OOP EN GESLOTE TEKSTE

Die onderskeiding tussen oop en geslote tekste word deur Umberto Eco (1979) gemaak. Die onderskeiding berus op die manier waarop ‘n leser of ontvanger ‘n bepaalde TEKS dekodeer. (Vgl. KODE.) Die reaksie van ‘n MODELLESER is in die teks ingebou en op grond van die reaksie wat van die modelleser verwag word, word ‘n teks as oop of geslote beskou.

Daar moet dus eers gekyk word na wat Eco bedoel wanneer hy van ‘n modelleser praat.

Eco (1979: 3—4) gaan van die standpunt uit dat ‘n teks (as ‘n spesifieke token van ‘n bepaalde type) interpreteerbaar is en dat ‘n ontvanger (leser) aktief meewerk aan die totstandkoming van die teks. Die ontvangs van ‘n teks is dus ‘n kommunikasiesituasie van ‘n baie spesifieke, en eintlik problematiese aard, omdat die kommunikasiestrategie op ‘n veranderende en veranderlike stelsel van betekenisaanduiding berus. ‘n Teks kan nie as ‘n kommunikasiesituasie beskryf word as die rol van die ontvanger of leser nie in berekening gebring is van die begin van die ontstaan van die teks as teks af nie. Eco (1979: 3) sê van die literêre teks dat die “foreseen interpretation is a part of its generative process”.

Om ‘n teks te “maak”, om die teks ‘n bepaalde gestalte te gee, moet die outeur staatmaak op ‘n reeks *kodes wat aan outeur en ontvanger bekend is en wat aan die uitdrukkings wat hy gebruik ‘n bepaalde inhoud toedig. Die outeur moet dus die model van ‘n moontlike of waarskynlike leser in gedagte hou en veronderstel dat hierdie modelleser die teks sal interpreteer op die wyse wat die outeur wil hê dat dit geïnterpreteer moet word.

In die algemeen is ‘n taalteks op ‘n sekere soort leser gerig, deurdat die teks

A) in ‘n spesifieke linguistiese kode geskryf is (‘n taal, Afrikaans of Engels);

B) in ‘n spesifieke literêre styl geskryf is (dit is ‘n gedig of ROMAN) en

C) ook deurdat die teks sekere gespesialiseerde uitdrukkings (INDISIEë) bevat, bv. vaktaalterme. Maar dit is ook belangrik dat ‘n teks sy eie modelleser skep — die leser word deur die teks “gevra” en deur uitsprake in die teks gelei en gestuur om bepaalde interpretasies van die tekens in die teks te maak.

Die modelleser is dus ‘n teoretiese entiteit wat as ‘n logiese kategorie medebepalend werk in die kommunikasiesituasie. Die modelleser is ‘n projeksie van die outeur en besit as sodanig daardie vermoëns en eienskappe wat nodig is om die outeur se bedoelinge met die teks te realiseer.

Geslote tekste is volgens Eco (1979: 8) daardie tekste wat daarop ingestel is om ‘n spesifieke reaksie by lesers te ontlok. So ‘n teks is op ‘n bepaalde soort leser ingestel (bv. kinders onder 10, mediese dokters, sentimentele lesers, middelklasvroue, ens.) en wil spesifieke emosionele reaksies soos simpatie of vrees of opgewondenheid of depressie op spesifieke plekke in die teks ontlok. Sulke tekste voorveronderstel ‘n soort “gemiddelde” leser volgens vae en algemene sosiologiese spekulasies. Die geslote teks verwag nie van sy lesers om die teks te benader gewapen met bepaalde kennis van buite nie, en so ‘n geslote teks veronderstel geen bydrae van die leser se kant nie.

Feit is egter dat in geslote tekste geen korrektief voorkom wat ‘n bepaalde interpretasie kan afwys nie. Sulke tekste is paradoksaal genoeg “oop” vir enige foutiewe dekodering. As die leser kwaad word vir ‘n karakter in plaas van om hom jammer te kry soos wat die skrywer dit wou hê, is daar niks in die teks wat die foutiewe reaksie korrigeer nie. Die foutiewe interpretasie gaan ook nie afbreuk doen aan die teks nie. Ian Fleming se James Bond-verhale en die “Superman”-strookprente is voorbeelde van geslote tekste. ‘n Geslote teks is ‘n afgeslote entiteit — dit is kompleet en “afgerond”, daar is niks aan toe te voeg nie, en dit kan net geabsorbeer word: dit is as ‘t ware “gereed vir gebruik”.

Hierteenoor staan die oop tekste. Die oop teks is daardie teks wat sy modelleser aktief in die proses van totstandkoming van die teks in ‘n kommunikasiesituasie betrek. Die modelleser van die oop teks “(is) able to master different codes and eager to deal with the text as with a maze of many issues” (Eco, 1979: 9). ‘n Oop teks kan nie vrylik gebruik of geïnterpreteer word nie maar slegs op ‘n bepaalde wyse wat deur die teks self bepaal word: “An open text outlines a ‘closed’ project of its Model Reader as a component of its structural strategy” (Eco, 1979: 9).

Hierdeur word nie geïmpliseer dat daar net een interpretasie van ‘n oop teks moontlik is nie. Inteendeel, sulke tekste “work at their peak revolutions per minute only when each interpretation is reechoed by the others” (Eco, 1979: 9). Die modelleser van oop tekste is bereid om al die aanwysings en verwysings van die teks te volg op welke weë dit hom ook al mag bring.

In oop tekste is die rol van die leser baie fyn beplan en vas bepaal: “The reader is strictly defined by the lexical and the syntactical organization of the text: the text is nothing else but the semantic-pragmatic production of its own Model Reader” (Eco, 1979: 10).

Vir kommentaar op hierdie begrippe vgl. Doležel (1980) en Du Plooy (1986: 249-258).

(Vgl. KONKRETISERING en DRAMA.)

 

Bibliografie

Doležel, L. 1980. Eco and his model reader. Poetics Today, 1(4).

Du Plooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

Eco, U. 1979. The Role of the Reader. Bloomington: Indiana University Press.

 
Heilna du Plooy