DIëGESIS

Diëgesis is die vertaling van twee Franse woorde, nl. diégésis en diégèse, wat ‘n belangrike rol in die verhaalteorie van die Franse STRUKTURALIS Gerard Genette speel.

Met eg. term sluit Genette aan by ‘n onderskeiding wat reeds in Plato se Republiek voorkom en waar dit, m.b.t. spraak (weer­gawe), teenoor MIMESIS gestel word. Volgens Plato se siening is dit kenmerkend van diëgesis of “suiwer vertelling” dat die digter self die spreker is en nie eens probeer voorgee dat enigiemand anders aan die woord is nie. As die digter egter die illusie probeer skep dat dit nie hy is wat praat nie, as hy dus met die stem van die een of ander karakter praat, is daar sprake van mimesis of nabootsing. Dialoog, monoloog en direkte rede in die algemeen sou dus onder mimesis ressorteer en indirekte rede onder diëge­sis. In die volgende uittreksels uit Joernaal van Jorik praat die digter/verteller eers self, dan gee hy Wiesa se woorde indirek weer (albei diëgesis) en daarna stel hy haar aan die woord (mi­mesis): “Maar telkens keer hy na die moederstad / van sy vakansies en die avonture, / skryf syfers en verslae op die blad / en volg weer boek en kaart tot late ure … En sy vertel hom van die heuninggat / waarin Frederik Bezuidenhout / met sy geweer aanIê en weier dat / vier Hottentotte en ‘n Kakieskout // en nog ‘n hele boel daarby hom vang. / ‘En soos jy weet, my seun, die tou was vrot // waaraan die vier opstandiges moes hang: / party sê dis toeval, maar ons sê dis God.’ ” (Vgl. NARRATIEWE WEERGAWES/MODUSSE.)

Met verloop van tyd is daar aan hierdie begrippe ook wyer betekenisse toegeken. In sy Poëtika wat oor drama, en nie vertellings nie, handel – beperk Aristoteles mimesis nie tot die weergawe van spraak nie, maar sluit daarby ook die nabootsing van handeling in. Daarbenewens beskou hy sowel suiwer vertel­ling as direkte weergawe van spraak as vorme van mimesis. Wat die DRAMA betref, maak die moderne teoretikus Issacharoff (1981) in sy beredenering van die begrip RUIMTE ook vryer gebruik van die begrippe mimesis en diëgesis. “… space in drama … is best classified in accordance with its mode of transmission by the encoder and perception by the decoder … There are two major forms of dramatic space: mimetic and diegetic” (Issacharoff, 1981: 211, 215). Mimetiese ruimte is dit wat deur bv. die gebruik van dekor vir die toeskouers sigbaar gemaak word, wat dus direk voorgestel word en waarna die karakters d.m.v. taal kan verwys. Diëgetiese ruimte, daarteenoor, is nie-sigbare ruimte en word deur die karak­ters beskryf en dus verbaal gekommunikeer. Die toneelaanwysing aan die begin van die vierde bedryf van Opperman se Vergelegen lui bv.: “Van der Heiden en Arie in die Donker Gat”. In sy eerste spreekbeurt verwys Van der Heiden ook na hierdie sigbare, mimetiese ruimte: “Hoe lank lê ek reeds op die hobbelrige nat / van klinkers in die holte van die Donker Gat”. Later roep hy egter sterwend deur beskrywing ‘n nie-op-die-toneel-aanwesige diëgetiese ruimte op: “Prys die Heer met blye galme / nog nooit het ek die son oor koringhalme / en die pontakwingerd soos nou sien brand”. Soos meermale in dramas gebeur, word hier ‘n skerp kontras tussen die mimetiese en diëgetiese ruimte geskep.

In radiodramas (vgl. HOORSPEL en RUIMTE IN DIE DRAMATEKS EN IN DIE OPVOERING) – waar visuele mimetiese ruimte uiteraard afwesig is — kan die mimetiese ruimte deur klank alleen, of deur taal, uitgebrei met klankeffekte, geskep word. Dit fokus op die ruimte wat in die dramahede deur ‘n karakter waar-geneem word, ‘n Duidelike voorbeeld hiervan is die volgende gedeelte uit Die rebellie van Lafras Verwey:

 

LAFRAS: Dis ‘n wonder hulle het nie my wiele afgeblaas nie. ‘n Fietsklokkie lui. Klokkie werk ook nog … Kom, pa se pêre, kom ons gaan huis toe.

Sy voetstappe en die krr-geluid van ‘n trapfiets wat gestoot word. Die fiets se klokkie lui weer. Klokkie werk wragtig …

AGENT (rustig): Middag.

