KODE

Hierdie term het uit die informasiewetenskap via die SEMIOTIEK en die taalwetenskap ʼn plek in die (kommunikasiegeoriënteerde) Literatuurwetenskap gevind (vgl. KUBERNETIKA EN INFORMASIETEORIE). Die uitgangspunt is dan dat die literatuur as ʼn bepaalde vorm van kommunikasie ʼn deelsisteem van die omvattende sisteem van (talige) kommunikasie is: “De recente belangstelling voor semiotiek en communicatietheorie heeft er … toe geleid dat de literatuurwetenschapper de literaire tekst is gaan zien als een bericht dat in een bepaalde communicatiesituatie functioneert en niet van zijn historische context kan worden geïsoleerd” (Fokkema, 1979: 1). Baie vereenvoudig (vgl. Eco, 1979b: 5–7) en sonder dat dit reg kan laat geskied aan die dinamiese aard van kommunikasie (vgl. Hoek, 1985: 146) kan die volgende model as hulpmiddel dien:

 

I——– VERWYSINGSRAAMWERK >

 

SENDER——- BOODSKAP (TEKS)         ONTVANGER

 

I———————- KODE——————- ———’

Uit die model blyk dit dat sowel die sender as die ontvanger van ʼn kode gebruik maak: eg. om die boodskap te enkodeer, lg. om dit te dekodeer. Hoe groter die ooreenkoms tussen die twee instansies se kode(s) is, hoe meer sal die sender- en ontvangerbetekenis mekaar benader. Betekenisskepping en verstaanbaarheid is dus (o.m.) van kodes afhanklik: “Whenever we ‘make sense’ of an event it is because we possess a system of thought, a code, that enables us to do so … Human languages are the most deve­loped instances of coding that we know, but codes exist that are sublinguistic (facial expressions, for instance) and supralinguistic (literary conventions, for instance). Interpretation of complex human utterances involves the appropriate use of a number of codes simultaneously” (Scholes, 1982: 143).

 

Afgesien van die kompleksiteit van menslike kodegebruik wat hier weer onderstreep word, kom daar nog enkele belangrike sake uit die aanhaling na vore. Eerstens is daar die (problematiese) feit dat kritici en teoretici die terme kode, konvensies, reëls, e.d. min of meer uitruilbaar gebruik en daarby die begrip kode soms so wyd toepas dat dit gevaar loop om sy (metatalige) waarde te verloor (vgl. Fokkema, 1985: 643). Tweedens is daar die siening van ʼn kode as ʼn sisteem waarbinne en waardeur ʼn verskynsel vir die gebruikers ʼn teken is en dus betekenisvol word (vgl. Van Zoest, 1978: 2425). So gesien, sou ʼn baie eenvoudige omskrywing van die begrip kode dan kon wees dat dit enige primêre tekensisteem is wat in staat is om informasie tussen ʼn sender en ʼn ontvanger “oor te dra”. Dit gaan dus oor ʼn versameling verwante tekens/simbole saam met die reëls wat hulle kombinasie reguleer sodat hulle bepaalde boodskappe kan oordra en in kommunikasieprosesse gebruik kan word. In hierdie sin kan natuurlike menslike tale soos Afrikaans en Engels as kodes gesien word: hulle bestaan o.m. uit ʼn versameling lekseme (vgl. SEEM) asook verskillende reëls op bv. sintaktiese, semantiese en pragmatiese vlak wat hulle gebruik reguleer. In hierdie sin vertoon die begrip kode dan ook ooreenkoms met die taalkundige Saussure, se begrip langue “the underlying system of rules and distinctions that makes possible signifying events” (Culler, 1983: 72; vgl. ook Zima, 1981: 85). As iemand die kode of langue Afrikaans ken, ken hy dus bv. lekseme soos “berg”, “bult”, “rant” en “heuwel”, maar ook o.m. die onderliggende sisteem wat hulle onderlinge semantiese verhoudinge en hulle verskyningsplekke in ʼn sin bepaal. Eco (1979a: 36 e.v.) bring binne hierdie opset ʼn onderskeid aan as hy “sisteem” en kode prinsipieel uitmekaar wil hou. Elam (1980: 4950) vat sy siening helder saam: “/System/ will be understood here … as ʼn repertory of signs or signals and the internal syntactic rules governing their selection and combina­tion. A system may be analysed as a formal network of elements having a differential structure (that is, they are defined through mutual opposition, e.g. the colours of traffic lights) and subject to an autonomous syntax, quite independently of the signifying functions it comes to fulfil… A code is what allows a unit from the semantic system (a signified) to be attached to a unit from the syntactic system.” En nou weerspieël ʼn bepaalde taalkode in sy besondere samestelling die werklikheid nie maar neutraal “soos dit is” nie, maar hy interpreteer, organiseer en klassifiseer dit sodat dit in werklikheid ʼn teorie behels oor hoe die werklikheid daar uitsien (dink maar aan die bekende voorbeeld terroris/vryheidsvegters). Een probleem hieraan verbonde is dat so ʼn kode en die wêreldbeskouing wat dit impliseer ʼn “gewoonte” is of word sodat taalgebruikers glo dat dit die enigste moontlikheid is (vgl. Fowler, 1986: hfst. 3).

