SISTEEM (LITERÊRE)

In die LITERATUURGESKIEDSKRYWING (en in die Komparistiek) word die behoefte aan die ordening van diverse literêre gegewens tot groter samehange steeds sterker. Die sisteemteorie kan daarin van groot waarde wees.

Die begrip sisteem is ‘n uitvloeisel van ‘n aantal holistiese benaderings (veral die Gestalt-psigologie) waarin verskynsels nie in isolasie beskou word nie, maar as behorende tot ‘n groter geheel. “Die geheel is meer as die som van sy onderdele” is ‘n bekende slagspreuk daarvan. By sisteme gaan dit egter nie om die optel van dele nie, maar om die rangskikking daarvan (Angyal, 1972: 26). Daarom skryf Katz en Kahn (1972: 90): “System theory is basically concerned with problems of relationships, of structure, and of interdependence rather than with the constant attributes of objects.” Solank verskeie objekte of entiteite almal in relasie tot mekaar staan, kan hulle as ‘n sisteem beskou word (Kramer & De Smit, 1977: 14, 16). Daaruit is dit duidelik dat ‘n sisteem konseptueel en nie onties is nie. Entiteite word gekombineer en “as sisteme” beskou. Dit is ‘n benaderingswyse van die werklikheid.

‘n Hoop sand kan bv. as ‘n aggregaat beskou word: die som van die verskillende sandkorreltjies. Dit is nie ‘n sisteem nie. ‘n Diamant is egter ‘n voorbeeld van ‘n sisteem, omdat die verskillende molekules daarin op ‘n bepaalde manier gerangskik is. ‘n Literêre werk kan ook as ‘n sisteem beskou word, omdat al sy onderdele bydra tot die geheel, wat meer is as die som van die dele. (Vgl. HERMENEUTIEK.)

Die struktuur van ‘n sisteem word gekenmerk deur drie parameters: die totale versameling relasies binne die sisteem, die posisionele waarde en die afmetingswaarde. Gewoonlik word die struktuur van die sisteem bestudeer. Met posisionele waarde word bedoel die posisie van die verskillende entiteite binne die sisteem tot mekaar. Die afmetingswaarde dui aan dat ‘n sisteem afmetings soos tyd en ruimte het.

‘n Gesin kan bv. as ‘n sisteem beskou word. Die afmetingswaarde dui aan hoe sterk die verhouding tussen die gesinslede is: Pa het bv. vir Yvonne liewer as vir Sarel. Gesinne kan eenders van struktuur wees, maar die diepte van die verhoudings kan verskil. In dié geval het die posisionele waarde te doen met die relatiewe dominansie binne die gesin: in gesin A is die pa dominant; in gesin B die ma, ens.

Verskillende teoretici het die literatuur al as sisteem beskou. Die meeste van hierdie sienings het die RUSSIESE FORMALISTE se opvatting van VERVREEMDING as agtergrond. Vervreemding veronderstel steeds ‘n norm waarvan afgewyk word, ‘n agtergrond waarteen die nuwe waarneembaar is. Die basiese opvatting oor die struktuur van ‘n literêre sisteem is afkomstig van Tynjanov (1927). Hy sien ‘n literêre werk as ‘n hiërargiese sisteem van vorme en norme en literêre VERANDERING as ‘n botsing van verskillende sisteme. In elke sisteem is daar vir hom een of meer dominante entiteite wat die struktuur van die sisteem bepaal. Die sisteem verander deurdat die dominante entiteite afslyt of verbleek en dan deur minder dominante entiteite vervang word. Dit is dus die relasies tussen die entiteite wat die struktuur bepaal.

Elke entiteit staan vir Tynjanov in drie relasies: tot ander entiteite binne die werk (hy noem dit die konstruktiewe funksie), tot ander entiteite in die literêre sisteem (die literêre funksie), en tot entiteite in die alledaagse werklikheid (die redefunksie). Op die vlak van die literêre funksie onderskei Tynjanov ook genresisteme en ‘n evolusionêre waarde. Laasgenoemde dui die belang van die werk vir die huidige toestand van die sisteem aan. Dit is m.a.w. ‘n posisionele waarde op ‘n hoër vlak as die van die werk.

