LEGENDE

ʼn Legende (Lat.: legenda: wat gelees moet word) is die lewensbeskrywing van ʼn heilige of die beskrywing van ʼn gebeurtenis uit die lewe van Christus of Maria, bv. Acta sanctorum (Dade van die heiliges), Beatrijs en die baie Maria-legendes wat ʼn mens aantref. ʼn Baie beroemde versameling legendes is Jacobus Voragine (ʼn biskop van Genoa) se Legenda aurea, 1250 (Die goue legende). Verder speel ʼn wonderwerk of wonderwerke uit die lewe van die betrokke heilige ʼn belangrike rol. Legendes was veral in die MIDDELEEUE gewild, hoewel ʼn mens dit vandag nog aantref, bv. Flaubert se Légende de St. Julien I’hospitalier en Björnson & Binding se Legende der Zeit. In Afrikaans is Leipoldt se “Kersnaglegende” ʼn voorbeeld van ʼn legende.

Die legende bevat altyd ʼn historiese kern.

Die legende toon ʼn verwantskap met die MITE omdat dit ʼn eksemplariese karakter het (vgl. EXEMPLUM). Die mite verskil van die legende in dié opsig dat ʼn mite om gode en helde wentel, terwyl die legende om die lewe van ʼn heilige wentel. ʼn Le­gende bevat verder ʼn groter element van waarheid as die mite. Dit het daarom ook minder met die bonatuurlike te doen as die mite. Die legende toon ook ʼn verwantskap met die RIDDERROMAN omdat ʼn mens in lg. ook ʼn “assimilatie van eigen levenservaring met die legendarische” het, aldus Goedemé (1968: 35) in Moderne encyclopedie der wereldliteratuur.

Die legende is oorspronklik in die kerk of in die eetsaal van ʼn klooster voorgelees “met de bedoeling de toehoorders (lezers) te overtuigen van de kracht die van de persoon of het voorwerp in kwestie is uitgegaan, zodat zij voortaan zouden leven en handelen naar het voorbeeld van het verhaal …”, aldus Van Gorp et al. (1986) in Lexicon van literaire termen.

Die legende doen die waarheid soms geweld aan, en juis daarom is dit in die Reformasie en die Kontra-Reformasie verwerp.

ʼn Tweede, maar bekende, betekenis word aan die term legende geheg, nl. ʼn “verhaal wat nie op die werklikheid berus nie, maar op volksoorlewering” (HAT, 1981: 644). Op hierdie manier kan ʼn historiese figuur ʼn legendariese figuur word, bv. Churchill, Rommel, Montgomery, Gideon Scheepers. Legendes vorm dikwels deel van ʼn volk se FOLKLORE. Bekende voorbeelde van legendes is die legende van die wandelende Jood, die vlieënde Hollander, Faust, Hamlet, Beowulf, koning Arthur, Karel die Grote, Robin Hood e.a.

Verder word ʼn kort verduidelikende opmerking by ʼn skildery, kaart of foto ook ʼn legende genoem.
(Vgl. EINFACHE FORMEN en EPIEK.)

 

Raadpleeg ook:

Raidt, E.H. 1982. Die visioen as literatuur. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 22(1).

Schweikle, G. 1984. Legende. In: Schweikle, G. & Schweikle, I. Metzler Literatur Lexikon. Stuttgart: Metzler.

 
Anna-Marie Bisschoff