EVALUERING (LITERêRE)

Evaluering is ‘n polisemiese begrip. Dit sluit in: die handeling van waardes toeken aan literêre werke, die plasing daarvan in ʼn rangorde van “die beste” na “die swakste”, die resultaat van hierdie toekennings van waarde en selfs ook die produksie van literêre waardes.

 

Die literatuur is nog altyd geëvalueer. Enige studie, analise of interpretasie van ‘n literêre werk word trouens byna onvermydelik ook ‘n evaluering daarvan, al impliseer dit net dat die werk die moeite van studie of analise loon. Nogtans is evaluering vandag ‘n probleem vir die literatuurwetenskap. Dit is tans een van die mees verwaarlooste (hoewel steeds een van die mees kontroversiële) afdelings van die literatuurstudie.

 

Amper gemeenplasig word die literêre kritiek beskryf as oningelig, onbekwaam, oppervlakkig, slordig, neerhalend, partydig, beterweterig en les bes swaarwigtig of geleerddoenerig (vergelyk bv. Venter, 1983). (Vgl. LITERATUURKRITIEK.)

 

In die literatuurwetenskap word evaluering dikwels sistematies vermy omdat dit te subjektief, irrasioneel of relatief sou wees om aanspraak te maak op “objektiwiteit” of “wetenskaplikheid”. Die poging om evaluering “wetenskaplik” te hanteer, is meestal net so swaar­wigtig of geleerddoenerig as die literêre kritiek self.

 

Frye (1957) neem hieroor die ekstreme posisie in dat die lite­ratuurwetenskap eers “a field of genuine learning” sal word as dit irrelevante dinge soos evaluering aflê. En hy hekel “all the literary chit-chat which makes the reputations of poets boom and crash in an imaginary stock-exchange”. Vir hom moet die lite­ratuurwetenskap ‘n sistematiese “structure of knowledge” uitwerk. Alles wat nie tot hierdie sistematiek bydra nie (soos evaluering) moet uitgeskakel word.

 

Dit is egter ‘n dwaling dat literêre evaluering uitgeskakel kan word, want evaluering en werk belig mekaar oor en weer. So ‘n uitskakeling onttrek die komplekse stel sosiale en kulturele aktiwiteite wat die aard van die literatuur help bepaal aan ernstige ondersoek. Dan word dit onmoontlik om uiteenlopende stelle waardes te onderken. Almal weet immers wat die meesterwerke is; die prosesse waardeur hulle meesterwerke geword het en as meester­werke gehandhaaf word, bly buite sig, o.m. omdat die verwaarlosing van evaluering voorkom dat die bevestigde waardeoordeel bevraagteken word (Smith, 1988: 24). (Vgl. KULTUURKRITEK.)

 

Dit is veral sedert die einde van die 19e eeu, met die opkoms van die POSITIVISME, dat evaluering ‘n probleem geword het. Die vernaamste rede hiervoor is die eensydige klem wat op objek­tiwiteit en die strewe na “harde feite” gelê is. Evaluering is im­mers amper per definisie subjektief, persoonlik en relatief.

 

Die bekende slagreël daarvan is de gustibus non est disputandum (“oor smaak val daar nie te twis nie”). Die bron van waarde is daarvolgens die individuele waardesisteem van die waardeerder. Teenoor hierdie relativistiese siening staan die absolutistiese of intrinsieke siening wat waardes as objektiewe en onafhanklike groothede beskou wat in die werk self gesetel is en deur die leser ontdek moet word (vgl. Beardsley, 1958). Tussenin staan die relasionele siening waarvolgens waardes deur die struktuur van die teks en die waardesisteem van die leser gesamentlik bepaal word (Mukařovský, 1936; Jauss, 1967; Hirsch, 1969).

 

Die opposisie tussen wetenskap en waardes is egter nie absoluut nie. Wetenskaplikheid en objektiwiteit is self waardes waaraan bv. teorieë getoets word. Bowendien is die afstand tussen feit en waarde nie so groot nie; veral nie in die literatuurstudie nie, waar bv. die “feite” wat deur interpretasie vasgestel word ‘n groot waardekomponent het.

 

Teorieë oor literêre evaluering strand meestal op drie rotse, by name die wispelturigheid en veranderlikheid van literêre evaluering, die laat werking en die blywende werking van sekere werke. Daar is altyd meningsverskil oor die waarde van ‘n werk. Dink aan die polemieke oor Magersfontein, o Magersfontein! of Die hemel help ons en die tientalle ander sensuurdebatte wat in Suid-Afrika gevoer is. Dit gebeur egter ook dat werke onmiddellik erkenning geniet en hulle posisie as meesterwerke met verloop van tyd steeds sterker bevestig. Ander werke word bra louwarm ontvang maar deur ‘n latere generasie verklaar tot “vergete meesterwerke” en by die KANON gevoeg.

 

Die verskynsel van ‘n kanon self is ewe problematies, omdat die ervaring daarop dui dat evaluering ‘n individuele saak is. Tog bestaan daar skynbaar genoeg konsensus om ‘n kanon (‘n reeks werke wat deur opgevoede en geleerde mense hoog gewaardeer word) moontlik te maak. Die kanon stel min of meer die “stan­dard of taste”, maar die literatuurgeskiedenis is vol voorbeelde van radikale verskille oor die waarde van ‘n werk of “foutiewe oordele”. Hierdie “foutiewe” oordele en die veranderlikheid van oordele oor die algemeen word binne die standaardsiening van evaluering verklaar as gebreke of tekortkominge van die waardesintuig van die kritikus.

 

Die verskillende teorieë oor literêre evaluering kan beskou word as verskillende pogings om die radikale kontingensie van literêre waardes te beperk. Dit is met verloop van tyd gedoen met ‘n beroep op verskillende fasette van die “evalueringsekonomie”: op die teks self, op sekere standaarde (“standards of taste”) of kriteria, op die sosiale dinamika, in die jongste tyd op die LESER, op die IDEOLOGIE, op sekere genrereëls, op die estetiese ervaring en les bes op die aard en logiese struktuur van waardeoor­dele self.

 

Die standaardsiening van evaluering beskou intrinsieke waardes as die enigste geldige literêre waardes. Daarvolgens moet die literêre werk beoordeel word na sy eie aard en funksie, sy struktuur of komposisie en nie na sy praktiese nut, die idees wat dit wil tuisbring of die effek op sy leser nie. Dit word beskou as ‘n outonome estetiese objek wat nie (sy leser) wil beïnvloed nie; nie eers om die werk te wil besit of te verbruik nie. Dit is bedoel om esteties gekontempleer te word. (Vgl. OUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK.)

 

Intrinsieke kriteria soos intensiteit, digtheid, meerduidigheid, PARADOKS, “amount and diversity of material integrated”, eenheid, samehang word aangelê. Daarmee hang saam eise dat die werk poli-valent en poli-interpretabel moet wees. ‘n Voorbeeld daarvan is Paradise Lost wat deur verskillende generasies totaal verskillend geïnterpreteer is.

 

Hierdie intrinsieke waardes is tydloos: dit geld vir alle geslagte lesers. Dit sluit sg. ekstrinsieke waardes soos etiese, morele, politieke of religieuse waardes uit. ‘n Goeie werk kan selfs eties onaanvaarbare dinge op ‘n estetiese manier hanteer en dus intrinsiek goed wees.

