KRONIEK

Die woord kroniek kom van die Griekse woord khrónos, wat tyd beteken. Die kroniek is ʼn tradisionele vorm van GESKIEDSKRYWING wat nou in verband staan met kalenders en annale.

Vanaf die vroegste tye waarvan ons kermis dra, is daar gebruik gemaak van kalenders, waar ʼn kalender gewoonlik bestaan uit ʼn lang lys van opeenvolgende datums of ander vaste punte in die verloop van die tyd. Die aard van kalenders het grootliks verskil na gelang van die sosio-kulturele groep waarin dit gebruik is. Dit was gebruiklik om op sulke kalenders tussen die reëls en in die kantlyne aantekeninge te maak aangaande gedenkwaardige natuurlike en kulturele gebeurtenisse. Hierdie kanttekeninge van historiese gegewens staan bekend as annale, terwyl kronieke gewoonlik omvattender versamelings van historiese gegewens is. Baie kronieke is versamelings en samevoegings van verskillende annale, maar die historiese gegewens is dikwels ook uitgebrei deur inligting uit ander bronne.

ʼn Kroniek is dus ʼn sistematiese weergawe of verslag van gedenk­waardige natuurlike en kulturele gebeurtenisse, waarin die chronologie van die gebeurtenisse behou word, maar wat meer gedetailleerd en gesofistikeerd is as die annale. Kronieke kom in sowel prosa- as poësievorm voor.

Annale is noodgedwonge baie kursories van aard omdat daar min plek op die kalenders was waar die aantekeninge gemaak kon word. Die inligting op die annale is dan ook meestal slegs kort aantekeninge van gebeurtenisse van plaaslike belang. Hoewel kronieke meer uitgebreide versamelinge van historiese gegewens is, bevat die meeste kronieke nogtans slegs ʼn onemosionele relaas van feite, sonder kommentaar, interpretasie of gevolgtrekking. In hierdie opsig verskil die kroniek dus essensieel van die geskiedskrywing, wat nie slegs beskryf nie maar uitsoek, rangskik en interpreteer.

Omdat kronieke in die geskiedenis meestal saamgestel is in dieselfde tydperk as waarna hulle verwys en waaroor hulle handel, vind ʼn mens selde ʼn historiese perspektief op dit wat beskryf word. Die feite word ook dikwels vanuit ʼn bepaalde hoek (dié van die skrywer of dié van die groep waartoe hy behoort) gegee en ʼn objektiewe visie ontbreek. As gevolg hiervan is kronieke dikwels ʼn weerspieëling van die heersende tendense in ʼn gemeenskap ten tyde van die opstel van kroniek. Sekere feite word beklemtoon en die aard en die omvang van die beklemtoning is dan veelseggend. So word daar dikwels gekonsentreer op die geskiede­nis van ʼn bepaalde heerser of koninklike familie of godsdienstige stroming. In die Wes-Europese Middeleeuse kronieke staan die kerklike feestye sentraal en daar is selfs moralistiese verhale as eksempels (vgl. EXEMPLUMin die kronieke ingesluit.

Die geskiedenis van kronieke is die geskiedenis van die vroeë geskiedskrywing in die wêreldgeskiedenis. Die algemene eienskappe soos hierbo beskryf, moet gesien word bloot as aanduidings van deurlopend aanwesige of die mees algemene eienskappe van kronieke, want in verskillende kulture en tydperke het die aard van kronieke baie verander.

In antieke tye is die kronieke saamgestel deur die ontwikkelaars van die skryfkuns. In antieke Sjinese vorstedomme was daar die sg. “lente- en herfsannale”. Die annale van die vorstedom Lu (722–481 v.C.) is geredigeer deur Confucius en het behoue gebly. Die Hebreeuse geslagsregisters, kalenders en die dokumentering van troonbestygings en troonopvolgings is dikwels uitgebrei deur die invoeging van belangwekkende gebeurtenisse. Gedeeltes van die Pentateug, Josua, Samuel en die eerste twee hoofstukke van Konings, sowel as Kronieke is voorbeelde van Hebreeuse kronieke.

In Grieks is die vroegste bekende kroniek dié van Hellanicus van Lesbos wat die Griekse geskiedenis van 683 tot 404 v.C. weergee. Van die Romeine is daar die kroniek wat deur die hoëpriester (pontifex maximus) opgestel is. Tussen die godsdienstige feesdae het hy ook van die belangrikste gebeurtenisse van elke jaar aangeteken. Hierdie priesterskroniek het veral gebeurtenisse met spesiale godsdienstige seremonie (soos triomftogte of droogtes) bevat en is die annates maximi genoem. Dit is van voor die Christelike jaartelling af al saamgestel.

