FOKALISASIE

Die begrip fokalisasie wil verduidelik dat die instansie wat in ‘n EPIESE TEKS vertel (die VERTELLER), nie dieselfde hoef te wees as die instansie wat sien nie (die waarnemer of fokalisator; vgl. Genette, 1980: 189 e.v.). Vertelling impliseer ‘n sekere kyk op sake (PERSPEKTIEF, point of view), ‘n manier van waarneming (fokalisasie) en ‘n manier van vertel. Al drie funksies kan in ‘n verteller verenig word, maar dis ook moontlik dat ‘n verteller kan vertel hoe iemand anders (ook sy eie “ander ek”, dit is hyself as storiepersoon) iets sien of gesien het (vgl. Rimmon-Kenan, 1983: 72). Vergelyk bv. die volgende twee teksgedeeltes met mekaar: “Was jy al op die Hoëveld na die eerste reëns geval het, as die brande groen uitslaan en die skape windop uitstryk agter die botterblomme aan? Het jy al gelê teen ‘n heuwel naby die kuile terwyl die skape, so teen die middag, as dit warm begin te word, rustig om jou wei en gehoor hoe die geluid van uitgetrekte grashalmpies verenig en saamsmelt tot die gerommel van ‘n verre donderweer? En as die skape gaan lê, het jy al … probeer om die rooivlerke te sien wat hoog in die blou lug klapwiek en sing …?” (Toon van den Heever, “Werkstaking by die kleigat”).

“Kolisile kyk nou weer na die mielies wat maer geword het net soos die beeste maer geword het. Die stoele is tenger en verspot, en die smal blare, wat half geel is, hang roerloos in die stil sonlig. Hy dink terug aan die geil jare toe die stoele blou-groen, fors, hoog in die klam aarde gestaan het, toe die wit baarde in die namiddaglig geglinster het, toe die pitte soos die tande van perde aan die lang koppe ingeryg gesit het” (F. A. Venter, Swart pelgrim).

In die Van den Heever-teks is daar ‘n romantiese, nostalgiese verteller aan die woord wat vir homself en sy leser (geskep deur die voornaamwoord “jy”) die mooi wêreld van ‘n jeug voor die geestesoog roep. Dit is sý skoonheidsperspektief wat geld, dis hý wat hom verbeel dat hy weer die skape sien wei en die rooivlerke sien vlieg. Alles word vertel soos dit vir die verteller is: rustig en mooi. (Hoe hierdie situasie van harmonie deur die verhaal heen geïroniseer word, laat ek onbespreek.) In Swart pelgrim is die vertelling nie op ‘n soortgelyke wyse op die persoon wat sien “afgestem” nie. Dis Kolisile wat na die mielies en die beeste kyk en van die droogte en die hitte om hom bewus is, maar dit is ‘n verteller wat daarvan vertel. In hierdie proses ontstaan daar ‘n onaanvaarbare kloof tussen die verteller en die persone-fokaliseerder: die persoon se moedeloosheid en bedruktheid word deur die taal van die verteller vermooi, dit word te bewus as gemoedsbeweging vertel. Die vergelykings (“soos die tande van perde”, en later op dieselfde bladsy “soos sterk stryders”, “soos ou manne”) is ‘n opsigtelike poging van die verteller om die diskoers deur die tipiese idioom van die swart man te kleur, maar woorde en frases soos “stil sonlig”, “blou-groen” en “glinster” is selfs sonder hierdie stukkie taalrealisme en direk na die verteller (en die tradisie van die “mooi prosa”) terugvoerbaar.

Uit die twee voorbeelde hierbo moet egter nie afgelei word dat vertellings waar die fokalisasie en die *diskoers op mekaar afgestem is noodwendig goed en die teendeel sleg is nie. In die volgende toneel uit Flaubert se Madame Bovary word vertel hoe Emma oor haar man, Charles, en haar minnaar, Rodolphe, voel. Alhoewel dit Emma se fokalisasie is wat gebruik word, is dit die verteller wat haar indrukke orden en formuleer: “Charles never seemed so disagreeable to her, his fingers never seemed so blunt, his mind so dull or his manners so crude as when she saw him after one of her meetings with Rodolphe. As she acted out her role of wife and virtuous woman, she would ardently think of her lover’s black hair curling down over his forehead, of his powerful yet elegant body, of his mature intelligence and hot-blooded temperament” (book 2, chapter 12).

In sy kommentaar oor hierdie toneel verduidelik Auerbach in sy Mimesis (vgl. die opstel opgeneem in Flaubert, 1981: 375) dat Emma se belewing van Charles ‘n veel groter warboel is as wat vertel word: “Emma feels much more, and much more confusedly; she sees other things than these – in his body, his manners, his dress; memories mix in; meanwhile she perhaps hears him speak, perhaps feels his hand, his breath, sees him walk about, good-hearted, limited, unappetizing, and unaware; she has countless confused impressions.”

