VERVREEMDING

Hierdie term is afkomstig van die RUSSIESE FORMALISME. Die Formaliste het gestrewe na ‘n objektiewe en wetenskaplike studie van literêre werke. Die eintlike objek van hulle navorsing was die literariteit van ‘n literêre werk; soos Roman Jakobson dit stel: “The object of the science of literature is not literature, but literariness – that is, that which makes a given work a work of literature” (Lemon & Reis, 1965: 107). Die literêre werk verkry literariteit deur die toepassing van ‘n sg. literêre KUNSGREEP. Daar bestaan vanselfsprekend ‘n groot verskeidenheid sg. kunsgrepe en geen enkele kunsgreep is belangriker as enige ander nie. “Kunsgreep” het as ‘t ware ‘n wagwoord vir die Formaliste geword; dit was vir hulle ‘n sleutelbegrip, “The basic unit of poetic form, the agency of literariness” (Erlich, 1980: 190).

‘n Basiese kenmerk van die literêre kunsgreep is die vermoë tot vervreemding. Šklovskij (Lemon & Reis, 1965: 3 e.v.) het hierdie term en die daarmee gepaardgaande begrippe uitvoerig verduidelik. Wanneer die menslike waarneming deur gewoonte afgestomp word, word daar outomaties op prikkels gereageer sonder dat die prikkels werklik “ervaar” word. Dit wat outomaties beleef word, word inderdaad glad nie beleef nie, omdat die ervaring geen bewuste belewenis word nie. Dan word die ervaring betekenisloos. Alle kuns, ook die literêre werk as kunswerk, bestaan vir die Formaliste juis omdat dit reaksie ontlok en juis omdat dit betekenisvol is. Šklovskij stel dit onomwonde: “And art exists that one may recover the sensation of life; it exists to make one feel things, to make the stone stony. The purpose of art is to impart the sensation of things as they are perceived and not as they are known. The technique of art is to make objects ‘unfamiliar’, to make forms difficult, to increase the difficulty and length of perception because the process of perception is an aesthetic end in itself and must be prolonged” (Lemon & Reis, 1965: 12).

Scholes (Spilka, 1977: 113) gee ‘n letterlike vertaling van die kern van Šklovskij se uiteensetting: “… art is the means for experiencing the making of the thing but the thing made is not important in art.” Šklovskij illustreer die begrip vervreemding deur te verwys na werke van Tolstoy waarin ‘n saak telkens vanuit ‘n nuwe of ongewone hoek beskou word – ‘n saak word beskryf soos wat ‘n oningewyde dit sou beleef, heeltemal nuut en vars. So verkry die saak wat beskryf word (hoewel dit iets doodgewoons kan wees wat elke dag onbevraagtekend en outomaties aanvaar word) nuwe trefkrag. Dit word opnuut in reliëf geplaas en kan gevolglik opnuut geëvalueer word. Die fokus val egter op die proses van vreemdmaking as ‘n artistieke handeling.

Tomaševskij (Lemon & Reis, 1965: 85) verduidelik ook die belangrikheid van vervreemding in sy opstel “Thematics”. Vervreemding is essensieel deel van die artistieke aard van ‘n literêre werk. Nie-literêre materiaal of tradisionele literêre vorme moet op ‘n nuwe individualistiese wyse gebruik word om nuwe en individualistiese interpretasies te ontlok: “The old and habitual must be spoken of as if it were new and unusual. One must speak of the ordinary as if it were unfamiliar.” Die bewustheid van kunsgrepe en die bestudering van tegnieke van vervreemding is van die belangrikste dinge wat die literatuurwetenskap van die Russiese Formaliste geërf het. Die Praagse Strukturaliste (vgl. STRUKTURALISME), veral Mukařovský, het die begrip vervreemding ook as baie belangrik beskou. Vervreemding is die kern van hulle siening van die estetiese funksie van ‘n literêre werk. Die estetiese funksie van ‘n voorwerp setel in die konsentrasie en fokus wat die voorwerp op homself rig en is iets dinamies: “The aesthetic function is die force that creates the aesthetic value. (…) Aesthetic value is not a static concept, but a process, that evolves against die background of the actual artistic tradition and in relation to the everchanging cultural and social context” (Fokkema & Kunne-Ibsch, 1978: 33).