 

Taal as kode omvat egter meer as die fonologiese, morfologiese, sintaktiese en semantiese (sub)sisteem met hulle kombinasie- en gebruiksreëls. Die volgende opmerking spreek vanself: “… as well as vocabulary and syntax, still further levels of linguistic structure are involved in encoding meanings and in turn, con­solidating these meanings and mobilizing them in practical ac­tion. I have in mind the ‘stylistic’ and ‘socio-linguistic’ dimensions of discourse, the conventions which communicate such features as politeness, formality, genre …, membership of social, geo­graphical and occupational groups, and so on” (Fowler, 1986: 20). Hieruit blyk dit reeds dat daar ook vir groter eenhede soos TEKSTE en selfs GENRES bepaalde organisasiereëls geld waaraan ʼn sender hom kan hou, maar waarteen hy ook, om bepaalde effekte te bereik, in mindere of meerdere mate kan ingaan. Hiermee is ʼn mens ook op die terrein van die literatuur.

 

Oor die aard van literatuur uit die perspektief van kodes is daar al baie geskryf. Volgens Ludwig (1981: 15) gaan dit hier om die taalkode, maar ook om die algemene kulturele agtergrond, waardevoorstellings, *ideologie, estetiese norme en literêre konvensies wat by die enkodering van ʼn “literêre boodskap” ʼn rol speel. Hierin sluit hy by die semiotikus Lotman aan as lg. (1976: 341) die saak uit die hoek van die leser só beskryf: “As soon as the recipient of information becomes aware that he is dealing with a literary communication, he approaches it in a special way. The text stands before him as, at minimum, doubly encoded; the first encoding is the system of the natural language … However, the recipient of the information knows that this text is encoded in some other way as well … In applying to the work of literature a whole hierarchy of supplementary codes (those of epoch, of genre, or of style)… we are faced in one and the same text with the most varied sets of significant elements …” Volgens hom verkry die literêre teks so ook ʼn groter informasiewaarde as ʼn bood­skap wat suiwer linguisties geënkodeer is (vgl. Lotman, 1976: 340 en 1977: 10). Hy beskou literatuur dan as ʼn sekondêre taal of sekondêre modellerende sisteem omdat dit weliswaar natuurlike taal as medium gebruik maar dit volgens bykomende konvensies organiseer sodat dit boodskappe kan oordra, “nontransmittable by other means” (Lotman, 1977: 21). Vergelyk ook Culler (1975: 981) in die Princeton encyclopedia of poetry and poetics.

