PERIODISERING

By wyse van ‘n periode-indeling word tot ‘n begrip gekom van die groot betekenisverbande binne ‘n LITERATUURGESKIEDENIS. Aan die ander kant, wat die enkelwerk betref, beteken periodisering dat ‘n hoeveelheid werke van ‘n tydperk saamgegroepeer kan word volgens ‘n heersende sisteem van norme.

In die studies Concepts of Criticism en Discriminations, wat handel oor o.a. die hoofperiodes van die Westerse literatuurgeskiedenis, soos die BAROKROMANTIEK en SIMBOLISME, stel René Wellek dit duidelik dat sy opvatting van die begrip “periode” nòg ‘n metafisiese entiteit nòg ‘n blote naam is. Kortliks word die periodebegrip deur Wellek (1963: 225) geformuleer as “a regulative concept, a system of norms dominating a specific time, whose rise and eventual decline it would be possible to trace and which we can set clearly apart from the norms of the periods that precede and follow it”.

Hiervolgens is periodisering ‘n ordeningsprinsipe (“regulative concept”). As ordeningsprinsipe tree periodisering nie arbitrêr op nie, want die ordening is gegrond op die waarneming van ‘n sisteem van norme van ‘n bepaalde tyd. Dit wil sê die onderskeiding van ‘n periode moet verankerd wees in ‘n beoordeling van die werklikheid van die situasie van daardie periode. Teesing (in Merker & Stammler, 1977: 77) stel dit bondig dat ‘n periodebegrip as conceptus cum fundamento in re betrag moet word.

Dit is nie maklik om ‘n periode presies af te baken van ‘n voorafgaande of daaropvolgende nie, want hoewel dit so kan wees dat ‘n sekere sisteem van norme oorheersend is, kan daar binne een en dieselfde periode nog ander sisteme van norme aan die werk wees. Dit noop die ondersoeker om bedag te wees op allerlei verskuiwinge van norme binne ‘n bepaalde tyd. Hierdie verskynsel geld nie net vir die onderskeiding van breedopgesette tydperke soos die hoofperiodes hierbo wat naas en deurmekaar kan lê as kompeterende poëtikas binne dieselfde periode van bv. die Simbolisme nie (vgl. die skerpsinnige kritiek van Sötemann in Green et al., 1982: 623—631), maar eweneens vir die onderskeiding op ‘n meer beskeie skaal van die een of ander periode van ‘n spesifieke taal. Dit alles, asook ander faktore, maak van periodisering ‘n komplekse begrip. Die hoofsaak om te onthou, is soos Wellek & Warren (1961: 269) hiervan opmerk: “The historical process has to be judged by values, while the scale of values is itself derived from history.”

Die generasiebegrip vorm ‘n onderdeel van periodisering. Dit is bekend in die literatuurgeskiedenis hoedat die begin van ‘n nuwe periode gepaard gaan met die optrede van ‘n jong geslag (generasie) skrywers. Die vernuwing wat deur hierdie skrywers meegebring word, kan as epogmakend beskryf word; so ‘n generasie druk duidelik sy stempel af op die periode waarbinne hulle optree. En a.g.v. die belangrikheid van hierdie tydperk kan daar van ‘n periode selfs as ‘n epog gepraat word wat enkele jare, maar ook lang tydperke omvat (dink maar aan die Nederlandse Goue Eeu). Maar hoe epogmakend ‘n generasie se optrede ook al is, hulle tree nooit in ‘n geestelike lugleegte op nie (vgl. Donkersloot, 1959: 282). So bv. word vandag allerweë aanvaar dat die Nederlandse Beweging van Tagtig “geen donderslag bij heldere hemel” was nie.

Dit is nie raadsaam om die optrede van ‘n epogmakende generasie te verklaar deur die een of ander metafisiese entiteit nie, bv. deur ‘n bepaalde tydsgees as die allesdeurdringende beginsel wat voorgee dat dit alle verskynsels van daardie tyd kan verklaar (vgl. Kamerbeek, 1964: 192). Die eenheid wat daar kan bestaan, moet eerder gesien word as ‘n “eenheid door gemeenschap van situatie”, soos Kamerbeek dit stel (in Erné et al., 1940: 215). Met “situasie” kan velerlei bedoel word: die Geistesgeschichtliche, ekonomiese, politieke en persoonlike omstandighede, asook die literêre situasie van die skrywers, hulle verhouding tot mekaar m.b.t. die eie generasie, die ouer tydgenote en, later, die jonger tydgenote. Kortom, dit is ‘n komplekse situasie, waarvan by beoordeling al die verskillende faktore betreffende die epogmakende generasie in berekening gebring moet word.

