LITERATUUR

Die term literatuur (Lat.: literatura: alfabet, kennis; van littera: letter, skrif) het oorspronklik geslaan op ‘n kulturele ontwikkeling a.g.v. algemene belesenheid, ‘n gekultiveerdheid deur die omgang met boeke en geskrifte van allerlei aard.

Sedert die RENAISSANCE, en veral sedert die 18e eeu, is die term egter geleidelik al meer uitgesonder vir geskrifte wat woord of taalkuns is, die sg. skone literatuur of belletrie (Fr.: belles-lettres), tekste dus met ‘n sg. estetiese waarde, veral dan werke wat FIKSIONEEL van aard is en tot die GENRES poësie, DRAMA en prosa behoort. Baumgartner en Kant het in die opvatting van die literatuur as ESTETIESE OBJEK ‘n belangrike rol gespeel. Teen die 20e eeu bet die term literatuur vir fiksionele en artistieke tekste gevestig geraak.

Tog is allerlei geskrifte wat nie fiksioneel van aard is nie deurentyd tot die literatuur gereken, bv. allerlei beskoulike of historiese geskrifte, MEMOIRESBIOGRAFIEë en OUTOBIOGRAFIEëBRIEWE (bv. van skrywers self), alles wat in mooi, sg. gestileerde prosa geskryf is, allerlei LEERDIGTE, ens. Tot vandag toe nog word die term ook nog altyd behalwe in sy engere betekenis in die wydste sin toegepas, waar dit bv. verwys na die vakliteratuur van ‘n bepaalde wetenskaplike terrein; ons praat bv. van ‘n literatuurlys wanneer dit  ‘n bibliografiese  lys van  watter  aard  ook al  is.

In die 20e eeu, met sy hoogs ontwikkelde kritiese en historiese sin en sy relativisme, het talle literatuurteoretici en filosowe meer krities begin staan, nie alleen teenoor die term literatuur nie, maar ook selfs teenoor die verskynsel literatuur as sg. estetiese objek, as taal- of woordkuns. Deur baie teoretici is en word dit in ons eeu ontken  dat daar ‘n kategorie  literatuur as ‘n kunsvorm is. Daar  is nie vir hulle  ‘n estetiese objek literatuur nie.

Die argumente teen die bestaan van ‘n literêre kategorie is menigvuldig.  Die belangrikstes  is  die volgende:

Eerstens word daarop gewys dat die waardeoordele oor literêre werke drasties verskil. ‘n Digter wat ‘n dekade of wat gelede hoog aangeslaan is, so word geredeneer, word vandag gering geag of glad nie meer gelees nie. Om nie te praat van die waardeskom meling m.b.t. werke wat eeue gelede geskryf is nie. Die Nederlandse digter Joannes  van der Goes wat in die 17e eeu deur niemand minder nie as Vondel hoog aangeslaan is, is vandag slegs ‘n literatuur-historiese naam. Trouens, dieselfde beoordelaar se mening word soms t.o.v. dieselfde werk gewysig. Maar daar kan ook sinchronies dergelike verskille in waardeoordele uitgewys word. In dieselfde tyd, op dieselfde dag selfs dat ‘n digbundel, *roman of drama van die pers kom, verskil die literatuurkenners, soms radikaal oor die waarde van so ‘n literêre werk (vgl. EVALUERING (LITERêRE)).

‘n Tweede belangrike argument wat aangevoer word teen die opvatting dat daar iets soos ‘n literêre objek bestaan, is dat dit wat ons die literêre werk noem, nie wesenskenmerke het nie. Daar word beweer dat daar nie vaste konstituente, eienskappe of essentialia is wat tot alle sg. literêre werke behoort en elke literêre werk as literatuur herkenbaar maak nie. Veral die diskontinue aard van die literatuur in die laat 19e en 20e eeu, deurdat daar voortdurend sg. literêre vernuwing plaasgevind het, het hierdie argument stewige steun gegee.

‘n Derde argument teen die literatuur as selfstandige kategorie en as identifiseerbare objek, is die sg. baie grensgevalle wat daar in die literêre wêreld bestaan, bv. REISVERHALE, biografieë of (outo-)biografiéë (vgl. Gustav Preller se biografieë oor Piet Retief en Andries Pretorius). ‘n Bekende soort grensgeval is die drama, omdat die geskrewe drama en die opgevoerde drama, d.w.s. respektiewelik die LEESDRAMA (die literêre teks) en die teaterdrama, nie volkome identies is nie (vgl. DRAMATEKS EN OPVOERING). Daar word ook op gewys dat werke wat nie geskryf is met die bedoeling dat dit literatuur moet wees nie, as literatuur erken is of word, en omgekeerd. ‘n Beroemde geval is Multatuli se roman Max Havelaar. Die boek is as groot roman beskou, sonder dat die politieke oogmerke van die roman aanvaar is of uitgevoer is. Vandag, meer as ‘n eeu na die verskyning van die roman (1860), het die politieke situasie in Java bowendien totaal verander, maar die roman Max Havelaar se waarde as roman pur sang is aan die toeneem eerder as afneem.

