LESERTIPES

In die moderne literatuurteorie word verskeie lesertipes onderskei, soos wat daar verskillende VERTELLERSTIPES onderskei word. Die literêr-kritiese bewegings wat besondere aandag verleen aan die leser se reaksie op ʼn kunswerk, kan onder die term reader-response-criticism saamgevat word. Die teorieë onderliggend hieraan gaan van die standpunt uit dat ʼn literêre TEKS nie verstaan kan word sonder dat die effek wat dit op die leser het in ag geneem word nie; die betekenis van ʼn kunswerk het geen effektiewe bestaan buite die realisering daarvan in die gedagtes van die leser nie.

Die belangrikste eksponente van hierdie instelling is die RESEPSIE-estetici en die SEMIOTICI, deur wie die literêre werk in mindere of meerdere mate beskou word as ʼn kommunikasieproses met die volgende drie elemente: OUTEUR/sender, teks/boodskap, leser/ontvanger. Wanneer daar dan op die leser gefokus word, handel die ondersoek meestal oor skrywers se houding teenoor hul lesers, die lesertipes wat verskillende tekste impliseer, en/of die rol wat werklike lesers speel in die bepaling van literêre betekenis.

Gedurende die afgelope drie dekades is daar hoofsaaklik aandag gegee aan die volgende (nie altyd duidelik skeibare) lesertipes:

Die werklike of reële leser: Die term “persoon-van-die-leser” van W. Blok (1960) stem in wese ooreen met Gerald Prince (1973) se real reader, d.w.s. die persoon wat met die boek in die hand sit. Blok onderskei tussen ʼn “leser” wat tydens die leesproses “nu-en-hier” aanwesig is sodat hy dit wat hy lees as ʼn werklikheid beleef, en die “persoon-van-die-leser” wat “niet-nu-en-hier” aanwesig is nie en dus die gelese werk as *fiksioneel ervaar.

Volgens Wolfgang Iser (1978) word die kategorie “werklike leser” hoofsaaklik betrek of gebruik in studies rakende die geskiedenis van response, m.a.w. wanneer die aandag gevestig word op die wyse waarop ʼn literêre werk ontvang is deur ʼn spesifieke leserspubliek. Die oordele wat uitgespreek is, weerspieël die verskillende benaderings en norme van die betrokke publiek. Die rekonstruksie van die werklike leser is uiteraard afhanklik van die hoeveelheid “kontemporêre” dokumente wat beskikbaar is. Een van die drie tipes “kontemporêre” lesers wat Iser onderskei, is dan ook ʼn werklike, historiese leser wat afgelei kan word uit bestaande dokumente (die ander twee tipes is hipotetiese lesers).

Sommige teoretici poog om van die werklike leser (soos ook van die implisiete leser) ʼn *verwagtingshorison op te stel, d.w.s. om die kennis en ervaring wat hy vóór die KONKRETISERINGSPROSES reeds besit as objektiveerbare sisteem van verwagtings weer te gee. Die begrip “verwagtingshorison” is oorspronklik vir die Resepsie-estetika ontwikkel deur H.R. Jauss (1970) ten behoewe van die LITERATUURGESKIEDSKRYWING. Jauss gebruik die volgende kriteria by die opstel van ʼn verwagtingshorison: (1) die bekende genrenorme, (2) die leser se kennis en ervaring van gelese tekste, en (3) die verskille tussen FIKSIE en werklikheid. Hierop het ander teoretici voortgebou en uitgebrei. So dui W. Gast (1975) bv. aan dat die verwagtingshorison van die werklike leser die resultaat is van veel meer komponente as net die literêre en estetiese. Hy konstrueer ʼn skema wat die belangrikste komponente van die verwagtingshorison van die leser bevat, o.a. allerlei persoonlike gegewens, houdings en norme van die leser; sy linguistiese en literêre KOMPETENSIE, sy analitiese ervaring; en ook die reseptiewe situasie van hierdie leser.

In Het lezen van literatuur (1980) bespreek Rien Segers die werk­like leser onder die kategorie “reële” leser en omskryf hom soos volg: wanneer resepsie ondersoek word, word daar oorwegend aandag geskenk aan die reaksies van ʼn leser wat werklik bestaan of bestaan het (en hierby is die ondersoeker self meestal per definisie uitgesluit). By kontemporêre ondersoeke kan die literatuurwetenskaplike ondersoeker aan die reële leser vrae stel oor ʼn teks of oor sy opvatting van literatuur in die algemeen (hier kom sy verwagtingshorison ter sprake). By historiese ondersoeke poog die ondersoeker om reseptiewe materiaal soos resensies, briewe, boeke of dagboeknotisies uit die betrokke tydperk op te spoor.