Die begrip “generasie” is ontleen aan die genealogie. Waar in die gewone lewe die generasiebegrip reëlmatig optree, met verwysing na komende, staande en gaande generasies, daar verskyn die epogmakende generasie in die literatuur onreëlmatig. Verder, hoewel daar in die literatuur ook sprake is van ‘n opkoms, bloei en ondergang, wat ‘n bepaalde generasie se gehele optrede kan raak, moet die verskillende fases van ontwikkeling nie net klakkeloos op alle lewensvorme van die literatuur, soos die periode, toegepas word nie. Elke generasiesituasie sal op eie meriete beoordeel moet word. Wat die Nederlandse Tagtigers betref, bv., was dit net Kloos wat deur sy hele ontwikkeling heen die tipiese Tagtiger gebly het, terwyl daar by Gorter, Verwey en Van Eeden op verskillende wyses verdere ontwikkeling was waarmee hulle dus steeds deel bly vorm het van die lewende Nederlandse tradisie. Dit was slegs Kloos wat bly vaskleef het aan die aanvanklike kunsbeginsels van Tagtig, waardeur dan ook slegs hý al drie fases van die lewensontwikkeling getoon het. By die Afrikaanse Dertigers, vir wie die oop belydenisvers aanvanklik as die kenmerk van Dertig beskou kan word, is daar nie eers een digter wat bly vassteek het by die vertrekpunt nie. Selfs in die geval van W.E.G. Louw wat in gees en taalgebruik min of meer bly vashou het aan die oorspronklike standpunt, vind ons in die veertigerjare voorbeelde van die gestaltevers en aan die einde van sy lewe die meer gekompliseerde belydenisvers. Hierdeur het hy deel gebly van die lewende Afrikaanse literatuurontwikkeling.

Bogenoemde bring mee dat die begrip “evolusie in die literatuurgeskiedenis” (vgl. Wellek, 1963: 37—53) met omsigtigheid bejeën moet word. Daar kan nie sonder meer aanvaar word dat die ontwikkeling van literêre vorme, waarvan die periode ‘n bepaalde vorm is, wetmatig soos ‘n biologiese organisme ontwikkel wat voortbeweeg na ‘n gedetermineerde einde toe nie (wat wil sê: as opkoms, bloei en ondergang, of van ‘n eenvoudige na ‘n ingewikkelder vorm). Hoewel daar natuurlik voorbeelde hiervan voorkom in die literatuur en literatuurbeskouing, soos reeds blyk uit Aristoteles se bekende verwysing na die TRAGEDIE, en hoewel hierdie voorstelling deur talle ondersoekers in die verlede en selfs onlangs (vgl. Fowler se “The life and death of literary forms”, New Literary History, 11:2, 1971: 199—216) verdedig en uitgebou is tot ‘n bepaalde sisteem, sal dit verstandig van die literatuurteoretikus wees om slegs in vae terme te verwys na die begrip “evolusie in die literatuur” (vgl. Wellek, 1963: 50—51 se insiggewendebespreking). (Vgl. VERANDERING (LITERêRE).)

Oor die prinsipes wat aanwesig is by literêre evolusie, waardeur ‘n bepaalde periodisering aan die lig kan tree, is al veel gespekuleer. Hankiss (1972: 40—45) wys op die volgende belangrike prinsipes wat betrokke is by evolusie: dié van die noodsaak tot vernuwing (vgl. ook hieroor die interessante gedagtes van Van Wyk Louw, 1964: 3—4), kontinuïteit, ossilasie, die soeke na die volmaakte Gestalt, die verkryging van differensiasie en kombinasie, asook die prinsipe van vermeerdering. (Laasgenoemde wil sê dat steeds meer en meer literatuur opgegaar word, wat ‘n prikkeling word tot die vorming van nuwe literatuur.)

