VERTELLERTEKS EN PERSONETEKS

Die geheelteks van ‘n literêre werk bestaan uit ‘n vertellerteks en ‘n personeteks. Die vertellerteks en die personeteks is in die ou terminologie onderskeidelik ongeveer die indirekte en direkte rede. Die vertellerteks is die teks waar die VERTELLER alleen aan die woord is; dit gee die standpunt “des erzählten Objekts” (Schmid, 1973: 40) weer. Die personeteks is die teks waar die literêre persoon self praat; dit gee die standpunt “des erzählenden Subjekts” (Schmid, 1973: 40) weer. Die volgende is ‘n voorbeeld van vertellerteks: “Luier en lomer word alles in die hitte, alle beweging vertraag. Hulle lê uitgestrek in die seilstoele in die tuin en die diensmeisie bring vir hulle limonade of dra die belaaide skinkbord aan vir middagete” (Schoeman, 1979: 54). ‘n Voorbeeld van personeteks is die volgende: ” ‘Mense met sulke onwrikbare beginsels het ongelukkig meestal gelyk. Dis nie regverdig om Mannie met Gerda opgeskeep te laat nie, en dis ook nie reg om Gerda so te laat aankom nie'” (Schoeman, 1979: 70). (Vgl. ook NARRATIEWE WEERGAWES/MODUSSE.)

Volgens Schmid (1973: 40) kan daar nie vaste eienskappe aan die vertellerteks of die personeteks geheg word nie. ‘n Mens moet eerder van die standpunt uitgaan dat elke werk ‘n eie semanties-linguisties-stilistiese voorkoms het en dat die vertellerteks en die personeteks in elke werk opnuut bepaal word. Die twee tekste kan baie eenders lyk of dit kan heeltemal in kontras tot mekaar staan.

Die personeteks staan onder beheer van die gesigspunt van die geheelteks. Dit kom voor in die vorm van sitate binne die vertellerteks. Die personeteks word uitgemaak deur “alle segmente van die geheelteks wat betrekking het op alle gevalle van die tyd-ruimtelike, psigologiese, sosiologiese, morele, talige standpunt van die hier en nou van die daargestelde karakter (veral die belewende ek) en deur grafiese tekens (o.a. aanhalingstekens) wat in die geheelteks beklemtoon word” (eie vertaling) (Schmid, 1973: 41). ‘n Suiwer personeteks bestaan bv. uit die direkte rede of die INNERLIKE MONOLOOG. Hier vind geen tussentrede van die verteller plaas nie.

Die vertellerteks bestaan uit al die tekens wat verwys na die verteller se standpunt en sy linguisties-stilistiese voorkoms.

Kenmerkend van die personeteks is die dramatiese karakter daarvan. Dit is toe te skryf aan die feit dat die persone “net als op het toneel communiceren … met elkaar door middel van het gesproken woord, in een persoonlijke taalsituatie” (Bal, 1980: 136). Indien dit egter gebeur dat ‘n mens hierdie persoonlike taalsituasie het, sonder dat die direkte rede voorkom, het jy met teksinterferensie te doen. ‘n Mens het dus iets wat op die personeteks lyk omdat hy die persoonlike taalsituasie het (die voornaamwoord “ek” kom bv. voor), maar wat ook na die vertellerteks lyk omdat die direkte rede afwesig is, bv.: “Ze heeft me in de steek gelaten. Waarom? En Oskar Vanille is dood” (De Jong, 1980: 63). Die omgekeerde kom meer dikwels voor, nl. wanneer iets op vertellerteks lyk, maar ook personeteks sou kon wees. Dit kom voor wanneer die verteller die woorde van ‘n persoon weergee, soos in die indirekte rede en die erlebte Rede: “Bij wie hoorde hij eigenlijk? Bij zijn moeder, die met de soon optrok? Bij mevrouw Koelman die zijn hand had vastgehouden?” (De Jong, 1980: 49).

Bal (1980: 138) vat hierdie situasie soos volg saam: “Signalen van de persoonlijke taalsituatie van de acteur en van die (on)persoonlijke taalsituatie van de verteller lopen door elkaar, zonder dat daar expliciet op gewezen wordt.”

Die erlebte Rede en die vertellerteks is dikwels moeilik van mekaar te onderskei. ‘n Mens kan die onderskeid dikwels slegs maak wanneer jy sonder enige twyfel kan vasstel dat dit die woorde van ‘n persoon is wat weergegee word. So ‘n onderskeid kan getref word op grond van die feit dat ‘n mens met ‘n persoonlike taalsituasie te doen het, dat dit in die karakteristieke styl van ‘n persoon weergegee is of dat meer besonderhede gegee word as wat nodig is vir die verloop van die gebeure.

Wanneer die personeteks deur die vertellerteks weergegee word, kry ‘n mens allerlei verskille. Die vertellerteks kan ‘n presiese weergawe van die direkte rede wees, maar dit word nou in die indirekte rede weergegee. Die vertellerteks kan bloot ‘n inhoudelike weergawe van die personeteks wees.

Verder kan wat Mieke Bal (1980) die deklaratiewe werkwoord noem (bv.: “sê”, “opgemerk”, ens.) by die vertellerteks se weergawe van die personeteks afwesig wees. Hierdie verskille kan vanselfsprekend nie altyd so in ‘n literêre teks aangedui word nie, maar ‘n mens kan tog sê dat een teksgegewe meer vertellerteks-gekleurd is as ‘n ander.

Wanneer ‘n persoon se woorde in die vertellerteks nie meer as teks weergegee word nie, maar as daad, heet dit nie meer teksinterferensie nie, bv.: volgens Edo se gevoel was Oskar Vanille dood. ‘n Mens het dan met die vertellerteks te doen.

Die vertellerteks en die personeteks kan in mekaar gebed wees; dit kom bv. voor by die RAAMVERTELLING (Duisend en een nagte). Die vertellerteks is egter altyd – hiërargies gesien – primêr: “De afhankelijkheid van de acteurstekst ten opzichte van de vertellerstekst moet gezien worden als de afhankelijkheid van een bijzin ten opzichte van een hoofdzin” (Bal, 1980: 140). Die vertellerteks en die personeteks is dus nie gelykwaardig nie. Die verband tussen die twee word deur die begrip “niveau” of “vlak” omskryf. Hoe meer sinne vertellerteks die personeteks omskryf, hoe sterker blyk die afhanklikheid.

 

Bibliografie

Bal, M. 1978/1980. De theorie van vertellen en verhalen: inleiding in de narratologie. Muiderberg: Coutinho.

De Jong, O. 1979/1980. Opwaaiende zomerjurken. Amsterdam: Meulenhoff.

Schmid, W. 1973. Der Textaufbau in den Erzählungen Dostoevskijs. München: Fink.

Schoeman, K. 1979. Die hemeltuin. Kaapstad: Human & Rousseau.

Raadpleeg ook:

Cascardi, A. J. 1988. The grammar of telling. New Literary History, 19(2).

 
Anna-Marie Bisschoff