VERTELLER (EPIEK)

Die verteller is die diskursiewe instansie wat die VERTELLING in ‘n EPIESE teks tot stand bring: direk deur in die VERTELLERTEKS aan die woord te kom om oor die storiegebeure en die personasies te berig; indirek deur die vertelling te redigeer waar personasies se woorde (dialoog) of gedagtes (INNERLIKE MONOLOOG) as PERSONETEKS gesiteer word. In ‘n uiting soos “Bart Nel het vroeër op Kafferkraal gewoon, ‘n plaas in die distrik van Pretoria”, is die verteller direk aan die woord. In die beginuiting van Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena: ” ‘Ons is Gordonia-boorlinge,’ sê Poppie”, siteer die verteller die woorde van ‘n personasie en redigeer die sitaat slegs deur die byvoeging van “sê Poppie”. Alhoewel die verteller sy eie aandeel in die vertelling sodoende mag verminder, verdwyn hy in die epiek nooit hééltemal uit die vertelling nie.

As die subjek van ‘n vertelhandeling is die verteller onderskeibaar van die outeur, dit is die instansie wat die TEKS op ‘n bepaalde wyse orden en struktureer (bv. deur die hoofstukgeleding en -volgorde te bepaal, die teksduur van tonele vas te stel, die styl en vertelhouding te kies – vgl. OUTEUR (EPIEK)), maar nie self vertel nie. Gevalle van die sg. authorial intrusion is meestal voorbeelde van ‘n spraaksame en kommentariërende verteller se optrede. Verder is die verteller onderskeibaar van die personasies óór wie se handeling en/of belewing vertel word, selfs in vertelsituasies waar die verteller en die handelende personasie dieselfde individu is en ‘n minimale tydsverskil die handeling en die vertelling daarvan skei. As daar in ‘n teks staan “Ek het die man die straat sien oorsteek, van die kafee se kant af” (die begin van Miles se kortverhaal “Voorgevoel” uit Liefs nie op straat nie), dan is die moment waarop die ek-figuur die man sien en die moment waarop die ek-verteller daarvan vertel, nie identies nie. (Die moment waarop iemand die verhaal die titel “Voorgevoel” gee, is weer ‘n ander moment.) “If I relate an event,” sê Bakhtin (1982: 256) “that has just happened to me, then I as the teller … of this event am already outside the time and space in which the event occurred. It is just as impossible to forge an identity between myself, my own T, and that T that is the subject of my stories as it is to lift myself up by my own hair.”

Die tydsafstand tussen die storie en die vertelling (verhaal) kan van teks tot teks wissel. (Vgl. GESKIEDENIS/STORIE/VERHAAL EN TEKS.) Dit kan minimaal wees soos in Miles se “Voorgevoel” (‘n voorbeeld van wat Pouillon, 1946: 74 die “vision avec” noem) of jare en dekades kan die gebeure en die vertelling daarvan skei. Voorbeelde van epiese tekste waarin daar uit ‘n duidelike agternaperspektief vertel word (Pouillon se “vision par derrière”), is talryk. Bart Nel se verteller vertel van “vroeër” toe Bart en Fransina op Kafferkraal gewoon het en Petra Müller se verteller in “Brooddoek” (in die bundel Voëls van die hemel) vertel van “destyds” toe haar pa ‘n jong polisieman in die distrik Eenzaamheid was. Die verskil tussen die vertellershede (die diskursiewe hede) en die vertelde verlede (die storiehede en/of -verlede) verteenwoordig in bv. die genre van die outobiografiefiksie meer as bloot ‘n temporele verskil. Die temporele verdeling tussen tóé en nóú beteken nl. ook die verskil tussen die wêreld van onvolwassenheid en die van volwassenheid, dit stel die sekerhede of die onskuld van ‘n jeug destyds teenoor die vrae en onsekerheid van die latere volwassenheid. Hierdie twee wêrelde kan vertel word met ‘n vertelhouding wat wissel van verlange en nostalgic (soos in Toon van den Heever se bekende “Werkstaking by die kleigat” uit Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer) tot die sinisme van Marnix Gijsen se Klaaglied om Agnes. In ‘n RAAMVERTELLING word nie alleen die storiehede nie maar ook die vertellershede figuratief ingeklee, wat die tyd en ruimtelike relasie tussen storie en DISKOERS drie- of viervoudig verwikkel. Brink se Gerugte van reën is bv. die vertelling van Martin Mynhardt wat as ek-verteller (en fiktiewe outeur) vertel dat hy “nou” (diskursiewe hede, tydsvlak 1) nege dae in ‘n Londense hotelkamer het (figuratiewe raamhede, tydsvlak 2) om sy herinneringe aan ‘n naweek (storiehede, tydsvlak 3) op te teken waarin sy ervaringe van ‘n ganse lewe saamgetrek is (storieverlede, tydsvlak 4).