Die kroniekskrywing in die vroeë Christelike kerk het as doel gehad die beskrywing van die groei van die sigbare kerk met die Wederkoms van Christus in die vooruitsig. As agtergrond vir hierdie deurlopende lyn, hou hierdie kronieke ook rekening met die geskiedenis en kultuur van die Jode as volk van God, terwyl die opkoms en val van aardse koninkryke ook in die kronieke vermeld word.

Die Middeleeuse praktyk van kroniekskrywing ontwikkel uit die voorbeeld van die Chronocon van Eusebius van Caesarea (340 n.C). Eusebius het in parallelle kolomme die geskiedenis van die Grieke, Jode, Perse, Romeine en ander antieke nasies opgeteken. Hierdie werk is deur Jeronimus in Latyn vertaal en was die primêre bron van historiese kennis in die Middeleeue.

Die annale en kronieke van die Rooms-Katolieke kloosters in die Middeleeue is met groot sorg en verantwoordelikheid saamgestel en op datum gehou. Hoewel die kronieke van die meeste Mid­deleeuse gemeenskappe droë dokumente is wat verslag doen van wêreldlike en kerklike gebeurtenisse van belang, van wêreldlike heersers se opkoms, mag en val, van kronings, erflatings en sterftes, maar ook van natuurlike verskynsels soos aardbewings en sonsverduisterings (tradisioneel neem die bewegings van hemelliggame en sons- en maansverduisterings ʼn belangrike plek in in kronieke), is daar tog kronieke wat nie so strak chronologies is nie en wat die persoonlike styl van die skrywer in ʼn groot mate weerspieël. Daar is ook voorbeelde van kronieke wat besprekings van onderwerpe en bespiegelings oor die oorsake van gebeurtenisse bevat.

Die Middeleeuse kronieke is dikwels in versvorm geskryf en het ook baie LEGENDARIESE en FIKSIONELE gegewens ingesluit, bv. in die kronieke van die Normandiese veroweraars en die Kruisvaarders. In die Spaanse Cronica (13e tot 16e eeu) word die geskiedenis van El Cid vertel, maar ook beskrywings van die gebruike van die gewone mense en die FABELS wat deel van hulle lewens gevorm het, is ingesluit.

Die geskiedskrywing het in die tyd van die RENAISSANCE en Hervorming ontwikkel om algaande ʼn sterker epiese en kommentariërende trant te vertoon, maar die kroniekvorm het bly voortbestaan, veral by kerklike historici (bv. die Annales Ecclesiastici van Caesar Baronius).

Gedeeltes van die bekende kronieke vertoon literêre eienskappe in bv. lewendige beskrywings of geïnspireerde vertellings, maar tradisioneel is die kroniek nie ʼn literêre vorm nie.

Kronieke is dikwels gebruik as bronne vir literêre werke, o.a. deur Shakespeare. In Engeland het die chronicle play in die laaste aantal jare van die bewind van Elizabeth I gefloreer. Hierdie dra­mas (bv. Marlowe se Edward II) was gebaseer op die historiese gegewens in die 16e-eeuse kronieke.

Kronieke word deur moderne historici gesien as een van die be­langrikste bronne van geskiedkundige feite uit antieke tye en die Middeleeue. In die 19e eeu is daar met formele en akademiese geskiedskrywing begin.

In Afrikaans sou ʼn mens moeilik ʼn goeie voorbeeld van ʼn kro­niek in die tradisionele sin van die woord kon vind. Die Daghregister van Johan Anthoniszoon van Riebeeck wat in opdrag van die N.O.I.K. gehou is en waarin die belangrikste ge­beurtenisse tydens die dienstermyn van Van Riebeeck aan die Kaap opgeteken is (vanaf Des. 1651 tot Mei 1662), is wel nog in Nederlands geskryf, maar kan op grond van sy inhoud seker as ʼn kro­niek van die vroeë Suid-Afrikaanse geskiedenis beskou word. Dieselfde kan gesê word van die Dagregister van Adam Tas (1668–1722) en die Dagboek van Louis Tregardt (1783–1838). Daar bestaan ook baie ander geskrifte uit die vroeë Suid-Afrikaanse geskiedenis in die vorm van reisjoernale, reisverslae, dagregisters en die dagboekliteratuur van sowel amptelike as per­soonlike oorsprong, wat by die tradisie van kroniekskrywing aansluit. ʼn Mens sou dan seker ook ʼn verband kon lê tussen kronieke en REISVERHALE, wat in die chronologiese verslag van gebeurtenisse as opvallendste eienskap by die kroniekvorm aansluit.

 

Bibliografie

Botha, E. 1980. Oor die Afrikaanse prosa en ander opstelle. Kaapstad: Tafelberg.

Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, band 1. Kaapstad: Academica.

 
Heilna du Plooy