KARAKTER/KARAKTERISERING

Karakter is ‘n figuratiewe motief in die storiegedeelte van die vertelteks wat deur die karakterisering kontoere verkry.

Karakterisering is die proses waardeur karakter tot stand gebring word deur die wisselspel tussen enersyds storie, vertelteks en vertelproses en andersyds literêre konvensies, taal- en leesprosesse.

Die konsep karakter het enigsins gestigmatiseerd geraak vanweë die ontiese appèl en mimetiese werkwyse wat oor dekades met karakter/karakterisering geassosieer is. In die FORMALISTIESSTRUKTURALISTIESE vertaalteorieë is plaasvervangende begrippe daarvoor ingevoer, soos bv. agent, AKTANT, akteur, eksistent, figuur, figurant, persona, personasie, persoon, e.d.m. Resente ontwikkelinge binne die NARRATOLOGIE (vertelkunde) het die kon­sep karakter egter weer in omloop gebring mits dit beskou word binne ‘n teoretiese raamwerk waarbinne ‘n onderskeid getref word tussen die karakter as motief (in die vertelteks/SJUŽET) en die karakter as figuur met algemeen-menslike eienskappe (in die storie/fabel/GESKIEDENIS). Soos hierbo opgemerk, is dit by grasie van die VERTELLER en die vertelproses dat algaande definisie aan die karakter as MOTIEF gegee word. Hierdie onderskeid is reeds getref deur Aristoteles wat binne karakter die pratton-eienskap (m.b.t. handeling) en die ethos-eienskap (m.b.t. onderskeidende kenmerke) onderskei. Dit is onlangs verfyn deur Doležel (1973) op die patroon van Plato en Diomedes deurdat die onderskeid tussen vertellerteks en personeteks uitgewerk is. Hiervolgens is die twee basiese (en vroeër onversoenbare) eienskappe van die konsep karakter van mekaar onderskei, maar binne die vertelproses nie te skei nie (vgl. ook Rimmon-Kenan, 1983 en Brink, 1987).

Die ontwikkelinge wat die karakter/karakterisering raak, het egter ook betrekking op die desentralisering van die karakter vanaf hoofkomponent na ‘n newe- of selfs ondergeskikte element in die hele verhaalopset. Aanleiding tot hierdie veranderinge en ontwikkelinge hou verband met ‘n veranderde mensbeeld waaraan in die literatuur nuwe gestalte gegee is. Die teorie moes dus rekening hou met ‘n ontwikkeling van die realistiese en menslik-gedefinieerde karakter tot ‘n gedepersonaliseerde en passiewe figuur, wat ‘n segment van die moderne literatuur oorheers (vgl. byvoorbeeld die ANTIHELD).

Figure wat in en deur die taal tot stand kom, het bepaalde trekke van die empiriese werklikheid: dit kan wees direk aantoonbare trekke, figure nagetrek op algemeen-menslike eienskappe, of geabstraheerde projeksies van die outeur se mensbeeld. Hierdie graduele verskille m.b.t. die plek van die figure binne die geheel van die literêre kunswerk het literêre en literêr-teoretiese probleme rakende die karakter/karakterisering die afgelope eeu duidelik laat blyk.

Karakteriseringsmodelle sedert E.M. Forster hoort tuis onder drie groot noemers, t.w. die Forsterteorie en uitvloeisels daarvan, die nuwe formalisties-strukturalistiese teorie, en onlangse narratologiese insigte.

Binne die Forsterteorie word die karakter/karakterisering hoofsaaklik gesien i.t.v. die ervaringswerklikheid: die totstandgekome fiktiewe wêreld word getoets aan en beoordeel volgens die em­piriese realiteit. Daarteenoor is die nuwe teorieë (hoofsaaklik gebaseer op dié van Propp) AKTANSÏELE teorieë enersyds (m.a.w. handelingsteorieë) wat die naelstring met die ervaringsrealiteit probeer deursny deur te fokus op tekselemente en literêre konvensies, en andersyds – in terme van die narratologiese insigte – meer organies, deurdat sowel skematiserings as menslike elemente binne die teksgeheel erken word.