Die fiets en die voetstappe kom tot stilstand.

 

Soos in verhoogdramas kan die (ouditiewe) mimetiese ruimte van die radiodrama ook diëgeties uitgebrei word deur ‘n karakter bv. ruimtes uit sy verlede of selfs verbeeldingruimtes te laat beskryf.

Vergelyk in hierdie verband die volgende uittreksel uit dieselfde drama waar die mimetiese en diëgetiese ruimte teenoor mekaar gestel word: “Hierdie woonstel … dis ook sommer net tydelik. Ek soek nog die regte een. Dit moet op die dertigste verdieping wees of so iets. Met glasmure wat oopskuif. En dik gordyne. Kan ek saans op die oop stoep sit en oor die stad uitkyk. Met musiek en goed. Hierdie een is net tydelik.”

In die verhaalteorie het Otto Ludwig in die tweede helfte van die 19e eeu die terme eigentliche Erzählung en szenische Erzählung ingevoer, terwyl die terme telling en showing (of summary en scene) veral in die 20e-eeuse Anglo-Amerikaanse kritiek na vore gekom het. By szenische Erzählung / showing / scene sou daar dan sprake wees van ‘n direkte uitbeelding (mimesis) van karakters se optrede, woorde, ens. sonder tussenkoms van ‘n VERTELLER (soos in ‘n drama dus). Dit word aan die leser oorgelaat om self gevolgtrekkings te maak uit wat hy “sien” en “hoor” (bv. P.J. Haasbroek se “Aardrykskundeles”). By eigentliche Erzählung / telling / summary speel diëgesis egter ‘n belangrike rol: hier is ‘n verteller teenwoordig wat óór die KARAKTERS, gebeure en gesprekke praat, samevattings maak, indirekte rede gebruik, vir die leser vertel wat hy van ‘n karakter behoort te dink, ens. Vergelyk bv. die volgende uitspraak oor eerwaarde Scalinger in Eugène Marais se “De boom in het midden van den hof’: “Vol gloeiende hoop en besiel met al die vuur van ‘n ware apostel van Christus is hy en sy jong gade na Transvaal gestuur.”

Hierdie onderskeid tussen mimesis en diëgesis is t.o.v. verhalende tekste egter problematieser as wat hierdie siening impliseer: “… on stage there are characters (actors) who act, make gestures and speak, in a way analogous to people’s behaviour in reality. In nar­rative, on the other hand, all actions and gestures are rendered in words, and consequently …, ‘an imitation of an action’ be­comes a more problematic concept in it” (Rimmon-Kenan, 1983: 107). Genette (1980: 163 e.v.) meen dan ook dat verhale hoogstens die illusie van mimesis kan skep deur o.m. gedetailleerde, presiese, lewendige weergawe. Die gebeure vertel hulle egter nie self nie; hulle word altyd vertel en daarom kan daar slegs grade van diëgesis wees. Selfs spraak word nie in ‘n vertelling nageboots nie, maar eerder gereproduseer of getranskribeer (vgl. Daugherty, 1985: 60). ‘n Illusie van mimesis kan egter ook hier geskep word. In haar bespreking van soorte spraakweergawes onderskei Rimmon-Kenan (1983: 109-110) dan ook ‘n skaal vanaf “‘purely’ diegetic” (die blote vermelding dat ‘n taalhandeling plaasgevind het sonder enige vermelding van wat gesê is of hoe dit gesê is) tot “‘purely’ mimetic” (direkte rede sonder die konvensionele ortografiese “leidrade”).

Volgens Venter (1985) moet Genette se siening, wat soorte verhaalruimtes betref, genuanseer word. Naas en teenoor ‘n diëgetiese ruimte is daar ook, op ‘n bepaalde manier, sprake van ‘n mimetiese ruimte. Dit is die ruimte waarbinne die STORIEGEBEURE en -persone geplaas word en deur óf die verteller óf die storiepersone vertel kan word. Terselfdertyd kan daar ‘n taal- of diëgetiese spel gespeel word waardeur daar agter die mimetiese ruimte ‘n “andersoortige ruimte met sy eie patrone en ruimtelike geleidinge (ontstaan)” (Venter, 1985: 25). Voorbeelde van sulke patrone is dié van kontras en konsentriese sirkels. In “Droogte” van Jan Rabie is die mimetiese ruimte die droogtelandskap waarvan die verteller vertel en waarbinne die Witman en Swartman hulle bevind, besig om ‘n huis te bou. Al lesende – wat ook terugkyk insluit – ontdek die leser egter ook die diëgeties ruimtelike kontraste daar (Nederland) / hier (Suid-Afrika) en buite / binne, deelruimtes wat essensieel is vir die perspektief wat die verhaal op die Suid-Afrikaanse samelewing wil bied.

