VOLKSVERHAAL

Soos ander ou literatuursoorte, by name die MITE, FABEL, LEGENDE en SPROKIE, ontstaan ook die volksverhaal in die volksmond en word dit eeue lank mondeling van geslag tot geslag oorgelewer. Net soos in die geval van die ander genoemde soorte, vind optekening van Europese volksverhale vanaf die 18e en veral die 19e eeu plaas.

Terwyl die mite, fabel en legende geredelik as aparte vorme van FOLKLORE of volksliteratuur onderskei word, maak geen bekende bronne ‘n wesenlike onderskeid tussen die volksverhaal en die sprokie nie. Laasgenoemde word eenvoudig beskou as ‘n onderdeel van die volksverhaal en as sodanig bespreek.

Dit is dus doenlik om verskille tussen die volksverhaal en volksprokie pertinent uit te lig, waardeur die volksverhaal terselfdertyd gepresiseer word.

Daar bestaan verskeie soorte volksverhale. Sommige stel toordery voorop, ander is betreklik realisties of algemeen romanties. Die doel is om die menslike gedrag te kodifiseer en etiese norme te omskryf, of om natuurverskynsels te verklaar. Alle ouderdomsgroepe word betrek en stel belang in die vertellings wat primêr as vermaak oorgedra word.

Hierteenoor is die volksprokie gerig op die onderbewuste van die kind en wil dit op universeel menslike wyse konflikte en krisisse blootlê en oplossings aandui.

Die struktuur van die volksverhaal wissel: daar is repeterende, kumulatiewe, wydlopig-verklarende en intrigeverhale. ‘n Sprokie het altyd ‘n strak progressiewe gang en onnodige besonderhede kom nie voor nie. Terwyl die volksverhaal nie noodwendig ‘n sterk klimaks het nie, loop die sprokie steeds op verlossing uit. In die volksverhaal hou die slot baie moontlikhede in; dit kan oop, gelukkig of treurig eindig. ‘n Volksprokie móét goed en gelukkig eindig.

Ook openings- en slotfrases is by die volksverhaal bloot ‘n vae aanduiding van bv. “Toe die wêreld nog jonk was” of “Goue lint, my stone begint”, wat lei na “Fluit-fluit, my storie is uit”, of ‘n paslike samevatting van die storie as sodanig, terwyl dit by die sprokie streng vasgelê is. Vanaf “Eendag was daar” loop die gebeure tot by “En hulle het vir altyd gelukkig saamgelewe”. Deur hierdie vasgelegde frases word die deurgang na die onderbewuste en die terugkeer na die bewuste byna hipnoties verseker.

Die ruimte kan in die volksverhaal vaag wees, maar het gewoonlik tog duidelike verwysings na ‘n geografiese gebied, sy dit Europa, die Skandinawiese lande of Afrika. Hierdie ruimte is dan ook dwarsdeur dieselfde – indien toweragtig, bly dit deurgaans so; as diere die vermenslikte karakters is, tree hulle van begin tot einde vermenslik op. In ‘n sprokie is daar altyd ‘n duidelike Zweiweltenerzählung: die aanvang is by benadering realisties, dan kom daar ‘n inspeling van magiese elemente, en ten slotte keer die gewone wêreld terug.

Karakters in ‘n volksverhaal het die wydste moontlike speling: van gewone mense tot towerwesentjies tot sterk vermenslikte diere kan in enige verhouding optree. Veral die Afrika-volksverhale sentreer op allerlei diere wat op verhulde wyse ‘n spieël word van die samelewing van primitiewe tye. In ‘n sprokie tree beperkte karaktertipes op wat psigologiese betekenis het. Diere wat mense voorstel, kom voor – maar nie besonder baie nie. Begrensde soorte simboliseer die bose (drake, ‘n wolf) of die goeie (voëls).

Teenoor die onbeperkte aantal en soorte karakters van enige ouderdom wat die volksverhaal bevolk, word hoofrolle in die Europese volksprokie toegesê aan kinders of jongmense.

Volksverhale van die swart en bruin volke van Afrika is hier te lande veral opgeteken deur Von Wielligh teen die einde van die 19e en begin van die 20e eeu, Eugène Marais in die beginjare van die 20e eeu, Minnie Postma wie se “legendes” van die vyftigerjare in der waarheid volksverhale is, Pieter Grobbelaar wat sy talle gebundelde volksverhale verkeerdelik “sprokies” noem (opgeteken vanaf die sestigerjare) en Marguerite Poland wat in die tagtigerjare met mooi versamelings kom. Van Marie Opperman se “inheemse verhale” van die sewentigerjare is volksverhale, hoewel baie daarvan ook rasegte sprokies is.

As spieël van die primitiewe Afrika-gemeenskap, is dit interessant dat baie van die volksverhale indirek op oorlewing dui – nie van die goeie nie maar wel die slimme. Dat Jakkals oor Wolf seëvier, is aan sluheid te danke; as hy wel die keer verloor, is dit nie teen Wolf nie maar bv. teen Krap wat op ‘n vernuftige manier ‘n resies gewen het. Dieselfde beginsel geld by Hasie, wat veelvuldig in die volksverhale van alle swart volke voorkom, en Anansi die spinnekop wat deur meer noordelike stamme as karakter gebruik word.

Omdat die swart volke lank ongeletterd gebly het, was hul volksverhale tot kort gelede oorgelewerde volksbesit. Toenemende verwestering bring die voortbestaan van die ou verhale eers die laaste dekades in gevaar, en dis veral blanke versamelaars wat hulle daarvoor beywer om die volksverhale op te teken en te laat publiseer.

 

Bibliografie

Cass, J. 1971. Literature and the Young Child. London: Longman.

Neethling, J.S. 1977. Kinderletterkunde: sy aard en onderrig. Kaapstad: Maskew Miller.

Snyman, L. 1983. Die kind se literatuur. Durbanville: Kinderpers.

Sutherland, Z. & Arbuthnot, M.H. 1977. Children and Books. Glenview: Scott & Foresman.

 
Elsabe Steenberg