SPROOK

Die sprook het in die middeleeue (sien: MIDDELEEUSE LITERATUUR) voorgekom. Dit is ‘n kort verhalende gedig met ‘n didaktiese inslag. Die term sprook het egter in die Middeleeue ‘n ruimer betekenis gehad. Byna alle poësie is sproke genoem. Van Mierlo (1946: 119) sê dat dit waarskynlik die vertaling van “dict” is: dit staan i.v.m. die SPREUK “en getuigt zoo voor de opvatting die men van de poëzie toen had”  (Van  Mierlo,  1946:  119).

Die sprook is deur sprooksprekers voorgedra, dikwels in adellike kringe. Bekende sprooksprekers was Willem van Hildegaersberch, Dirc  Potter  en Augustynken  van  Dordt.

Die sprook het ‘n hoofse toon en adem ‘n ridderlike sfeer, maar talle ander ernstige onderwerpe kom ook aan die orde, “altijd in de idealistische gedachtengang” (Knuvelder,  1968: 90).

Voorbeelde van die sprook is “Van tween kinderen, die droeghen ene starcke minne een ontfarmelijc dinc”, “Van tween ghesellen die elc voer anderen sterven wilden” en “De mantel van eren”.

Die sprook is vry verwerk uit ander tale, bv. Frans, maar daar het ook onderlinge invloed plaasgevind. So het Chaucer bv. “The miller’s tale”  ( The  Canterbury  Tales) uit die Nederlands  verwerk.

Die sprook is oor die algemeen nie van hoogstaande literêre waarde nie.

 

Bibliografie

Knuvelder, G.P.M. 1961/1968. Beknopt handboek tot de geschiedenis der Nederlandse letterkunde. ‘s-Hertogenbosch: Malmberg.

Meder, T. 1988. Een sprookspreker vraagt loon naar werken: over subtiele verbale drukmiddelen van Willem van Hildegaersberch. Tijdschrift  voor Nederlandse   Taal-  en Letterkunde,  104(3).

Van Mierlo, J. 1940/1946. Beknopte geschiedenis van de Oud­ en Middelnederlandsche letterkunde. Antwerpen: Standaard­Boekhandel.

 
Anna-Marie Bisschoff