POSITIVISME EN LOGIESE POSITIVISME

Die begrippe positivisme en logiese positivisme, asook verwante begrippe soos “neo-positivisme” en “logiese empirisme”, verwys in die eerste plek na ‘n bepaalde standpunt (met verskeie variasies) oor kennis (epistemologie) en in besonder wetenskaplike kennis (wetenskapsfilosofie). Dog die begrippe is, en word, ook in ‘n breër verband gebruik om te verwys na ‘n bepaalde werklikheidsopvatting (ontologie). Begrippe wat dikwels met positivisme geassosieer word, sluit in: “sciëntisme”, “fenomenalisme” en “verifikasionisme”. Hoe hierdie begrippe met positivisme verband hou, sal ook kortliks bespreek word.

 

Ten spyte van die verskeie historiese vorme waarin die positivisme voorgekom het, kan drie sleuteltemas wat wesenlik aan positivisme is, uitgelig word.

1.         Die aanvaarding van ‘n empiristiese kenteorie.

2.     Die standpunt van metodologiese Naturalisme.

3.        Die geloof in die vooruitgang van die menslike rede.

In die bespreking van elkeen van hierdie temas, sal ook aandag gegee word aan die belangrikste historiese eksponente daarvan. In hierdie verband is drie periodes van besondere belang:

·       die Franse positivisme van die 19e eeu (Saint-Simon, Comte en Durkheim);

·       die logiese positivisme en logiese empirisme;

·       die positivisme in die sosiale wetenskappe.

1.    ‘n Empiristiese kenteorie

Sedert sy vroegste wortels in die werke van die Britse empiriste, was die positiviste verbind tot die basiese stellings van die empirisme, nl. dat alle menslike kennis gebaseer is op die menslike ervaring, d.w.s. op empiries waarneembare indrukke (“impressions”) en dat alle stellings wat die mens maak, uiteindelik getoets moet word in hoe ‘n mate dit ooreenstem met empiriese ervaring. Kolakowski (1972) noem dit die reël van fenomenalisme: “Ons is slegs daarop geregtig om dit wat werklik in ervaring uitgedruk word, neer te skryf'”.

 

Dit is hierdie beheptheid of selfs obsessie met die empiries voor-die-hand-liggende, wat verder daartoe lei dat positiviste deur die eeue ‘n fundamentele afkeur het in die metafisika. In die metafisika waag die mens verby die ooglopende, die waarneembare, en maak riskante uitsprake oor sg. dieperliggende essensies en entiteite.

 

Die positivis en dit verduidelik die oorsprong van die term — bepaal hom slegs by die positiewe (d.w.s. gestelde en sekere, Lat.: posita) feite.

 

Dit is in hierdie oorspronklike sin dat die begrip positivisme deur Henri Saint-Simon en Auguste Comte gebruik is. Die volgende gedeelte uit Saint-Simon (1975) stel dit duidelik: “The sciences were at first conjectural because at the beginning of scientific study only a few observations had yet been made, because there had not been sufficient time to examine, discuss and verify these few facts through long experience, and because they were only presumed facts, conjectures. They had to become, they will become positive because through its daily experience the human mind acquires knowledge of new facts and rectifies its knowledge of facts which it observed earlier …” (1975: 112).

 

Dit is ook hierdie betekenis van positivisme wat die assosiasie met “verifikasionisme” verklaar. Die beginsel van verifieerbaarheid, soos in deur die logiese positiviste van die Weense Sirkel geformuleer, stel dat alle wetenskaplike stellings in beginsel empiries verifieerbaar moet wees. Anders gestel, elke stelling in die wetenskap moet op een of ander wyse uiteindelik herlei kan word na ‘n stelling wat verwys na ‘n waarneembare stand van sake.

 

Soos in die geval van die 19e-eeuse positivisme, was die belangrikste beweegrede met die formulering van die verifieerbaarheidskriterium om alle metafisiese stellings, in besonder teologiese uitsprake en normatiewe, morele uitsprake, uit die wetenskap te weer. In hierdie proses het die logiese positivisme sigself gewend na die ontwikkelinge op die gebied van die formele logika. Hier vind dit veral aansluiting by die werke van Frege, Russell en die vroeë Wittgenstein. Met behulp van die nuwe instrument van logiese analise (vandaar die logiese positivisme), kan die nodige afgrensing tussen wetenskaplike en metafisiese stellings nou vir die eerste keer in die geskiedenis bewerkstellig word.