 

Intrinsieke waardes word as absoluut beskou: sekere werke word altyd en deur almal hoog waardeer. Hierdie hoë waardering word gemotiveer met ‘n beroep op “objektief” vasstelbare tekseienskappe. Daarom is ooreenstemming oor die waarde van ‘n werk in beginsel moontlik en is dit ook moontlik om van “korrekte” en “verkeerde” oordele te praat. “Verkeerde” oordele registreer die objektiewe tekseienskappe nie afdoende nie en kan verkeerd bewys word deur die “toets van die tyd” – die mate waarin die lesers en die literêre gemeenskap inderdaad die betrokke werk aanvaar al dan nie.

 

Waarde is binne hierdie siening ‘n vasstelbare eienskap van tekste en die kritikus is beklee met ‘n sekere aangebore of aangeleerde vermoë (smaak, sensibiliteit) om dit te kan onderskei (Smith, 1988: 19).

 

Verskillende besware bestaan teen hierdie siening. Eerstens is dit simplisties dat waardes bohistories is en in alle situasies dieselfde sal bly. Die veronderstelde eenstemmigheid oor die waarde van werke is feitlik nooit bereik nie, soos die talle twiste oor die waarde van werke getuig. Ook kon eenstemmigheid nog nooit oor ob­jektiewe waardes bereik word nie. Verder word intrinsieke waardes beperk of gereguleer deur die GENRE van die betrokke werk. “Eenheid” en “universaliteit” lyk bv. anders in ‘n TRAGEDIE as in ‘n KOMEDIE. Die waarde van ‘n werk kan dus deels met sy identiteit (sy verskil van ander werke) in verband gebring word.

 

Die kriteria is soms ook uiters vaag. Dink aan “intensiteit”, “organiese eenheid”, “meerduidigheid”. Bowendien sit daar ‘n sirkulariteit in die standaardsiening, omdat dieselfde kriteria (bv. meerduidigheid en eenheid) gebruik word om literatuur mee te omskryf en te beoordeel. Die waardes word dus reeds as demarkasiekriterium in die begrip LITERATUUR ingebou. Laastens is daar ‘n wanverhouding tussen tekseienskappe en waardes.

 

Die standaardsiening beroep hom op konkrete tekseienskappe. Die probleem is egter dat waardeoordele nie geatomiseer kan word of kan kumuleer nie. Om te sê: Magersfontein is ‘n goeie roman omdat dit ‘n geraffineerde spel van vertelinstansie toon (vgl. PERSPEKTIEF IN DIE PROSAKUNS), mag op sigself ‘n feitelike beskrywing of ‘n waardeoordeel oor ‘n aspek van die roman wees. Is dit ‘n feitelike beskrywing, beteken dit nie noodwendig dat die ROMAN wel goed is nie, want ek kan nog steeds sê die KARAKTERS is skeef en oordrewe geteken. Word dit as waardeoordeel van beperkter omvang beskou, het dit dieselfde logiese status as ‘n oordeel oor die werk as geheel en kan dit nie as ondersteuning van die groter waardeoordeel dien nie. Die oordeel oor die roman is dus nie deur ‘n ander soort proposisie verduidelik of gemotiveer nie, maar bloot deur ‘n waardeoor­deel oor ‘n aspek van die roman vervang (Ellis, 1977: 79-82). Logies gesien, kan n goeie eienskappe nog steeds deur ‘n swak eienskap n + l uitgekanselleer word en hoef, omgekeerd, n goeie eienskappe nog nie te waarborg dat die werk as geheel goed is nie. Tekseienskappe en waardes kan dus nie maklik “maak pas” word nie.

 

In die 20e eeu was daar verskeie pogings om die radikale kon­tingensie van literêre waardes te besweer deur die aard van waardeoordele en die logika van evaluering te bestudeer (vgl. Ellis, 1977; Shusterman, 1984; Weitz, 1957).

 

Reeds Ayer (1936) het betoog dat waardeoordele sinledige uitsprake is wat oorreed, aanbeveel of persoonlike gevoelens uitdruk maar geen ware kennis produseer nie, nie waar of vals kan wees nie en nie die minste aanspraak op geldigheid kan maak nie (vgl. Smith, 1988: 19). Dit geld wel vir sg. voorkeuruitsprake soos bv. “Etienne Leroux is ‘n groot skrywer”. Hierdie uitsprake is volslae subjektief en onkontroleerbaar. Dit geld egter nie vir alle waardeoordele nie, want almal is nie ewe subjektief nie. Argumente ter ondersteuning van ‘n waardeoordeel oor uiteenlopende dinge soos fietse, skaaksette en wetenskaplike teorieë kan ‘n hoë mate van intersubjektiewe geldigheid besit (Mooij, 1979). ‘n Uitspraak soos “Hierdie fiets is goed, want hy het twaalf ratte” is saamgestel uit ‘n oordeel ondersteun deur ‘n argument wat (volgens deskriptiwiste) tot ‘n beskrywing herlei kan word. Die argument is ‘n aanduiding van die waardekategorie waarop hier ‘n beroep gedoen word. Waarde is hier die mate waarin die fiets geskik is om ‘n sekere doel mee te bereik. Die uitspraak is egter eers geldig wanneer daar redelik eenstemmigheid oor die doel of funksie van die fiets bestaan. Wil mens aan fietswedrenne deelneem, is die implisiete kriterium of norm ” ‘n goeie fiets behoort differensiasie in die kragoorbrenging moontlik te maak” gepas. Wil jy dit egter net vir jou kind koop om skool toe mee te ry, is hierdie differensiasie waarskynlik irrelevant. Die norm kom ooreen met die behoefte van ‘n bepaalde groep. ‘n Groep eienskappe van die objek kan daaraan beantwoord. Intersubjek­tiewe ooreenstemming is moontlik as daar eenstemmigheid oor die inhoud en hantering van die norm bestaan.

 

Literêre waardeoordele word gekompliseer deur die feit dat die literatuur nie ‘n homogene klas objekte met ‘n eenduidige funksie vorm nie. Verder lê die betekenis van literêre kriteria ook nie vas nie en word die eienskappe en funksies van werke deels bepaal deur die interpretasiemodel wat mens hanteer. Daar is dus nie “vaste” of “objektiewe” eienskappe nie (vgl. hiervoor Van der Paardt, 1980: 499-501).

 

Naas die struktuur van waardeoordele is drie ander belangrike terreine aan logiese analise onderwerp, t.w. die logiese status van waardeoordele, die rol van argumente in waardeoordele en die algemene vorm van waardeargumentasies (Shusterman, 1984: 171).

 

Volgens Shusterman bestaan daar drie moontlike standpunte oor die logiese status van waardeoordele (en, trouens, ook van interpretatiewe uitsprake), nl. deskriptiwisme, preskriptiwisme en performatiwisme.

 

Deskriptiwisme skryf die een of ander waarheidsgehalte aan waar­deoordele toe. Hier kan onderskei word tussen subjektiwisme, sterk (of absolutistiese) en swak (of relatiwistiese) deskriptiwisme.

 

Subjektiwiste interpreteer die algemene vorm van waardeoordele “W is E” (bv. “Germanicus is ‘n grootse tragedie”) as “W is E vir my” (of vir mense van my groep, vir opgevoede mense, vir gekwalifiseerde kritici; vgl. Harty, 1972: 109). Hieronder hoort tuis die sg. impressionistiese kritiek van bv. D.H. Lawrence, Walter Pater en W.E.G. Louw.

 

Teenoor hierdie subjektiwisme (wat ‘n sterk oortuigingskrag het) staan die sterk deskriptiwiste wat meen ” ‘W is E’ is waar”. Vir hulle (veral verteenwoordig deur Yvor Winters, 1947) is daar dus evalueringsfeite, soos bv. dat Shakespeare ‘n groot skrywer is. Hierdie oordele is inderdaad al so vasgelê dat hulle as “feite” beskou kan word.