Bogenoemde prinsipes is herleibaar na twee hoofprinsipes in die evolusieproses: TRADISIE (bewaring van ‘n bepaalde ingeslane rigting, dus kontinue voortsetting) en vernuwing (verandering van die voorafgaande rigting, waardeur diskontinuïteit ontstaan). Of hierdie twee hoofprinsipes geheel en al los van mekaar kan optree, is te betwyfel. Tog bly dit twee belangrike onderskeidinge waardeur die aard van twee uiteenlopende periodes wat min of meer so voorkom, verklaar kan word. Kamerbeek (in Erné et al., 1940: 227) het dan ook daarop gewys hoedat ‘n nuwe generasie hom as “anders dan” óf as behorende tot ‘n bepaalde tradisie kan manifesteer.

Die verskillende grade van hoe hierdie twee hoofprinsipes werksaam is in die moderne literatuurbeskouing, waarmee ‘n vorm van periodisering sou kon saamval, was dikwels die onderwerp van bespreking. En as daar gesê word “modern”, word daar veral gedink aan die besinning van die RUSSIESE FORMALISTE. Begrippe soos outomatisasie en deviasie was aan die orde van die dag, waardeur ‘n sekere periode hom kan onderskei van ‘n voorafgaande periode op grond van ‘n Differenzqualität, d.w.s. “kwaliteit van verskil” (Erlich, 1955: 150—152). Jurij Tynjanov (in Bronzwaer et al., 1977: 260—265) het hom reeds in 1924 duidelik op die prinsipe van vernuwing gestel: “Het gaat niet om een planmatige evolutie, maar een sprong; geen ontwikkeling, maar een verschuiving” (in Bronzwaer et al., 1977: 261). Maar dit is veral deur die besinning van Roman Jakobson (in Bronzwaer et al., 1977: 96—106), soos uit sy voorstelling van ‘n kommunikasieteorie blyk, dat die ontstaan van verskillende periodekodes semioties aanneemlik gemaak word. In aansluiting by Jakobson gee Fokkema (1979: 3) dié verduideliking: “… In de literaire communicatie zijn twee schijnbaar tegenstrijdige tendenties werkzaam die, in tegenstelling tot wat men zou verwachten, elkaar wederzijds versterken: enerzijds, de tendentie om zich verstaanbaar te maken, om een bericht zijn bestemming te laten bereiken, kortom, een tendentie naar communicatieve doelmatigheid, die, in de terminologie van Roman Jakobson, de nadruk legt op de referentiële, de emotieve en de persuasieve functie; en anderzijds de tendentie naar esthetisch effect, die erop gericht is de vertrouwde decoderingsmethoden van de ontvanger te doorbreken en zijn aandacht meer te vestigen op de wijze waarop het bericht is geordend dan op de inhoud van het bericht. Het streven naar esthetisch effect impliceert een sterke nadruk op de poëtische en de metalinguale functie, die echter niet in vacuo werkzaam kunnen zijn en vrijwel altijd naast de referentiële en andere functies voorkomen. Het streven naar communicatieve doelmatigheid brengt de eis met zich mee van een sterke gelijkheid tussen zenderscode en ontvangerscode. Maar de òngelijkheid van de code van zender en ontvanger is — tenminste in de moderne tijd — een conditio sine qua non van het esthetische effect…” (Vgl. VERVREEMDING en KODE.)

In die SEMIOTIEK van Jurij M. Lotman (in Bronzwaer et al., 1977: 107—120) word die insig van Jakobson dat daar ‘n ongelykheid bestaan tussen die sender (skrywer) en ontvanger (leser) in verband gebring met Lotman se onderskeiding van ‘n “ESTETIKA VAN IDENTITEIT” (tradisie) en ‘n “estetika van teenstelling” (verandering). Elrud Kunne-Ibsch (in Bronzwaer et al., 1977: 284—297) interpreteer hierdie twee estetieke in terme van twee verskillende periode-indelings: enersyds vind ons periodes in ‘n literatuurgeskiedenis waar gehou word aan die bestaande, sodat hierop slegs ‘n uitbreiding of selfs net navolging plaasvind; andersyds vind ons periodes waar radikaal afgewyk word van ‘n tradisie. Kortweg aangedui, beteken dit dat daar sprake is van twee hoofprinsipes, dié van epigonisme en AVANT-GARDISME. Epigonisme beteken direkte voortsetting van ‘n bepaalde literêre model sonder dat daarmee gewedywer word, terwyl avant-gardisme bewustelik ‘n onderskeidende reaksie is op voorgangers (vgl. Kunne-Ibsch in Bronzwaer et al, 1977: 291—292).

