NATURALISME

Die Naturalisme is sterk verwant aan die REALISME en kan in ‘n sekere sin as die ideologiese komponent van die Realisme beskou word. Die term as sodanig kom van ver en het in die Antieke verlede ‘n begrip geword in die filosofie waar dit verband gehou het met die materialisme en epikurisme (die lewensgenieting van dag tot dag). Naturalisme is ook as term in die beeldende kuns gebruik. Van die 17e eeu af is gepraat van die naturalistiese skool van kunstenaars/skilders. ‘n Naturalistiese skilder het daarna gestreef om ‘n getroue weergawe van die natuur en die dinge wat daarin voorkom op die doek vas te lê. Die mimetiese beginsel seel dus hier ‘n belangrike rol. Furst & Skrine (1971: 4) verwys na die aanvanklike opvatting van die naturalistiese kunstenaar wat die natuur moet reproduseer (reproduire la nature). (Vgl. MIMESIS)

Naturalisme as literêre term is gevestig deur die Fransman Émile Zola (1840—1902). Ook Honoré de Balzac (1799—1850) het ‘n ondersteunende rol by die ontwikkeling van die Naturalisme in sy literêre betekenis gespeel, met sy Comédie humaine, ‘n publikasie in 20 bande, waarin hy verskillende fasette van die daaglikse lewe uitbeeld. Hy het sommige situasies en tonele so realisties uitgebeeld dat mense hulleself daarin herken het. Sy soort realisme het tot heelwat regsgedinge gelei. Baudelaire, wat Balzac tog as ‘n naturalis bestempel het, het aan die naturalis en die Naturalisme ook die betekenis gegee van die bioloog en die biologie, onderskeidelik die mens as wetenskaplike en die wetenskap wat die natuur sorgvuldig waarneem. Soos in die natuurwetenskappe word die mens binne die Naturalisme ‘n objek wat neutraal waargeneem, beskryf en ontleed word. Sy gedrag kan verklaar word soos die werkinge van ‘n masjien verstaan word. Die mens is in dié hoedanigheid ook die produk van sy omgewing, die konkrete en die abstrakte omgewing. Hy is onherroeplik verkleef aan sy verlede en hede en op bevryding daarvan is daar geen hoop nie. Laasgenoemde lei daartoe dat die motief van die noodlot sterk in die Naturalisme na vore kom. In die verband sê R. Chase: “Naturalist doctrine assumes that fate is sometimes imposed on the individual from the outside” (in Furst & Skrine, 1971: 18). Dit hou in dat die slegte én die goeie mens op dieselfde vlak verkeer, nie een van die twee is verantwoordelik vir wat hy is nie. Albei word beheer deur magte (bv. die noodlot) waaroor hulle geen beheer het nie. In hierdie verband word ook verwys na die deterministiese trekke as ‘n kenmerk van die Naturalisme. Dis ook nie verniet nie dat die Naturalisme in die betekenis vanuit die Reformatoriese standpunt beskou is as die denkrigting van die heillose pessimisme. Die Naturalisme het ook ‘n filosofiese onderbou en vind as sodanig aansluiting by die filosofie van Arthur Schopenhauer (1788—1860), wat in sy mensbeskouing tot die gevolgtrekking gekom het dat die mens nie aan lyding kan ontkom nie en dat die lewe uit ‘n aaneenlopende string ontgogelinge bestaan. Vervolgens het Friedrich Nietzsche (1844—1900), as navolger o.m. van Schopenhauer, met sy diagnose van die moderne kultuursituasie as dekadensie en nihilisme én met sy God-is-dood-opvatting, ‘n bydrae tot die ontwikkeling van die Naturalisme gelewer.

Die Naturalisme het, soos reeds aangedui, in Frankryk sy hoofmanifestasie gevind en dan veral in die prosa. Die naturalistiese ROMAN het voortgebou op die tradisie van die groot skrywers van die realistiese tradisie: Tolstoy, Dostoevski, Flaubert en Dickens. Uit hierdie tradisie, tesame met die invloede van die wetenskap en die filosofie, het die naturalistiese literatuur ontwikkel. Die prototipe van die Franse naturalistiese roman is Zola se Thérèse Raquin. Die basiese tema van die werk is so oud soos die literatuur self, nl. ‘n liefdesdriehoek: Thérèse en Laurent, die twee hooffigure, raak verlief op mekaar, terwyl Camille, Thérèse se man, in die pad van hulle liefde staan. Hulle vermoor hom deur hom te laat verdrink en dit na ‘n ongeluk te laat lyk. Niemand vermoed dat dit moord was nie, maar die twee geliefdes word hoe langer hoe meer deur selfverwyt verteer. Dit lei tot hulle selfmoord aan die einde van die roman.