Vir karakter-konsepte is die verhoudingsverband met die empiriese werklikheid dié probleemgebied: die literatuur vra dat hierdie verhouding meetbaar moet wees in ‘n adekwate konsep/teorie, maar op die gevaar af dat die buitetekstuele werklik­heid maklik die norm kan word. Karakter word dan nie altyd gesien as die gevolg van ‘n karakteriseringsproses nie, maar in sy verhouding tot die werklike mens.

Die konvensionele beskouing van karakter as: ‘n persoon, figuur wat met ‘n bepaalde karakter uitgebeeld, voorgestel, beskrywe, geteken word in ‘n literêre werk, en karakterisering as: psigologiese ontleding en uitbeelding, voorstelling van ‘n figuur deur ‘n skrywer (WAT, dl. V: 313), is verteenwoordigend van gedateerde en ouer benaderings tot die saak. Die beskouing stel prys op kriteria soos lewensgetrouheid, vergelykbaarheid met werklike mense en optredes, portrettering van individue met wie geïdentifiseer kan word.

Die kriteria vir hierdie konvensionele beskouing van die karak­ter lewer bewys van die invloed wat daardie grondlegger van teorieë oor en sistematisering van die karakter, E.M. Forster, dekades na die verskyning van Aspects of the Novel (1927) steeds het. Forster is onherroeplik verbind aan sy kategorieë, flat en round, wat so pertinent berus op lewensegtheid. Plat karakters (Forster, 1974: 75 e.v.) is tipes of karikature wat ‘n enkele idee/kwaliteit vertoon, voorspelbaar is, nie in staat is tot ontwikkeling of verrassing nie, tweedimensioneel is, getipeer kan word in een sin en wat komies is. Ronde karakters (Forster, 1974: 77 e.v.) is in staat tot verrassing, besit oortuigingskrag, is lewenswaar, verander deur scènes, ontroer die leser, besit – anders as plat karakters – die vermoë om tragies te wees. Vir die skry­wer is dit hiervolgens ‘n groter prestasie om ‘n ronde karakter te skep as ‘n platte. Die waardeoordeel wat Forster se tipologie inhou, het ingrypende literêr-teoretiese implikasies.

Kritiek op Forster se tipologie hou veral verband met die feit dat die polêre teenstellings nie die spektrum van soorte tussen die pole onderskei nie; dat plat en rond moeilik hanteerbare begrippe is, relatief in hul geldigheid en alleen in eenvoudige gevalle hanteerbaar en subjektief is (vgl. verrassing as kriterium); dat die uitgangspunt nie-struktureel is, afgestem is op tekste uit ‘n ouer en realistiese tradisie, op ‘n dwaalweg lei omdat karak-gevalle hanteerbaar en subjektief is (vgl. verrassing as kriterium); dat die uitgangspunt nie-struktureel is, afgestem is op tekste uit ‘n ouer en realistiese tradisie, op ‘n dwaalweg lei omdat karak-

Dit is juis die kritiek op Forster se tipologie wat die begrippe “plat” en “rond” lewend gehou het. In reaksie op die aangetoonde leemtes het teoretici eie tipologieë voorgestel deur die aangeduide basis te modifieer of te verfyn. Hierdeur het iets van ‘n Forster-tradisie m.b.t. die karakter ontwikkel: enkele van die bekendstes is Muir (hy gebruik die terme pure en dramatic vir plat/rond en is iets positiewer oor die plat karakter), Wellek & Warren, Abrams, Harvey, Booth, Liddell, Boulton, Kannemeyer, Smuts (plat en rond berus volgens hom op die resultaat van kommunikatiwiteit of gebrek daaraan) en Blok (vanuit ‘n meer strukturele metode probeer hy die by Forster afwesige oorgangstipes tussen plat en rond aandui deur ‘n karakterindeling n.a.v. tyd en ruimte: op ‘n glyskaal onderskei hy tussen karakters wat hul tyds- en ruimtebeweging “leef” of “beleef”).