Nog steeds in aansluiting by die Semiotiek met sy onderskeiding van die ongelykheid tussen die sender- en ontvangerkode, is daar die RESEPSIE-ESTETIKA wat die behoud of aflossing van ‘n periodekode wil begryp in die lig van die LESERROL. Dit kom kortliks daarop neer dat ‘n nuwe leserskode aangebied kan word deur die leser se Erwartungshorizont (VERWAGTINGSHORISON) van ‘n literêre teks te betrek. Vergelyk bv. wat Segers (1980: 37—38) hiervan sê: “Door het aansluiten bij of het doorbreken van bij het publiek heersende waarden kan de schrijver zijn lezer via gevoelens van herkenning of juist normdoorbreking sterk bij het vertelde betrekken. Binnen de categorie van deze referentiële verwijzingen bleken drie procédés werkzaam te zijn: bevestiging, waardoor vooral waarden en normen van de lezer worden bijgevallen; inbreuk, waardoor die waarden en normen worden doorbroken en herkenning, een verwijzing naar de lezer zeer vertrouwde feiten en opinies”. Nie net t.o.v. Jauss se beskouing hier nie, maar ook t.o.v. Iser se konsep “oop plekke” (Leerstellen), wat wil sê dat die leser ‘n aktiewe rol speel in die invul van die onbepaaldheid (Unbestimmtheit) van ‘n literêre teks, kan die waarde van ‘n teks begryp word: ‘n waardevolle teks beteken dat daar ‘n “estetiese distansie” (Jauss) is, wat wil sê dat die leser betrek word by die verklaring daarvan terwyl ‘n gebrek aan “oop plekke” lei tot voorspelling en verveling. Juis deur die resepsiegeskiedenis m.b.t. verskeie leserrolle van ‘n bepaalde teks of tekste na te gaan, kan gekom word tot ‘n beter begrip van die periode waarbinne die teks(te) fungeer. (Vgl. RESEPSIETEORIE, LESERTIPESEVALUERING (LITERêRE) en PRAGMATIEK (LITERÊRE).)

M.H. Abrams (1971: 3—29) begryp die geheelsituasie van die literêre werk t.o.v. vier elemente: die werklikheid, die skrywer, die werk self en die leser; hiervolgens kan gesê word dat daar hoofsaaklik vier tipes literatuurteorieë is: die MIMETIESE of werklikheidsteorie, die ekspressiewe of skrywersteorie, die objektiewe of OUTONOME teorie en die PRAGMATIESE of lesersteorie. Elkeen van hierdie teorieë is op een of ander wyse aanwesig in die besinning oor die begrip periodisering soos dit saamhang met die literatuurgeskiedenis van die “moderne” tyd. So is daar in die 19e eeu onder invloed van die Franse POSITIVISME die klem laat val op die ontstaanswerklikheid van die kunswerk en die skrywer se lewensloop en persoon. Wellek & Warren (1961: 262) wys in hierdie verband op die studies van Taine en Sainte-Beuve. Die objektiewe of outonome beskouing, waaronder die NEW CRITICISM, het in hulle intrinsieke benadering van die enkelwerk nie altyd genoegsaam rekening gehou met die historiese aspek nie. So bv. verklaar T.S. Eliot (1960: 49), ‘n voorloper van die New Criticism, in 1920 dat die literêre werk “a simultaneous existence” het “and composes a simultaneous order”. Maar vgl. dan ook Wellek in sy bekende studies oor die hoofperiodes van die Westerse literatuurgeskiedenis en die beskouings van die Russiese formaliste, wat wel deeglik getoon het dat hulle hulle rekenskap gegee het van die historiese waarde van die literêre werk. En tog is dit eers met die Semiotiek en veral die Resepsie-estetika, wat die leserrol in die sentrum van die aandag stel, dat die betragting van die historiese aspek tot sy volle reg kom. Hoewel daar by die Resepsie-estetika ‘n neiging aanwesig is om die objektiewe bestaan van die ARTEFAK te ontken (vgl. Segers, 1980: 40), waardeur die subjektivisme van die leser in die hand gewerk kan word, is die wins van die Resepsie-estetika dat daar opnuut besin is oor die begrip literatuurgeskiedenis en as onderdeel periodisering (vgl. Cloete, 1982), wat uitdagende nuwe moontlikhede bied vir die navorser. Vergelyk dit met die poging van Knuvelder (1963), asook Teesing (1948) se beskouing van literatuurgeskiedenis, wat in hulle besinnings nog net rekening gehou het met die outonome benaderingswyse van die literêre werk. Die probleme rondom periodisering is deur Teesing (1977) aan die orde gestel. Wellek (1963) se prinsipiële beskouing oor periodisering bly vandag nog in ‘n groot mate geldig. Die verband van die generasiebegrip met periodisering word deur Kamerbeek (1940) bespreek. Fokkema (1979) toon aan watter uitbreiding die beskrywing van periodisering in die “moderne” tyd ondergaan het. In hierdie verband kan ook gekyk word na Cloete (1982) se insiggewende artikel oor die begrip literatuurgeskiedenis.