 

2.   Metodologiese naturalisme

Sedert die werke van Thomas Hobbes, Adam Smith, die 19e-eeuse Franse positiviste en verskeie andere, was metodologiese naturalisme ‘n integrale leerstelling van die positivisme. Volgens hierdie leerstelling is en behoort die geesteswetenskappe die metodologie van die natuurwetenskappe te volg. Hierdie tesis beweer nie dat die natuur- en geesteswetenskappe inderdaad presies dieselfde tegnieke en metodes gebruik nie — dit is kennelik absurd. Wel word beweer dat breë metodologiese aannames oor die belangrikheid van kwantifisering en meting, die aard van objektiwiteit en die oogmerke van ‘n kousaal-veralgemenende wetenskap deur natuur- en geesteswetenskaplikes gedeel kan en behoort te word.

 

Dit is belangrik om daarop te wys dat nie alle positiviste hierdie besondere leerstelling ewe radikaal geïnterpreteer het nie. Vir Comte het dit daarop neergekom dat die sosiale wetenskappe die metodes van eksperimentering (wat eie aan die astronomie en chemie is), sowel as die metode van vergelyking (wat eie aan die biologie is), ook moes gebruik. Anders as die logiese positiviste, wou hy egter nie die metodologie van die sosiale wetenskappe reduseer tot dié van die natuurwetenskappe nie. Laasgenoemde was egter die standpunt wat deur ‘n persoon soos Rudolf Carnap in verskeie artikels in die 1930’s verdedig is. Carnap was van mening dat fisika die universele wetenskapstaal moes word en dat alle ander vakterminologie, insluitend die van dié sosiale wetenskappe, na dié van die fisika gereduseer moes word. Hierdie spesifieke vorm van metodologiese monisme staan ook bekend as “fisikalisme”. Vanuit die kant van die neo-Marxiste (Adorno, Horkeimer e.a.) het die aanvaarding van hierdie tesis ook daartoe gelei dat die positiviste daarvan beskuldig is dat hul “scientiste” is, d.w.s. dat hulle glo dat slegs wetenskaplike kennis geldige kennis is.

 

Wat wel waar is, is dat die meerderheid logiese positiviste die ideaal van ‘n eenheidswetenskap deel. Dit vind o.a. neerslag in ‘n versamelreeks onder die titel van die International Encyclopedia of Unified Science wat tot in die vroeë sestigerjare verskyn het.

 

Alhoewel die ekstreme vorm van metodologiese reduksionisme nie deur alle positiviste gedeel is nie, kan wel gestel word dat die invloed wat die positivisme in die Amerikaanse sielkunde en sosiologie na die Tweede Wêreldoorlog gehad het, grotendeels die resultaat was van die breë aanvaarding van die leerstelling van metodologiese naturalisme. Belangrike navolgers van hierdie ideaal, soos Lundberg en Lazarsfeld, het geglo dat die sosiale wetenskappe in breë terme die metodologiese ideale van die natuurwetenskappe moes navolg. Dit is o.a. weerspieël in die aanvaarding van die volgende metodologiese stelreëls:

  • dat menslike gedrag kwantifiseerbaar is;
  • dat die doel van wetenskapbeoefening is om algemeen-geldige wette van menslike gedrag te formuleer;
  • dat objektiwiteit in navorsing ‘n houding van onbevooroordeeldheid en onpartydigheid impliseer.

 Die positivistiese navorsingstradisie in die na-oorlogse sosiale wetenskappe staan o.m. ook bekend as die “kwantitatiewe ortodoksie”, “instrumentele positivisme” of “veranderlike analise”: almal begrippe wat verwys na die basiese leerstelling van metodologiese naturalisme.

 

3.  Die geloof in die vooruitgang van die menslike rede

Die positivisme is ‘n kind van die MODERNISME en deel dan ook daarom die modernistiese geloof in die vooruitgang van die menslike rede en die daarmee gepaardgaande vertroue dat die mens deur die geesteswetenskappe in staat gestel word om ‘n nuwe, wetenskaplik-gefundeerde, maatskappy te vestig.