 

Relatiwiste of swak deskriptiwiste staan tussen hierdie twee posisies en beroep hulle op die wye verskeidenheid botsende oor­dele en die groot aantal beginsels en standaarde wat in die literatuurgeskiedenis al vir evaluering gebruik is. Hulle gaan dus uit van adekwate standaarde maar erken dat daar verskillende adekwate standaarde kan wees. E.D. Hirsch (1969) is ‘n verteenwoordiger van hierdie standpunt.

 

Preskriptiwiste meen dat waardeoordele nie waar of vals of selfs adekwate of gedeeltelik akkurate proposisies uitdruk nie maar eerder beslissings oor werke verkondig of aanbevelings doen oor hoe mens ‘n werk behoort te lees. “W is E” word dus geïnterpreteer as “W moet as E beskou word” of “Prys of laak W”. Waardeoordele druk dus die kritikus se eie evaluering uit en probeer die leser oorreed om dit te aanvaar. Hierdie posisie word die beste verteenwoordig deur Ayer (1936) en Stevenson (1950). Anders as relatiwiste (wat ‘n beperkte kognitiewe geldigheid aan waardeoordele heg) meen preskriptiwiste dat waardeoordele kognitief leeg maar normatief is.

 

Performatiwiste beskou waardeoordele as performatiewe en nie as voorskrifte of beskrywings nie. “W is E” word dus by hulle “W word as E aangebied of vertolk”. Hierdie onderskeid gaan terug op Austin se TAALHANDELINGSTEORIE. Daarvolgens verrig die kritikus ‘n totaal ander taalhandeling as om bloot te beskryf of aan te beveel. Sy handeling kom eerder ooreen met die uitspreek van ‘n vonnis, die vertolking deur ‘n uitvoerende kunstenaar of die pleidooi van ‘n advokaat voor ‘n hof. Weitz (1957: 87) skryf bv. dat evaluerings “function in critical essays as judgements on the separate items in art or whole works”. En: “Judging cannot be reduced to describing, emoting or anything else. Basically it is estimating the aesthetic worth of what is being described or interpreted in the work of art.” Sulke oordele berus op argumente; hulle kan geregverdig word, meen Weitz.

 

Waardeoordele kan egter nie tot een van die drie-ismes gereduseer word nie, omdat hulle elkeen ‘n sekere soort waardeuitspraak ver­teenwoordig. Waardeoordele bevat al drie tipes. Dieselfde geld vir die drie standpunte oor die aanvoer van argu­mente ten gunste van waardeoordele.

 

Weitz is, soos hierbo geblyk het, ‘n voorstander van die idee dat die argumente van die kritikus sy oordeel logies onderbou. Al is sy argumente nie sterk genoeg om die oordeel logies volkome te regverdig nie, versterk hulle tog die oordeel of maak dit waarskynlik. Hierdie standpunt kan maklik met deskriptiwisme en intensionalisme versoen word.

 

Daarteenoor staan egter die siening van Stevenson (1950) dat ar­gumente oordele nie ondersteun of regverdig nie, maar eerder die redes of oorsake vir ‘n bepaalde oordeel aantoon. Shusterman (1984: 194-195) haal as voorbeeld Eliot (1936, 1947) se opstelle oor Milton aan. Eliot oordeel negatief oor die invloed van Milton. Hy staaf egter nie sy oordeel logies nie maar gee eerder die redes daarvoor. Milton verteenwoordig o.a. eienskappe van die poësie wat Eliot en sy geslag nie as wenslik beskou het nie, bv. dat poësie so ver moontlik van prosa verwyderd moet wees.

 

Die derde standpunt hieroor, perseptualisme, skryf twee verskil­lende funksies aan die argumente in waardeoordele toe. Eerstens probeer die kritikus daarmee die eienskappe van die werk waarop sy oordeel berus, omlyn of verhelder. Dit verduidelik en artikuleer sy waardering van die werk maar kan dit nie logies staaf nie. Tweedens dra hierdie argumente die kritikus se evaluering van die werk aan die leser oor deur die leser se persepsie te rig en te fokus, of selfs deur die gewenste persepsie by die leser te wek.

 

Ook hier sluit die kritiese praktyk al drie tipes gebruike van ar­gumente in. Daarom meen Shusterman dat die pluralisme hier ook die logiese keuse is.

 

Die derde aspek van ‘n evalueringslogika, t.w. die vraag na die tipiese argumentasiestruktuur van literêre waardeoordele, moet ook (ietwat onbeslis) met ‘n beroep op die pluralisme beantwoord word. Kritici redeneer soms tipies deduktief, vanuit eerste of universele beginsels van literêre waarde. Dit kom veral voor by die genrekritiek waarin werke aan die kriteria vir die verskillende genres gemeet word (vgl. Hirsch daaroor, hieronder).

 

Sommige kritici betwyfel egter die bestaan van sulke universele beginsels. Hulle meen dat ons net van tendense kan praat en nie van universele beginsels nie. Eenheid word dan bv. nie as ‘n universele beginsel beskou nie maar eerder as ‘n tendens: werke met eenheid neig om hoog waardeer te word. Evaluering word dus induktief beredeneer, bv. met die argument dat dit wat lesers lank behaag baie waarde moet hê.

 

Shusterman (1984: 205-209) onderskei egter ook ‘n derde soort argumentasie – een wat staatmaak op analogie, t.w. die “dialektiese argumentasie”. Van die oortuigendste kritiek neem hierdie vorm aan. (Shusterman se voorbeeld is Leavis se kritiek op Shel­ley.) Hierdie soort argumentasie bestaan gewoonlik uit ‘n komplekse samespel van rigtende opmerkings en vrae, gesuggereerde antwoorde en vergelykings en kontraste. Daardeur word ‘n denkbeeldige gespreksgenoot dikwels tot die regte konklusie gelei. Die doel daarmee is dikwels om sekere persepsies by die leser te wek sodat hy instem met ‘n bepaalde oordeel. Soos te verwagte, is hierdie argumentasiewyse goed versoenbaar met die per­septualisme.

 

Weer eens kan nie een van die drie as die enigste en die beste argumentasiewyse uitgesonder word nie. Kritici gebruik al drie soos hulle dit nodig het. Daar is dus nie ‘n logika van evaluering nie maar ‘n veelheid van evalueringslogikas. Die vraag na die evalueringslogika bly dus onbeslis. Die radikale kontingensie van literêre waardes kan nie langs hierdie weg besweer word nie.

 

Literêre kriteria kan geklassifiseer word op grond van die relasies tussen die instansies in die kommunikasieketting waarop kritici hulle kriteria baseer (vgl. Boonstra, 1979).

 

Lê die kritikus klem op die verhouding tussen werk en werklikheid, slaan hy die werk hoog aan as dit met die werklikheid ooreenkom (afspieëlings- of mimesisargument) of juis teenoorgesteld as dit ‘n geslaagde vervorming of kondensasie van die werklikheid is (abstraheringsargument). So nie, kan die werk as goed beskou word wanneer dit betrokke is by die sosiale of politieke aktualiteit (betrokkenheidsargument) of as die kritikus met die morele strekking van die werk saamstem (morele argu­ment) (Vgl. MIMESIS en BETROKKE LITERATUUR.)

 

Volgens argumente wat berus op die verhouding tussen werk en outeur is die werk goed as dit die unieke persoonlikheid van die OUTEUR uitdruk (ekspressiewe argument), as die outeur daarin slaag om sy vermeende bedoeling te verwesenlik (intensionele argument) of as dit ooreenkom met die literatuuropvatting van die outeur (argument van die outeurspoëtiek).