Die tipies naturalistiese lê in die hantering van die onderwerp. Die twee hooffigure word nl. nie as mense met gedagtes, gevoelens en ‘n gewete voorgestel nie, maar as organismes van vlees, bloed en senuwees. Hulle is oorgelewer aan die genade van hulle instinkte wat hulle eers na mekaar toe dryf, en na die moord weer weg van mekaar. Hulle gedrag is bepaal deur twee dinge: deur hulle fisiologiese samestelling wat hulle deur oorerwing verkry het, en deur hulle omgewing. Die aantrekkingskrag wat hulle vir mekaar het, is soos ‘n chemiese reaksie. Die selfverwyt word in die werk nie as iets van die gewete gesien nie, maar dit word bewerkstellig deur ‘n siektetoestand van die liggaam. Hierdie ongesteldheid het na die brein deurgewerk en dit veroorsaak die toestand van intense selfverwyt.

In die voorwoord tot die tweede druk van Thérèse Raquin gee Zola ‘n uiteensetting van sy teorie. Daarin stel hy dat sy hoofdoel van die roman suiwer wetenskaplik was. Dit gaan, volgens Zola, om die studie van ‘n vreemde fisiologiese geval waarin mense gedomineer word deur hulle senuwees en hulle bloed, volledig los van hulle eie vrye wil.

In die Nederlandse letterkunde is die belangrikste eksponente van die Naturalisme Louis Couperus (1863—1923) asook Marcellus Emants (1848—1923). Na ‘n aanvanklike fase van idealisme wend Emants hom tot die Naturalisme en determinisme: “Instede van de mens te zien als vrijwillend en machtig, erkent Emants hem thans als geheel gebonden aan zijn driften. Van de leer der uiterste vrijheid schakelt hij over op een strak determinisme” (Knuvelder, 1967: 31). Sy ongetwyfeld beroemdste naturalistiese werk is Een nagelaten bekentenis (1894). Couperus, van wie Lieve Scheer (1979: 161) sê dat hy met Zola gedweep het, se bekendste romans vertoon duidelike naturalistiese trekke. Hier kan verwys word na sy debuutroman, Eline Vere (1888) en verder na Van oude mensen de dingen die voorbijgaan (1905), Noodlot (1891) en De boeken der Heine zielen (1902). In lg. werk — trouens ook in sy ander werk — tref ‘n mens die tipiese naturalistiese verskynsel van die *dekadensie aan: ‘n trotse familie gaan geestelik en fisiek onder. “Baie lede van die tweede en derde geslag is siek, neuroties, depressief of word kranksinnig. Hoewel die skrywer in die derde geslag. van die familie ‘n nuwe mens skep in die persoon van Addy van der Welcke, wat as ‘t ware aan die banvloek van die familie moet ontkom, slaag Addy uiteindelik ook nie daarin nie. In die laaste deel van die vierdelige roman word hierdie ideale mens weer slagoffer van ‘n erflike kwaal. Die neurose waaraan sy familie ly, word ook deel van sy bestaan — die familiekiem tas hom uiteindelik aan. Aan sy erflike belasting, wat soos ‘n noodlot aan hom kleef, kan hy nie ontkom nie.

Seker die bekendste Nederlandse naturalistiese dramaturg is Herman Heyermans (1864—1924). Een van sy bekendste dramas, Op hoop van zegen (1900), bekend in Suid-Afrika, het die duidelik naturalistiese tendens in sy karakter- en ruimtebeelding en intrige.

Die aansporing tot die ontwikkeling van die naturalistiese drama het veral gekom van die Noorse toneelskrywer Henrik Ibsen (1828—1906). Bekende naturalistiese stukke van Ibsen is Die wilde eend (1884), Rosmersholm (1886), Die vrou van die see (1888) en Hedda Gabler (1890). Ibsen se invloed, wat die naturalistiese drama betref, het ver gestrek. ‘n Belangrike Duitse navolger van die Naturalisme, beïnvloed deur Ibsen, is Gerhardt Hauptman (1862-1946), wenner van die Nobelprys vir letterkunde in 1912. Van sy bekendste werke is Vor Sonnenaufgang (1889), Die Weber (1892) en Florian Geyer (1896).

Ook die Afrikaanse literatuur vertoon spore van die Naturalisme. Dit geld bv. Jochem van Bruggen (1881—1957) met die Ampie-triologie. Ampie, die hooffiguur, is gebore in die moerasse van die armblankedom en kan hom ondanks sy drang na vryheid nie daaraan ontworstel nie. ‘n Mens kan aanvaar dat Van Bruggen d.m.v. sy Nederlandse tydgenote, onder wie Couperus, kennis gemaak het met die naturalistiese tendense. Van Bruggen was by die skryf van Ampie al te geneig om die naturalistiese bewustelik op die werk af te dwing. Die nie altyd aanvaarbare perspektiefverbrekings in die verhaalverloop vestig ‘n mens se aandag daarop, veral wanneer dit kom by die faktor van die erflikheid wat so ‘n belangrike onderdeel van die Naturalisme vorm. Sovestig die verteller veral die aandag op Ampie se geestelike “erfenis” van sy oupa en sy vader wat hy nooit van hom sal kan afskud nie: “… gebore in die gestadige verslegting van ouers het hy die vryheid van ‘n dierlike lewe lief gekry en die dwang van beskawing gehaat …”

‘n Ander bekende Afrikaanse outeur wie se werk onmisbare naturalistiese trekke vertoon, is CM. van den Heever.