Volgens Segers het die reële leser tot nou toe veel aandag gekry binne die Resepsie-estetika en wel in twee soorte ondersoeke. In die eerste, die eksperimentele ondersoek, val die klem op die versamel en sistematisering van reaksies van lewende lesers ten tyde van die ondersoek. Hierdie reaksies kan verkry word deur gebruik te maak van sosiaalwetenskaplike enquêteringstegnieke. Die tweede soort, die empiriese ondersoek, behels alle ander vorme van resepsie-ondersoek betreffende werklike lesers, d.w.s. die reseptiewe materiaal wat deur lesers geproduseer is, word ondersoek.

By die eksperimentele ondersoek gaan dit dikwels oor die vasstelling van die ESTETIESE OBJEK. Hierdie term is afkomstig van die Praagse STRUKTURALISME, met Jan Mukařovský as vernaamste eksponent. Laasgenoemde onderskei tussen artefak (die materiële estetiese objek, bv. omslag, hoeveelheid drukletters, lettertipe) en estetiese objek, dit is die representasie van die artefak soos dit in die belewing van die betrokke leser gestalte kry. Die omsetting van ʼn artefak in ʼn estetiese objek word die “leserkonkretisering” of bloot “konkretisering” genoem. Aangesien elke leser ʼn bepaalde artefak op ʼn anderse wyse realiseer deur uiteenlopende assosiasies en interpretasies kan ʼn artefak soveel estetiese objekte tot gevolg hê as wat daar lesers is. Die estetiese objek kan o.a. bepaal word deur vrae daaroor te stel aan werklike lesers en die reaksies te sistematiseer en interpreteer.

In 1972 het daar ʼn standaardwerk vir die eksperimentele Resepsie-estetika verskyn, nl. Literaturpsychologie van Groeben. In dieselfde jaar verskyn Text und Rezeption waarin Bauer e.a. die resultate deurgee van ʼn literatuurwetenskaplike eksperiment aangaande die empiriese leser deur gebruik te maak van sosiaal wetenskaplike ondersoekmetodes. Die derde boek uit dieselfde jaar, Wienold se Semiotik der Literatur, was ewe belangrik vir die verdere ontwikkeling van die teorie van die werklike leser: die klem val in hierdie werk nie meer op die relasie teks-leser nie, maar op die relasie tussen ʼn verskeidenheid lesers soos dit tot stand kom via ʼn teks as bemiddelaar in die prosesse van teksgebruik. Vir Wienold is die doel van literêre studie nie meer die teks nie, maar die proses van interpretasie en EVALUERING van lite­ratuur deur bv. literêre kritici, studente en skrywers.

Volgens Segers is resepsie-estetici soos Groeben bereid om die uiteindelike konsekwensies van Iser en Jauss se teorieë onder oë te sien in hul empiriese en eksperimentele lesersondersoeke, terwyl Iser en Jauss self nie daadwerklik by die reële leser stilstaan nie. Tog kan alleen die werklike leser uitsluitsel gee oor resepsie-estetiese aangeleenthede: “De werkelijke lezer vormt de toetssteen van receptie-esthetische hypothesen” (Segers, 1980: 113).

In terme van kommunikasievlakke behoort reële lesers (of resipiënte) tot die tekseksterne en terselfdertyd ook subjekeksterne terrein. Vanuit die resepsieteorie kan daar onderskei word tus­sen temporele lesers, wat ʼn teks lees ten tyde van die verskyning daarvan, en post-outeurslesers, dit is lesers wat tot latere generasies behoort. Die outeursintensie word gerig op die tem­porele leser wat dus in mindere of meerdere mate ook neerslag vind in die teks.

Ideële of hipotetiese lesertipes: Teenoor die reële leser (gerig op die resepsieproses) stel Segers (1980) ʼn kategorie lesers wat ge­rig is op die werkingsproses van fiksionele tekste: die ideële, nie-werklik bestaande lesers. Van Assche beskryf die ideële leser soos volg: “Ideële lezers zijn lezers die door schrijvers of onderzoekers zijn gekonstrueerd op basis van een reële lezer die echter ontdaan word van zijn oncontroleerbare gedragsvariaties, van zijn onvolkomenheden en fouten, van zijn gebrekkige literaire competentie of andere storende variabelen” (aangehaal deur Segers, 1980: 22). Verder is hierdie lesertipe ʼn instrument in die hande van die ondersoeker om die studie van die LESERROL binne rasioneel omskryfbare perke te hou.