 

Volgens argumente gebaseer op relasies binne die werk self is dit goed as dit ‘n goeie struktuur het (komposisieargument) of goed geskryf is (stilistiese argument). Hierdie argumente is hoogs afhanklik van die literatuuropvatting van die kritikus, omdat die een bv. ‘n eenheidskomposisie verkies maar die ander disharmonie juis hoog waardeer.

 

‘n Werk kan as goed beskou word wanneer dit die leser ontroer of ‘n estetiese ervaring by hom wek (emosionele argument), die leser verryk (didaktiese argument) of as die leser hom daarin kan inleef (identifikasieargument). Die relasie tussen werk en leser staan in hierdie gevalle voorop.

 

In relasie met ander werke het ‘n werk waarde as dit oorspronklik is (vernuwingsargument) of wanneer dit ‘n sekere TRADISIE voortsit (tradisieargument). Die kritikus kan aan ‘n werk ook ‘n relatiewe waarde toeken omdat dit waardevol in ‘n sekere reeks is, bv. as debuut of as sinvolle afsluiting van ‘n skrywer se werk.

 

Naas intrinsieke (of objektiewe) waardes (wat in die teks self setel) en subjektiewe waardes (wat in die individu setel) word tradisioneel ook ekstrinsieke waardes onderskei. Dit is waardes wat afgelei word uit dinge buite die teks, soos die moraal, die godsdiens of die belang van die staat of die een of ander sosiale groep.

 

Naas die ekstrinsieke model onderskei Hirsch (1969: 94 e.v.) nog drie grondliggende modelle van literêre evaluering, nl. die genremodel, die individualistiese model en die broad-genremodel.

 

Die idee van evaluering deur die genre gaan terug op Aristoteles en hou in dat ‘n werk beoordeel word na die mate waarin dit voldoen aan die vereistes van sy soort. Dit moet dus nie aan universele norme gemeet word nie maar aan die kriteria vir die betrokke genre.

 

Die individualistiese of subjektiewe siening opponeer hierdie siening gedeeltelik. Die kriteria vir tragedies is bv. nie toepaslik op die tragedies van Shakespeare nie. Selfs die norm is dus eintlik die werk self. Elke werk is egter uniek, volkome sui generis. Daarom is die enigste norm: hoe goed druk die werk sy eie bedoeling uit? Croce (wat twyfel aan die geldigheid van universele begrippe) is ‘n belangrike verteenwoordiger van hierdie rigting.

 

Die “breë genreteorie” wil werke beoordeel as lede van die omvattende klas werke met gemeenskaplike trekke en waardes wat “die literatuur” uitmaak. Dan meet jy ‘n tragedie nie aan die mate waarin dit medelye en vrees opwek nie. Dan beskou jy dit bv. as die doel van die literatuur om te vermaak en te stig of die leser se bewussyn te verhoog en meet jy die werk daaraan. Jy volg dus die algemene Aristoteleaanse (deduktiewe) patroon deur ‘n soort te poneer, die voortreflikhede van dié soort te omskryf en dit dan as maatstaf vir individuele werke te gebruik.

 

Van hierdie drie teorieë kan net die tweede daarop aanspraak maak dat dit werklik op intrinsieke kriteria berus. Hoewel dit dalk bit­ter moeilik kan wees om vas te stel wat ‘n werk wil bereik, is dit tog moontlik dat ons reg kan raai daaroor. Hierdie evalueringstegniek lewer egter triviale kritiek op omdat ‘n werk sy bedoeling baie goed kan verwesenlik maar nogtans triviaal kan wees.

 

Die breë genreteorie probeer aan hierdie gevaar ontsnap deur genrekriteria neer te lê wat triviale en onsinnige bedoelings uitsluit. Die kriterium is dan wat die bedoeling van die boek behoort te gewees het as mens sy genre in ag neem. Dit ontwikkel ook krite­ria toepaslik vir ‘n individuele werk en voorkom so dat ontoepaslike kriteria gebruik word soos wat maklik die geval kan wees in die genreteorie. Hiervolgens moet ‘n werk bv. beantwoord aan die psigologiese eise van die komedie en nie aan die bedoeling van ‘n oningeligte outeur nie.

 

Hierdie siening verteenwoordig ‘n belangrike poging om intrin­sieke maar tegelyk ook relevante (nie-triviale) kriteria te vind.

 

Dit is egter logies onhoudbaar, omdat dit ongeldig is om te beweer dat die intrinsieke bedoeling van die werk verskil van die bedoeling van die outeur. Deur ‘n perfek gebalanseerde held soos Germanicus mag die skrywer dalk nie ‘n tragiese effek bereik nie, maar dan is dit nie omdat hy die heilige reëls van die tragedie verontagsaam het nie, miskien eerder omdat hy onversoenbare bedoelings gehad het.

 

Daar is egter ook ‘n Aristoteleaanse argument teen hierdie Aris­toteleaanse opvatting. Die genreteorieë veronderstel dat die literatuur en die genres of subgenres ‘n isoleerbare essensie of telos het waaruit ‘n mens die kriteria kan aflei. As hierdie essensie nie bevredigend omskryf kan word nie, kan geldige kriteria nie daaruit afgelei word nie. ‘n Rigoreuse, universeel geldige (maar nie-triviale) definisie van literatuur of genres m.b.v. hulle differen­tia specifica kon nog nie gemaak word nie.

 

Intrinsieke kriteria, hoe noodsaaklik ook al, kan dus nie op voorrang aanspraak maak nie. Intrinsieke kriteria lewer gewoonlik nie belangwekkende evaluering op nie, en omgekeerd, want die belangwekkendste kritiek was nog meestal ekstrinsiek van aard.

 

Selfs sg. intrinsieke kriteria soos kompleksiteit, volwassenheid, spanning, rykdom, is ekstrinsieke kriteria wat die grense van die individuele werk oorskry en op vergelykings en op die morele, religieuse en politieke opvattings van die kritici berus.

 

Twee soorte ekstrinsieke kriteria is deur die eeue gebruik: kriteria vir tegniese voortreflikheid en kriteria oor die waarde van literatuur vir die mensdom. Die probleem is egter dat daar in die moderne tyd geen konsensus meer oor hierdie kriteria bestaan nie: Hirsch (1969: 102) vergelyk dit met die Protestantisme waar­in elke groep sy eie waardes het (vgl. ook Mooij, 1982). Alleen teen die agtergrond van ‘n aanvaarde raamwerk kan evaluering gesag dra: sonder so ‘n aanvaarde raamwerk lyk hulle onvermydelik arbitrêr (Hirsch, 1969: 103).

 

Verskillende hedendaagse opvattings wil die kontingensie van waardes besweer deur ‘n vaste punt in die leser te soek. Immers, as ‘n groot groep lesers ‘n bepaalde werk, sê Hamlet, hoog waardeer, moet dit mos goed wees. Logies is hierdie argument verdag, want gewildheid beteken nog nie noodwendig gehalte nie.

 

‘n Belangrike poging tot die sosiale begronding van waardes is dié van Mukařovský. Hy gee aan die gemeenskap ‘n besondere rol in die evalueringsproses, omdat hy literêre werke as tekens beskou wat sowel outonoom as kollektief is. Die literatuur het sy eie immanente ontwikkeling, maar werke word, as estetiese objekte in die kollektiewe bewussyn, ook kollektief bepaal.