 

Een aspek van hierdie siening van Lotman (soos ook in ʼn mate reeds van Jakobson – vgl. Waugh, 1985) is dat in artistieke/literêre tekste daar nie iets soos formele elemente bestaan nie, maar dat in die literêre kode alles betekenisdraend word, gesemantiseer word: die reël en STROFE is betekenisvolle eenhede, tipografiese plasing is betekenisvol, RYM en METRUM skep betekenis, parallelisme impliseer ekwivalensie van betekenis, ens. Die eerste drie reëls van Petra Müller se “Vinnevlerk” kan as kort illustrasie dien: “Uit ʼn woedende see skiet skuim/ die wolke toe, en as die lug ʼn oomblik breek// gier twee swart wildeganse skreeuend oor die duinland in”. Die leser wat vertroud is met die tipe literêre kode waarop Lotman sy teorie baseer, sou o.m. die tipografie en die alliterasie as betekenisdraend kon lees: die uitbreidende gebied wat gesinjaleer word deur “see”, “wolke toe”, “oor die duinland in” word ook “gesê” deur die langer wordende VERSREëLS, terwyl die [v]-alliterasie van “woedende (see)”, “wolke” en “wildeganse” ʼn andersins nie-vanselfsprekende betekenissamehang op poëtiese wyse stig. Culler (1975: 981) praat dan ook in hierdie verband van “… those (conventions) which govern the ways in which formal features, such as enjambment, caesura, metrical deviation, rhyme, and repetition of sounds, may become signs and contribute to poetic effect”. Net so kan daar as subkodes van die literêre kode die begrippe dramakode en narratiewe kode onderskei word wat elkeen weer bepaalde (histories en kultuurgebonde) kenmerke vertoon (vgl. bv. Elam, 1980 en Vandermoere, 1982).

 

Afgesien van die linguistiese en die literêre kode kan daar vol­gens Fokkema (1985) oorsigtelikheidshalwe nog drie soorte kodes onderskei word: die genrekode (wat in die vorige paragraaf reeds aangeraak is), die periode- of sosiokode en die idiolek van die skrywer wat ʼn kodekarakter het vir sover dit terugkerende ken­merke vertoon. En nou staan die kodes in hulle werking blykbaar nie los van mekaar nie: “… the literary code restricts the options that are open under the régime of the linguistic code. The choice of a genre further restricts the options of the two preceding codes. The selection of a sociocode further restricts the range of options open under the three preceding codes. Finally, resorting to a particular idiolect again restricts the range of possible options” (Fokkema, 1985: 647). Om ʼn (deels) hipotetiese voorbeeld te neem en sonder om te suggereer dat ʼn digter bewustelik of presies in die genoemde volgorde kies: by die afsterwe van C.P. Hooft in 1626 kon Vondel besluit het om ʼn gewone, bloot linguisties gekodeerde boodskap te skryf. Hy het hom egter in “Op het over lijden van… Hooft” beperk deur die literêre kode te kies en boonop nog twéé (sub)genrekodes: dié van die *sonnet en dié van die klassieke ELEGIE met sy voorskrifte van laus (roubetoon), luctus (eerbetoon), iacturae demonstratio (demonstrasie van verlies) en consolatio (vertroosting), e.s.m. In en deur die beperkinge het daar egter weer ʼn rykdom aan “informasie” tot stand gekom.

 

Uit die voorafgaande oorsig het daar reeds iets van die terrein van literêre kodeondersoek geblyk. Dit kan wissel van heel eng tot heel wyd: “Op het laagste niveau bevindt zich de literaire tekst en die samenstellende substructuren die in de tekst kunnen worden herkend. Door abstractie en generalisatie kan een systematische beschrijving van de tekstuele organisatie worden gegeven, en kan de literaire code van de tekst worden geconstrueerd” (Fokkema, 1977: 342). Die bestudering van genrekodes sou o.m. kon inhou die nagaan van toegelate en “verbode” onderwerpe en toonaarde en hoe die konvensies nagevolg en deurbreek is (vgl. Scholes, 1985: 2).