Hiermee het Tynjanov die grondlegger van die teorie oor literêre sisteme geword. Sy opvattings is verder uitgewerk deur Vodička (1976). Onder sisteem verstaan Vodička (1976: 36) drie dinge: hoe die afsonderlike komponente van ‘n werk georden is, watter relasie daar tussen hierdie komponente bestaan, en hoe die komponente hiërargies georden is. Die literêre sisteem is vir hom intensioneel gerig op ‘n bepaalde estetiese doel. Dit noem hy die ordeningsprinsipe, waarvolgens nie net die sisteem nie, maar ook reekse werke en individuele werke georden word. Daaruit kan die Stellenwert van elke werk bepaal word. Dit is die werk se posisionele waarde binne die sisteem. Die analise van ‘n werk het dan ook ten doel om hierdie ordeningsprinsipe te ontdek.

Die verskillende komponente van die werk wat Vodička onderskei, kan as eksemplaries beskou word van die entiteite binne ‘n literêre sisteem. Vodička onderskei die volgende komponente: die KLANKASPEK (waaronder RITME, eufonie, intonasie; die VERS as besondere eenheid), die semantiese aspek (waaronder trope, woordkeuse, die kompleks van KUNSGREPE wat die skrywer benut, die komposisie van die werk) en die tematiek (wat o.a. insluit die digtersubjek, die tema, die TYD, ‘n beeld van die buitewêreld, ‘n bepaalde IDEOLOGIE). Die terrein van die literatuurstudie strek vir Vodička egter verder as die teks. Ook die kunstenaar en die leser is entiteite binne die sisteem en is veral belangrik vir die rekonstruksie van die literêre sisteem. Studie van die teksgeskiedenis, literêre INVLOEDE, stof, die lewe van die skrywer en die PERIODE kan lig werp op die (gepostuleerde) doel van die literêre ontwikkeling. Deur die RESEPSIE van ‘n werk kan die literêre norme en postulate, die KANON en die hiërargie van literêre waardes binne ‘n bepaalde tydperk gerekonstrueer word (Vodicka, 1976: 57–60, 63).

Tussen die norme en die reeks werke uit ‘n tydperk bestaan daar vir Vodička ‘n dinamiese spanning, omdat nuwe werke afwyk van die norme en die norme nie tred hou met die werke nie, maar anachronisties of utopisties kan wees. Hierdie norme is ook gestratifiseer (verskillende groepe hanteer verskillende norme). Die norme vorm egter die konvensionele agtergrond waarteen waarneming en KONKRETISERING van die werk plaasvind (Vodička, 1976: 69–70).

Hiermee dui Vodička al sisteemprosesse aan. Die beduidendste bydrae tot die teorie oor prosesse in literêre sisteme kom egter van Itamer Even-Zohar. Hy werk ook die stratifikasie van literêre sisteme verder uit.

Vir Even-Zohar is die literatuur nie net ‘n sisteem nie, maar ‘n polisisteem. Daarmee bedoel hy dat dit ‘n heterogene, oop sisteem is wat bestaan uit verskeie gelyktydige “nets-of-relations … in which the members receive their values through their respective oppositions” (Even-Zohar, 1979: 288). Verskillende sisteme bestaan dus gelyktydig en in kompetisie met mekaar.

Hierdie kompetisie beskryf Even-Zohar eerstens met die proses van konversie (Eng.: conversion). Binne die literêre polisisteem bestaan daar ook ‘n hiërargie: die sentrum domineer die periferie. Deur konversie “phenomena are driven from the centre to the periphery while, conversely, phenomena may push their way into the centre and occupy it” (Even-Zohar, 1979: 293). (Vgl. VERVREEMDING.)

Hierdie hiërargisering geld ook vir die verskillende (sub-)sisteme van die polisisteem. Sekere lae en sekere sisteme raak gekanoniseer en ander nie. Die stryd tussen die strata gaan juis om kanonisering. Dit voorkom stagnasie binne die polisisteem, want die nie-gekanoniseerde strata streef daarna om die gekanoniseerdes te vervang.

Even-Zohar onderskei verder tussen “primary and secondary types”. ‘n Primêre tipe teks of sisteem is een wat sterk vernuwend is, terwyl ‘n sekondêre tipe sterk voorafbepaal is. ‘n Gekanoniseerde stratum bestaan gewoonlik eers uit primêre tipes, maar raak later gevestig en “slyt” af tot sekondêre tipes. Dan is dit preskriptief i.p.v. innoverend (Even-Zohar, 1979: 299). Hiermee bou Even-Zohar ‘n sterk vooroordeel ten gunste van innovering in sy teorie in.

Die konsep van dinamiese stratifikasie is Even-Zohar se kenmerkendste bydrae tot die teorie oor literêre sisteme. Daardeur trek hy egter ook die grense van die sisteem geweldig wyd: dit sluit feitlik alle soorte tekste in wat hoegenaamd deur ‘n sekere groep mense om die een of ander rede as waardevol beskou word. Daar bestaan dus in sy teorie nie ‘n demarkasiekriterium vir literatuur nie: hierdie kriterium word deur die prosesse van kanonisering bepaal.