In die plek van die beskrywing van die karakter as individu met komplekse psigologiese samehange kom die instansie wat handelinge verrig; in die plek van fisieke en psigologiese eienskappe tree ‘n instansie op met soms vae menslike eienskappe wat as ‘n ruimte gekonstrueer is en ‘n speelveld vorm vir kragte en gebeurtenisse; die teks-as-mimesis verander na die teks-as-struktuur en die teks-as-proses. Die ontiese appèl van die karakter is geminimaliseer tot die irrelevante, want die verskillende modelle het gewerk met karakters as embleme, konstellasies, woordklosse, woordpatrone ondergeskik aan ander patrone, onpersoonlike netwerke van simbole saamgevat onder ‘n eienaam, e.d. (Cul­ler, 1975: 230–238; Visser, 1980:42; Ducrot & Todorov, 1979: 224). Hiervolgens is dit duidelik dat die karakter/karakterise­ring in formalisties-strukturalistiese verband ‘n ander doel ver­toon, die belangrikste waarvan seker skematisering is.

Om hierdie uitdagings te hanteer, het die strukturaliste gewerk aan breë karakterklassifikasies aan die hand van rolle/funksies wat karakters as handelingsinstansies kan vertolk en wat hoofsaaklik afhanklik was van die sjužet (Culler, 1975: 232). Die Aristoteliaanse koppeling van handeling aan karakter lê ten grondslag van die meeste tipologieë, wat uiteraard van hulle handelingsmodelle maak. Die term “karakter” het in die lig hiervan aansienlike nuansering-deur-splitsing ondergaan: funksies is afsonderlik benoem, ook binne elke model.

Die basis vir die Strukturalisme se karaktermodelle was die studie Morphologie du conte van V. Propp (1970). Sy tipologie is gebaseer op VOLKSVERHALE, en daarin isoleer hy sewe rolle/funksies wat karakters vertolk, genoem dramatis personae. Met spesifieke toespitsing op die drama reduseer Souriau (ook n.a.v. die Russiese volksverhaal) ses sg. dramatiese funksies. Hy onderskei tussen karakter en rol/dramatiese funksie en gee aan lg. astrologiese name en simbole om formules visueel in “hiërogliewe” uit te druk (vgl. Elam, 1980: 127–130).

Invloedryke bydraes kom ook van Greimas. Hooftrekke van sy model (gebaseer op Propp en Souriau) is kortliks: (a) Dit berus op ‘n homologie tussen verhaal- en sinstruktuur, wat dan die twee manifestasies van die model vorm; (b) Die uitgangspunt is ‘n teleologiese verhouding tussen elemente van die verhaal: iets/iemand streef m.a.w. ‘n doel na; al is die uitgangspunt struktureel en dus losgemaak van die persoon, sal die subjek wat die doel nastreef in effek altyd òf ‘n persoon òf ‘n gepersonifieerde dier wees (vgl. Bal, 1980: 35); (c) Na aanleiding van Tesnière voer Greimas die begrip aktant in om ‘n Was akteurs (instansies wat handelinge verrig) te onderskei; aktante figureer op sintaktiese vlak, terwyl akteurs op leksikale en semantiese niveau beweeg en geïndividualiseer is, bv. deur eiename; (d) Die aktansiële model behels die verhoudings tussen die ses aktantkategorieë wat in opposisiepare gegroepeer is, nl. subjek/objek, sender/ontvanger, helper/opponent; (e) Indien die hoeveelheid akteurs per aktant te groot sou raak, stel Greimas voor dat verder onderskei word n.a.v. teenstellings (o.m. verskillende subjekte wat mekaar in die vorm van subjek en antisubjek kan teëwerk), kompetensie (wat die wil, die mag/moontlikheid en die kennis insluit om bevoegdheid te toets vir die uitvoer van ‘n handeling), waarheidsgehalte (deur die “egtheid” van die aktante binne die aktansiële struktuur te toets, indien leuenaars, gemaskerdes, vals helde e.d.m. aan toetsing onderwerp sou kon word: “eg” is wanneer ‘n akteur is wat hy skyn te wees), ens. (vgl. Bal, 1980: 44). Deur die unieke en individuele asook psigologiese kwaliteite uit te skakel, lewer Greimas met sy aktansiële model gereduseerde, funksie-georiënteerde en geskematiseerde konsepte wat klassifiseerbaar is.

