EXEMPLUM, EXEMPEL

(Hersien Mei 2018)

‘n Exemplum (Lat.: exemplum; Gr.: paradeigma: voorbeeld, model; meervoud: exempla, exempels) is ‘n retoriese kunsgreep waarin ‘n anekdote of kort verhaal gebruik word om ‘n morele boodskap oor te dra of ‘n argument te ondersteun. Die exemplum hou dikwels die lewe van beroemdes en hulle goeie of swak karaktereienskappe voor as model of morele voorbeeld. In die exemplum word die morele les aan die begin van die beredenering gebruik terwyl dit in die parabel aan die einde daarvan voorkom. Daar word onderskei tussen die ware exemplum waarin die onderwerpsmateriaal uit die mitologie of werklikheid geneem word, en die fiksionele exemplum wat deur skrywers versin is en verbeeld word in die vorm van parabels, fabels en kort vergelykings.

Die exemplum het sy oorsprong in die antieke retoriek, maar was veral in die Middeleeue gewild.. Die exemplum is deurgaans uit ‘n reeds bestaande verhaal (die paradigma) geneem. Aanvanklik is die exemplum slegs in preke en traktate gebruik wat vir monnike bedoel was. Die Bybel is as bron gebruik; daarbenewens was die Vitae patrum deur die Jesuïete-hagiograaf Heribert Rosweyde ‘n gewilde bron: dit was beskrywings van die lewens van die Woestynvaders en -moeders. Die meerderheid van hierdie tekste dateer uit die 3de en 4de eeu. Twee belangrike werke wat exempla bevat, is die Dominikaanse priester John Bromyard se teologiese handboeke vir predikers, genaamd die Summa praedicantium en die Liber exemplorarum ad usum praedicantium  (Exempelboek vir gebruik deur predikers, 14de eeu).

Teen die helfte van die 12de eeu is die exempla ook gebruik in preke wat vir leke bedoel was. ‘n Groot verskeidenheid bronne het as inspirasie hiervoor gedien, bv. Disciplina clericalis deur die Franse teologiese skrywer Petrus Comestor (Pieter die Verslinder — hy was ‘n boekwurm). Jacobus de Voragine (Jacopo de Fazio, die aartsbiskop van Genoa) was die samesteller van die Legenda aurea (Goue legendes); Vincentius Bellovacensis (Vincent van Beauvais), ‘n Dominikaanse priester was die skrywer van Speculum maius (Die groot spieël) wat dikwels in die Middeleeue as bron gebruik is.  Later verskyn bundels waarin die preke in alfabetiese volgorde gerangskik is. Soms is hierdie preke in poësievorm geskryf, bv. Robert Mannyng van Brunne se Handlyng synne wat die sewe hoofsondes as onderwerp het. Hierdie werk is ‘n vertaling/verwerking van die Anglo-Normandiese Le manuel des pechiez (Handboek van die sonde).

Die exemplum is in die Middeleeue dikwels ook gebruik as kern vir sekulêre verhale in vers- of prosavorm. Sedert die 14de eeu handel die exempla ook oor die profane liefde, waarvoor veral uit klassieke liefdesavonture geput is. Die verhale is soms as allegorieëbeskou. Die morele boodskap word aan die einde van die exemplum oorgedra in die vorm van die fabula docet (hierdie verhaal leer ons), wat die morele les uitspel. Die Gesta Romanorum (Dade van die Romeine), ‘n versameling anekdotes en verhale uit die 13de – 14de eeu, was ‘n destyds besonder gewilde prosawerk in Latyn vir hierdie doel. Die exemplum het algaande ‘n ontwikkeling ondergaan, sodat dit teen die einde van die Middeleeue komies van aard was; iets wat die Hervormers afgekeur het.

Die exemplum het ‘n groot invloed op die literatuur uitgeoefen. Die 100 verhale in Giovanni Boccaccio se Decamerone kan as exempla van die liefde beskou word. In Nederland is dié tegniek, bv. deur Dirc Potter in sy Der minnen loep (Die verloop van die liefde, 1411-1412) gebruik. In Engeland is die “The pardoner’s tale” en in “The nun’s priest’s tale” uit Chaucer se Canterbury Tales (1387-1400) uitgebreide voorbeeldverhale.

Vir die moderne leser kom hierdie exempla dikwels gekunsteld voor, maar dit was baie gewild omdat dit vir die mense konkrete voorbeelde gestel het. Die exempla was trouens só gewild dat preke in ‘n stadium geneig het om ‘n blote aaneenryging van anekdotes te wees. Hierteen het Dante in die 13de eeu in Italië en John Wycliffe in Engeland in die 14de eeu sterk beswaar gemaak. Wycliffe het selfs geweier om exempla in sy preke te gebruik.

Die exemplum is vandag nog gewild by predikers en ander redenaars wat hulle (morele) boodskap op kernagtige en beeldende wyse wil oordra of wat die een of ander argument wil bevestig.

In die letterkunde word die exemplum vandag meestal ironies-satiries gebruik. Opperman (1970: 103-4) spot met homself as exemplum in “Die mens is metafoor en meer”:

Ek is traktaatjie
goedkoop preek
vir slordige predikant

exempel, emblemata
altyd verwysing na
die geval en Anderkant

Frits van Oostrom het ‘n bloemlesing van Middelnederlandse exempels (in Moderne Nederlands) saamgestel. Margaert Rafferty het onlangs die geykte siening van die exemplum as ‘n stryd tussen goed en kwaad bevraagteken in haar kritiese feministiese analise van vrouebeelde in die Middeleeue aan die hand van die Laat-Middelengelse prosateks Mary of Nemmegen. Dowlaszewicz se artikel is ‘n voorbeeld van onlangse navorsing oor exempels.

Literatuur

Opperman, D.J. 1979. Komas uit ’n bamboesstok. Kaapstad: Human en Rousseau.

Raftery, Margaret Mary. 2002. “Medieval Images of Womanhood?: The Construction of Mary of Nemmegen”. Acta Academica 2002 (Supplement 2): 63–90.

Van Oostrom, F.P. (samest.). 1985. Voorbeeldig vertellen: Middelnederlandse exempelen.  Amsterdam: Querido,

Dowlaszewicz, Malgorzata. De duivel in de Middelnederlandse exempelen. In: Fenoulhet, J. [et al.]. reds. 2007. Neerlandistiek in contrast: bijdragen aan het Zestiende Colloquium Neerlandicum. Amsterdam: Rozenberg Publishers, p. 57-64. (Handelingen Colloquium Neerlandicum).

Anna-Marie le Roux