.R. 1977. The Silmarillion. London: Unwin Hyman.

Watson, I. 1983. The Book of the River. New York: SAW Books.

Watson, I. 1984. The Book of the Stars. London: Gollancz.

Watson, I. 1985. The Book of Being. London: Gollancz.

Wolfe, G. 1980. The Shadow of the Torturer. London: Arrow Books.

Wolfe, G.    1981. The Claw of the Conciliator. London: Arrow.

Wolfe, G.    1982. The Sword of the Lictor. London: Arrow.

Wolfe, G.    1983. The Citadel of the Autarch. London: Arrow.

Wolfe, G.    1986. Soldier of the Mist. London: Arrow.

Wolfe, G.    1987. The Urth of the New Sun. New York: TOR.

Wolfe, G. 1988. There are Doors: A Tale of Love and Danger. New York: TOR.

Wolfe, G. 1989. Soldier of Arete. New York: TOR.

A. Morgan