Dit is duidelik dat Tynjanov, Vodička en Even-Zohar die literatuur as ‘n oop sisteem beskou. ‘n Oop sisteem is ‘n sisteem wat met sy omgewing in interaksie is, of as in interaksie met sy omgewing beskou word, ‘n Geslote sisteem is nie in interaksie met sy omgewing nie of word as geïsoleerd daarvan beskou (Kramer & De Smit, 1977: 33).

Die omgewing van ‘n sisteem is alles buite die sisteem self – iets onhanteerbaars. Daarom word daar tussen die totale omgewing en die relevante omgewing van ‘n sisteem onderskei. Die relevante omgewing is daardie versameling entiteite buite die sisteem waarvan die toestand deur die sisteem beïnvloed word of wat die toestand van die sisteem self beïnvloed (Kramer & De Smit, 1977: 34). Die kriterium hier is dus die interaksie tussen sisteem en omgewing.

As die literatuur as ‘n oop sisteem beskou word, kan dit nie net uit tekste bestaan nie. Hoewel tekste aan die omgewing blootgestel is (hulle kan uitbrand, oorstroom of deur motte opgevreet word), is die blootstelling nouliks ‘n literêre proses (al kan dit ‘n invloed op die literatuurgeskiedenis hê).

Literêr betekenisvol is alleen maar resepsie en produksie. Die literêre sisteem is alleen via skrywer en leser oop na sy omgewing. Alleen daardeur kan die konvensies binne die sisteem verander word.

Alleen via die konseptuele sisteme waarmee skrywers skryf en lesers lees, kan die omgewing in die teks of in die konkretisering daarvan ‘n neerslag vind. Dit beteken dat informasie uit die omgewing onderhewig is aan kodering en dat daar grade van oopheid na die omgewing is. (Vgl. KODE.)

Die literatuur as oop sisteem word ook via skrywer en leser aangepas by sy omgewing. Tynjanov (1927: 453) praat van die ustanovka van ‘n werk. Dit kan vertaal word met “intensie”, maar het ook te doen met die komposisie van die werk. Lomonosov se ODES is bv. aangepas om in ‘n riddersaal voorgedra te word. Dit is hulle ustanovka. Dit is langs die weg dat produksietegnieke (mondeling, die drukpers) en produksievoorwaardes (mesenasse, die status van die skrywer, gatekeepers) deel van ‘n literêre sisteem kan wees.

As oop sisteem het die literatuur ook eienskappe soos negentropie en differensiasie. Negentropie (negatiewe entropie) is die vermoë van oop sisteme om informasie uit hulle omgewing op te neem, te verwerk en weer uit te voer, sodat reserwes opgebou kan word en die sisteem kan voortbestaan. Dit voorkom entropie (die universele neiging tot desorganisasie en die dood). Differensiasie is ‘n gevolg van negentropie: oop sisteme neig daartoe om steeds meer gedifferensieer en kompleks te raak.

Binne die sisteemteorie is die Russiese formaliste se teorie oor vervreemding en Even-Zohar se conversions, prosesse waardeur negentropie verkry word. Daardeur word verseker dat die leser aanhou lees sodat die skrywer kan aanhou skryf. In die proses verander die sisteem noodwendig.

‘n Belangrike begrip vir die “gedrag” van sisteme is “toestand” (Eng.: state). Die toestand van ‘n sisteem op ‘n gegewe moment is “the set of relevant properties which the system has at that time” (Kramer & De Smit, 1977: 23). Dit kan verder ontleed word in die toestand van die verskillende entiteite binne die sisteem, die toestand van die relasies en die toestand van die struktuur van ‘n sisteem. Hieruit is dit duidelik dat dit nie soseer die sisteem is wat verander nie, maar eerder die toestand daarvan. Literêre sisteme kan betreklik vinnig van toestand verander, maar nogtans bly die idee van ‘n samehangende geheel behoue.

Teoreties kan enige groep entiteite in relasie met mekaar as ‘n sisteem beskou word. In die praktyk word die trek van grense gewoonlik deur die doel van die ondersoek bepaal. Grense is m.a.w. konseptueel, maar kan, formeel gesien, op twee maniere afgebaken word: òf sekere kriteria vir die trek van grense kan ingevoer word, òf ‘n mens kan aanneem dat die sisteemgrens lê in ‘n gebied waar relasies minder gekonsentreerd voorkom (Kramer & De Smit, 1977: 31).