 

Volgens Mukařovský is daar verskillende oorgange tussen kuns en nie-estetiese verskynsels. Kunsobjekte kan hulle estetiese funksie verloor terwyl gewone dinge (soos kos en klere) soms ‘n es­tetiese funksie kan verkry. Die estetiese funksie is dus as sodanig nòg ‘n werklike eienskap van objekte of tekste, nòg aan een van die eienskappe van ‘n objek of teks gebonde. Dit is die samelewing wat die grense van die estetiese (as ‘n aspek van die verhouding tussen die samelewing en die wêreld) bepaal deur op ‘n sekere tydstip algemene geldigheid te heg aan ‘n bepaalde rangskikking van funksies. In hierdie rangskikking is die estetiese funksie dan dominant. Die estetiese funksie is dus altyd gebonde aan die konteks, die samelewing waarbinne ‘n bepaalde teks of objek tuishoort. Uit Mukařovský se omskrywing van die estetiese funksie is sy verwantskap met die RUSSIESE FORMALISME baie duidelik. Vir hom laat die estetiese funksie die maksimum aandag op die objek self val, verskaf dit genot, heg dit veral aan die vorm van die objek en het dit die vermoë om funksies te vervang wat ‘n item met verloop van tyd verloor het. So word die estetiese funksie van ‘n wetenskaplike verhandeling soms dominant wanneer dit sy wetenskaplike funksie verloor het.

 

Volgens Mukařovský streef estetiese norme na permanente geldigheid. Daarteenoor verander die estetiese funksie egter voortdurend.

 

Omdat elke werk ‘n onvolmaakte realisering van die norm is, word die norm eintlik voortdurend geskend. Daar is altyd ‘n dialektiese spanning tussen die bestaande norm en die versteuring daarvan, waardeur ‘n nuwe norm aan die ontwikkel is. Die estetiese ervaring is dus tegelyk aantreklik en afstootlik. Die maksimum aan estetiese genot vereis ‘n gelyke hoeveelheid afsku.

 

Hoewel enige objek ‘n estetiese funksie kan verkry, meen Mukařovský tog dat daar sekere voorwaardes in die objek is wat die ontstaan van die estetiese funksie vergemaklik. Dit kan egter net gebeur wanneer sekere antropologiese konstantes in die waarnemende subjek daarmee korrespondeer. Hulle sluit bv. in die sin vir simmetrie, harmonie, ritme (wat verbind kan word met liggaamsritmes soos hartklop en asemhaling), intensiteit en kontras. Hierdie beginsels vorm die vaste agtergrond waarteen verandering of afwyking waargeneem kan word. Dit is dus die vaste pool van die dialektiese spanning tussen bestendigheid en verandering.

 

Hierdie beginsel verklaar ook waarom daar op die estetiese terrein soveel verskillende norme heers. Onder party groepe ver­ander die norm vinnig; ander is meer behoudend. Daarom vertoon die estetiese veld verskillende lae van kompeterende norme in verskillende grade van afwyking van ouer norme. Die hoogste norme verval en daal in die hiërargie af maar kan weer van onder af opgehef word (die beginsel van die normrotasie).

 

Die hiërargie van norme skakel met die organisasie van die samelewing. Daar is wesenlik twee stelsels wat met mekaar ver­bind word, t.w. die hiërargiese struktuur van estetiese norme en die struktuur van die samelewing wat die norme in sy kollektiewe bewussyn dra. Hierdie verbande kan beskryf word deur te vra hoe nou die bande tussen estetiese en ander norme is en in watter mate die estetiese norm dominant is binne ‘n sekere sosiale laag.

 

In ‘n AVANT-GARDE speel die estetiese norme meestal ‘n belangriker rol as in FOLKLORE-laag, waar die estetiese dikwels ondergeskik is aan praktiese funksies. Ook hier is die dialektiek van bestendigheid en VERANDERING dus aan die werk.

 

Dieselfde dialektiek verklaar waarom evaluering verander en verskil. Dit kan nie toegeskryf word aan die gebreke van kritici nie maar hoort tot die wese van literêre evaluering self, want dit is ook onderhewig aan die dialektiek van bestendigheid en verandering en aan sosiale vordering.

 

Vir Mukařovský is elke werk tot in sy fynste elemente en tematiese aspekte deurdrenk van (buite-estetiese) waardes. Hulle staan binne die werk egter in dinamiese spanning tot mekaar. Hierdie dina­miese spanning vorm eintlik die estetiese waarde. Die kontradiksies tussen die verskillende waardes word deur die leser oorkom in die komplekse proses van waarneming en interpretasie. Hy moet ook die konflik tussen die werk en sy eie waardestelsel verwerk. Waardes raak dus deur die estetiese waarde (die dinamiese geheel) gedomineer maar word nie daardeur onderdruk nie. Veel eerder word hulle daardeur vrygestel en in kontak (ook in kon­flik) geplaas met die ooreenstemmende lewenswaardes. Binne die werk kan daar met waardes geëksperimenteer word. Dit maak die kuns dus ‘n belangrike agent in die verandering van die mens se verhouding tot die werklikheid en van sy samelewing.

 

Mukařovský meen dat objektiewe estetiese waardes potensieel teenwoordig is in die materiële ARTEFAK (en nie in die estetiese objek nie). Die artefak het meer waarde namate dit potensieel komplekser dinamiese eenheidsvorming van die leser verg. ‘n Optimum word bereik indien die verskille en ooreenkomste met die voorafgaande kuns sterk is maar ‘n ekwilibrium bereik. Objektiewe waarde is dus by Mukařovský gelyk aan diversiteit in een­heid. Dit is egter ‘n dinamiese eenheid wat steeds opnuut waargeneem en gerealiseer word deur die leser of die kunstenaar. Dit gee sin aan die ontwikkeling van die kuns.

 

In Mukařovský se stelsel ondergaan buite-estetiese waardes dus ‘n sekere transformasie wanneer hulle binne die werk deur die estetiese waarde (dinamiese eenheid) gedomineer raak. Dit ge­beur egter nie outomaties nie maar in die leesproses waardeur die leser probeer sin maak van die afstand tussen sy eie waardestel­sel en die waardes ingebed in die werk. Mukařovský se opvatting is dus sterk relasioneel: literêre waarde is ‘n kwessie van interaksie tussen leser en materiële teken. Dit is ‘n komplekse siening waarin hy reg probeer laat geskied aan sowel die outonomie van die werk as die subjektiewe keuse van die leser.

 

H.R. Jauss (1967: 5 e.v.) beroep hom nog sterker op die leser. Vir hom vorm die wyse waarop ‘n literêre werk by verskyning aan die verwagtinge van sy eerste publiek voldoen, dit oorstyg, teleurstel of weerlê, ‘n kriterium van estetiese waarde. Hy noem dit die “estetiese distansie”. Dit is die verskil tussen die struk­tuur van die werk en die leser se VERWAGTINGSHORISON of die verskil tussen die vertroude verwagtings van die publiek en die “horisons-verandering” wat nodig is om ‘n nuwe werk te verstaan. Hoe groter die afstand, hoe beter is die werk. Die sg. TRIVIAALLITERATUUR vereis bv. geen horisonsverandering nie maar voldoen aan die leser se verwagtinge.

 

Jauss probeer ook verklarings ontwikkel vir die laat of blywende werking van werke. Laat werking kan toegeskryf word aan ‘n groot afstand tussen verwagtingshorison en werk. Dit duur ‘n tydjie voordat lesers die nuwe werk leer verstaan. Die blywende werking van sg. klassieke werke skryf Jauss (1967: 10) nie toe aan die tydlose waarde daarvan nie maar aan die suksessiewe ontplooiing van die betekenispotensiaal wat in die werke aanwesig is. Ook in sulke gevalle moet die leser die vraag herwin waarop die klassieke werk ‘n antwoord was om sodoende die spanning (estetiese distansie) tussen hede en verlede te onderken.

