IDEOLOGIE

Hamilton (1987) onderskei 27 komponente van definisies van die woord ideologie. Daar bestaan veel meer definisies – hy het self 85 bronne geraadpleeg – maar volgens Hamilton kan hulle almal gerangskik word volgens 27 komponente wat die empiriese raamwerk vorm met behulp waarvan hy sy eie definisie formuleer. Hy wys op die teorie-geladenheid van die definisies en beweer dat hy self so deskriptief as moontlik te werk wil gaan in die vasstelling van daardie elemente wat sogenaamd “essensieel” is tot die konsep.

Die metode wat ek gaan volg, is om ʼn paar gebruike van die woord aan te stip. Ek doen dit op die veronderstelling dat “the meaning of a word is the use of a word in a context”. Dit beteken dat ek gewillig is om te kyk na wat daar met die woord gedoen word en aan die hand daarvan vas te stel in watter mate hierdie verskeidenheid van gebruike ʼn verskeidenheid van perspektiewe kan open op die begrip ideologie.

Ideologie word verbind met die feit dat die ervaring van die mens nie onmiddellik is nie, maar middelik, nie chaoties nie, maar gestruktureer. Hierdie strukturering kan op verskillende maniere beskryf word. Ek kies vir die doel van hierdie bespreking die beskrywing van strukturering in terme van ʼn stel opvattings – “a set of  beliefs” – wat onvermydelik deel is van die manier waarop die mens die wêreld verstaan. ʼn Mens kan bewus wees van sy stel opvattings en dit tema van ʼn gesprek maak, maar gewoonlik funksioneer dit onbewus omdat dit die handige verwysingsraamwerk is met behulp waarvan die wêreld geartikuleer word. Die feit dat die stel opvattings gewoonlik bewus funksioneer – dink maar aan Fish se formulering “what we believe and what believes in us” om sowel die aktiewe as passiewe aard van die mens se betrokkenheid by sy opvattings te tipeer – kan een rede wees waarom die woord ideologie hierop van toepas­sing gemaak word. Daar word soms verwys na ideologie as die onbewuste kategorieë waardeur die wêreld vir die mens toeganklik gemaak word.

In die politieke filosofie kom hierdie eerste gebruik van die woord dikwels voor in ʼn gewysigde vorm. Deur die idee van handelinggerigtheid by te voeg, kry ons die bekende definisie “ideology is an action oriented set of beliefs”. Die basiese idee van “set of beliefs” bly behoue en dit word oopgelaat in watter mate dit bewus of onbewus funksioneer.

ʼn Tweede gebruik van die woord ideologie is die toepassing daarvan op die waarde-geladenheid van woorde in ʼn stel opvattings. Wat die stel opvattings ideologies maak, is dan die feit dat daar ʼn bepaalde gewig aan woorde gegee word wat dui op ʼn voorkeur vir sekere betekenisse bo ander. Indien woorde voorkeure beliggaam, so word gesê, is hulle nie net beskrywend nie maar ook voorskrywend. Deur dit as ideologie te tipeer, word geen negatiewe konnotasies daaraan geheg nie. Die aandag word bloot gevestig op die aspek van preskriptiwiteit wat in die woord lê.

ʼn Derde gebruik van die woord ideologie bring wel ʼn negatiewe evaluering in die spel. Hierdie gebruik beklemtoon die feit dat ʼn stelling gemaak word wat die indruk skep dat dit ʼn feitelike stelling is, maar eintlik verberg dit ʼn normatiewe stelling. Bekend is Bergman (1951) se formulering: “An ideological state­ment is a value judgement disguised as, or mistaken for, a statement of fact”. Die liberalis se uitspraak: “Man is born free, but everywhere he is in chains” kan hier as voorbeeld dien. Die belangrikheid van die waarde van vryheid word hier verkondig, maar die indruk word geskep dat ʼn objektiewe toedrag van sake beskrywe word. Die beskrywende vorm van die sin verberg die voorskrywende inhoud. Die METAFOOR van verberging dui op ʼn vorm van misleiding en dit kan slaan op die feit dat die intensie is om doelbewus te mislei of dat die persoon self ook mislei word deur die vorm van die uitspraak.