Mukařovský (1936) het ‘n besondere bydrae gelewer tot die teorie oor die grense van literêre sisteme. Hy neem ‘n verskeidenheid oorgange tussen kuns en buite-artistieke en buite-estetiese verskynsels waar. Kuns het soms ‘n buite-estetiese funksie; nie-estetiese dinge soms ‘n artistieke funksie. Daarom is dit vir hom nie moontlik om ‘n ondubbelsinnige grens vir die kuns te trek nie. Dit geld ook vir die literatuur: die grens van die literêre sisteem word sosiaal bepaal, elke keer opnuut. Wat literêr is, berus dus op ‘n sosiale afspraak (Mukařovský, 1936: 18). Dieselfde geld vir literêre norme en waardes.

Nes die estetiese funksie is die estetiese waarde van ‘n werk vir Mukařovský uiteindelik bloot ‘n versameling buite-estetiese waardes op ‘n besondere manier gerangskik. Waarde is ‘n algemene term vir die dinamiese totaliteit (sisteem!) van onderlinge verwantskappe. Hierdie sisteem staan ook in interaksie met die “totale sisteem van die waardes wat die motivering vir die lewenspraktyk van die kollektief vorm” (Mukařovský, 1936). Ook in hierdie opsig is die literatuur dus ‘n oop sisteem. Dit laat aan die literêre ondersoeker die taak om te bepaal waar die gemeenskap die grense van sy literêre sisteem of sisteme trek (vgl. ook EVALUERING (LITERêRE)).

Dit is vandag egter duidelik dat die grense van literêre sisteme so getrek moet word dat dit die teks, sy produsent en resipiënt insluit, plus ook die norme, postulate of konseptuele raamwerke waarbinne produksie en resepsie plaasvind.

Die grootste voordeel van die sisteembenadering is dat dit die sintese van uiteenlopende literêre gegewens moontlik maak. Daardeur kan veral insig verwerf word in die literatuurgeskiedenis. Die sisteembenadering verlê wel die klem vanaf die individuele werk na die kode of sisteem wat die produksie en resepsie van die werk beheers, maar kan sodoende ook ‘n besondere lig werp op ‘n bepaalde werk. Die sisteembenadering bied verder ‘n raamwerk waarbinne nuwe vrae gevra en nuwe modelle opgestel kan word, sodat die Stellenwert van ‘n bepaalde verskynsel op ‘n betreklik formele beskrywing gebaseer kan word. Dit beteken nie dat die eintlike betekenis van ‘n werk daardeur vasgestel kan word nie, maar wel dat die historiese betekenis op ‘n bepaalde tydstip vir ‘n bepaalde groep lesers redelik presies daarmee vasgestel kan word.

(Vgl. VERANDERING (LITERêRE).)

 

Bibliografie

Angyal, A. 1972. A logic of systems. In: Emery, F.E. (ed.). Systems Thinking: Selected Readings. Harmondsworth: Penguin.

Emery, EE. (ed.). 1972. Systems Thinking: Selected Readings. Harmondsworth: Penguin.

Even-Zohar, I. 1979. Polysystem theory. Poetics Today, 1(1–2).

Guillen, C. 1971. Literature as System. Princeton: Princeton University Press.

Katz, D. & Kahn, R.L. 1972. Common characteristics of open systems. In: Emery, F.E. (ed.). Systems Thinking: Selected Readings. Harmonsworth: Penguin.

Kramer, N.J.T.A. & De Smit, J. 1977. Systems Thinking: Concepts and Notions. Leiden: Nijhoff.

Lefevere, A. 1987. Systems thinking and cultural relativism. JLS/TLW, 3(4).

Mukařovský, J. 1936. Aesthetic Function, Norm and Value as Social Facts. Ann Arbor: Department of Slavic Languages and Literature, University of Michigan.

Striedter, J. (Hrsg.). 1969. Texte der russischen Formalisten. München: Fink.

Tynjanov, J. 1927. Über die literarische Evolution. In: Striedter, J. (Hrsg.). Texte der russischen Formalisten. München: Fink.

Viljoen, H. 1986. Die Suid-Afrikaanse romansisteem anno 1981. Potchefstroom: PU vir CHO.

Vodicka, F. 1976. Die Struktur der literarischen Entwicklung. München: Fink.

Raadpleeg ook:

McCarthy, T. 1985. Complexity and democracy, or the seducements of systems theory. New German Critique, 35.

Rogers, R. 1987. General system theory and literary texts. Journal of Literary Semantics, 16(2 & 3).

 
Hein Viljoen