Die invloed van Greimas se model het gelei tot verfyning, uitbreiding en verwerping van sommige aspekte van sy teorie ten gunste van ander. Die vernaamste voortsettings word verteenwoordig deur Todorov, Bal, Barthes en Hamon.

Ook hierdie formalisties-strukturalistiese modelle lok toenemend kritiek uit, o.m.: die handeling staan te sentraal, veral waar dit literatuur van ‘n spesifieke periode moet help beskryf wat wesenlik nie ingestel is op handeling en gebeure nie; die klem op personasies in volksverhale en SPROKIES (waarop Propp se model gegrond is) is veel meer op wat hulle doen as op dit wat hulle is – hierin verskil dit van literêre tekste; met so ‘n sterk premie op handeling raak direkte beskrywing as karakteriseringstegniek (bv. deur ‘n vertelinstansie) binne hierdie modelle onbeskryfbaar, want dit geld nie handeling nie; personasies in die moderne literatuur se aard is dikwels so kompleks dat die heterogeniteit nie “gebreek” kan word of reduseerbaar is tot ‘n enkele binêre opposisie of term nie: ‘n instansie met wisselende rolle/funksies is ‘n voorbeeld: n.a.v. watter rol gaan hy gereduseer word? Dit is hieruit duidelik dat aktansiële modelle die kompleksiteit van figure minimaliseer, op die gevaar af dat onderskeidinge uitgewis raak en die aandag van teksondersoek verskuif na die identifisering van rolle. (Vgl. verder Culler, 1975; Bal, 1979; Bal, 1980; Elam, 1980; Visser, 1980; Chatman, 1972.)

Ander modelle waaraan steeds verfyn word, is Frye se mities-generiese, LITERêR-SOSIOLOGIESE en MARXISTIESE modelle (sedert grondleggers soos Lukács, Althusser, Goldman, Williams); dié wat voorsiening maak vir die IDEOLOGIESE (Lotman); Van Kesteren se op die logika gebaseerde tipologie vir die drama; linguisties-gemodelleerdes (Ferrara met sy Chomskyaanse inslag, ook Fowler wat vir die praktiese kritiek minder skematiese modelle soek in sy Linguistics and the Novel (1977), e.d.m.

As gevolg van bg. verband tussen karakter en aanbiedingstegnieke is dit net logies dat as die karakter-konsep verander, ook karakteriseringstegnieke anders sal wees as die op point of view-gebaseerde psigologiese tegnieke. Aanduidings hiervan is hierbo reeds by die karaktermodelle gegee; vgl. byvoorbeeld Bal se teg­nieke vir die vorming van ‘n personasiebeeld; Todorov se karakteronderskeidinge n.a.v. linguistiese vlakke (Culler, 1975; Bal, 1979); Hamon se semiotiese benadering, waarin karakter as ‘n “leë teken” gesien word of as “migratory morpheme manifested by a discontinuous signifier (a certain number of distinctive features) which points to a discontinuous signified: (the ‘meaning’ and ‘value’ of the character)” (Hamon, 1977: 124–125) – hy dui ‘n reeks faktore aan wat onder hierdie “teken” gegroepeer kan word (vgl. Elam, 1980: 132 – 133) en d.m.v. opposisies die individuele status van karakters laat blyk.

‘n Meer integrerende en minder geskematiseerde model lewer die narratologie oor die afgelope twee dekades (vgl. Chatman, 1972; Bal, 1980; Rimmon-Kenan, 1983 en Brink, 1987). Hiervolgens val die klem meer op ‘n totale teksproses waarbinne daar ‘n wisselspel van tekswêrelde (storie, vertelteks en vertelproses) voorkom wat spesifieke informasiebronne bevat waarvolgens die leser die karakteriseringsproses op die voet kan volg deur nuanse, kontoer en definisie aan die sg. “leë teken” (Hamon, 1977) te verskaf.