ʼn Vierde gebruik van die woord ideologie sluit hierby aan en gee ʼn nog skerper negatiewe tipering van die betekenis. Die konsep van verberging word vervang deur die idee van verdraaiing. Wat ʼn stelling ideologies maak, is die feit dat dit bestaan in ʼn verdraaiing van die werklikheid Dit kan sowel as ʼn bewuste of onbewuste handeling beskryf word. Die taak van die wetenskap is om hierdie verwringing te ontmasker deur ʼn eksakte beskrywing van die werklikheid te gee. Marx se tipering van ideologie as ʼn “valse bewussyn” hoort hier tuis. ʼn Voorbeeld van hierdie taalgebruik is die volgende: “Ideology refers to a distorted kind of consciousness which conceals contradictions” (Stofberg, 1989: 17).

ʼn Vyfde gebruik – ook negatief – van die woord ideologie be­staan in die verbinding van die aspek van verdraaiing met die feit dat die belange van ʼn bepaalde groep gedien word deur hier­die taalgebruik. Of die groep daarvan bewus is of nie, die stel opvattinge van die groep is tot voordeel van daardie groep. Die taak van IDEOLOGIEKRITIEK is om die rol van belange in die formulering van standpunte aan te toon. Hierdie gebruik van die woord ideologie berus op die gedagte dat die ervaring nie net gestruktureer is deur opvattinge wat waarde-gelaai is nie, maar dat gestruktureerde ervaring ook sterk met die praktyk verweef is. Die aspek van die praktyk wat hier beklemtoon word, is die belange van die persoon wat deur die interpretasie gedien word. Thompson (1984: 148) wys in dié verband na ideologie as “a sys­tem of signification which facilitates the pursuit of particular in­terests”.

ʼn Sesde gebruik – ook negatief – sluit by die belange-teorie aan en identifiseer dié belange primêr as klasbelange. Marx gebruik die woord ideologie om die manier te beskryf waarop die heersersklas sy eie belange dien deur ʼn verdraaiing van die sosiale werklikheid. “Ideology serves the interests of the dominant class and hides the true relations between classes and thus legiti­mates the class structure, in fact the whole social structure” (Stof­berg, 1989: 17). Die woord kry hier ʼn sterk politieke lading deurdat dit ʼn funksie word van die asimmetriese magsverhoudinge in die samelewing. ʼn Adekwate literatuurwetenskap sou dan die taak hê om hierdie verdraaiing te ontmasker en sodoende te help om regverdige magsverhoudinge te bewerkstellig.

ʼn Sewende gebruik van die woord ideologie erken die feit dat ideologie belange dien, maar wys dit nie sonder meer as negatief af nie. Die vraag moet gestel word na die aard van die belange. Indien die belange dié is van onderdrukking, in watter vorm ook al, funksioneer dit negatief. Indien die belange dié is van bevryding, in watter vorm ook al, funksioneer dit positief.

Die sewe gebruike van die woord ideologie kan gereduseer word tot drie hoofkomponente. Die eerste twee gebruike kan verbind word onder die positiewe aspek van waarde-geladenheid. Gebruike drie en vier val onder die negatiewe aspek van verberging terwyl nommer vyf die aspek van belange-verbondenheid introduseer. Gebruike ses en sewe ressorteer beide onder belangeverbondenheid en kan òf net negatief getipeer word as verberging van klasbelange, òf beide negatief en positief afhangende van die feit of ʼn verbinding gelê word met die idee van dominasie of met die idee van emansipasie. Die drie hoofkomponente is dus waarde-geladenheid, verbergingsfunksie en belange- verbondenheid.

Onder die aspek van waarde-geladenheid kan probleme soos die feit-waarde-dichotomie, die POSITIVISME -stryd en die ideaal van ʼn waardevrye sosiale wetenskap aan die orde gestel word. Vergelyk in hierdie verband die opstel van J. Mouton (1986) “The ideal of a value-free social science: Five theses”.

Onder die aspek van die verbergingsfunksie ressorteer probleme soos die verband tussen deskriptiwiteit en preskriptiwiteit, die wyse waarop normatiewe oordele aangebied word as feitelike stellinge en Marx se teorie van ideologie as valse bewussyn.

Onder die aspek van belange-verbondenheid word daar gewoonlik ʼn groot verskeidenheid probleme bespreek. Ek het reeds genoem die negatiewe interpretasie deur Marx op grond van sy reduksie van ideologie tot die valse bewussyn van die heersersklas wat dit vir hierdie klas onmoontlik maak om die sosiale werklik­heid korrek te interpreteer omrede die eie klasbelange wat alle insigte onvermydelik oorheers. ʼn Meer positiewe probleemstelling is egter ook moontlik deurdat ideologie verbind word met belange maar dan belange wat òf negatief met die waarde van onderdruk­king verbind word, òf positief met die waarde van bevryding.