Vir Mukařovský is die funksie van poëtiese taal die doelbewuste “in die brandpunt plaas” of “op die voorgrond plaas” van dit waarvoor die aandag gevra word in die werk. So word vooropstelling (Eng.: foregrounding) bewerkstellig. Mukařovský het dit spesifiek oor die verskerpte aandag vir die taalteken (die signifiant) waardeur die verskerpte aandag vir dit wat meegedeel word verkry word (d.w.s. vir die signifié) (vgl. SIGNIFIANT EN SIGNIFIÉ). Hierdie resultaat word verkry deur die tegniek van vervreemding, wat vooropstelling (foregrounding) teweegbring. “Juist door zijn ‘estetische’ zelforiëntatie is poëtische taal meer dan andere ‘functionele’ talen geschikt om de aandacht van de lezer op de relatie taalwerkelijkheid te richten” (Van Luxemburg, Bal & Weststeijn, 1982: 25). Mukařovský het dus duidelik met foregrounding verwys na die vermoë van die taalteken om nuut en vreemd en opvallend voor te kom en na die aktiwiteit van die kunstenaar wat doelbewus die taalteken met hierdie vermoë toebedeel. Hierdie artistieke vermoë van taalkunswerk is die teenoorgestelde van die proses van kondisionering en *outomatisasie, waardeur die estetiese aard van ‘n objek vervaag vir die waarnemer.

Die Russiese en Tsjeggiese terme wat na die begrip vervreemding verwys word met verskeie terme in Engels vertaal. Defamiliarization word dikwels gebruik, maar die term actualization kom ook voor. Van Luxemburg, Bal & Weststeijn (1982) en Garvin (1964) gebruik die term foregrounding en Burbank & Sterner (Veltruský, 1980: 135) de-outomatization. Erlich (1980) vertaal die Russiese woord met disautomatization, en lank voor die Formaliste het Henry James al gepraat van foreshortening, wat basies na dieselfde verskynsel verwys (Miller, 1972: 186-194).

Die omgekeerde volgorde van die drie dae in Kroniek van Perdepoort van Anna M. Louw is duidelik ‘n vervreemdingstegniek. Die leser verwag ‘n chronologiese verloop van gebeure, enersyds omdat die werk as ‘n KRONIEK aangebied word en andersyds omdat die werklikheid chronologies beleef word. Die leser word dus doelbewus daarop attent gemaak dat daar ‘n spesifieke rede vir die ongewone tydsaanbieding in hierdie roman moet wees: ‘n dag vorm telkens ‘n soort raamwerk vir die gebeure van die voorafgaande dag. Die leser word dus met ‘n soort voorkennis toebedeel, wat die chronologies voorafgaande maar tekstueel daaropvolgende gebeure in ‘n bepaalde lig plaas sodat die gebeure met groter begrip en insig geïnterpreteer kan word.

PARODIëRING is ook ‘n kragtige tegniek van vervreemding, wat spesifiek vervreemdend t.o.v. die literêre TRADISIES of konvensies werk. ‘n Bepaalde literêre vorm en die kenmerkende inhoud van ‘n bepaalde literêre soort word doelbewus gebruik en doelbewus met nuwe inhoud en betekenis beklee. Etienne Leroux maak iets totaal nuut en vreemd van die speurverhaal in Een vir Azazel, van die geheime agent-verhaal in Die derde oog en van die BRIEFROMAN in 18−44 (om maar enkele voorbeelde te noem). Leroux is ‘n meester in vervreemdingstegnieke. Hy gebruik self die tradisionele formele eienskappe van ‘n boek, die voorwoord, die motto en die skadeloosstelling op ‘n nuwe manier: hy beklee hierdie neutrale formaliteite (wat tradisioneel met die uitgewer en die werklike skrywer te make het) doelbewus met artistieke betekenis sodat dit as outeursteks, as “voorwerk” deel van die estetiese objek word en van groot betekenis vir die interpretasie van die teks is.