Die term diégèse dui op die storiewêreld, die tydruimtelike universum waarin die geskiedenis plaasvind, en ook op die abstrakte/ geabstraheerde opeenvolging van verhaalgebeure (vgl. ook histoire, Bal se geschiedenis en Rimmon-Kenan se story). Drie sake waarmee diëgesis met hierdie betekenisse in verband gebring kan word, is volgorde, persoon en narratiewe vlakke. (Vgl. GESKIEDENIS/STORIE/VERHAAL EN TEKS.)

As daar in die verhaalteorie van volgorde sprake is, gaan dit onder meer oor die verhouding tussen chronologiese of geskiedenisvolgorde en teksvolgorde en die diskrepansie tussen die twee. Die diskrepansie of ANACHRONIEë kan breedweg in terugflitse of analepsis en vooruitwysings of prolepsis verdeel word. By analepsis het die leser met ‘n teksvolgorde te doen waar gebeure wat chrono­logies vroeër plaasgevind het, vertel word ná chronologies la­tere insidente (chronologie: XYZ; teksvolgorde: YZX; analeptiese element: X). By prolepsis, weer, word gebeure wat chronologies later plaasgevind het, vertel vóór chronologies vroeëre insidente (chronologie: XYZ; teksvolgorde: ZXY; proleptiese element: Z). Volgens Genette is die ana- en proleptiese verhaalgedeeltes ingevoeg in, “geënt” op die eerste (of primêre) vertelling. Dit kan dan intern of (binne ons verband minder belangrik) ekstern van aard wees. Interne analepsis roep ‘n verlede op wat binne die omvang van die eerste vertelling 1ê en interne prolepsis ‘n toekoms wat daarbinne lê.

By sowel (interne) ana- as prolepsis onderskei Genette dan nog ‘n homodiëgetiese en ‘n heterodiëgetiese variant. Soos die voorvoegsel homo- aandui, gaan dit by die homodiëgetiese variant om verhaalgedeeltes wat te make het met dieselfde gebeurereeks of diëgetiese inhoud as die eerste vertelling. By analepsis kan daar dan retrospektief ‘n vroeëre gaping in dié reeks ingevul word, terwyl daar ook herhalende analepsis kan voorkom waar “the narrative openly, sometimes explicity, retraces its own path” (Genette, 1980: 54). By die herhaling kan daar ooreenkoms en teenstelling teenwoordig wees en ‘n (ander) betekenis kan aan die gebeurtenis gegee word. Leipoldt se “Wit angeliere” begin bv. met ‘n moordsaak waartydens die regter ‘n man ter dood veroordeel. Later kom die saak weer ter sprake, maar by dié herhaling word dit wat vyf jaar tevore as feite aanvaar is, as ‘n skynwerklikheid geopenbaar waarmee die ware feite wrang kontrasteer. Ook by prolepsis kan die voltooiings- en herhalende vorm on­derskei word. Die heterodiëgetiese variant het, soos die voorvoegsel hetero- aandui, op sy beurt te make met ‘n ander gebeure­reeks as die eerste vertelling.

Die verband diëgesis-persoon betrek die vertellers van verhale. Enige verhaal het ‘n VERTELLER/VERTELINSTANSIE (hoe “onsigbaar” hy ook al mag wees), maar vertellers kan in verskillende verhoudings staan tot die verhaalwêreld waarvan hulle vertel. ‘n Homodiëgetiese verteller is deel van die verhaalwêreld waarvan hy vertel en neem op die een of ander manier aan die handeling deel. ‘n heterodiëgetiese verteller, daarenteen, is nie teenwoordig in die geskiedenis waarvan hy vertel nie en staan buitekant die verhaal­wêreld. Voorbeelde van heterodiëgetiese vertellers vind ‘n mens in o.m. die reeds genoemde “Aardrykskundeles” en “Wit ange­liere”, terwyl voorbeelde van homodiëgetiese vertellers voorkom in ” ‘n Bruidsbed vir tant Nonnie” van Hennie Aucamp en “Agterplaas” van Elsa Joubert. Tog is daar ‘n opmerklike verskil tussen die lg. Twee. ‘”n Bruidsbed vir tant Nonnie” is, soos die titel reeds suggereer, primêr ‘n verhaal oor iemand anders as die verteller. Hy behoort wel tot dieselfde verhaalwêreld as sy, maar tree hoofsaaklik as waarnemer en getuie op. In “Agterplaas” gaan dit egter oor ‘n verteller wat haar eie lewe in verhouding tot swart mense beskryf en probeer peil (“My lewe beweeg op die periferie van ‘n bestaansvlak wat ek nie ken nie”). Hiervoor word die term outodiëgetiese verteller as verdere verfyning gebruik. Met verwysing na sy eie voorbeelde motiveer Genette (1980: 245) hierdie indelings dan ook soos volg: “… from the examples selected no doubt a dissymmetry in the status of these two types [hetero-en homodiëgeties] … emerges. Homer and Flaubert are both to­tally, and therefore equally, absent from the two narratives in ques­tion; on the other hand, we cannot say that Gil Bias and Lockwood are equally present in their respective narratives … Absence is absolute, but presence has degrees”.