 

Die probleem met Jauss se siening is dat die verwagtingshorison tot dusver nog baie vaag gebly het en dat sy kriterium vir literariteit, t.w. die estetiese distansie, te veel klem plaas op vernuwing en VERVREEMDING. Dit is ook ‘n siening wat hoofsaaklik op moderne werke van toepassing is waar die verbreking van heersende vorme self tot norm verhef is. Dit bevat dus meer as net ‘n sweempie van die “innocence of becoming”.

 

Die kontingensie van waardes kan ook besweer word deur die literatuur as ‘n sosiale instelling te beskou wat homself deur verskillende sistematiese prosesse probeer handhaaf. Evaluering en kanonisering is sulke prosesse. Die RESEPSIE-ESTETIKA en die LITERATUURSOSIOLOGIE het belangrike insigte hieroor na vore gebring. Die sentrale tese hier is dat sosiale prosesse van groepsvorming, konsensusvorming, die strewe na sukses en sosiale erkenning ‘n veel belangriker rol in evaluering speel as tekseienskappe. Of ‘n werk tot die elitêre instelling van die literatuur gaan behoort, word bepaal deur die aktiwiteite van verskillende evalueringsinstansies of sg. gatekeepers. Hierdie instansies se taak is om die betrokke werk so te herskryf dat dit vir die betrokke laag van die literatuur aanvaarbaar word (Lefevere, 1986). Hiervoor gebruik kritici oorwegend dieselfde stel norme, begrippe en argumente. Dit gebeur trouens selde dat nuwe begrippe of nuwe gronde vir evaluering gemunt raak. ‘n Uitsondering is bv. Roland Barthes (1973) wat die (erotiese) genietinge (jouissance) van die teks as nuwe kriterium na vore gebring het. Kritici se keuses kom ook merkwaardig ooreen. So ontwikkel ‘n kanon (Verdaasdonk, 1985: 9).

 

Ook die vorming van konsensus oor die waarde van ‘n teks kan nie toegeskryf word aan intrinsieke eienskappe van die teks nie. Van Rees (1985) betwis die geldigheid van die sg. “kontinuum-tese” waarvolgens beskrywende uitsprake oor ‘n werk logies en empiries verbind is met die interpretasie daarvan en dit op hulle beurt weer met die evaluering daarvan. Konsensus word bereik deurdat die argumente van gesaghebbende kritici oor die waarde van ‘n bepaalde werk deur ander kritici oorgeneem word. Die gesag of sukses van ‘n kritikus hang af van sy opleiding, die pres­tige van die blad waarvoor hy werk, sy sukses in die verlede, die mate waarin hy innoverende keuses kan maak, sy repertoire en die hoeveelheid resensies wat hy skryf. Hy produseer dus geloof in die literêre waarde van ‘n bepaalde teks maar daarmee saam ook vir homself gesag en prestige, wat weer tot groter geloofwaardigheid kan lei (Van Rees, 1985).

 

Smith (1988: 47 e.v.) werp ‘n interessante perspektief op literêre waardes deur dit ekonomies te ontleed. Sy meen dat waardes radikaal kontingent is omdat dit die produk van die prosesse van ‘n ekonomiese sisteem is, al is dit maar die persoonlike ekonomie (die behoefte, belange en hulpbronne) van die leser. Daarbinne styg en daal die waarde van ‘n werk inderdaad op ‘n soort beurs namate die individu se persoonlike behoeftes en omstandighede verander. Daar kan dus nie skerp tussen ‘n werk se ruilwaarde, gebruikswaarde en intrinsieke waarde onderskei word nie. Daar is trouens ‘n sterk interaksie en interafhanklikheid tussen die mark-ekonomie en die leser se persoonlike ekonomie.

 

Binne hierdie veranderlike sisteem is ‘n mens se ervaring van ʼn werk altyd ‘n funksie van sy persoonlike ekonomie. Dit bring bv. mee dat elke nuwe ervaring van ‘n werk plaasvind teen ‘n nuwe agtergrond en ‘n nuwe konfigurasie aanneem terwyl ander eienskappe vooropgestel word. Verder vind daar voortdurend oor en weer modifikasie plaas tussen die mens se begeertes en sy wêreld. Besonder belangrik is die relasie tussen die klassifikasie van werke en hulle gewenste funksies. Deur klassifikasie van ‘n objek (bv. as kuriositeit, deurstop, horlosie) word sekere funk­sies gesiseleer en vooropgestel.

 

Ekonomies betrag, is die intrinsieke waarde van ‘n literêre werk eintlik iets leegs, want dit word negatief gedefinieer deur alle moontlike bronne van waarde – genot, praktiese nut, sentiment, versiering, die geskiedenis, ideologieë – uit te skakel. ‘n Simptoom daarvan is dat die grense tussen estetiese en ekonomiese waardes steeds gepatrolleer moet word (Smith, 1988: 33). Die ponering van die outonomie van die literatuur was juis so ‘n poging om die werk uit die gewone ekonomie na ‘n hoër soort ekonomie te verplaas deur enige moontlike praktiese nut daarvoor te ontken.

 

Twee belangrike argumente teen die kontingensie van literêre waardes is die blywende werking van ‘n teks en die ontstaan van oënskynlike konsensus oor die waarde van ‘n werk.

 

Smith skryf sowel konsensus as divergensie van mening toe aan dieselfde dinamika. Hoewel waardes afhanklik van individue is, wissel alle waardes nie per individu nie. Smake en voorkeure loop uiteen namate die bevrediging wat dit ‘n individu bied oor ‘n wye spektrum bestryk, weerstand bied teen kulturele beheer of besonder afhanklik is van die konteks. Smake en voorkeure kom ooreen namate die bevrediging min individuele variasie toon, geredelik kultureel beheer kan word en in verskillende omstan­dighede redelik stabiel bly. Voorkeure uit die eerste groep lyk dus “subjektief”, “eksentriek” en “wispelturig”. Voorkeure uit die tweede groep lyk daarteenoor “rasioneel” en “natuurlik”. Hulle is kortom intrinsieke waardes. ‘n Toevallige saamval van voorkeure word dus as getuienis van non-kontingensie aangevoer.

 

Omdat so ‘n groot klomp veranderlikes hier op die spel is, kan alle grade van divergensie en konvergensie van oordele verwag word, soos die evalueringsgeskiedenis van die literatuur inder­daad toon. Daarmee is tegelyk ook die wye variasie van literêre waardeoordele verklaar.

 

Binne die gemeenskap is daar egter instansies wat uiterste afwykings in toom hou en die kontingensie van die waardes verberg. Dit word egter steeds teengewerk deur ‘n meganisme wat die noodsaak van divergensie erken. Die verskillende gesaghebbende evalueringsinstansies moet van tyd tot tyd argumente aanvoer vir die geldigheid van die gemeenskap se voorkeure en smake. Dit kom eintlik neer op die standaardisering van sekere kontingensies en die stigmatisering van ander.

 

Hierdie stabilisering van waardes vind plaas deur sekere funk­sies van literatuur as gepas en normaal te bestempel en ander as afwykend, deur sekere omstandighede voor te skryf waaronder op die gepaste manier met die objek omgegaan kan word en deur bepaalde subjekte as die ideaal voor te hou en ander subjekte se vermoëns, ens., in twyfel te trek.

 

Van die ideale kritikus word ‘n ideale oordeel en heel besondere vermoëns verwag. Daarbenewens moet hy ook volkome bevry wees van enige vooroordeel of belang, d.w.s. van enige basis waarop waarde berus. Hy is daarom die teenhanger van die ideale leser in die leesteorie.