Hierdie en ander waarnemings het daartoe gelei dat die litera­tuur as kuns, as selfstandige kategorie, as objek sui generis of objektiewe gegewe deur baie in ons eeu verwerp is. Onder invloed van veral Sartre met sy opvatting dat die literatuur aktueel en sosiaal-polities BETROKKE moet wees, en onder invloed van die nuwere RESEPSIETEORIE en IDEOLOGIEKRITIEK, het daar drastiese veranderinge gekom in die siening van wat literatuur is of nie is nie. Die voorstanders van die sosiale konsepsie van die lite­ratuur glo dat die literêre werk se waarde afhang van sy aktuele en met name van sy sosiaal-politiese betrokkenheid, en van die lesers se oordeel. Soos Kant in die 18e eeu met sy Kritik der Urteilskraft (1790) ‘n geweldige rol gespeel het in die siening dat die literêre werk estetiese objek sui generis is, het Sartre in die 20e eeu met sy boek Qu ‘est-ce que la littérature? ‘n radikale verandering in die teenoorgestelde rigting bewerkstellig. Uit Sartre se gesigspunt het die sg. sosiale kriterium en die resepsieteorie ‘n sterk stoot gekry deurdat hy beweer het dat die erkenning en herkenning van literêre werke nie in die TEKS self lê nie, maar in die LESER of lesers se waardering daarvan. Die locus van die “literêre” of “literariteit” lê volgens die sosiale kriterium nie in die taalobjek self nie maar in die leser. Wat vir A literatuur is, hoef dus nie vir B literatuur te wees nie.

Ondanks al die probleme met die omskrywing en herkenning of erkenning van die literêre objek of van die kategorie literatuur, is die bestaan van die literêre werk as selfstandige, “outonome taalproduk, sui generis, nie te ontken nie.

Daar is nie, soos dikwels gemeen of veronderstel word, ‘n opposisie tussen die siening van die literêre werk as artefak, artistieke of estetiese objek, en die literêre werk as objek met allerlei sosiale, morele, politiese, religieuse en ander funksies nie. Die twee standpunte is versoenbaar: ‘n literêre werk kan talle waardes en funksies vir die leser hê – polities, religieus, moreel, ens. – maar dit moet primêr literatuur wees, d.w.s. aan bepaalde literêr-artistieke kriteria voldoen.

Ondanks die verskille in waardeoordeel, diachronies en sinchro­nies, oor literêre werke, is daar die talle en talle literêre werke wat eeue lank deur miljoene lesers erken en herken word, as lite­ratuur in verskillende tale, in verskillende lande en tye, in ver­skillende sosio-kulturele omstandighede. Daaronder val groot werke soos die EPOSSE van Homeros, die TRAGEDIES van Sophokles, die Divina commedia van Dante, die dramas van Shakespeare, ‘n prosawerk soos Cervantes se Don Quijote, die poësie van Goethe, om maar enkele voorbeelde te noem. Maar dit is nie altyd groot opgesette, lang werke wat onder hierdie kategorie val nie; daaronder val ook klein liriese gedigte, die poësie van Sappho, die liriese gedigte van Hadewijch, talle Middeleeuse volksliedere, liefdesliedere, bv. “Eens Meienmorgens vroe”, die “Egidiuslied”, wat deur die eeue hulle literariteit of literêre kwaliteit bewys en behou het.

Dat lesers (diachronies en sinchronies) verskil in hulle interpretasie en waardering van literêre werke, is eerder ‘n bewys van die self­standige aard van die literêre werk as argument daar/een: dit lê nl. in die aard van die literêre werk dat hy multivalent is, d.w.s. dat hy, anders as enige ander teks, uit ‘n menigvuldigheid of ‘n menigvoudige aantal elemente saamgestel is en daarom meervoudig kommunikeer, sodat geen enkele leser ooit ‘n totale begrip van of insig in die literêre werk kan hê nie. Wat die diachroniese waardeskommeling van literêre werke betref, moet ons onthou dat literêre werke altyd uit ‘n kulturele konteks voortkom wat ver­ander en ‘n literêre werk daarom uit die waarderingsveld laat verdwyn, behalwe dié wat bo hulle kulturele konteks uitstyg. Hierdie verskynsel pleit juis téén die sosiale opvatting van die literatuur: werke wat te veel aan die aktuele en sosiaal-politiese van hulle tyd gebonde is, raak meestal verouderd. Die taal self waarin ‘n literêre werk geskryf is, verander ook, wat werke na verloop van tyd minder toeganklik kan maak. Daar is in die literatuur soos op ander terreine (vgl. kleredrag) gewoonweg modes, ‘n Motor of ‘n rok uit die jare twintig is miskien vandag verouderd en uit die mode, maar daarom hou dit nog nie op om ‘n motor of ‘n rok te wees nie. Dieselfde geld vir die literatuur.