Diëgesis hou ten slotte ook verband met narratiewe vlakke. In hooftrekke gaan dit oor die volgende: die verteller op die eerste vlak (die primêre verteller) staan as ‘t ware bokant die geskiedenis wat hy vertel en is gesitueer op die ekstradiëgetiese vlak. Dit is die posisie van die verteller wat in “De boom in het midden van den hof” vertel van eerwaarde Scalinger en Stoffel Seebul se besoek aan hom, of die verteller wat vanaf reël 41 van Van den vos Reinaerde van koning Nobel se hofdag vertel (hulle is terselfdertyd heterodiëgetiese vertellers). Die gebeure waarvan vertel word, is onmiddellik ondergeskik hieraan (tegnies, nie evaluerend nie), en lê op die diëgetiese (of intradiëgetiese) vlak: die koms van Stoffel Seebul, die bymekaarkom van die howelinge, ens. Die gebeure kan ook vertelhandelinge insluit soos dié van Stoffel Seebul of van Isengrijn en Pancer op die hofdag (“Isengrijn ende sine maghe / Ghingen voor den Coninc staen. / Isen­grijn begonste saen ende sprac …”). ‘n Karakter wat deur die ekstradiëgetiese verteller as deel van die (intra)diëgetiese vlak ingevoer is, word dus nou (‘n tyd lank) “toegelaat” om as ver­teller op te tree en staan dan ook as ‘n (intra)diëgetiese verteller bekend. Die geskiedenis wat hy vertel – bv. Stoffel Seebul se doen en late in Armenië of Isegrijn en sy gesin se lyding onder Reinaerde – lê weer een vlak laer, op die hipodiëgetiese vlak (‘n minder verwarrende term as Genette se “metadiëgetiese” vlak – vgl. Bal, 1981: 43). ‘n Karakter op hipodiëgetiese vlak kan op sy beurt ook weer verteller word (die leier van die gidse in “De boom in het midden van den hof”) en ‘n geskiedenis vertel wat op hipohipodiëgetiese vlak lê en so kan dit, in beginsel, ad infinitum voortgaan.

In sowel “De boom in het midden van den hof” as Van den vos Reinaerde is daar ‘n eksplisiete of agterhaalbare oorgang tussen die bespreekte eenhede, vertoon die eenhede ‘n hiërargiese ordening en is hulle ook lede van dieselfde klas. Daar is dus duidelik sprake van inbedding (vgl. Bal, 1981: 43 e.v.). ‘n Ingebedde (hi­podiëgetiese) teks hoef egter nie, soos in hierdie gevalle, verhalend te wees nie: “De inhoud van een ingebedde tekst kan van alles zijn: beweringen over algemene zaken, gesprekken tussen acteurs, beschrijvingen, ontboezeming” (Bal, 1980: 146). Die ingebedde teks kan ook meer of minder selfstandig t.o.v. die inbeddende teks funksioneer waardeur die aard van die verhouding tussen die twee meer of minder problematies kan word.