Teksintern onderskei Segers (1980: 22) twee soorte ideële lesers: die implisiete en die eksplisiete leser. Op tekseksterne gebied word die ideële leser onderskei, wat ook deur Iser (1978: 27) as ʼn hipotetiese leser geklassifiseer word. Hierdie hipotetiese leser­tipe dui ʼn leser aan “upon whom all possible actualizations of the text may be projected”. Ook die sg. contemporary reader word hieronder geklassifiseer.

Die lesertipes wat vervolgens bespreek sal word, kan almal in mindere of meerdere mate as ideële of hipotetiese lesers bestempel word en lê hoofsaaklik op die teksinterne gebied.

Die mock reader: Reeds in 1950 omskryf Gibson die sg. mock reader as die rol wat die werklike leser uitgenooi word om te speel vir die duur van die roman – ter wille van die ondervinding. Hierdie mock reader word deur die teks geïmpliseer; dit vorm die leser se ervaring en verleen aan dié ervaring geldigheid as objek vir kritiese ondersoek. Die werklike leser neem die masker en kostuum van die mock reader op ten einde die taal te ervaar en daardeur herskep te word. “The mock reader is an artifact, controlled, simplified, abstracted out of the chaos of day-to-day sensation.”

Die superleser: Michael Riffaterre se “superleser” (1966) is die teoretiese konstruksie van ʼn leserrol wat in die teks self beslote is. Hierdie konstruksie word gemaak ten einde ʼn optimale interpretasie van ʼn bepaalde gedig te laat realiseer. So ʼn “superlesing” wat uit die materiaal afgelei word, kan gesien word as die konstruksie van alle tekstuele tekens wat aangee hoe die teks ten beste gelees kan word. Riffaterre se “superleser” is gekonstrueer uit Franse digters en kritici, vertalers van die betrokke gedig, studente en vele meer. Die wyse waarop die leser oomblik na oomblik reageer terwyl die gedig voor hom ontvou, vorm die basis van Riffaterre se STILISTIESE analise.

Die narratee: Teenoor die narrator stel Gerald Prince (1973) die sg. narratee – ʼn persoon aan wie die vertelling eksplisiet of implisiet gerig is. Hy bepaal ʼn hipotetiese zero-degree narratee met bepaalde minimum-eienskappe soos taalkennis as verwysingspunt vir die beskrywing van werklike narratees. Prince beskryf wyses waarop narratees geklassifiseer kan word en noem ook die funksies wat ʼn narratee kan vervul, bv. om ʼn band te smee of as bemiddelaar op te tree tussen die skrywer en die leser(s).

Die virtual reader. Naas die narratee onderskei Prince (1973) op minder duidelike wyse ook ʼn virtual reader, dit is die soort leser vir wie die skrywer meen dat hy skryf en aan wie hy dus sekere eienskappe, vermoëns en smake toeskryf. Hierdie lesertipe lê op die subjek-interne gebied wat later aan die orde kom.

Die ideale leser: Robert de Maria (1978) wys daarop dat elke kritiese skool sy eie weergawe van die ideale leser het: ʼn figuur met karaktertrekke wat die literêre vorm van die kritiese werk waarin hy vervat is, reflekteer. Veral in die geledere van lesergerigte kritici word die term meermale gebruik, meestal bloot met nuanseverskille. Gerald Prince onderskei sy narratee van die ideale leser en beskryf lg. dan as ʼn leser wat volmaak sou begryp en volkome instemming verleen aan elke woord of selfs die subtielste intensies van die skrywer. Vir die kritikus sou ʼn ideale leser waarskynlik een wees wat daartoe in staat sou wees om “the infinity of texts that, according to certain critics, can be found in one specific text” te interpreteer (Prince, 1973: 9).

In die strukturalistiese teorieë van Jonathan Culler (1975) speel die ideale leser ʼn belangrike rol as die teoretiese konstruksie wat ʼn representasie is van die sg. “central notion of acceptability”. Die vraag is dus na die implisiete kennis waaroor ʼn ideale leser moet beskik ten einde werke te kan lees en interpreteer op aanvaarbare wyses, in ooreenstemming met die “institution of literature” (Culler, 1975: 124).

In aansluiting by W. Blok (1960) omskryf Frank C. Maatje (1977) die ideale leser as ʼn registreerapparaat wat in die persoon-van-die-leser werksaam is en by optimale funksionering identiek is aan die model van die literêre kompetensie wat hy opgestel het. Ten einde alle straktuurelemente te registreer en die werking daarvan in die belewing d.m.v. refleksie te verantwoord, moet die ideale leser oor drie soorte kennis beskik: linguale, historiese en geografiese kennis.