Van den Heerver benader nl. die probleme van sy tyd dikwels op ‘n naturalistiese wyse, maar dit wyk af van die suiwer Naturalisme in dié sin dat die Christelike gegewe in sy werke ‘n beduidende rol speel. Die tipiese verskynsel van die oorerwing as bepalend vir die mens se gedrag en lewensloop, ‘n kernbeginsel van die Naturalisme, speel egter wel ‘n belangrike rol in sy werk. Dit is bv. die geval met sy bekendste en bekroonde roman Laat vrugte (1955). In dié roman word bv. verwys na die “dieselfde — harde — hout” waaruit die persone gemaak is. ‘n Belangrike naturalistiese verskynsel by Van den Heever is die invloed van die omgewing op die gedrag en lewensloop van sy figure. Dit word uitgebeeld o.a. in Die held (1948), waar die verhuising na ‘n ander omgewing, die stad, die Aucamp-gesin laat wegdrywe van God en kerk. Ondanks die feit dat die etiese gedragskodes van die wêreld van Kromburg (1937) ingebed is in die tradisionele Afrikanerkultuur met die Christelike godsdiens as vanselfsprekende deel daarvan, vier kwaadpratery en kleinsieligheid hoogty en word die hooffiguur Wenda daardeur verwoes, want “die omgewingsinvloed en magte is in die roman sterker as die individu” (Minnaar, 1966: 145).

‘n Naturalistiese werkwyse wat nie vreemd is aan die Naturalisme nie is die uitbeelding van die menslike lotgevalle parallel aan die natuurgebeure. Selfmoord as *motief, nie vreemd aan die Naturalisme nie, kry ‘n mens ook by Van den Heever. Dit kom voor in Gister (1941) en in Langs die grootpad (1928). Die hand aan eie lewe slaan, is in die Van den Heever-oeuvre nog meer skokkend as in die suiwer naturalistiese werk, omdat dit sterk indruis teen die etiese norme wat deur die meeste personasies gehandhaaf word. Hoewel die prosawerke van Van den Heever sterk naturalistiese trekke bevat, is dit nie suiwer Naturalisme wat ‘n mens by hom aantref nie. ‘n Mens kan Van den Heever se Naturalisme as ‘n soort gekerstende Naturalisme bestempel.

Samevattend beskou Kraayeveld (1984: 101) die volgende kenmerke as by uitstek tiperend van die naturalistiese beelding in die literatuur: (1) Die hoofpersoon of -persone is meestal senuwee-agtig of byna neuroties. ‘n Negatiewe karaktertrek domineer dikwels sy of haar persoonsbeeld. (2) Die persone in die naturalistiese literatuur is meestal onvry en hulle gedrag word bepaal deur determinerende faktore soos erflikheid en omgewing. (3) Die noodlottige werking van die determinerende faktor of faktore soos erflikheid en omgewing voer die persone in die naturalistiese literatuur meestal na ‘n onafwendbare ondergang. (4) Voortspruitende uit bg. het die naturalistiese werk gewoonlik of altyd ‘n slegte afloop — wat sy personasies betref.

(Vgl. POSITIVISME EN LOGIESE POSITIVISME.)

 

Bibliografie

Dekker, G. 1927. Die Franse Naturalisme. sl.: sn. (Herdruk uit Tydskrif vir wetenskap en kuns, Sept. en Des. 1928.)

Dirikx, L. 1984. Louis Couperus en de “decadence”. Spiegel der letteren, 26(1-2).

Fontijn, J. 1982. Het zit in de familie (II). De revisor, 9(6).

Furst, L. & Skrine, P.N. 1971. Naturalism. London: Methuen.

Knuvelder, G.P.M. 1961/1967. Handboek tot de geschiedenis van de Nederlandse letterkunde, TV. ‘s-Hertogenbosch: Malmberg. Kraayeveld, R.A.J. 1984. Naturalistisch proza in Nederland. Ons erfdeel, 27(1).

Minnaar, L. 1966. Realisme en Romantiek in die prosawerk van CM. van den Heever — ‘n kritiese stylondersoek. D.Litt.-proef-skrif, PU vir CHO, Potchefstroom.

Scheer, L. 1979. Louis Couperus en Émile Zola: noodlottig masochisme. Spiegel der letteren, 21(3).

Verhaar, H. 1977. Louis Couperus als naturalist. Tirade, 169-178.

Raadpleeg ook:

Baguley, D. 1987. An essay on naturalist poetics. Essays in Poetics, 12(1).

Chevrel, Y. 1982. U Naturalisme. Paris: PUF.

 

J. van der Elst