SPROKIE

Die Europese volksprokie het duisende jare gelede ontstaan. In Middelnederlands beteken “SPROOK” ‘n spreuk, uitspraak of verhaal. Teen die 17e eeu word die verkleiningsvorm “sprookje” algemeen gebruik en is die betekenis grootliks gefiksionaliseer. In sowel Nederlands as Afrikaans dui die woord vandag op ‘n spesifieke verhaalsoort (in Engels fairy tale), hoewel dieselfde woord ongelukkig ook algemeen dui op enige ou verhaal wat aanvanklik mondeling oorgelewer word. Om die rede word soms na sprokies verwys as VOLKSVERHALE bedoel word, bv. in ‘n reeks volksverhale wat deur Pieter Grobbelaar versamel is en deur die uitgewer as sprokies gepubliseer is. Op oordragtelike wyse word die ongelooflike en uitsonderlike ook in die moderne era aangedui as synde “sprokiesagtig”.

Aanvanklik is sprokies van geslag tot geslag mondeling oorgelewer en het volwassenes dit aan volwasse luisteraars vertel – hoewel kinders sekerlik ook by die vertellings teenwoordig was. Op verhulde wyse is gesinsverhoudings en individuele problematiek betrek. Selfs toe Perrault in 1693 tot 1697 die eerste man was wat bekende sprokies neergeskryf het en daardeur ‘n bydrae tot die Franse kultuur gelewer het, was hy so skaam omdat dit sogenaamd “kinderagtig” van opset was, dat hy voorgegee het dat sy seun die samesteller was. Veral kinders het die Sprokies van Moeder Gans aangegryp.

Jean-Jacques Rousseau het die kind belangrik gemaak. Sy siening dat die kind ‘n mens in eie reg is, word vandag nog onderskryf; die oortuiging dat ‘n kind sondeloos, onskuldig en hemels gelukkig is en so bewaar moet bly, het mettertyd groot teenstand uitgelok maar is nagevolg deur die Grimm-broers wat sprokies opgeteken en vir kinders aangepas het. Veral Jacob Grimm het kru verwysings en seksuele konnotasies weggelaat: albei was verantwoordelik vir die byvoeging van verse en liedjies en die bywerk van sedelike voorskrifte.

Ná hierdie samestellers het andere dieselfde en ander sprokies dikwels in skrif vasgelê, telkens met klein variasies en byvoegings uit ‘n eie sosio-kulturele milieu. Die feit dat die basiese gegewe behoue gebly het en tot vandag toe oorleef en geliefd is by kinders, bewys dat die essensie en nie ‘n bepaalde klimaat nie, die kern van die sprokie is. Charlotte Bühler, die bekende sielkundige, het teen 1917 opgemerk dat die sprokie die belangrikste leesstof vir kinders is. Hoewel die uitspraak nou nie meer geld nie, het sprokies nie verdwyn nie.

Baie teorieë oor sprokies word aangetref. Na die Tweede Wêreldoorlog is die verhaalsoort angsvallig geweer, omdat dit volgens die imitasieteorie kinders kon verlei tot navolging of aanvaarding van geweld. Volgens die angsteorie kan sprokies die balans van die kinderpsige versteur; daarenteen stel die katarsisteorie dat angste, jaloesie en woede deurgewerk kan word aan die hand van sprokies. Die sosiale teorie sien die sprokie slegs as neerslag van ‘n maatskaplike bestel.

Hoewel Bruno Bettelheim, in navolging van Freud en Jung, sy psigoanalitiese uitsprake soms te ver voer en daardeur tot hiperseksuele en allegoriese uitsprake kom, is sy beskouing van die sprokie as literatuursoort wat tot die onbewuste spreek en die kind help om probleme te verwerk, die aanneemlikste. Die siening word gesteun deur die feit dat variasies van dieselfde sprokies dwarsdeur Europa bekend was in ‘n stadium toe die verskillende lande geen kontak met mekaar gehad het nie, as sou ‘n kollektiewe onbewuste wat oral met identiese probleme te doen gehad het, dit op dieselfde verhaalmatige wyse verwoord het. Van Aspoestertjie is bv. honderde variasies opgeteken.