J.J.A. Mooij (1979) onderskei meer soorte ideale lesers. Die eerste is in wese ʼn werklike leser wat op subtiele wyse gebruik maak van sy idees, menings en oortuigings aangaande die wêreld en die lewe, d.w.s. uitskakel wat ongewens is en inskakel wat nodig is. Die ander tipe ideale leser is òf ʼn fiksionele, teoretiese kon­struksie, ʼn onderdeel van die STRUKTUUR van die betrokke werk, òf ʼn abstraksie, d.w.s. ʼn aspek van die persoon-van-die-leser; maar ook hierdie lesers kan volgens Mooij slegs tot stand kom op die basis van die werklike persoon wat die betrokke rol moet speel.

Kritiek teen hierdie lesertipe is o.a. ingebring deur Wolfgang Iser (1978: 27–29): die ideale leser is ʼn strukturele onmoontlikheid wat waarskynlik ʼn voortbrengsel is van die kritikus self, juis omdat hy ʼn suiwer fiksionele wese is wat baie bruikbaar kan wees om tekortkominge in die kritiese werksaamhede te verberg. Ook Segers (1980: 25) beskryf hierdie hipotetiese leser, wat volgens hom op die tekseksterne gebied lê, as ʼn lesertipe met irreële pretensie: “de volledig adequate concretisatie van een artefact”. Ondersoek na hierdie leser is dan ook nie moontlik nie, omdat hy eenvoudig nie bestaan nie.

Die geïnformeerde leser: ʼn Minder illusionêre weergawe van die ideale leser is die sg. geïnformeerde leser waarna Stanley Fish (1980: 21–67) verwys in ʼn artikel “Literature in the reader: af­fective stylistics”, wat oorspronklik in 1970 verskyn het. Hierdie leser, ʼn kompetente spreker van die taal waarin die teks geskryf is, beskik in voldoende mate oor allerlei moontlike vorme van aktiewe sowel as passiewe taalgebruik, en beskik ook oor literêre kompetensie – “that is, he is sufficiently experienced as a reader to have internalized the properties of literary discources, including everything from the most local of devices … to whole genres” (Fish, 1980: 48). So ʼn leser is volgens Fish nòg ʼn ab­straksie nòg ʼn werklike lewende leser, maar ʼn hibried – “a real reader (me) who does everything within his power to make him­self informed” (Fish, 1980: 49). Die wyse waarop die teks oom­blik na oomblik deur die leser geprosesseer word, is vir Fish van groot belang, en die leser se response word die fokus van die kritiese aandag.

Die modelleser: Nog ʼn variasie van die ideale leser kom voor in Umberto Eco (1979) se kommunikasiemodel: die sg. modelleser. In die samestelling van ʼn teks maak die outeur staat op ʼn reeks KODES wat ʼn bepaalde inhoud verleen aan die uitdrukkings wat hy gebruik. Ten einde die teks kommunikeerbaar te maak, moet hy aanvaar dat die kodes waarop hy staat maak, dieselfde is as dié van sy moontlike leser. Die outeur moet dus ʼn model van sy moontlike leser in gedagte hê, wat veronderstel is om die uitdrukkings te kan interpreteer op soortgelyke wyse as wat die outeur dit genereer. Eco beskryf hierdie modelleser as “… a textually established set of felicity conditions … to be met in order to have a macrospeech act (such as a text is) fully actualized” (Eco, 1979: 11).

Die teks self selekteer eksplisiet ʼn baie algemene model van moontlike lesers op grond van die keuse van (1) ʼn spesifieke linguistiese kode, (2) ʼn sekere literêre styl, en (3) spesifieke aanduidings van spesialisasie in die inhoud. Sekere tekste gee duidelike aanduidings van die aard van die verwagte leser, bv. jeugboeke. Ander skep weer die kompetensie van sy modelleser, bou dit tekstueel op deur die leser “op te voed” en “in te lig”, soos in die geval van didaktiese werke.

Verder onderskei Eco tussen modellesers vir “GESLOTE” tekste en dié wat vir “OOP” tekste vereis word, ʼn Teks wat “oop” is vir enige moontlike interpretasie, word ʼn “geslote” teks genoem. So ʼn teks veronderstel ʼn gemiddelde leser op grond van ʼn blote intuïtiewe sosiologiese spekulasie en kan potensieel tot enige leser spreek. Konsumpsieliteratuur behoort gewoonlik tot dié kategorie. In teenstelling hiermee verskaf ʼn “oop” teks ʼn “geslote” projeksie van sy modelleser as ʼn komponent van sy strukturele strategie. Die verskillende moontlike interpretasies van so ʼn teks eggo mekaar voortdurend, en die leser van so ʼn teks word streng gedefinieer deur die leksikale en sintaktiese organisasie van die teks: “The text is nothing else but the semantic-pragmatic production of its own Model Reader” (Eco, 1979: 10).