Wat die grensgevalle betref, waarop die mense wat nie glo in ‘n literêre kategorie nie hulle so dikwels beroep, wat sg. as ‘n be­wys moet dien téén die bestaan van ‘n duidelik identifiseerbare objek literatuur: ondanks die grensgevalle is daar die duidelike gevalle. Trouens, mens kan nie praat van grensgevalle as daar nie herkenbare en erkende gevalle is nie. Dit is immers ook so, soos deur o.a. Wellek (1973) uitgewys is, dat grensgevalle in die skilderkuns (tekeninge in ‘n boek oor blomme, spotprente, ens.) en in die musiek (‘n militêre mars, tromsinjale, ens.) voorkom sonder dat hierdie grensgevalle hierdie kunste ongedaan maak.

Die probleme rondom die herkenning of erkenning van die lite­ratuur as kategorie of van die individuele literêre werk as selfstandige objek en as identifiseerbare taalobjek, word in ‘n groot mate verhelder as ons die onderskeid tussen, aan die een kant die ontologiese en fenomenologiese, en aan die ander kant die normatiewe of evaluatiewe benaderings van die literatuur onder die oë sien. Die ontologiese en fenomenologiese benadering probeer die wese van die literêre werk beskryf, sy verskyningsvorm, maar dit weerhou hom van ‘n waardeoordeel daaroor. Die normatiewe of evaluatiewe benadering wil nie alleen die wese van die literêre werk bepaal nie maar spreek hom ook uit oor die waarde daarvan. Volgens die normatiewe of evaluatiewe benadering kan ‘n werk swak wees — en tog nog literatuur wees. ‘n Swak motor hou nog nie op om ‘n motor te wees nie. Dikwels is dit die swak literêre werk wat ons wys wat die. literatuur móét wees. Die waardeoordele oor literêre werke verander omdat daar smaakveranderinge kom, en omdat daar voortdurend vernuwingselemente, sg. diskontinue elemente, in die literêre groei van geslag tot geslag verskyn. Daaronder bly egter nog steeds die kontinue literêre elemente bewaar. Sonder die blywende, kontinue kenmerke kan daar geen sprake van vernuwende, diskontinue kenmerke wees nie.

Ons kan dit ook anders verklaar: daar is ‘n onderskeid tussen die fundamentele eienskappe van die literêre werk, die sine qua non van die literatuur, daardie elemente waarsonder ‘n literêre werk nie kan bestaan nie, nie literatuur kan wees nie, en daarteenoor is daar die besondere kenmerke van die literêre werk. Dit is fundamenteel en wesensbepalend dat ‘n gedig bv. VERSREëLS moet hê, en dit is noodwendig dat dit KLANK moet hê, maar dit is nie ‘n fundamentele eienskap van die poësie (hoe algemeen dit ook al voorkom) dat dit moet RYM nie. Die rym is ‘n beson­dere eienskap, nie ‘n algemene nie; die gedig kán rym, maar dit hóéf nie. ‘n Gedig of hele geslag se poësie wat a.g.v. die rym in onguns raak, bly nog altyd gedig of poësie. ‘n Voorbeeld op ‘n ander vlak: dit is fundamenteel dat ‘n literêre werk ‘n kognitiewe element moet hê – die taalgebruik, ook in die literêre werk, kommunikeer iets. Maar hóé die kognitiewe element daar uitsien, verskil van literêre teks tot literêre teks, van skrywer tot skrywer, van generasie tot generasie. Die oorlogspoësie van ‘n Celliers was in sy tyd aan die orde van die dag, as iets besonders. Vandag is dit nie meer so nie. Daarom val Celliers vandag nie meer in die smaak nie, maar sy gedigte bly nog altyd gedigte.

Dit is dikwels die besondere eienskappe wat met die smaakwisseling te make het.

Wat is dan die fundamentele eienskappe van die literêre werk?