 

Ten slotte wat betref die soorte kodes, enkele opmerkings oor die begrip “periodekode” en die daarmee samehangende begrip “senderkode”. ʼn Periode in die geskiedenis van ʼn bepaalde lite­ratuur word volgens Kunne-Ibsch (1977:287) gevorm deur ʼn groep literêre tekste wat binne ʼn min of meer noukeurig aan te gewe tydsbestek op ʼn ooreenkomstige manier geënkodeer is. Ten opsigte hiervan kan ʼn skrywer dan behoudend optree of juis vernuwend probeer optree in sy senderkode en so moontlik ʼn nuwe “periode” help skep. By die rekonstruksie van ʼn periodekode en ʼn (vernuwende) senderkode – wat dan as hulpmiddel by die ontleding van individuele werke kan dien kan die literatuurwetenskaplike volgens Fokkema (1979: 4 en 1980: 478) van verskillende bronne gebruik maak: die skrywer(s) se manifeste, literêre kritiek, uitlatings in dagboeke en briewe en ander kritiese kommentaar; eksplisiete verwysings in die skrywer(s) se kreatiewe werk na vroeëre kodes waarvan hulle afwyk; PARODIëRING van bekende literêre tekste en style; die opmerkings van persone wat ʼn intieme kennis van die skrywer(s) se koderingsisteme (gehad) het (vgl. Kunne-Ibsch, 1977: 290). Self probeer hy dan die MODERNISTIESE kode en dié van Virginia Woolf as besondere manifestasie daarvan rekonstrueer. So sou daar ook reeds iets van die Tagtiger-periodekode in Nederland gerekonstrueer kon word uit Kloos se bekende formulering van hulle kunsbeginsels (L’ART POUR L’ART, “kunst moet de allerindividueelste expressie van de allerindividueelste emotie zijn”, ens.) of sou Brink se uitlatings oor die sieninge van die Sestigers as ʼn basis vir die rekonstruksie van (ʼn deel van) dié periodekode kon dien (lees maar sommige van die artikels opgeneem in Brink, 1985). (Vgl. ook PERIODISERING.)

 

Soos enige literêre kode is dit moontlik om ʼn periodekode te beskou as bestaande uit drie komponente: die sintaktiese kom­ponent wat die verhoudinge tussen die literêre tekens van ʼn be­paalde periodekode reël, die leksikaal-semantiese komponent wat vir ʼn bepaalde periode ʼn opvallende frekwensie van woorde met ooreenkomstige semantiese kenmerke vertoon, en die pragmatiese komponent wat bepaal wanneer ʼn bepaalde periodekode gebruik kan word en wanneer nie. Dit is egter waarskynlik ook waar dat so ʼn periodekode as “systemen van conventies die de literairheid van teksten reguleren dan wel verklaren” (Fokkema, 1979: 7) nie bloot ʼn chronologiese begrip is nie, maar dat sy geldigheid beperk kan wees tot ʼn bepaalde streek of sosiale groep.

 

ʼn Mens kan bv. aanvaar dat nie alle skrywers/lesers van Afrikaanse prosafiksie by die Sestiger-periodekode aansluiting gevind het of selfs wou of kon vind nie, maar dat sekere skrywers/ lesers bv. ook in daardie tydperk die kodes van ontspanningslektuur gehanteer het. Daarby kom ook die volgende faset wat sake nog verder kompliseer: “Synchroon met de dominante procédés zijn uitlopers van een voorafgaande en voorlopers van een vol­gende periode waar te nemen. Epigonisme (vgl. PLAGIAAT) en avantgardisme zijn de begeleiders van iedere periodecode in do­minante positie: het epigonisme gericht op de instandhouding van oudere normen en waarden, en het avantgardisme gericht op de doorbreking van de zojuiste gevestigde normen” (Kunne-Ibsch, 1977: 295-296). Ten slotte moet daarop gewys word dat die konvensies van ʼn bepaalde periode in meer of minder aangepaste vorm in ander sosiale groepe of literature geresepteer kan word met verskillende insiggewende gevolge (vgl. Fokkema, 1977: 346 e.v.; Kunne-Ibsch, 1977: 294 e.v.).

