VERTELLING

‘n Vertelling kan kortweg omskryf word as ‘n eenvoudige narratiewe literêre vorm. As ‘n subgenre word die vertelling onderskei van die KORTVERHAALNOVELLE en ROMAN op grond van die lineêre aanbieding, eenvoudige struktuur en soms ook die beperkte omvang daarvan. Hoewel die vertelling meer dikwels in prosavorm voorkom, is daar ook bekende poësietekste wat as vertellings bekend staan, bv. Chaucer se Canterbury Tales.

Vertelling as ‘n subgenre, d.w.s. as ‘n literêre soort, moet onderskei word van die begrip vertelling (narration) soos dit in die NARRATOLOGIE gebruik word. Vir die narratologie is vertelling die vertelhandeling in die TEKS, wat as ‘n aspek van die teks bestudeer word.

Vertelling as ‘n literêre soort is moeilik definieerbaar, juis omdat die vertelling gewoonlik ‘n ongekunstelde en los vorm het en omdat dit dikwels vir blote vermaak vertel word. Daar kan egter tog gesê word dat ‘n vertelling ‘n weergawe van opeenvolgende gebeurtenisse of ervaringe is wat waar of FIKSIONEEL kan wees. Die tema is gewoonlik eenvoudig en nie uitvoerig uitgewerk nie. Al word so ‘n tema met sorg aangebied, bly die vertelling los gestruktureer en die aanbieding eenvoudig en natuurlik. Indien so ‘n teks hegter of doelbewus artistiek gestruktureer word, word dit ‘n kortverhaal.

In die vertelling val die klem op die STORIE, die lineêre verhalende lyn en daar is nie ‘n ingewikkelde intrige of PLOT nie. Die KARAKTERS in die vertelling is natuurlik en duidelik omlyn en daar vind min of geen ontwikkeling van karakters plaas nie. Daar is duidelik ‘n VERTELLER aan die woord wat op ‘n spontane en lewendige trant die storie vertel.

Die vertelling is normaalweg minder omvangryk as die roman, EPOS of SAGE, en die doelbewuste artistieke strukturering van die novelle en kortverhaal ontbreek by die vertelling. ‘n Mens vind dus by die vertelling nie ‘n sirkelstruktuur of kontrapuntale struktuur nie, omdat die opvallendste eienskap van die vertelling juis sy lineêre aanbiedingsvorm is. Die vertelling is meer uitgebrei as die ANEKDOTE maar is gewoonlik nie lank nie. Daar is egter wel vertellings wat lank is. So is M.E.R. se My beskeie deel al ‘n OUTOBIOGRAFIESE vertelling genoem. Die vertelling word ook onderskei van die SPROKIE en die SAGE weens die afwesigheid van die fantasie omdat die vertelling gewoonlik (maar beslis nie altyd nie) meer realisties van aard is.

Om volgens sulke vae riglyne ‘n teks te benoem, is nie altyd maklik nie en die geldigheid van rigiede indelings kan ook bevraagteken word. Verhalende tekste toon ‘n oneindige verskeidenheid gedaantes en die moontlikhede vir variasie is haas onbeperk. Uiteenlopende tekste word dan ook vertellings genoem, bv. Chaucer se Canterbury Tales, Coleridge se “The rhyme of the ancient mariner” en Peter Grimes van George Crabbe. Aan die ander kant is daar tekste wat oënskynlik eenvoudig is, maar wat by nader beskouing groot kompleksiteit en diepsinnigheid vertoon, sodat sulke tekste nie vertellings genoem kan word nie. T.T. Cloete se Die waarheid gelieg kan hier genoem word.

Uit die vroeë Afrikaanse prosa is die Dierestories van G.R. von Wielligh voorbeelde van vertellings. M.E.R. se Onweershoogte en ander verhale en Drie vertellings is in die oorwegend eenvoudige styl en lineêre aanbieding goeie voorbeelde van die vertelling, soos ook van die verhale van J. van Melle, bv. die verhale in die bundeltjie Mense wat maar eenmaal liefhet.

Al kom die woord vertelling in die titel of subtitel van ‘n teks voor, wil dit nog nie sê dat die teks ‘n vertelling is nie. So is Charles Dickens se A Tale of Two Cities ‘n roman omdat die werk te omvangryk is om ‘n vertelling genoem te kan word. Die kêrel van die Pêrel van Henriette Grové het as subtitel “Drie vertellings waarin die liefde ter sprake kom”. Hier het ‘n mens egter te make met ‘n doelbewuste onderbeklemtoning van die artistieke aard van die tekste. Die onderbeklemtoning vorm deel van die komplekse artistieke kommunikasie tussen teks en leser, want hierdie tekste is allesbehalwe los gestruktureerde, eenvoudige vertellings.

 

Bibliografie

Botha, E. 1980. Oor die Afrikaanse prosa en ander opstelle. Kaapstad: Tafelberg.

Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, band 1. Kaapstad: Academica.

 
Heilna du Plooy