Karakterisering is hiervolgens ‘n kommunikatiewe aangeleentheid wat opereer op verskillende teksniveaus wat in samespel is. Doležel (1973) en De Beus (1979) se onderskeid tussen twee fundamentele informasiebronne, t.w. die vertellerteks en die personeteks, vorm die uitgangspunt vir hierdie kommunikasievorme. Die praktiese inkleding daarvan kom voor in die werke van die meeste narratoloë.

Bal (1980) onderskei bv. tussen eksplisiete en implisiete infor­masiebronne in ‘n vertelteks. Eksplisiet omvat dan hoofsaaklik die direkte uitinge in die personeteks (d.w.s. sonder dat afleidings daaruit gemaak word), terwyl implisiet dui op die afleidings wat ‘n leser kan maak uit karakters se optrede, gesprekke, voorkoms en die voorstelling van hul omgewings.

De Beus (1979) rubriseer onder die aspek van informasiebronne in die vertellerteks vier faktore: die beskrywing van ‘n karakter se uiterlike, die openbaarmaking van ‘n gevoels- en gedagtelewe, voorstelling van handelinge en ‘n byhaal van die verlede deur terugflitse en herinneringe. Hierdie vier faktore kan elk weer op drie maniere aangebied word: beskrywend; ordenend/formulerend (d.w.s. deur ‘n vertolking daarvan deur die verteller, maar sonder verbalisering deur die karakter); en kleurend (d.w.s. deur evaluerende toevoegings deur die verteller). In terme van informasiebronne in die personeteks onderskei sy tussen alleenspraak/interne monoloog en die spraak van ‘n karak­ter in dialoog met ander (vgl. Brink, 1987: 80). (Oor die weergawe van bewussynsinhoude is veral Cohn (1978) en Pascal (1977) verhelderend.) (Vgl. NARRATIEWE WEERGAWES/MODUSSE en BEWUSSYNSTROOMVERHAAL.)

Dit is vreemd dat sy nie ook die outeursteks as informasiebron m.b.t. karakterisering betrek nie. Die aanvoorwerk binne die outeursteks (d.w.s. voordat die vertellersteks begin) bevat dik­wels waardevolle informasie aan die leser m.b.t. tekstuele strategieë soos nie-letterlike taaluitinge, bv. misleiding, fantastiek, ironie, e.d.m.

Na aanleiding van Hamon (1977) en Rimmon-Kenan (1983) gaan Brink (1987) meer spesifiek in op verskillende tegnieke waarvol­gens informasie binne die karakteriseringsproses oorgedra word. Hieronder behandel hy naamgewing, herhaling as ‘n vestiging of aktivering van kenmerke, akkumulasie as ‘n vorm van nuansering van dit wat saamklont om ‘n eienaam, transformasie as verandering en ontwikkeling van kenmerke, vergelyking en kontras as ‘n proses van interaksie, asook analogie tussen karakter en ruimtelike omgewing.

Waar karakter in die konvensionele konteks gesien is as sou die basis van goeie fiksie “character creating and nothing else” wees (dié uitspraak is van Arnold Bennett) en as sou daar in nuwer modelle die gevaar bestaan wat Harvey (1965) genoem het “the attack on character”, het karakter/karakterisering na die reduksie tot patrone en skemas in die formalisties-strukturalistiese modelle opnuut binne die narratologie ‘n relatiewe status herwin. Relatief, omdat dit een faktor in ‘n reeks is wat tot stand kom vanweë en in verhouding tot alle ander teksfaktore se onderlinge wisselwerking.

Standaardwerke oor die tradisionele konsep van karakter/karak­terisering is dié van Forster (1927/1974); Harvey (1965); James (1907–1909/1962); Lubbock (1921/1954) en Smuts (1975). Ander werke binne hierdie kategorie met hier en daar ‘n verskuiwing na ‘n nuwer benadering is van Boulton (1975); Conradie (1968); Sötemann (1973); asook bydraes wat die model van Forster probeer verfyn soos dié van Muir (1928); Wellek & Warren (1949); Booth (1961); Lämmert (1955); Kannemeyer (1965) en Blok (1969). Oor die formalisties-strukturalistiese konsepte kan gelees word in Propp (1928/1970); Barthes (1970); Bremond (1973); Chatman (1972); Culler (1975); Fowler (1977); Genette (1969 & 1972); Greimas (1966 & 1973); Hamon (1977); Maatje (1971); Souriau (1950); Stanzel (1979); Strachan (1982); Todorov (1969 & 1971/1977) en Visser (1980). Nuwer beskouings is dié van Bal (1979 & 1980); Brink (1987); Chatman (1978); Doležel (1972 & 1973); Elam (1980); Rimmon-Kenan (1983) en Ruthrof (1981).