 

As ʼn mens aanvaar dat kodes ʼn belangrike rol speel by betekenisskepping en verstaanbaarheid, is dit duidelik dat die lesers van literêre tekste ook bewustelik of onbewustelik bepaalde kodes hanteer. Dat dit so is, word gou duidelik as ʼn mens bv. ʼn Middelnederlandse teks begin lees. In die lied “Wi willen van den kerels zinghen” skep die herhaalde noem van die boere se lang baarde bv. ʼn probleem; in Van den vos Reinaerde is die proloog opgebou volgens ou retorikavoorskrifte wat vir moderne lesers grootliks onbekend is; en die “Egidiuslied” se spesifieke RONDEELVORM is ook nie sommerso “verwerkbaar” nie. Tereg sê Fokkema (1977: 346348): “Oudere teksten uit de periode van de Middeleeuwen of de Renaissance, zijn in de loop der geschiedenis moeilijker toegankelijk geworden daar de kennis van de codes waarin zij geschreven zijn in de loop der tijden bij het lezerspubliek is afgenomen.” Hier is dus (noodwendig) ʼn groot afstand tussen die sender- en tekskode(s) aan die een kant en die ontvangerskode(s) aan die ander kant.

 

Uit die genoemde Middelnederlandse voorbeelde blyk ook reeds dat die kodes waaroor ʼn leser moet beskik nie almal van dieselfde soort is nie. Sy verstaan van die “baarde” hang af van sy kennis van bepaalde Middeleeuse sosiokulturele kodes (onbeskaafde boere dra baarde, adellikes nie), maar sy verstaan van bv. die Vos se proloog hang af van sy kennis van sekere meer spesifiek literêre kodes. Dit is dan ook ʼn breë onderskeid wat ons in die een of ander vorm by meer as een teoretikus aantref (bv. Scholes, 1985: 26; Segers, 1980: 61 e.v.), alhoewel die presiese skeidslyn nie altyd maklik te trek is nie. Volgens Segers staan die betekenis van tekselemente waarmee die sosiokulturele kode verband hou redelik vas, terwyl die literêre kode, wat (tot op sekere hoogte) gedurende die teksresepsie gevorm word, “zich (richt) op de niet-voorgecodeerde tekstelementen; dat zijn elementen waarvan de betekenis niet bij voorbaat vaststaat en die ook niet voor elke lezer dezelfde hoeven te zijn…” (Segers, 1980: 61).

 

As daar gesê word dat die leser sy literêre kode tydens die resepsie vorm, kom dit eenvoudig gestel op die volgende neer: op grond van vorige leeservaring (en van onderrig) het die leser reeds ʼn bepaalde literêre kode ontwikkel, weet hy iets van literatuur se manier van doen. Veral in die moderne tyd sal hy egter dikwels werke teenkom wat daarop gemik is om leserskodes te deurbreek sodat daar by die aanvang van die lees van so ʼn werk ʼn ongelykheid tussen sender- en tekskode enersyds en leserkode andersyds bestaan (vgl. Fokkema, 1979: 3). Volgens Segers (1980: 63) be­gin daar dan ʼn soort spel: “De lezer tracht door middel van accommodatie en assimilatie zijn ingezette systeem zoveel mogelijk aan te passen aan dat van de tekst… Tijdens de receptie bouwt de lezer zijn aanvankelijk ingezet codesysteem uit tot een definitief systeem: de socio-culturele en literaire code, die de lezer in staat stellen de boodschap … uit het tekenmateriaal te decoderen.” Vol­gens Culler (1981) beskik die (ervare) leser oor ʼn bepaalde “liter­ary competence” wat o.m. tot uiting kom in sekere terugkerende leeskonvensies of -strategieë wat hulle toepas, soos om ʼn gedig eenheidskeppend te lees. (Vgl. KOMPETENSIE (LITERÊRE).)

 