Probleme waarmee die kind worstel en wat verhelder en opgelos word deur sprokies, is o.m. ‘n identiteitskrisis, die strewe na selfstandigheid, ‘n soeke na sekuriteit en die ervaring van verwerping deur ouers. Deur die sprokie word die belewer na verlossing en oorwinning gevoer: op min uitsonderings na eindig die sprokie met die vertroosting dat die protagonis en geliefde daarna “vir altyd gelukkig gelewe” het. Al sou so ‘n uitspraak nie letterlik realiseerbaar wees nie, bring dit geestelike weerbaarheid wat ‘n leeftyd kan duur.

Op sy minste is sprokies, soos Walter Scherf dit stel (aangehaal deur Hulsens, 1980: 134), “psychodrama’s van gezinsconflicten die verwerkt moeten worden”. Literêr beskou, het sprokies ‘n eenvoudige struktuur waar net die essensiële uitgelig word en die verhaal sprongsgewys vorder, met geen onnodige beskrywings of uitbouing nie. Herhalings waardeur motiewe beklemtoon word, kan wel voorkom. Oplopende spanning lei na ‘n klimaks maar veral na verlossing.

Die getal drie wat ‘n primêre rol speel, wys op afgerondheid, volledigheid; dit kan ook seksuele betekenis hê maar hou geen verband met die Bybelse Drie-eenheid nie, veral aangesien baie sprokies reeds voor die Christelike era ontstaan het.

Die historiese tyd is uiters vaag en word nie pertinent vasgestel nie. Hoewel algemene afleidings gemaak kan word oor vervloë tye en beskawings, wys die oorheersende vaagheid eerder op innerlike konflikte. Die chronologie word streng nagekom. Die vertelde TYD wissel van ‘n paar uur (Rooikappie) tot jare (Sneeuwitjie) tot ‘n honderd jaar (Doringrosie) – hoewel lg. meer ‘n tydgeheel as werklike jare voorstel. Soms ontwikkel ‘n dogtertjie tot hubare ouderdom binne ‘n onrealistiese kort tyd (Die paddaprins) omdat dit om innerlike werklikhede gaan.

Die RUIMTE is eweneens vaag, met omtrekaanduidings van koninkryke, riviere, ‘n kasteel en veral ‘n bos. Laasgenoemde speel in die meeste sprokies ‘n prominente rol, omdat dit dui op onsekerheid, ‘n tussentoestand in die grootwordproses of probleme wat nog nie opgeklaar is nie. Daar is altyd ‘n rede waarom ‘n karakter hom in ‘n bos bevind – vergelyk bv. die talle volksprokies wat in Engels deur Ruth Manning-Sanders opgeteken is. Die ruimte is nooit dig bevolk nie: elke personasie of objek wat wel voorkom, het ‘n funksie in die sprokie. Objekte het dikwels ‘n magiese kwaliteit.

Die oorgrote meerderheid sprokies werk met ‘n dubbelruimte: die verhaal begin in ‘n nie-toweragtige ruimte, waarna oorgeskakel word na ‘n magiese gesteldheid; die slot bring ‘n terugkeer na die realiteit, wat weliswaar nog kastele behels maar waar niks vreemds meer gebeur nie.

Die Russiese volkskundige, Vladimir Propp, ontleed die tipes personasies wat in ‘n sprokie voorkom, o.a. die held, die booswig, die helper. Dis m.i. meer funksioneel om te let op die eendimensionaliteit van die KARAKTERS en hulle tiperende of algemene name, wat identifikasie moontlik maak. Na swaarkry en worsteling word verlossing moontlik deur eie aktiewe optrede of die hulp van ‘n personasie wat vir of saam met hom optree. Die protagonis word nie aan die einde opgehef uit ‘n laer staat nie maar herstel in sy bedoelde posisie. Dat dié dikwels die amp van koning is, kan dui op ‘n geestelike heersersposisie wat bereik word.