Die abstrakte leser: Hoewel hierdie leser dikwels gelykgestel word aan die implisiete leser, toon H. van den Bergh (1981: 158) aan dat die abstrakte leser te koppel is aan die abstrakte outeur, d.w.s. dié deel van die persoonlikheid van die werklike outeur wat hom in die teks manifesteer, soos wat die implisiete leser weer verbonde is aan die implisiete outeur, wat ʼn teksinstansie is. Hieruit volg dat die abstrakte leser wat deur die teks opgeroep word, gelyk is aan die leserbewussyn wat op die abstrakte niveau deur die teks voorveronderstel word.

Die implisiete leser: Hierdie lesertipe kan gedefinieer word as die leserrol wat in die teks self beslote lê: “Het is het geheel van tekstuele aanwijzingen bestemd voor de werkelijke lezer, die daaroor te weten kan komen hoe die tekst gelezen moet worden” (Segers, 1980: 22). In sy werk The Implied Reader (1974) ondersoek Iser ʼn groot aantal prosatekste n.a.v. die leserrol wat daarin voorkom. Hieruit blyk dat die leserrol wat in ROMANS vervat is met die verloop van tyd steeds minder eksplisiet geword het, sodat die werklike leser van die moderne roman tans self aan die hand van implisiete aanwysings moet ontdek hoe die teks gelees behoort te word.

In The Act of Reading (1978) beskryf Iser die literêre werk as Wirkungstruktur. die werk is die estetiese respons wat hy in ʼn leser bewerkstellig en bevat terselfdertyd sy leser struktureel. Teks en leser het nou gelyke status; die werklike histories bepaalde leser word egter in Iser se teorie slegs aangedui, nie ingesluit nie: “… the implied reader as a concept has his roots firmly plant­ed in the structure of the text; he is in no way to be identified with any real reader” (Iser, 1978: 34). Die leser word dus gereduseer tot ʼn rolspeler.

Die konsep “implisiete leser” word gekonstitueer deur hierdie rol wat die leser speel vir die duur van sy interaksie met die literêre werk. Daar is twee basiese, verwante aspekte verbonde aan bg. konsep: die leser se rol as ʼn tekstuele struktuur (Textstruktur), en die leser se rol as ʼn gestruktureerde handeling (Aktstruktur). Eersgenoemde dui aan waarin die leser se betekenisgewende rol geleë is en hoe hy die rol moet speel, terwyl lg. die werklike speel van dié rol, d.w.s. die betekenisvorming, aandui.

Iser maak dikwels gebruik van teorieë en terme wat deur die fenomenoloog Roman Ingarden in sy monumentale werk Das literarische Kunstwerk (1931) uiteengesit is. Ingarden beskou die leser as konkretiseerder van die teks en wys ook daarop dat die teks twee pole het: die artistieke pool (die teks wat deur die outeur geskep is) en die estetiese pool (die verwerkliking van die teks deur die leser). Iser bou ook voort op Jan Mukařovský se idee van ʼn estetiese objek, dit is ʼn veranderlike punt waar teks en leser in wisselwerking tree, ʼn Voorwaarde vir hierdie wisselwerking is die Unbestimmtheit (onbepaaldheid) wat ʼn noodsaaklike eienskap van alle literêre tekste is. Fiksionele tekste is geen kopieë van objekte of situasies uit die werklike lewe nie: “For this reason they cannot have the total determinacy of real objects, and, indeed, it is the elements of indeterminacy that enable the text to ‘communicate’ with the reader, in the sense that they in­duce him to participate both in the production and the compre­hension of the work’s intention” (Iser, 1978: 24). Ingarden het eerste daarop gewys dat hierdie Unbestimmtheit hom manifesteer in Unbestimmtheitstellen of spots of indeterminacy (in vertaalde vorm), wat ook Leerstellen genoem word. Laasgenoemde term word in Afrikaans dikwels vertaal met “oop plekke”, maar soms ook met “interpretasieruimtes” (De Jong, 1983).