Twee ander teoretici wat aan die leser en sy kodes aandag gegee het, is Roland Barthes wat o.m. in sy (post-strukturalistiese, tekstuele) analises (1974 en 1981) “the procedure of reading” (1981: 137), sy dit in “slow-motion”, wil behou, en Umberto Eco “a mobile structuralism of the text” (1981: 135) wil produseer. Vir Barthes (1974: 10) is die leser self “a plurality of other texts, of codes which are infinite, or, more precisely, lost (whose origin is lost)”, terwyl die teks as ‘t ware teks word deurdat dit deur ʼn netwerk van kodes “associative fields”/soorte van die reeds gedane en gelese (1981: 155) beweeg wat elkeen dan ʼn “stem”, ʼn begin van intertekstualiteit is waaruit die teks geweef word. Hierdie kodes se oorsprong is ” ‘lost’ in the vast perspective of the already-written” (Barthes, 1974: 21) en daarom verloor die teks sy oorspronklikheid as onderdeel van ʼn groot INTERTEKSTUELE netwerk. Terselfdertyd word betekenis ook moontlik op grond van die kodes, alhoewel hulle slegs voorlopige leidrade in ʼn doolhof van betekenisse is wat geen werklike middelpunt het nie (Claes, 1988: 47). Daarom is ʼn teks potensieel oneindig en kan sy betekenisse nie opgespoor en geklassifiseer word nie. Van die kodes is die HERMENEUTIESE kode wat met die skepping, oplossing, ens. van raaisels te doen het, en die sosiale kode –bv. verwysings na wetenskap of ʼn geheel van kennis wat (op stereotiepe wyse) die “realiteit” van menslike bestaan wil ontsluit. As die verteller in Van den vos Reinaerde bv. sê “Die hem besculdich kent, ontsiet” (“Hy wat van sy skuld bewus is, is bang”), beroep hy hom op ʼn aspek van die kulturele kode, ʼn “nugget of proverbial wisdom” (Scholes, 1976: 154).

 

Eco (1979b) wil in besonderhede sake wat by die lees van FIKSIE ʼn rol speel, uiteensit, waaronder ook kodes en subkodes val. Daaronder ressorteer volgens hom o.m. ʼn basiese woordeboek, retoriese en stilistiese “oorkodering” en intertekstuele rame. Met sy begrip “oorkodering” sluit Eco enigsins by Lotman se vroeër genoemde gedagte van meervoudige kodering aan. Om ʼn enkele voorbeeld te noem: “Lank lank gelede…” is ʼn oorgekodeerde uitdrukking wat o.m. daarop dui dat dit hier nie oor bv. ʼn koerantberig gaan nie maar oor ʼn SPROKIE. Die begrip “intertek­stuele raam” dui weer daarop dat ʼn leser geen teks onafhanklik van sy ervaring van ander tekste lees nie. Op grond van sy ken­nis van verhaalskemas e.s.m., wat hy uit ánder tekste verkry het, kan hy dan bepaalde afleidings maak oor die teks waarmee hy nou besig is: “Every character (or situation) of a novel is immediately endowed with properties that the text does not direct­ly manifest and that the reader has been ‘programmed’ to borrow from the treasury of intertextuality” (Eco, 1979b: 21). In aan­sluiting by o.a. Barthes en Culler het veral Malan (1982 en 1983) in Afrikaans verder gewerk oor die rol van kodes in die leesproses.

Alhoewel die begrip kode klaarblyklik binne die Literatuurwetenskap belangrik is, het kritiek hierop en op verwante sake nie uitgebly nie. Sonder om daarop in te gaan, word die volgende net genoem: Schmitz (1980) se kritiek teen ʼn oordadige, onwetenskaplike gebruik van die term; Wolfs (1986) se kritiek uit ʼn DEKONSTRUKSIEHOEK teen o.m. die begrip literêre kommunikasie; en Ray (1984) se uitgebreide besprekings. In Fokkema (1985) antwoord hy op sekere punte van kritiek.

Oor kode en die begrippe wat daarmee saamhang, kan o.m. Culler in Preminger se ensiklopedie (1965/1975), Fokkema (1985), Fowler (1986), Hoek (1985), Lotman (1976 en 1977), Ludwig (1981), Schmitz (1980), Scholes (1982 en 1985), Van Zoest (1978), Viljoen (1986) en Waugh (1985) as oriënterende bronne gebruik word.

Gespesialiseerder werke is Culler (1981), Eco (1979a en b) en Ray (1984). Besondere toepassings/implikasies word bespreek/gevind in Brink (1985), Elam (1980), Fokkema (1977, 1979 en 1980), Kunne-Ibsch (1977), Malan (1982 en 1983) Vandermoere (1982), Wolfs (1986) en Zima (1981). Oor Barthes kan Barthes (1974 en 1981), Claes (1988) en Culler (1983) geraadpleeg word.