Die relasie tussen die vertelling en die storie kan varieer na gelang die verteller: 1) binne of buite die storie staan; 2) oor sy eie lotgevalle of oor dié van ander vertel; 3) die personasies innerlik of uiterlik ken; 4) homself minder of meer as verteller aanwesig stel. Die eerste onderskeid het met die vertelvlak te make. Genette (1980: 227 e.v.) praat in hierdie verband van ‘n ekstradiëgetiese, ‘n intradiëgetiese en ‘n hipodiëgetiese verteller (vgl. DIëGESIS). ‘n Ekstradiëgetiese verteller staan buite die storie wat hy vertel. Hy kan kommentaar lewer of die vertelling bloot redigeer. Keer ons terug na die beginuiting van Die swerfjare wat in paragraaf 1 hierbo aangehaal is, kan ons sê dat die woorde “sê Poppie” van ‘n ekstradiëgetiese verteller afkomstig is. Hierdie primêre verteller stel egter ‘n tweede verteller aan die woord wat nie net ‘n stem in die vertelling is nie maar ook as ‘n personasie binne die storie optree, nl. Poppie. Sy is die een wat oor haarself en oor haar mense vertel, ‘n intradiëgetiese vertelling wat met die woorde “Ons is Gordonia-boorlinge” begin. Omdat daar sekere gebeure vertel word wat Poppie nie meegemaak het nie, word in Die swerfjare ook van ander personevertellers gebruik gemaak, bv. van Mosie of Mama. Hulle is dan vertellers op ‘n derde vlak, die vlak wat Genette hipodiëgeties noem. Van ekstra- na intra- na hipodiëgese beweeg die leser van die buitenste laag van die vertelling algaande na die kern, na die fiktiewe hart van die roman toe. Hierdie drie vertellae (wat vermeerder sou kon word: Mosie kan bv. vertel wat hy by iemand anders gehoor het) plaas ons ook voor die belangrike probleem van narratiewe inbedding (vgl. Bal, 1981) en die saamgestelde semantiek daarvan. As Mosie bv. vertel van die opstande in Soweto, dan is sy hipodiëgetiese vertelling ‘n sitaat in Poppie se intradiëgetiese vertelling, en dié weer ‘n sitaat in die primêre of ekstradiëgetiese vertelling van die anonieme verteller. Dit kom daarop neer dat die verteller Poppie laat vertel wat Mosie aan haar vertel het: ‘n situasie dus waar daar die hervertelling van ‘n vertelling is. Met elke diskursiewe transformasie is daar ‘n verdere verfyning of raffinering van die oorspronklike uiting.

Stanzel (1979: 71, 121) se tipologie, waar hy onderskei tussen ‘n derdepersoons-, ‘n eerstepersoons- en ‘n figurale/personale vertelling, stem maar gedeeltelik met Genette se model ooreen. Sy derdepersoonsverteller is min of meer sinoniem met Genette se ekstradiëgetiese verteller, maar Poppie én Mosie sou eerstepersoonsvertellers heet, al staan hulle nie op dieselfde vertelvlak nie.

Die tweede onderskeid hierbo – die vraag of die verteller van sy eie lotgevalle of dié van ander vertel – het met die vertelfokus te make. Genette (1980: 243 e.v.) onderskei hier tussen homodiëgese (Stanzel se eerstepersoonsvertelling) en heterodiëgese (Stanzel se derdepersoonsvertelling); ‘n homodiëgetiese verteller vertel oor gebeure waarby hy self betrokke was. Die vertelaandag of -fokus staan dus met die eie persoon in verband. By heterodiëgese word die blik na buite gerig, daar word oor die lotgevalle van ander berig. Die verteller kan hierby alwetend en alomteenwoordig wees of hy kan hom beperk tot gebeure waarvan hy ooggetuie was of waarvan hy gehoor het. Mama se vertelling in Die swerfjare oor die dood van Stone, is wat vertelvlak betref (punt 1 hierbo) hipodiëgeties en wat vertelfokus betref heterodiëgeties. As die kinders egter in die Kaap hom vertel van die opstande in Soweto wat hulle self meegemaak het, dan is die vertelling homodiëgeties. Dit is sonder meer duidelik dat homo- en heterodiëgese nie absoluut van mekaar te skei is nie. As Mama bv. oor die dood van Stone vertel, sal haar eie gevoel ook meespreek en in die opsig is die vertelling homodiëgeties. Tog sou ‘n mens dit nie so tipeer nie, omdat haar eie gevoel nie die middelpunt van die vertelling vorm nie.