Die Leerstellen is een van die kernbegrippe van die Resepsie-estetika. Die leser word die taak opgelê om hierdie ruimtes in te vul, sodat die teks ʼn appèlstruktuur (Appellstruktur) het: dit rig ʼn appèl tot betekenisvorming aan die leser en is ook daarvoor ontwerp (Iser, 1970). Volgens Ingarden en later ook Iser (1974) tree die leser op as herskepper van die teks, sodat die es­tetiese objek (die literêre teks) uiteindelik slegs in die voorstellingswêreld van die leser bestaan. Die leser is egter nie outonoom nie – sy aktiwiteit is bloot die vervulling van wat reeds implisiet in die struktuur van die werk vasgelê is.

Binne die komplekse dialektiese struktuur van die leesproses lê daar vir die werklike leser die moontlikheid opgesluit om homself te formuleer “and so discover what had previously seemed to elude (his) consciousness” (Iser, 1974: 294).

Die eksplisiete leser: Onder hierdie lesertipe word verstaan die persoon tot wie die (fiksionele) verteller hom rig (Segers, 1980: 24). Hy word direk of indirek aangespreek deur die verteller. Die “beste leser”-aanspreekvorm in die historiese ROMAN is ʼn voorbeeld van die direkte aanspreking. By die indirekte aanspreking word die persoon wat aangespreek word, die werklike leser, weggelaat, en die eksplisiete leser word slegs deur sinswendinge aan­gedui, bv.: “Hier moet ons nog byvoeg dat Jan ook by dié geleentheid teenwoordig was.” Volgens Hannelore Link (1976: 24) is die eksplisiete fiktiewe leser die ideale gespreksgenoot van die fiktiewe outeur of verteller.

In The Implied Reader (1974) ondersoek Iser ʼn groot aantal prosatekste, en hy kom tot die gevolgtrekking dat die leserrol in die 18e eeu nog byna uitsluitlik eksplisiet was; die outeur voer ʼn gesprek met die leser, spreek hom herhaaldelik aan en onderrig hom. Hierna neem dié tendens af; tans kom dit selde voor.

Volgens Segers (1980: 24) sou die eksplisiete leser “wel eens overeen kunnen komen met een ideaalbeeld dat een outeur van een werkelijke lezer heeft”. Uit ʼn ondersoek wat aan die Universiteit van Amsterdam (1978–1979) gedoen is, het geblyk dat ongeveer die helfte van die gekonstateerde leseraansprekinge ʼn verteltegniese funksie het. Die rede waarom die verteller in die teks ingryp, blyk dikwels ʼn poging te wees om die norme van verteller en leser nader aan mekaar te bring en belangstelling op te wek. In aansluiting hierby toon RH. Roodt (1982) aan dat die eksplisiete aanspreekvorm ʼn verhaal meer dramaties maak en die werklike leser aktief betrek by die verhaalgebeure.

Die kontemporêre leser: Hierdie lesertipe word deur Iser (1978: 27 en 28) saam met die ideale leser geklassifiseer onder die oorwegend hipotetiese leserrolle. In teenstelling met die ideale leser, wat suiwer ideëel van aard is, bestaan die kontemporêre leser wel, maar hy kan moeilik omvorm word tot ʼn veralgemening. Daar is drie tipes kontemporêre lesers – die een is ʼn werklike, historiese leser wat afgelei word uit bestaande dokumente, en die ander twee is hipotetiese lesers: die eerste word gekonstrueer uit historiese en sosiale inligting oor die tyd, en die tweede is af te lei van die leser se rol soos in die teks neergelê.

Die adressaat: Naumann (1971) omskryf die adressaat of “gedagteleser” as ʼn instansie wat aanwesig is in die gebeurtenis van literêre skepping self, deurdat hy as beeld van die toekomstige leser teenwoordig is in die bewussyn of onderbewussyn van die outeur.

Volgens Naumann het die adressaat drie literêre funksies wat kortliks op die volgende neerkom: (1) as beeld van die leser in die gedagtes van die outeur is die adressaat ʼn voorstelling van een van die vorme waarin die outeur sy verhouding tot die maatskaplike werklikheid in totaal realiseer; (2) in die skryfdaad stel die adressaat ʼn determinant voor wat deel het aan die opbou van die estetiese wêreld van die werk; en (3) die adressaat tree op as bemiddelaar tussen die voltooide werk en die werklike leser en verskaf sodoende oriënteringshulp in die leesproses.

Die geïntendeerde leser: Hierdie begrip is eerste gebruik deur Erwin Wolff (1971) in sy poging om die leser te konstrueer wat die outeur in gedagte gehad het. Die begrip is van hom oorgeneem deur Link (1976), Grimm (1975) e.a. Hierdie lesertipe is ʼn buitetekstuele kategorie wat tegelyk sy neerslag ook in die teks vind. Volgens Link stem die geïntendeerde leser ooreen met die implisiete leser wanneer lg. adekwaat gerealiseer word.