Bibliografie

 

Barthes, R. 1974. S/Z. New York: Hill & Wang.

 

Barthes, R. 1981. Textual analysis of Poe’s ‘Valdemar’. In: Young, R. (ed.). Untying the Text. Boston: Routledge & Kegan Paul.

 

Brink, A.P. 1985. Literatuur in die strydperk. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Claes, P. 1988. Echo’s echo’s. Amsterdam: De Bezige Bij.

 

Culler, J. 1981. The Pursuit of Signs. London: Routledge & Kegan Paul.

 

Culler, J. 1983. Barthes. Glasgow: Fontana.

 

Eco, U. 1979a. A Theory of Semiotics. Bloomington: Indiana University Press.

 

Eco, U. 1979b. The Role of the Reader. Bloomington: Indiana University Press.

 

Elam, K. 1980. The Semiotics of Theatre and Drama. London: Methuen.

 

Fokkema, D.W. 1977. Methode en programma van de vergelijkende Literatuurwetenschap. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Lite­ratuurwetenschap. Baarn: Ambo.

 

Fokkema, D.W. 1979. Het Modernisme: overwegingen bij de beschrijving van een periodecode. Forum der letteren, 20(1).

 

Fokkema, D.W. 1980. An interpretation of To the Lighthouse with reference to the code of Modernism. PTL, 4.

 

Fokkema, D.W. 1985. The concept of code in the study of litera­ture. Poetics Today, 6(4).

 

Fowler, R. 1986. Linguistic Criticism. Oxford: Oxford Univer­sity Press.

 

Hoek, L.H. 1985. Literatuursemiotiek. In: Segers, R.T. (red.). Vormen van Literatuurwetenschap. Groningen: Wolters-Noordhoff.

 

Kunne-Ibsch, E. 1977. Periodiseren: de historische ordening van literaire teksten. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurweten­schap. Baarn: Ambo.

 

Lotman, J. 1976. The content and structure of the concept of “lite­rature”. PTL, 1.

 

Lotman, J. 1977. The Structure of the Artistic Text (transl. Ronald Vroom). Ann Arbor: University of Michigan Press.

 

Ludwig, H.W. 1981. Arbeitsbuch Lyrikanalyse. Tübingen: Narr.

 

Malan, C. 1982. Die ideologiese rol van die leser in Magersfontein, o Magersfontein! In: Grové. A.P. (red.). Beeld van waarheid. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Malan, C. 1983. Lesergerigte ondersoeke na Suid-Afrikaanse romans op weg na ʼn omvattende benadering. In: Malan, C. (red.). Letterkunde en leser. Durban: Butterworth.

 

Ray, W. 1984. Literary Meaning. Oxford: Blackwell.

 

Schmitz, P.F. 1980. De codemode in de Literatuurwetenschap. Forum der letteren, 21(4).

 

Scholes, R. 1976. Structuralism in Literature: An Introduction. New Haven: Yale University Press.

 

Scholes, R. 1982. Semiotics and Interpretation. New Haven: Yale University Press.

 

Scholes, R. 1985. Textual Power. New Haven: Yale University Press.

 

Segers, R.T. 1980. Het lezen van literatuur. Baarn: Ambo.

 

Vandermoere, H. 1982. The Structure of the Novel. Leuven: Acco.

Van Zoest, A. 1978. Semiotiek. Baarn: Ambo.

Viljoen, H. 1986. “Die klou dui al die dier aan”: oor Semiotiek en literatuur. In: Senekal, J. (red.). Teks-leser-konteks. Johan­nesburg: Perskor.

 

Waugh, L.R. 1985. The poetic function and the nature of language. In: Pomorska, K. & Rudy, S. (eds). Verbal Art, Verbal Sign, Verbal Time. Oxford: Blackwell.

 

Wolfs, R. 1986. De modernistische kode als interpretatietekst. Forum der letteren, 27(1).

 

Zima, P.V. 1981. Literatuur en maatschappij. Assen: Van Gorcum.

H. Ohlhoff