Punt 3 hierbo staan in verband met die psigologiese standpunt waaruit vertel word en dus met PERSPEKTIEF en FOKALISASIE. In ‘n vertelsituasie waar die verteller die personasie se gevoelens en gedagtes ken, is die vertelling intern gefokaliseer (Bouillon, 1946: 72 se “vision dedans”; Genette, 1980: 189 se “internal focalization”). Waar die vertelling homodiëgeties is, is daar ‘n beperkte interne fokalisasie (die verteller vertel net die gevoelens wat hy as personasie self ervaar het), terwyl heterodiëgese omvattender interne fokalisasie moontlik maak: die verteller ken nl. die innerlike van ‘n ander mens, die hooffiguur van sy vertelling (Stanzel se personale/figurale vertelling) of die innerlike van meer as een of selfs al die personasies van sy vertelling (Stanzel se ouktoriële vertelling). Het ‘n verteller nie insig in die innerlike van die personasies teenoor hom nie, is die vertelling ekstern gefokaliseer (Pouillon se “vision de dehors”, Genette se “external focalization”). (Vgl. vir voorbeelde en ‘n verdere bespreking FOKALISASIE.)

Met die laaste punt hierbo (4) staan ons voor die verskynsel dat die vertelwyse in ‘n narratiewe werk die vertelaspek (diëgesis, “telling”, vgl. Genette, 1980: 164 e.v.) of die beeldingsaspek (mimesis, “showing”) kan laat domineer. Stanzel (1979: 270―272) se onderskeid tussen vertellergerigte diskoers en reflektorgerigte diskoers hou met hierdie aspek van die vertelsituasie verband.

As die verteller in die volgende teksgedeelte uit Bart Nel Fransina se karakter beskryf, doen hy dit diëgeties: “Met die eerste oogopslag sien jy al wat sy is, ‘n vrou wat lief kan wees as jy haar ‘n kans gee en een wat haar wil kan laat gelde as jy teen haar sin gaan.”

Die verteltrant is opsommend, oorskouend, losgemaak van die moment en van ‘n waarnemer. As Bart se karakter beskryf word, is die diskoers egter mimeties: “‘n Paar oomblikke bekyk sy hom aandagtig met sy mooi, bruingebrande gesig, swaarbenig en gespierd, met sy ferme lippe en sy byna swart onversaagde oë, lyk hy stug en nors. Op sy wange en ken skemer sy baard blou deur. Met die sweem van ‘n glimlag sit sy hom en beskou.” (Vgl. ook NARRATIEWE WEERGAWES/MODUSSE.)

Hierdie persoonbeskrywing is aan die moment en aan die fokalisasie van ‘n waarnemer gebonde: dis Fransina wat na Bart kyk op die moment dat hy die huis by haar binnekom. Daar word dus nie diëgeties gesê hoe Bart is nie, maar mimeties gewys hoe hy vir Fransina as reflektor-karakter of fokalisator lýk.

Die vertelvlak, die vertelfokus, die fokalisasie van die verteller en die vertelwyse is kenmerke van die een kompleks wat ons die vertelsituasie noem. Met die NARRATOLOGIESE beskrywing van die vertelsituasie in ‘n epiese teks word probeer om aan te toon hoe hierdie kenmerke afsonderlik lyk en hoe hulle kombineer om die geheel van die narratiewe situasie te vorm. Die vertelsituasie in Bart Nel sou bv. as ‘n ekstra-heterodiëgetiese situasie met meervoudige interne fokalisasie en oorwegend mimetiese diskoers getipeer kon word. Dit is die narratiewe reël in Bart Nel. Afwykende vertelmomente word juis in die lig van hierdie algemene karakteristiek herkenbaar. So is dit bv. beduidend dat die beskrywing van die skoonheid van die lug en die sonsopkoms op p. 49 van Bart Nel eksplisiet losgemaak word van die interne fokalisasie van Bart (“Bart het daar geen oog voor nie”). Sonder die narratiewe reël van interne fokalisasie sou hierdie sprekende afwyking nie opvallend geword het nie. Die lakonieke en diëgetiese kortheid waarmee die afloop van die Rebellie vertel word (pp. 150— 151), staan ook uit as dit vergelyk word met die reël van die mimetiese volheid waarmee ander gebeure, o.m. die aanloop tot die Rebellie, in Bart Nel geteken word.

 

Bibliografie

Bakhtin, M.M. 1982. The Dialogic Imagination. Austin: University of Texas Bress.

Bal, M. 1981. Notes on narrative embedding. Poetics Today, 2(2).

Cohn, D. 1981. The encirclement of narrative: on Franz Stanzel’s Theorie des Erzählens. Poetics Today, 2(2).

Doležel, L. 1967. The typology of the narrator: point of view in fiction. In: Doležel, L. To Honor Roman Jakobson. The Hague: Mouton.

Friedman, N. 1955. Point of view in fiction: the development of a critical concept. PMLA, 7.

Genette, G. 1980. Narrative Discourse. New York: Cornell University Press.

Lanser, S.S. 1981. The Narrative Act. Point of View in Prose Fiction. Princeton: Princeton University Press.

Martin, W. 1986. Recent Theories of Narrative. London: Cornell University Press.

Prince, G. 1982. Narratology: The Form and Function of Narrative. Berlin: Mouton.

Bouillon, J. 1946. Temps et roman. Bans: Gallimard.

Stanzel, F. 1979. Theorie des Erzählens. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

 
L.S. Venter