Aanvanklik het Genette (1980: 232 e.v.) drie soorte funksionele verhoudings onderskei. Hy wys eerstens op die verduidelikende funksie waar die diëgetiese verteller via sy hipodiëgetiese geskie­denis ‘n antwoord gee op ‘n vraag soos “Wat het tot die huidige situasie aanleiding gegee?” (vgl. bv. Stoffel Seebul se verhaal oor hoe hy die wonderwerkende blare e.d.m. wat hy vir eerwaarde Scalinger aanbied, bekom het). Tweedens is daar die tematiese verhouding waar die geskiedenisse teenstelling of analogie ver­toon. ‘n Duidelike voorbeeld vind ‘n mens in Lukas 15 waar die primêre, ekstradiëgetiese verteller vertel dat die tollenaars en sondaars na Jesus kom luister het en dat die Fariseërs en skrifgeleerdes daarteen beswaar gemaak het. As (intra)diëgetiese verteller reageer Jesus hierop deur die hipodiëgetiese gelykenisse van die verlore skaap, die verlore muntstuk en die verlore seun te vertel wat die posisie van die tollenaars en sondaars en die houding van die Fariseërs en skrifgeleerdes belig en dus tematiese analogie daarmee vertoon en tegelykertyd ook betekenisverruimend werk. Derdens onderskei Genette die handelingsfunksie waar “… hypodiegetic narratives maintain or advance the action of the first narrative by the sheer fact of being narrated, regardless (or almost regardless) of their content” (Rimmon-Kenan, 1983: 92). Later onderskei hy ses funksies: verduidelikend, voorspellend, suiwer tematies, oorredend, afleidend en belemmerend (vgl. Daugherty, 1985: 62). Via die verskillende funksies kan die leser ook meermale ‘n aanduiding kry van hoe die verhaal gelees wil wees.

Net soos daar narratiewe vlakke t.o.v. die verteller onderskei kan word, is daar sprake van (parallellopende) vlakke t.o.v. die instansie aan wie daar vertel word (die narratee). Die ekstradiëgetiese verteller in Van den vos Reinaerde vertel sy verhaal – volgens aanduidings in die proloog – aan “die ghene …/ Die gherne pleghen der eeren …” en in reël 40 spreek hy sy eks­tradiëgetiese toehoorders ook direk aan: “Nu hoert hoe ic hier beghinne”. Parallel met die (intra)diëgetiese vertellers in die werk tree die ander bywoners van die hofdag weer as (intra)diëgetiese toehoorders op, net soos eerwaarde Scalinger Stoffel Seebul se (intra)diëgetiese toehoorder is, terwyl hy op sy beurt weer die leier van die gidse se hipodiëgetiese toehoorder is. Wat die ver­tellers vertel en hoe hulle dit doen, kan tot op sekere hoogte deur die betrokke toehoorders bepaal word. (Vgl. ook LESERTIPES.)

Die tradisionele begrip “alwetendheid” t.o.v. vertellers kan ook met verwysing na van die behandelde begrippe beskryf/verklaar word. Met verwysing na haar voorbeelde vat Rimmon-Kenan (1983: 95) dit so saam: “It is precisely their being absent from the story [heterodiëgeties] and their higher narrational authority in relation to it [ekstradiëgeties] that confers on such narrators the quality which has often been called ‘omniscience’.” Ook die (on)betroubaarheid van vertellers kan met die begrippe in ver­band gebring word: normaalweg sal ‘n nie-waarneembare, ekstra- en heterodiëgetiese verteller die betroubaarste wees, terwyl in­tradiëgetiese, homodiëgetiese vertellers gewoonlik die ander pool sal vorm a.g.v. onder meer hulle beperkte kennis en persoonlike betrokkenheid. Net so kan ‘n intradiëgetiese toehoorder en sy interpretasies onbetroubaar wees en die voorwerp van ironie word.

Oor diëgesis is veral Genette (1980) en Rimmon-Kenan (1983) – wat ‘n vereenvoudigde uiteensetting gee – van belang. Verdere uiteensettings/variasies/nuanserings van die begrip en/of same-hangende begrippe kom voor in Bal (1978/1980, 1981), Daugh­erty (1985), Gray (1984), Issacharoff (1981), Lintvelt (1978, 1985), Van Gorp (1986) en Venter (1985).

 

Bibliografie

 

Bal, M. 1978/1980. De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho.

 

Bal, M. 1981. Notes on narrative embedding. Poetics Today, 2(2).

 

Daugherty, J. 1985. Narrative discourse revisited. Tydskrifvir literatuurwetenskap, 1(2).

 

Genette, G. 1980. Narrative Discourse. Oxford: Blackwell.

 

Issacharoff, M. 1981. Space and reference in drama. Poetics To­day, 2(3).

 

Lintvelt, J. 1978. Discursieve verteltypen. In: Grivel, C. (red.). Methoden in de literatuurwetenschap. Muiderberg: Coutinho.

 

Lintvelt, J. 1985. Narratologie. In: Segers, R.T. (red.). Vormen van literatuurwetenschap. Groningen: Wolters-Noordhoff.

 

Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative Fiction. London: Methuen.

 

Venter, L. 1985. Narratiewe ruimtes. Tydskrif vir geesteswetenskappe, 25(1).

H. Ohlhoff