Die geïntendeerde leser behoort hoofsaaklik tot die subjek-interne lesers (vgl. Grimm, 1975: 38, 39), d.w.s. lesertipes wat net in die verbeelding van die outeur bestaan, soos ook die denkbeeldige en die konsepsionele lesers. In teenstelling met die denkbeeldige leser gaan dit egter om ʼn empiries gefundeerde voorstelling wat die outeur van sy lesers het, gevorm op grand van bv. notas, BRIEWE, dagboekaantekeninge, toesprake en manifeste. Die geïntendeerde leser stem ooreen met die denkbeeldige leser wanneer die outeur één is met sy lesergemeenskap, of wanneer hy geen voorstelling van sy reële lesergemeenskap gevorm het nie.

Die denkbeeldige leser: Hierdie kategorie dui op die voorstel­ling wat die outeur van sy werklike lesergemeenskap het en lê dus ook op die subjek-interne gebied. Dit is egter nie empiries gefundeer soos die geïntendeerde leser nie en stem meestal nie daarmee ooreen nie. Volgens Grimm (1975) gebeur dit veral met skrywers soos pedagoë en satiriste dat hulle ʼn spesifieke leserspubliek in gedagte het, wat dan dikwels ʼn onjuiste voorstelling blyk te wees.

Die konsepsionele leser: Met dié term verwys Grimm na die lesertoestand wat wel op die teks betrekking het, maar wat nie self as sodanig gestalte aanneem nie. Hy is deur die outeur “gekonsipieer” en is dus ʼn geïntendeerde leser wat net op die betrokke werk toegepas kan word. Hierdie leser besit al die besonderhede wat uitsluitlik relevant is vir die betrokke teks en kan kortliks gedefinieer word as die beplanning van die implisiete of intensionele leserrol op die basis van die geïntendeerde leser.

Die gemiddelde leser: In sommige empiriese resepsiestudies, soos dié van Werner Bauer e.a., word die gemiddelde leser as uitgangspunt geneem. Hierdie leser beskik oor minimumvereistes sover dit linguistiese kompetensie en reseptiewe vermoë aangaan (Bauer, 1972: 21).

In die kommunikasiemodel wat die skrywers as uitgangspunt gebruik, word daar vir hierdie gemiddelde leser ʼn sg. sindroom van verwagtinge ten tyde van die lees van ʼn teks bereken. Die komponente van hierdie sindroom is: (1) linguistiese ervaring; (2) ervaring betreffende die omgaan met literêre tekste; en (3) emosionele, sosiaal bepaalde, en kulturele ervaringe.

Vir meer besonderhede oor die lesertipes wat onderskei is, kan die volgende bronne geraadpleeg word: Bauer et al. (1972), Belsey (1980), Blok (1960), Booth (1961), Bronzwaer etal. (1977), Buursink et al. (1978), Culler (1975), De Jong (1983), De Maria (1978), Eco (1979), Fish (1980), Fokkema & Kunne-Ibsch (1979), Gast (1975), Gibson (1950), Grimm (1975), Groeben (1972), Ingarden (1973a en 1973b), Iser (1970, 1974 en 1978), Jauss (1970), Link (1976), Maatje (1970/1977), Mooij (1979), Naumann (1971), Prince (1973), Riffaterre (1966), Roodt (1982), Ryan & Van Zyl (1982), Segers (1978, 1980 en 1981), Tompkins (1980), Van den Bergh (1981), Van Dijk (1971), Wienold (1972) en Wolff (1971).

(Vgl. KOMPETENSIE (LITERÊRE) en RESEPSIETEORIE.)

 

Bibliografie

Bauer, W. etal. 1972. Text und Rezeption: Wirkungsanalyse zeitgenössischer Lyrik am Beispiel des Gedichtes ‘Fadensonnen’ von Paul Celan. Frankfurt: Athenaeum.

Belsey, C. 1980. Critical Practice. London: Methuen.

Blok, W. 1960. Verhaal en lezer: een ondersoek naar enige structuuraspecten van ‘Van oude mensen, de dingen die voorbij gaan’ van Louis Couperus., Groningen: Wolters-Noordhoff.

Booth, W.C. 1961. The Rhetoric of Fiction. Chicago: University of Chicago Press.

Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). 1977. Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Ambo.

Buursink, M. et al. 1978. De wetenschap van het lezen: theorie der literaire receptie. Assen: Van Gorcum.
Culler, J. 1975. Structuralist Poetics: Structuralism, Linguistics and the Study of Literature. London: Routledge & Kegan Paul.