Onder hierdie aspek ressorteer ook probleme soos die politiek van interpretasie, die verband tussen ideologie van DISKOERS, en die institusionalisering van kennis. Wat die politiek van interpretasie betref, is die debat tussen voorstanders van MARXISME en DEKONSTRUKSIE van belang. In my artikel “Marxism and deconstruction” het ek hierdie twee standpunte vergelyk wat betref hulle sieninge van TEKS, geskiedenis, politiek en rewolusie. Veral Dekonstruksie lewer ʼn besondere bydrae met sy siening van INTERTEKSTUALITEIT. Hierdie strategie stel ons in staat om die drie aspekte van ideologie, nl. waarde-geladenheid, verbergingsfunksie en belange-verbondenheid in terme van intertekstualiteit te bespreek. Hiervolgens is skrywer, boek, LESER, konteks, samelewing, poli­tiek en geskiedenis soveel tekste wat inspeel op mekaar en wat geïnterpreteer moet word. Dit bied ons ʼn ruim konteks aan vir die bespreking van die probleem van die ideologie van interpretasie.

Hierdie drie hoofkomponente speel in die LITERATUUR ʼn rol op twee vlakke, nl. op die vlak van die rol en funksie van literatuur en skryf en op die (meta)vlak van die Literatuurwetenskap.

Onder die aspek van waarde-geladenheid kan probleme aan die orde gestel word soos die skeiding tussen feite en waardes en die ideaal van ʼn waardevrye Literatuurwetenskap – iets wat in die literêre wêreld taamlik skepties ontvang word, alhoewel die probleme van waardes en evaluering ʼn geruime tyd lank uit die terrein van die Literatuurwetenskap geweer is. (Vgl. EVALUERING (LITERêRE)). Daar was pogings om die wesenlike waarde-geladenheid van die begrip literatuur te ontken of te versag deur bv. ʼn sg. objektiewe metodologie ontleen aan die taalkunde te volg. Daardeur is die feit verberg dat die literatuur self ook ʼn diskursiewe sisteem is wat berus op redelik onbewuste konvensies, reëls en waardes. Wat literatuur is en wat die objek van die Literatuurwetenskap is, berus op bepaalde keuses op grond van ʼn sekere estetiese ideologie. So kan die leerstuk van die OUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK beskou word as ʼn ideologie wat die literatuur juis wou onttrek aan die terrein van politieke handeling deur ʼn alternatiewe diskursiewe sisteem te vorm, vry van politieke ideologie. Hierdeur is die literatuur egter, in die oë van die Marxiste, uitgelewer aan die klassebelang van die bour­geoisie. Daarom is “literatuur” en “skryf” kategorieë wat ver­bind moet word met die politieke dimensie waarin hulle optree.

Dat die werk van skrywers en studente van die literatuur onteenseglik die een of ander (onbewuste) ideologie dien, beklemtoon egter ook die belang van die vraag: watter waardes moet uiteindelik as deurslaggewend beskou word vir die Literatuurwetenskap? Volgens watter reëls behoort die Literatuurwetenskap homself in te rig of ʼn organisasie soos die Afrikaanse Skrywersgilde sy eie rigting te bepaal? Wat sal uiteindelik as emansiperend beskou word? Waardes is hoogs ter sake in hierdie vrae na die sin en kontekstualisering van die literatuur en die Literatuurwetenskap.

Ook die Literatuurwetenskap streef “objektiwiteit” na, wat as normatiewe beginsel die aard van wetenskaplike kennis bepaal. Waardes speel ook ʼn rol in die bepaling van wat as geldig, waar, koherent of as geverifieerd beskou word. Paradigmas en hipoteses kan beskou word as regulerende beginsels vir die organisasie van die Literatuurwetenskap.

Onder die aspek van verberging ressorteer vrae soos die mate waarin die literatuur die draer of verkondiger van ʼn valse (klasse)bewussyn is of bydra tot die bestendiging van ʼn ongewenste status quo. Daar kan geredeneer word dat die literatuur van ʼn bepaalde tydperk ʼn hipnotiese of sisteembevestigende rol speel wat voorkom dat die leser die werklike toedrag van sake leer ken. So ʼn ESTETIKA VAN IDENTITEIT word veral beskou as ʼn eienskap van die sg. TRIVIAALLITERATUUR.