Die siening van die Formaliste oor vervreemding en van literêre taal as vreemde taalgebruik, het dus primêr te make met die “poëtiese” taal se vermoë om homself voorop te stel. Die poëtiese funksie van taal lê in die klem op die “boodskap” as linguistiese aktiwiteit (vgl. Jakobson in Bronzwaer, Fokkema & Kunne-Ibsch, 1977).

Die begrip vervreemding word egter deur die sosialistiese kunstenaars van die Weimar-Republiek, o.m. Bertolt Brecht, met politieke doelstellinge gebruik. Die blote tekstuele en linguistiese en artistieke betekenis van vervreemding word vervang deur ‘n politieke betekenis, wat impliseer dat literatuur en ander kunsvorme die politieke gemeenskap moet “vervreem” deur die gemeenskap bewus te maak van die relatiwiteit en aanvegbaarheid van alles wat as algemeen aanvaarbaar beskou word in die gemeenskapsomstandighede (Eagleton, 1983: 136).

Roland Barthes se omskrywing van die taalteken as ‘n “dubbele”, tweetalige teken, “which gestures to its own material existence at the same time as it conveys a meaning” (Eagleton, 1983: 136), gryp ook terug na die formalistiese “vervreemde taal” as kerneienskap van die literatuur.

Vervreemding, “the device of ‘making it strange'” (Erlich, 1980: 190), is en bly ‘n onvervreembare eienskap van die literêre werk en kan op oneindig baie maniere in ‘n literêre werk gerealiseer word. Vervreemding plaas die literêre werk in alle opsigte in reliëf nie net teenoor die werklikheid nie maar ook teenoor die literêre tradisie. Die meeste vorme van vernuwing in die literatuur kan as vorme van vervreemding beskou word, sodat vervreemding o.m. die dinamiese aard van literatuur as ‘n voortdurend veranderende sisteem (vgl.  SISTEEM (LITERÊRE) beskryf.

(Vgl. ARTEFAK EN ESTETIESE OBJEK.)

 

Bibliografie

Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). 1977. Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken.

Eagleton, T. 1983. Literary Theory. Oxford: Basil Blackwell.

Erlich, V. 1955/1980. Russian Formalism. The Hague: Mouton.

Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1978. Theories of Literature in the Twentieth Century. London: Hurst.

Garvin, P.L. (ed.). 1964. A Prague School Reader on Esthetics, Literary Structure and Style. Washington, DC: Georgetown University Press.

Lemon, L.T. & Reis, M.J. (eds). 1965. Russian Formalist Criticism. Lincoln: University of Nebraska Press.

Matejka, L. & Pomorska, K. 1971. Readings in Russian Poetics. Massachusetts: MIT Press.

Miller, J.E. (ed.). 1972. Theory of Fiction: Henry James. Lincoln: University of Nebraska Press.

Šklovskij, V. 1965. Art as technique. In: Lemon, T. & Reis, M.J. (eds.) Russian Formalist Criticism. Lincoln: University of Nebraska Press.

Spilka, M. (ed.). 1977. Towards a Poetics of Fiction. Bloomington: Indiana University Press.

Tomaševskij, B. 1965. Thematics. In: Lemon, L.T. & Reis, M.J. (eds.) Russian Formalist Criticism. Lincoln: University of Nebraska Press.

Van Luxemburg, J., Bal, M. & Weststeijn, W. 1982. Inleiding in de Literatuurwetenschap. Muiderberg: Coutinho.

Veltruský, J. 1980. Jan Mukařovský’s structural poetics and esthetics. Poetics Today, 2(16).

 
Heilna du Plooy