 

Bibliografie

Bal, M. (red.). 1979. Mensen van papier: over personages in de literatuur. Assen: Van Gorcum.

Bal, M. 1978/1980. De theorie van vertellen en verhalen: inleiding in die narratologie. Muiderberg: Coutinho.

Beukes, G.J. & Lategan, F.V. 1967. Skrywers en rigtings. Pre­toria: Van Schaik.

Blok, W. 1969. Verhaal en lezer. Groningen: Diss.

Boulton, M. 1975. The Anatomy of the Novel. London: Routledge & Kegan Paul.

Brink, A.P. 1967. Aspekte van die nuwe prosa. Kaapstad: Academica.

Brink, A.P. 1987. Vertelkunde. Pretoria & Kaapstad: Academica.

Chatman, S. 1972. On the formalist-structuralist theory of charac­ter. Journal of Literary Semantics, 1.

Conradie, P.J. 1968. Hoe om ‘n drama te ontleed. Pretoria & Kaapstad: Academica.

Cruller, J. 1975. Structuralist Poetics: Structuralism, Linguis­tics and the Study of Literature. London: Routledge & Kegan Paul.

Doležel, L. 1972. Die Typologie des Erzählers: ‘Erzählung-situationen’ (‘Point of view’) in der Dichtung. In: Ihwe, J. (Hrsg.). Literaturwissenschaft und Linguistik. Band 3. Frank­furt am Main: Athenäum.

Doležel, L. 1973. Narrative Modes in Czechliterature. Toron­to: University of Toronto Press.

Elam, K. 1980. The Semiotics of Theatre and Drama. London: Methuen.

Foster, E.M. 1974. Aspects of the Novel. Harmondsworth: Penguin.

Fowler, R. 1977. Linguistics and the Novel. London: Methuen.

Frye, N. 1957. Anatomy of Criticism. Princeton: Princeton University Press.

Goldmann, L. 1975. Towards a Sociology of the Novel. London: Tavistock.

Greimas, A.J. 1966. Sémantique structurale. Paris: Larousse.

Hamon, P. 1977. Pour un statut sémiologique du personnage. In: Barthes, R., Booth, W. & Hamon, P. Pratique du récit. Paris: Seuil.

Harvey, W.J. 1965. Character and the Novel. London: Chatto & Windus.

Maatje, F.C. 1970/1971. Literatuurwetenschap: grondslagen van een theorie van het literaire werk. Utrecht: Oosthoek.

Propp, V. 1970. Morphologie du conte. Paris: Gallimard.

Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative Fiction: Contemporary Poet­ics. London: Methuen. (New Accents.)

Smuts, J.P. 1975. Karakterisering in die Afrikaanse roman. Pre­toria: HAUM.

Sötemann, A.L. 1966/1973. De structuur van Max Havelaar. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Souriau, E. 1950. Les deux cent mille situations dramatiques. Paris: Flammarion.

Stanzel, F. 1979. Theorie des Erzählens. Göttingen: Vandenhoeck.

Strachan, A. 1982. ‘n Teoretiese beskouing van personifiëring in die roman. Tydskrif vir letterkunde, 20(1).

Todorov, T. 1969. Grammaire du Décaméron. La Haye: Mouton.

Todorov, T. 1972. Poetik der Prosa. Frankfurt am Main: Athenäum.

Visser, N.W. 1980. Theory of character in the novel. Bloemfontein. (SAVAL Congress Papers.)

Wilson, C. 1974. The Outsider. London: Pan.

 
J.H. Johl