 

Die implikasie hiervan is dat evaluering onlosmaaklik is van die ervaring self. Om te leef en om te ervaar is om te evalueer, om voor- en nadele teen mekaar op te weeg, om die koste of voordeel van bepaalde optredes te bepaal. Dit beteken ook dat evaluering radikaal konteksafhanklik word. Evaluerings is dus altyd beoordelings van kontingente waarde, sterk afhanklik van die verhouding tussen die evalueerder en sy gehoor en die belange wat in so ‘n situasie op die spel is. (Smith twyfel selfs of mens van iets soos ‘n eerlike mening kan praat.) Evaluering moet dus sterk gekontekstualiseer word. Die pogings om die logiese struktuur van evaluerings te bepaal en hulle geldigheid daaruit af te lei, kan dus beskou word as pogings om die konteksafhanklikheid van evaluering te ontduik (net soos die leerstuk van die ou­tonomie van die literêre werk beskou kan word as ‘n poging om die konteksafhanklikheid van die literêre werk te ontduik).

 

Die vraag na die geldigheid van evaluering is dus irrelevant. Evaluerings kan nie eenders wees nie, omdat hulle kontingent is, gepas is binne spesifieke situasies. Hulle het dus nie ‘n abstrakte waarheidsgehalte nie.

 

Smith skryf die blywende werking van werke toe aan die kul­turele reproduksie van waardes. Die “werklikheid” is reeds enigermate met waardes gelaai, omdat klassifikasie reeds evaluering insluit. Literatuur en kuns is begrippe met hoë positiewe waarde. Daar is egter ook sosiale meganismes wat daarop gemik is om die “gepaste waardes” van literatuur en kuns te handhaaf en oor te dra deur (minstens aan ‘n subbevolking) die “korrekte respons” en die “noodsaaklike agtergrond” te leer en hulle “smaak te ontwikkel.

 

Smith meen dat die kanonisering van ‘n werk tot “klassiek” of “wêreldliteratuur” nie toegeskryf kan word aan sameswerings van die establishment of die voortgesette waardering van die tydlose waardes van ‘n onveranderlike objek nie. Dit is eerder die resultaat van ‘n kontinue reeks interaksies tussen ‘n veranderlike ob­jek, die menslike subjek, eksterne voorwaardes en meganismes van kulturele seleksie en oordrag. Hierdie interaksies is analoog aan die meganismes waardeur biologiese spesies evolueer en voortbestaan en die meganismes waardeur artistieke keuses ontwikkel en deur die kunstenaar geldig bevind word.

 

Die artistieke proses is ‘n proses van voortdurende aanvaarding en verwerping, probeer en hersien; kortom, van evaluering. Die werk is uiteindelik nie die voltooiing van die proses nie maar die punt waarop die kunstenaar die werk laat vaar, omdat dit nie verdere moeite loon nie.

 

‘n Soortgelyke proses van balansering van belange en die uiteindelike uitputting van hulpbronne vind by die leser en kritikus plaas. Die skrywer se werk prefigureer die werk van die leser deurdat hy vooraf die reaksies van sy onderskeie gehore bereken of dit voorafskadu. Elke literêre werk is kortom die resultaat van ‘n komplekse terugvoerlus wat die skrywer en sy veronderstelde ge­hore (van nou of van die toekoms) se veranderlike persoonlike ekonomieë insluit.

 

Daarby moet nog kom al die implisiete evalueringshandelinge van diegene wat die werk publiseer, koop, bewaar, vertoon, aanhaal, vertaal, opvoer en navolg, of dit nou formeel of informeel geskied. Veral akademiese aktiwiteite speel ‘n belangrike rol in die produksie van literêre waarde deur werke te bekroon, artikels daaroor te skryf of te laat skryf, bloemlesings saam te stel of inleidings, leerplanne en leeslyste op te stel. Daardeur word die werk onder die aandag van die bevolking gebring (of gehou).

 

Hierdie siening maak duidelik waarom kritici oor heelwat kulturele mag beskik en nie net waarde bepaal nie maar ook waarde produseer. Boonop bevorder hulle, deur sekere werke uit te skakel of as nie- of paraliterêr te klassifiseer, sekere definisies van literatuur, sekere aannames oor die wenslike funksies en oor die be­lange van lesers daarvan.

 

‘n Werk word onmiddellik aanvaar wanneer dit op ‘n spesifieke tydstip vir ‘n sekere groep subjekte sekere gewenste funksies besonder goed vervul. Dit doen hy kragtens sy “inherente” eienskappe soos hulle deur verskillende subjekte (binne hulle eie besondere ekonomieë) gestel of vooropgestel word. Die outeur is een van hierdie subjekte: sy planne en ontwerpe speel ‘n rol daarin. Aan die ander kant is die “struktuur”, “eienskappe” en “betekenisse” van die werk nie vas of konstant nie maar die veranderlike resultaat van die interaksie van ‘n subjek daarmee. Dat hy die gewenste funksies goed vervul, gee aan so ‘n werk ‘n onmiddellike “voortbestaansvoordeel”, omdat dit, in vergelyking met ander werke, meer dikwels gelees, opgevoer, herdruk, aangehaal, vertaal, nageboots of gekommentarieer, kortom, kultureel gereproduseer sal word.

 

Deur veranderde omstandighede, deurdat ander funksies belangrik word, kan ‘n werk “uitsterf”. ‘n Werk kan egter ook in ‘n later stadium gewenste funksies van daardie tyd goed begin ver­vul en dan as “vergete meesterwerk” tot die kanon toegevoeg word. Dan word waarskynlik ander funksies en ander eienskappe van die werk relevant.

 

Wanneer ‘n werk egter oor ‘n redelike lang tydperk sekere funk­sies goed bly vervul (of dit nou die oorspronklike funksies is al dan nie), raak dit gekanoniseer. Dan is dit om twee redes beskerm teen verdwyning. Eerstens word ongewenste eienskappe en die tydsgebondenheid van die werk onderdruk. Dinge wat ideolo­gies onaanvaarbaar is, word bv. tot ‘n meer universele vlak verhef. Die onlangse kuising van negatiewe raswoorde in Leroux se werk is ‘n voorbeeld daarvan.

 

Tweedens begin die kanonieke werk die funksies van ‘n kanonieke werk vervul en word dan daarom gewaardeer: as getuie van vergane glorie, as draer van gemeenskapsbelange (en dus as bron van gemeenskapsidentiteit), as reservoir van kulturele erfgoed en as maatstaf. Die werk oorleef dan nie net binne die kultuur nie maar vorm die kultuur self ook. Sodoende skep dit die voorwaardes vir sy eie voortbestaan.

 

Die “toets van die tyd” is dus nooit iets onpersoonliks nie maar die resultaat van die optrede van individue binne kulturele instellings, gewoonlik dominante individue wat tot die heersende klas behoort. Daarom neig die werke wat heersende waardes en ideologieë weerspieël om beter voort te bestaan, al skyn hulle ook bestaande waardes te “bevraagteken”. Dit is juis die funksie van anti-establishmentkritici om kanonieke werke te interpreteer as sou hulle heersende waardes en belange radikaal en effektief ondermyn. So dra hierdie kritici ook by tot die kulturele reproduksie van werke.

 

Natuurlik bepaal die behoeftes, belange en doelwitte van kultureel dominante persone nie uitsluitlik watter werke sal voortleef nie. Daar is ook die hele meganisme van folklore en “informele” oordrag en seleksie (wat egter in interaksie met die meer “aka­demiese” en polities magtiger stelsels opereer).