(Vgl. ook VERANDERING (LITERêRE) en LITERATUURGESKIEDSKRYWING.)

 

Bibliografie

Abrams, M.H. 1971. The Mirror and the Lamp: Romantic Theory and Critical Tradition. New York: Oxford University Press.

Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). 1977. Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken.

Cloete, T.T. 1982. Literêre geskiedskrywing. Tydskrif vir geesteswetenskappe, 22(2).

Donkersloot, N.A. 1959. De relativiteit der literaire generatie. Neophilologus, 43.

Eliot, T.S. 1960. The Sacred Wood. London: Methuen. Erlich, V. 1955. Russian Formalism. Den Haag: Mouton.

Erné, B.H., De Bruin, C.G., Van Dis, L.M., Kamerbeek, J. Jr., Meertens, P.J. & Smit, J. (reds.). 1940. Bundel opstellen van oudleerlingen: aangeboden aan prof. dr. C.G.N, de Vooys. Groningen: Wolters.

Fokkema, D.W. 1979. Het Modernisme: overweging bij de beschrijving van een periodecode. Forum der letteren, 20(1).

Fowler, A. 1971. The life and death of literary forms. New Literary History, 2(2).

Green, D.H., Johnson, L.P. & Wuttke, D. (eds). 1982. From Wolfram and Petrarch to Goethe and Grass: Studies in Literature in Honour of Leonard Foster. Baden-Baden: Koerner.

Hankiss, E. 1972. The structure of literary evolution. Poetics, 5.

Jansen, E. 1981. Oor norme in die literatuurgeskiedenis. Tydskrifvir geesteswetenskappe, 21(1).

Kamerbeek, J. Jr. 1940. Over het begrip “literaire generatie”. In: Erné, B.H. et al. (reds.). Bundel opstellen van oudleerlingen: aangeboden aan prof. dr. C.G.N, de Vooys. Groningen: Wolters. Kamberbeek, J. Jr. 1964. Geschiedenis en problematiek van het begrip “tijdgeest”. Forum der letteren, 5(4).

Knuvelder, G. 1963. Problemen der literatuurgeschiedschrijving. ‘s-Hertogenbosch: Malmberg.

Louw, N.P. van Wyk. 1964. Sestig, sestiger, sestigste. Sestiger, Mei.

Merker, P. & Stammler, W. (Hrsg!). 1977. Reallexikon der deutschen Literaturgeschichte III. Berlin: De Gruyter.

Postlewait, T. 1988. The criteria for periodization in theatre history. Theatre Journal, 40(3).

Segers, R. 1980. Het lezen van literatuur. Baarn: Ambo.

Sötemann, A.L. 1982. Poetics and periods in literary history. In: Green, D.H., Johnson, L.P. & Wuttke, D. (eds). From Wolfram & Petrarch to Goethe and Grass: Studies in Literature in Honour of Leonard Foster. Baden-Baden: Koerner.

Teesing, H.P.H. 1948. Das Problem der Perioden in der Literaturgeschichte. Groningen: Wolters.

Teesing, H.P.H. 1977. Periodisering. In: Merker, P. & Stammler, W. (Hrsg.). Reallexikon der deutsche Literaturgeschichte III. Berlin: De Gruyter.

Wellek, R. 1963. Concepts of Criticism. New Haven: Yale University Press.

Wellek, R. 1970. Discriminations. New Haven: Yale University Press.

Wellek, R. & Warren A. 1949/1961. Theory of Literature. London: Cape.

 
H.J. Schutte