Laat ons aan die begin sê: as ons hier van literatuur praat, maak dit nie saak of dit geskrewe of MONDELINGE LITERATUUR is nie.

Eerstens is daar die noodwendige taalelemente: betekenis, klank, RITME, SINTAKSIS. Geen taaluiting is hiersonder nie, en nood­wendig ook nie die literêre werk nie. Die verskil tussen die literêre en nie-literêre taal is dat hoewel dit uit dieselfde woorde, betekenisse, klanke, ens. bestaan, dit in die literêre werk (i) ‘n ander funksie en (ii) ‘n ander organisasie het.

Wat die funksie betref:

Ons kan dit as distinktief literêr beskou dat die literêre teks multikommunikatief is, poligrafies is, d.w.s. dat dit probeer om een saak op soveel moontlike maniere te sê, wat voorts op twee ander eienskappe neerkom:

Sover dit die taalkomponent van die literêre werk betref: elke konstitutiewe element, afsonderlik, is multikommunikatief. Dit wil sê die woordbetekenis, byvoorbeeld, is so veelduidig of ryk, so hiper-gesemantiseer moontlik.

Dieselfde saak word verder in ál die taalelemente sáám gekommunikeer, d.w.s. wat deur die semantiese element gekommunikeer word, word ook o.m. deur die klank, die ritme en deur die sin­taksis gekommunikeer. Selfs leestekens, hoofletters en kleinletters of aksente het ‘n kommunikatiewe waarde in die literêre teks wat dit nie in ander tekste het nie. Die semantiese element is hoegenaamd nie die enigste kommunikatiewe element in die literêre werk nie, alhoewel dit die primêre element is waarvan al die ander afhang.

Wat die taalorganisasie betref: die natuurlike taal het klank en ritme, net soos bv. die gedig, maar ongeorganiseerd. In die literêre werk is hierdie elemente in ‘n meerdere of mindere mate georganiseer in bepaalde patrone — baie sterk in die poësie, minder in die prosa en drama, maar tog ook wel. Die sintaksis, wat in die natuurlike taal so normaal en gestandaardiseer moontlik is, word in die literêre werk dikwels, veral in die poësie, geor­ganiseer op ‘n selfs onnatuurlike of kontra-grammatikale manier, wat juis bewys dat dit georganiseer is, sodat dit nie net seman tiese dissipline is nie maar as sintaksis kommunikatiewe element word.

Selfs die woordomvang, bv. die patrone van een of meer sillabigheid van woorde, die afwisseling van korter of langer vokale of die opeenvolging van konsonante in ‘n bepaalde orde het kom­munikatiewe waarde.

Naas bg. taalelemente is daar in elke literêre werk die fundamen­tele paralinguistiese, konseptuele konstituente. Ons kan hulle ook die non-verbale konstituente noem. Hulle bestaan alleen kragtens die taal, maar hulle is nie self taalelemente nie, nl. figuur of gestalte (KARAKTER of persoon), PLOT, TYD, RUIMTE, PERSPEKTIEF. Hiermee is alleen die vernaamste konseptuele elemente genoem, almal ook fundamentele elemente. Die tyd en ruimte, en ook die figuur of gestalte (persoon) en gebeure is in die literêre werk nie alleen noodwendige denkkategorieë of noodwen­dige konseptuele kategorieë nie, hulle is ook kommunikatief. Daar word in die literêre werk nie net in/oor tyd, in/oor ruimte, in/oor figure (wat nie altyd mense hoef te wees nie) en in/oor gebeure gekommunikeer nie — daar word ook daarméé gekommunikeer.

Alles wat in die literêre werk gesê word met taalelemente en in die konseptuele elemente, word gesê en gesien vanuit ‘n bepaalde oriëntasiepunt (perspektief). Die oriëntasiepunt of perspektief omvat wie sien, wie praat, maar ook wie konstrueer. Die oriëntasiepunt of perspektief self is ook kommunikatief en nie net gespreks- of gesigshoek waaruit gepraat en gesien en georiënteer word nie. Dit is een van die moeilikste en omvattendste kom­munikatiewe elemente in die literêre werk. Vergelyk bv. N.P. van Wyk Louw se klein gedig: “Ets: Selfportret van Rembrandt met hoed op”: “Ek het my swart hoed in my kop getrek:/ God het Sy aarde en Sy lig verwek;/ maar hier teen hierdie venster in die hoek/ teen hierdie tafel, hier sit Ek.”