Van hierdie veelheid word egter net drie dinge vertel, “paradigmatically taken from Bovary’s physique, his mentality, and his behaviour”. Die verteller artikuleer dus met ‘n helderheid waartoe Emma nie in staat sou wees nie. Ook as sy aan Rodolphe dink, volg die vertelling dieselfde patroon as wanneer haar misnoeë met Charles ter sprake is: eers dink sy aan sy liggaam (sy “black hair” en “elegant body”), dan aan sy denke (sy “mature intelligence”) en dan aan sy gedrag (sy “hot-blooded temperament”). Terwyl Emma die subjek van die fokalisasie is, is sy terselfdertyd die objek van die verteller se waarneming: sy sien “but is herself seen as one seeing, and is thus judged”. Vir die roman is hierdie afstand tussen die verteller en die romantiese heldin van groot semantiese belang.

In die NARRATOLOGIE word verskillende vorme van fokalisasie van mekaar onderskei (vgl. Genette, 1980; Bal, 1980 en 1981; Rimmon-Kenan, 1983). As die standpunt waaruit vertel word die denke en gevoelens van die fokalisator betref, dan is die fokalisasie intern. Ons weet bv. hoe Emma voel as sy Charles sien en aan Rodolphe dink. As ons nie weet wat die gevoelens van die fokalisator is nie, is die fokalisasie ekstern. In die volgende gedeelte uit Chris Barnard se “Vrydag” (in Duiwel-in-die-bos) kyk die leser met die karakter mee, maar wat hy voel en ervaar, bly onbekend: “Die pantserwa se bande is half weggeloop; ‘n mens herken sy spore maklik. Die regteragterband is aan die binnekant heeltemal glad, maar as jy mooi kyk, sien jy aan die buitekant nog die merke van die loopvlak se fyn kruispatroon.”

Daar kan dus van binne of van buite af gefokaliseer word. Die fokalisasie kan verder aan die verteller (verteller-fokaliseerder) of aan die personasie (karakter-fokaliseerder) geknoop wees. Waar slegs een karakter-fokaliseerder deur ‘n werk heen gebruik word, is die fokalisasie enkelvoudig (bv. Mahala van Chris Barnard). Waar meer as een karakter-fokalisator gebruik word (bv. André P. Brink se Houd-den-Bek) is die fokalisasie meervoudig. As die fokalisasie deur personaliserende frases (“Kolisile kyk”, “hy dink terug”, “she saw him”) aan ‘n personasie geknoop word, is dit eksplisiete fokalisasie; as daar uit die konteks afgelei moet word dat dit ‘n bepaalde persoon is wat waarneem, is die fokalisasie implisiet.

Alhoewel hierdie onderskeidinge nuttig is, kan verskillende vorme van fokalisasie saam in een teksgedeelte voorkom. In die bespreking van die gedeelte uit Madame Bovary is daarop gewys dat Emma èn subjek van die fokalisasie èn objek van die verteller se waarneming is. Die karakter-fokalisasie is dus in die verteller-fokalisasie ingebed. In die volgende gedeelte is die eksterne fokalisasie van ‘n karakter ingebed in die interne fokalisasie van die hoofkarakter: “Sy gesig blink waarskynlik van die sweet. Hy kyk na my waar ek langs die tafel sit en miskien dink ek hy het oud geword. Maar ten spyte daarvan herken ek hom. Ek het sy voetstap reeds al herken” (Chris Barnard, “Bos”).

Die frase “hy kyk na my” knoop die fokalisasie aan Kirst. Omdat ons nie weet wat die gevoelens van die fokalisator is nie, is die fokalisasie ekstern. Kirst bestaan egter binne die angsvoorstelling van die ek-figuur: dis dus die ek-figuur wat hom voorstel hoe Kirst na hom sal kyk. In dié opsig is die fokalisasie intern.

 

Bibliografie

Auerbach, E. 1953. Mimesis: The Representation of Reality in Western Literature. Princeton: Princeton University Press.

Bal, M. 1978/1980. De theorie van vertellen en verhalen: inleiding in de narratologie. Muiderberg: Coutinho.

Bal, M. 1981. The laughing mice, or: on focalization. Poetics Today, 2(1).

Bal, M. 1983. The narrating and the focalizing : a theory of agents in the narrative. Style, 17(2).

Berendgen, M. 1984. The teller and the observer: Narration and focalization in narrative tents. Style, 18(2).

Bronswaer, WJ.M. 1979. Focaliseren of vertellen. Forum der letteren, 20.

Flaubert, G. 1981. Madame Bovary. Toronto: Bantam Books.

Genette, G. 1980. Narrative Discourse. New York: Cornell University Press.

Genette, G. 1983. Nouveau discours du recit. Paris: Seuil.

Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative Fiction: Contemporary Poetics. London: Methuen.

Van Buuren, M.B. 1979. Focalisatic. Forum der letteren, 20(4).

L.S. Venter