 

Waarskynlik die eerste omvattende uitwerking hiervan, tref ons aan in August Comte se leer van die wette van die menslike rede. Volgens Comte kan die ontwikkeling van die wetenskappe toegeskryf word aan ‘n fundamentele wet van vooruitgang. Hierdie wet postuleer dat elke kennisveld deur drie opeenvolgende fases gaan: die teologiese (of fiktiewe), die metafisiese (of abstrakte) en die wetenskaplike (of positiewe). In die teologiese fase streef die menslike verstand nog daarna om alle verskynsels in terme van een of ander bonatuurlike wese te verklaar. In die metafisiese stadium aanvaar die menslike rede nou eerder die bestaan van abstrakte kragte en entiteite (bv. “spiriti”) in terme waarvan alles verklaar word. Dit is eers in die wetenskaplike fase dat die mens die futiele strewe na dieperliggende oorsake laat vaar en hom bepaal by die voor-die-hand-liggende verbande tussen verskynsels wat empiries waarneembaar is.

 

Dieselfde modernistiese aanname onderlê die werk van die logiese positiviste. Saam met Comte, en verskeie ander positiviste, soos Herbert Spencer en John Stuart Mill, glo hul ook in die vooruitgang van die menslike rede. Soos by Comte, Spencer en verskeie ander Franse positiviste, was hul ook daarvan oortuig dat die rede, en veral logiese analise, die grondslag van ‘n nuwe wetenskaplike samelewing moes word. Daarom dat hul dan ook in hul manifes van 1928 (“Wissenschaftliche Weltauffassung: Der Wiener Kreis”) skryf dat die nuwe samelewing wat in hul tyd beslag vind, die beginsels van die wetenskaplike wêreldbeskouing beliggaam.

In die literatuur vind die positivisme veral sy uitdrukking in die LITERATUURGESKIEDSKRYWING van die 19e eeu en in die NATURALISME. Die groot, omvangryke literatuurgeskiedenisse van die 19e eeu kan direk teruggevoer word na die neiging om die studie van die literatuur op positiewe feite te baseer, veral dan die race, milieu en moment (oorerwing, omgewing en tydsmoment) wat Taine (1871) so belangrik geag het. Dit lei tot die versameling van massas feite oor die outeur se herkoms, sy omgewing en die epog waarbinne hy werk. En sy tekste word beskou as dokumente, skulpe, “lifeless wrecks”, wat waarde het slegs as leidrade vir die rekonstruksie van sy lewende bestaan en die sentrale morele kenmerke van sy tyd.

 

Zola het in sy Le roman expérimental (1880) die Naturalisme gegrondves op die noukeurige waarneming en op eksperimentering met die feite op die model van die eksperimentele medisyne. Deur die roman as morele eksperiment word die greep van die wetenskap uitgebrei en die vooruitgang van die mens verseker.

 

Ook die klem vandag op ‘n vaster metodologie en ‘n metataal vir die Literatuurwetenskap, verraai die invloed van die positivistiese geloof in objektiwiteit, verifikasie en empirisme.

 

Bibliografie

Achinstein, P. & Barker, S.E (eds). 1969. The Legacy of Logical Positivism. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

 

Bryant, C.A. 1985. Positivism in Social Theory and Research. London: Macmillan.

 

Carnap, R. 1938. Logical foundations of the unity of science. In: Feigl, H. & Sellars, W. (eds). Readings in Philosophical Analysis. New York: Appleton-Century-Crofts.

 

Comte, A. 1974. (1830—1846) The Positive Philosophy (transl. H. Martineau). New York: AMS Press.

 

Giddens, A. (ed.). 1984. Positivism and Sociology. London: Heinemann.

 

Halfpenny, P.J. 1982. Positivism and Sociology. Explaining Social Life. London: George, Allen & Unwin.

 

Kolakowski, L. 1972. Positive Philosophy. Harmondsworth: Penguin.

 

Lazarsfeld, P. 1964. Concept formation and measurement in the behavioral sciences. In: Direnzo, G.J. (ed.). Concepts, Theory and Explanation in the Behavioral Sciences. New York: Random House.

 

Lundberg, G.A. 1964. Foundations of Sociology. New York: David McKay Co.

 

Mouton, J. 1987. Positivisme. In: Snyman, J.J. & Du Plessis, P.G.W. (reds.), Wetenskapbeelde in die geesteswetenskappe. Pretoria: RGN.

 

Saint-Simon, H. 1975. (1813) Memoir on the science of man. In: Saint-Simon, H. Selected Writings on Science, Industry and Social Organisation frransl. K. Taylor). London: Croom Helm.

 

Taine, H. 1871. History of English Literature (transl. H. van Laun). Edinburgh: Edinburgh Academy.

 

Zola, E. 1880. Le roman expérimental. Paris: Charpentier.

Johann Mouton