Medekarakters skakel met argetipes volgens Jung se dieptesielkunde: ‘n verlossersfiguur, ‘n geliefde, ‘n heks as mins skadelike bose figuur, ‘n dwerg as voorstelling van onvolwasse eienskappe. Fantasiefigure wat lukraak in fantasieë gebruik word, by name feetjies en kabouters, kom nie voor nie – daarom is die Engelse benaming fairy tale onvanpas.

Die perspektief in ‘n sprokie is altyd dié van ‘n volwasse verteller wat by implikasie die uiteindelike oorwinning van die kinderluisteraar, wat hom identifiseer met die kind of jongmens wat as hooffiguur in die sprokie optree, goedkeur. ‘n Te pertinente optrede van die verteller, soos Ludvik Askenazy hom in sy weergawe van ou sprokies gebruik, doen oneg aan – soos ook sy humoristiese toon. ‘n Sprokie is dodelik ernstig!

Die kunssprokie ontstaan tydens die ROMANTIEK, in navolging van die volksprokie wat sy struktuur en die stryd tussen goed en kwaad betref. Omdat een spesifieke skrywer die kunssoort skep, is die inslag meer geïndividualiseer en kan die geheel ‘n verwikkelder indruk maak. In wese is die volksprokie egter op dieper waardes gerig: “it enriches the child’s existence in so many ways, that no one book can do justice to the multitude and diversity of the contributions such tales make to the child’s life” (Bettelheim, 1976: 12). Die kunssprokie is dikwels eksplisiet moralisties; dis meestal vir volwassenes bedoel en eindig nie altyd met die oorwinning van goed oor kwaad nie.

Dis ‘n wydverspreide misvatting dat H.C. Andersen ‘n vader van die volksprokie is. As hy volkse stof gebruik, behou hy die universele appèl maar pas dit aan by eie dramatiese behoeftes; hy gebruik dikwels geen magiese elemente nie en laat dit uitloop op ‘n treurige slot. Hy dink ook self sprokies uit waarin die strak bou en tipiese volksprokiepatroon ontbreek; hy maak bewustelik van perspektiveringstegnieke gebruik wat sterk afwyk van die eenvoudige ouktoriële aanbieding van die volksprokie. Wat hy skryf en waardeur hy wêreldbekend geword het, is kunssprokies vir kinders.
(Vgl. EINFACHE FORMEN.)

 

Bibliografie

Bettelheim, B. 1976. The Uses of Enchantment. London: Thames & Hudson.

Breedveld, A. 1982. De bevrijding van Assepoester: het sprookje als slaappil of als peppil? Bzzlletin, 10(92).

Brunt, E. 1982. De vrouw in het sprookje. Bzzlletin, 10(92).

Groen, J. 1982. Sprookje en psychoanalyse: beschouwingen n.a.v. Bettelheim’s ‘The uses of enchantment’. Bzzlletin, 10(92).

Hulsens, E. 1980. Waarom lusten kinderen nog reuzen? Leuven: Infodok.

Jackson, R. 1981. Fantasy, the Literature of Subversion. New York: Methuen.

Kruithof, J. 1982. Daarheen en weer terug. Bzzlletin, 10(92).

Meyer Zur Capellen, R. 1982. Kinderen luisteren naar een sprookje, worden bang en verweren zich. Bzzlletin, 10(92).

Opie, I. & Opie, P. 1974. The Classic Fairy Tales. London: Oxford.

Prick van Wely, M. 1982. De sprookjes van Grimm. Bzzlletin, 10(92).

Schmitz, P.F. 1982. Hoe diep is de verhaalstructuur van sprookjes? Bzzlletin, 10(92).

Van Marken, A. 1982. H.C. Andersen en het volkssprookje. Bzzlletin, 10(92).

 
Elsabe Steenberg