 

Blywende of laat werking van ‘n werk is dus nie tekens van ‘n werk se waarde nie maar eintlik die oorsprong daarvan. Literêre waarde word voortdurend geproduseer en gereproduseer deur die implisiete en eksplisiete prosesse van evaluering.

 

Smith se siening van evaluering plaas die subjek en sy waarde­sisteem (waarde-ekonomie) in die sentrum, maar situeer dit in die groter sosiale konteks waardeur die persoonlike waardesisteem gerig, gestuur en beheer word. Smith erken die kontingensie van waardes radikaler as Jauss of Mukařovsý, maar stel ook ‘n reeks aantreklike hipoteses (weliswaar literatuursosiologiese hipoteses) wat verder nagevors kan word. Natuurlik is die eksplisiete ekonomiese metafore (“persoonlike ekonomie”) soms steurend. Tog open dit nuwe moontlikhede vir die studie van evaluering. Aantreklik is die klem wat Smith lê op die literatuurskeppende en reproduserende arbeid van die literator. Dit gee aan die literator se arbeid nuwe betekenis. Dit is ook waardevol dat Smith die aandeel van die individu in die evalueringsproses beklemtoon. Evaluering is vir haar nie ‘n kwessie van bopersoonlike kragte nie maar van die beslissings van individue (weliswaar sosiaal be­heer en gestuur).

 

Die argument hierteen is die ideologiekritiese argument dat individualiteit (en selfs subjektiwiteit) die produk is van sosiale kondisionering en daarom eintlik ‘n valse bewussyn verteenwoordig. Volgens die IDEOLOGIEKRITIEK is die literatuur self en die evaluering daarvan ook verslawend, self ‘n slaaf van die kapitalistiese markmeganismes, uitgelewer aan (of doelbewus bereken op) die bestendiging van die klassestelsel en die valse (burgerlike) be­wussyn. Die voortdurende verandering van waardes word toegeskryf aan die invloed van die mark wat voortdurend nuwe produkte verg. Daardeur word inherente waardes van werke bv. deur hulle ruilwaarde (die prys wat hulle op die mark behaal) vervang. Al oplossing daarvoor sou wees om werke te produseer wat nie in die markekonomie opgeneem kan word nie, omdat hulle hulle daarteen verset. Dit is ‘n interessante variant van die outonomie-argument waardeur ook gepoog is om die literatuur aan die mark­ekonomie te onttrek.

 

Smith se voorstel is ryker en komplekser as hierdie eensydige soort ekonomiese siening. ‘n Literatuursosiologiese siening van evaluering lyk tans na die omvattendste en geskakeerdste siening waaroor ons beskik, al lê dit nog te veel klem op “objektiwiteit” en “kontroleerbaarheid”.

(Vgl. ook LITERATUURKRITIEK en KANONS EN KANONISERING.)

 

Bibliografie

 

Anker, R. et al. 1985. De regels van de smaak. Amsterdam: Nijsen.

 

Anon. 1981. Interpretasie en oordeel. Potehefstroom: PU vir CHO. (Potchefstroomse Studies in Christelike Wetenskap.)

 

Ayer, A.J. 1936/1948. Language, Truth, and Logic. London: Gollanz.

 

Barthes, R. 1973/1975. The Pleasure of the Text. New York: Hill & Wang.

 

Beardsley, M.C. 1958. Aesthetics: Problems in the Philosophy of Criticism. New York: Harcourt, Brace & World.

 

Boonstra, H.T. 1979. Van waardeoordeel tot literatuuropvatting. De gids, 142(4).

 

Botha, E. & Snyman, H. 1986. Program en problematiek. Dur­ban: Butterworth.

 

Buursink, M. Et al. 1967. De wetenschap van het lezen. Assen: Van Gorcum.

 

Eliot, T.S. 1947/1975. Milton I. In: Kermode, F. (ed.). Selected Prose of T.S. Eliot. London: Faber & Faber.

 

Eliot, T.S. 1947/1975.  Milton II. In: Kermode,  F. (ed.). Selected Prose of T.S. Eliot. London: Faber & Faber.

 

Ellis, J.M. 1977. The Theory of Literary Criticism. Berkeley: University of California Press.

 

Frye, N. 1957/1973. Anatomy of Criticism. Princeton, N.J.: Prince­ton University Press.

 

Gräbe, I. 1983. Die Afrikaanse literêre kritiek vandag. Standpunte, 34(5).

 

Harty, E.R. 1972. The structure of critical judgments. M.A.-thesis, UNISA, Pretoria.

 

Hernadi, P. (ed.). 1981. What is Criticism? Bloomington: Indiana University Press.

 

Hirsch, E.D. 1969. Privileged criteria in literary evaluation. In: Strelka, J. (ed.). Problems of Literary Evaluation. University Park: Pennsylvania State University Press.

 

Jauss, H.R. 1967. Literatuurgeschiedenis als een provocatie voor de Literatuurwetenschap. In: Buursink, M. Et al. De wetenschap van het lezen. Assen: Van Gorcum.

 

Johl, R. 1986. Kritiek in krisis. Durban: Butterworth.

 

Kermode, F. (ed.). 1947/1975. Selected Prose of T.S. Eliot. Lon­don: Faber .& Faber.

 

Kermode, F. 1989. History and Value. Oxford: Clarendon.

 

Lefevere, A. 1986. Power and the canon, or: How to rewrite an author into a classic. Tydskrif vir literatuurwetenskap, 2(2).

 

Mecklenburg, N. (Hrsg.). 1977. Literarische Wertung. Tübingen: Deutscher Taschenbuch.

 

Mooij, J.J.A. 1979. De motivering van literaire waardeoordelen. In: Mooij, J.J.A. Tekst en lezer. Amsterdam: Athenaeum.

 

Mooij, J.J.A. 1982. De waarde van literatuur. Forum der lette­ren 23(1).

 

Mukařovský, J. 1936/1970. Aesthetic Function, Norm and Value as Social Facts. Ann Arbor, Mich.: Michigan Slavic Contributions.

 

Segers, R.T. 1978. The evaluation of literary texts. Lisse: De Ridder. (Studies in Semiotics 22.)

 

Shusterman, R. 1984. The Object of Literary Criticism. Amster­dam: Rodopi.

 

Smith, B.H. 1988. Contingencies of Value. Cambridge: Harvard University Press.

 

Stevenson, C.L. 1963/1950. Interpretation and evaluation in aes­thetics. In: Black, M. (ed.). Philosophical Analysis. Englewood Cliffs, N.J.: Prentice-Hall.

 

Strelka, J. (ed.). 1969. Problems of literary evaluation. Univer­sity Park: Pennsylvania State University Press. (Yearbook of Com­parative Criticism II.)

 

Van der Paardt, W.J. 1980. Absolutisme en relativisme: Postma en Segers. Spektator, 9(6).

 

Van Rees, K. 1985. Consensusvorming in de literatuurkritiek. In: Anker, R. et al. De regels van de smaak. Amsterdam: Nijsen.

 

Venter, L.S. 1983. Die Afrikaanse literêre kritiek vandag. Standpunte, 34(5).

 

Verdaasdonk, H. 1985. Inleiding: de regels van de smaak. Reproduktie en inovatie binnen de literatuurkritiek. In: Anker, R. et al. De regels van de smaak. Amsterdam: Nijsen.

 

Weitz, M. 1957/1977. The philosophy of criticism. In: Mecklen­burg, N. (Hrsg.). Literarische Wertung. Tübingen: Deutscher Tashenbuch.

 

Winters, Y. 1947/1960. In Defense of Reason. London: Routledge & Kegan Paul.

Hein Viljoen