Hierdie aspek is onlosmaaklik van die aspek van belange-verbondenheid, wat op die gebied van die literatuur veral bekend staan as die probleme van BETROKKE LITERATUUR, betrokke skryf en die sosiale legitimering van die Literatuurwetenskap. Met betrokkenheid word van die skrywer ʼn bewuste keuse vir ʼn bepaalde belange-verbondenheid geverg – terwyl daar tog nog aanvaar word dat mens kan onderskei tussen literatuur en propaganda, tussen eise om betrokkenheid en sensuur.

Amper noodwendig is die literatuur en Literatuurwetenskap verbonde aan Westerse belange. As sodanig kan dit dan beskou word as eurosentries, dienskneg van die onderdrukkers, ʼn interteks gevorm en gevoed deur honderde tekste van onderdrukking, Westerse meerderwaardigheid, kolonisering. Klopper (1987) toon oortuigend aan dat die Suid-Afrikaanse (Engelse) literatuur wel deeglik sulke intertekstuele skakels met die Europese onderdruk­king en eksploitasie van Afrika het. In Pringle se “Afar in the desert” verlustig die spreker hom bv. in die suiwerheid en eensaamheid van die woestyn, maar dra siek koloniale houdings met hom saam waardeur die “silent Bush-boy alone by (his) side” stilgemaak en uiteindelik vergeet word en die landskap beklee word met die “law of violence” van die pionier-kolonis. Oor sy geweer se korrel sien hy Afrika as ʼn omgekeerde Eden, en dra sodoende (volgens Klopper) by tot die verwoesting i.p.v. die verlossing van Afrika.

Die literatuur se verbondenheid met Westerse belange kan egter nie as volkome negatief beskou word nie. Immers, ʼn verbon­denheid aan Westerse belange veronderstel o.a. ook verbonden­heid aan die idee van bevryding.

Hierdie dilemma van die Westerse intellektueel in Afrika is in die debat tussen André P. Brink en die sg. Noordelike Mafia skerp verwoord deur Marianne de Jong (1989):

Hoe ontsnap ʼn mens aan jou burgerlike-liberale erfenis omdat jy ontdek dat die erfenis vals geword het en onreg in stand hou terwyl die ontdekking self berus op burgerlik-liberale selfkritiek en bevrydende kopwerk as tradisie?

Ideologie as positiewe belange-verbondenheid hou in dat die literatuur ʼn emansiperende funksie kan hê, kan help bevry uit werklike en ideologiese verslawing. Dat dit in konkrete historiese situasies nie altyd so maklik is om te bepaal watter soort skryfwerk nou wel emansiperend is nie of wat die juiste waardes is wat nagestreef moet word nie, is ongelukkig ook waar.

 

Bibliografie

Bergman, G. 1951. Ideology. Ethics, 61.

Degenaar, J. 1989. Marxism and deconstruction. Journal of Liter­ary Studies, 5(2).

De Jong, M. 1989. Debat sonder onderwerp. (Brief) De Kat, Nov.

Hamilton, M.B. 1987. The elements of the concept of ideology. Political Studies, 35.

Klopper, D. 1987. Ideology and the study of South African English poetry. Journal of Literary Studies, 3(4).

Larrain, J. 1979. The Concept of Ideology. London: Hutchinson.

Pringle, T. 1981. Afer in the desert. In: Chapman, M. (ed.). A Century of South African Poetry. Johannesburg: Ad. Donker.

Ricoeur, P. 1983. Hermeneutics and the Human Sciences (transl. J.B. Thompson). Cambridge: Cambridge University Press.

Ricoeur, P. 1984. Ideology and ideology critique. In: Waldenfels, B. et al. (eds). Phenomenology and Marxism (transl. J.C. Evans). London: Routledge.

Stofberg, J.A. 1989. Objectivity and ideology. Southern African Journal of Philosophy, 8(2).

Thompson, J.B. 1984. Studies in the Theory of Ideology. Cam­bridge: Polity Press.

Van Straaten, Z. (ed.). 1987. Ideological Beliefs in the Social Sciences. Pretoria: Human Sciences Research Council.

 

Johan Degenaar (met redaksionele toespitsing op die literatuur en Literatuurwetenskap)