De Jong, M. 1983. Die blootgestelde leser: Wolfgang Iser se model van die interaksie tussen teks en leser I. Standpunte 19, 36(2). De Maria, R. 1978. The ideal reader: a critical fiction. PMLA, 93.

Eco, U. 1979. The Role of the Reader: Explorations in the Sem­iotics of Texts. Bloomington: Indiana University Press.

Fish, S. 1980. Is There a Text in this Class?: The Authority of Interpretive Communities. Cambridge: Harvard University Press.

Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1979. Theories of Literature in the Twentieth Century: Structuralism, Marxism, Aesthetics of Reception, Semiotics. London: Hurst.

Gast, W. 1975. Text und Leser im Feld der Massenkommunikation: Ueberlegungen zur Wirkungsanalyse von Unterhaltungsliteratur. Wirkendes Wort, 25(2).

Gibson, W. 1950. Authors, speakers, readers, and mock read­ers. College English, 11.

Grimm, G. (Hrsg.). 1975. Literatur und Leser: Theorien und Modelle zur Rezeption literarischer Werke. Stuttgart: Reclam.

Groeben, N. 1972. Literaturpsychologie. Literaturwissenschaft zwischen Hermeneutik und Empirie Stuttgart: Kohlhammer.

Ingarden,  R.   1931.  Das literarische Kunstwerk.  Tübingen: Niemeyer.

Ingarden, R. 1973a. The Cognition of the Literary Work of Art (transl. Ruth Ann Cowley & K.R. Olson). Evanston: North­western University Press.

Ingarden, R. 1973b. The Literary Work of Art: An Investigation on the Borderlines of Ontology, Logic, and the Theory of Litera­ture (transl. G. Grobowicz). Evanston: Northwestern Universi­ty Press.

Iser, W. 1970. Die Appellstpiktur der Texte: Unbestimmtheit als Wirkungsbedingung literarischer Prosa. Konstanz: Hess.

Iser, W. 1974. The Implied Reader: Patterns of Communication in Prose Fiction from Bunyan to Beckett. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Iser, W. 1978. The Act of Reading: A Theory of Aesthetic Response. London: Routledge & Kegan Paul.

Jauss, H.R. 1970. Literaturgeschichte als Provokation. Frankfurt: Suhrkamp.

Link, H. 1976. Rezeptionforschung: Einführung in Methoden und probleme. Stuttgart: Kohlhammer.

Maatje, F.C. 1970/1977. Literatuurwetenschap: grondslagen van een theorie van het literaire werk. Utrecht: Bonn, Scheltema & Holkema.

Mooij, J.J.A. 1979. Tekst en lezer: opstellen over algemene problemen van de literatuurstudie. Amsterdam: Athenaeum.

Naumann, M. 1971. Autor-Adressat-Leser. Weimar Beiträge, 17 (11).

Prince, G. 1973. Introduction to the study of the narratee. Poétique, 14.

Riffaterre, M. 1966. Describing poetic structures: two approaches to Baudelaire’s ‘Les chats’. Yale French Studies, 36–37.

Roodt, P.H. 1982. Verteller/teks/leser: die driehoeksverhouding in Jaarringe. Tydskrif vir letterkunde, 20(3).

Ryan, R. & Van Zyl, S. (eds). 1982. An Introduction to Contem­porary Literary Theory. Johannesburg: Ad. Donker.

Segers, R.T. (red.). 1978. Receptie-esthetika: grondslagen, theorie en toepassing. Amsterdam: Huis aan de drie grachten.

Segers, R.T. 1980. Het lezen van literatuur: een inleiding tot een nieuwe literatuurbenadering. Baarn: Basisboeken Ambo.

Segers, R.T. (red.). 1981. Lezen en laten lezen: recent receptie-ondersoek in Nederland en België. ‘s-Gravenhage: Nijhoff.

Tompkins, J.P. (ed.). 1980. Reader-Response Criticism: From For­malism to Post-Structuralism. Baltimore: Johns Hopkins Univer­sity Press.

Van den Bergh, H. 1979. De verteller als strateeg: persuasieve processen in het korte verhaal. In: Segers, R.T. (red.). Lezen en laten lezen. ‘s-Gravenhage: Nijhoff.

Van Dijk, T. A. 1971. Taal teks teken: bijdragen tot de literatuurteorie. Amsterdam: Athenaeum.

Wienold, G. 1972. Semiotik der Literatur. Frankfurt am Main: Athenaeum.

Wolff, E. 1971. Der intendierte Leser. Poetica, 4.

 
Mabel A. Rossouw