In hierdie gedig is daar twee sprekers, een in die titel, ‘n ander in die KWATRYN self. Rembrandt praat in die gedig self, maar in die titel word na Rembrandt as ‘n tweede persoon verwys, van buite gesien, en dan nog wel ook Rembrandt gesien in ‘n ets wat ‘n selfportret is. Ons kan dus eintlik sê dat hier drie Rembrandts in die gedig is. In die gedig praat Rembrandt self in die eerste persoon: ek, gestel teenoor God. Maar die titel praat van Rem­brandt, in ‘n ets wat ‘n selfportret is. Verskeie Rembrandts in een gesien en gehoor. Rembrandt is meer as Rembrandt, kragtens die teleskopering in die gedig cum titel cum verwysing na ‘n ets, sodat ons bv. met reg kan redeneer dat Rembrandt hier vierdens die masker is van die kreatiewe individu, van die kunstenaar meer bepaald, gestel teenoor God, die groot Kreator. Een van die kommunikatiewe bydraes wat hierdie geteleskopeerde per­spektief tot die totaliteit van die gedig maak, is dat die beskouing van die kunswerk ook kreatief werk, dat die waarnemer van die kunswerk medekreatief is (vgl. FOKALISASIE).

Ten slotte is elke literêre werk t.o.v. al sy bg. konstituente ‘n or­ganisasie, ‘n patroon, ‘n bousel, en in vele opsigte ‘n onnatuurlike bousel of patroon wat op die natuurlike taal afgedwing word. Die versreël is bv. ‘n onnatuurlike bousel wat nie in die natuurlike spreek- en skryftaal voorkom nie, dit is sintakties en andersins dikwels anormaal, en deur sy onnatuurlikheid ‘n baie goeie voor­beeld van ‘n literêre bousel. ‘n Ander voorbeeld, m.b.t. ‘n ander element: die tydsorde in die literêre werk is dikwels soos T.S. Eliot in sy “Four quartets” opmerk: “What we call the begin­ning is often the end/ And to make an end is to make a begin­ning”; en hierdie omkering van die tydsorde, soos ook in N.P. van Wyk Louw se “Die swart luiperd” of “hoe rits die kooi vannag”, is as boupatroon van kardinale belang vir die verstaan van die gedigte (vgl. ANACHRONIE). ‘n Intrige in ‘n roman of dra­ma is altyd ‘n bepaalde vertel- of gebeurepatroon, dikwels akousaal, of ‘n tydsopskorting. Die STROFES van ‘n gedig, die hoofstukke of vertelfases van ‘n roman, die bedrywe en tonele van ‘n drama, is boupatrone. In die gedig van Van Wyk Louw hierbo is ‘n duidelike patroon: vs. 1-2 handel oor God, vs. 3—4 oor die Ek; vs. 1-2 is in die verlede tyd (asof God klaar geskep net), vs. 3-4 in die teenwoordige tyd (die Ek is nog steeds kreatief doenig); vs. 1 begin met Ek, vs. 4 eindig met Ek; vs. 1-2 han­del oor Gods aarde en lig, vs. 3—4 handel oor die Ek se tafel en lig. Die gedig is duidelik gekonstrueer.

So het elke literêre werk ‘n bepaalde organisasie. Woordbetekenisse, klanke, ritmes, persoonsverhoudinge en ruimtelike segmente, ens., hoort altyd in ‘n bepaalde patroon in ‘n literêre teks.

Weer is dit literêr distinktief dat hierdie organisasie van die literêre werk nie net die komposisie of beliggaming van die ander elemente is nie maar self ook weer ‘n kommunikatiewe element is. Die opvatting dat ‘n literêre werk déúr sy struktuur kommunikeer, is onvoldoende gestel. Die struktuur kommunikeer self. Dit is die enigste soort teks waarvan ons weet  waarvan ons hierdie beskrywing kan gee. Die struktuur van ‘n koerantberig, of van ‘n wetenskaplike boek, het geen kommunikatiewe waarde hoegenaamd nie. Die tektoniek van ‘n literêre werk is ‘n kommu­nikatiewe feit en nie net die verpakking van ánder feite nie.

Die kortheid van ‘n KORTVERHAAL kan deur sy kortheid iets sê. Die uitgesponne, tydsame bou van ‘n roman soos Tolstoy se Oorlog en vrede deel iets mee mét sy uitgesponnenheid: die tydelike en verbygaande van die mens se lewe word gereleveer deur die tydsame, uitgesponne geskiedenis in die omvangryke roman. Die sillabiese ordelikheid in Leipoldt se “Oom Gert vertel” (tien lettergrepe per versreël, georganiseer in sintaktiese segmente waar die lettergreeptelling in talle gevalle een plus nege of nege plus een of agt plus twee of twee plus agt, ens., is) verhoog die onordelike, geëmosioneerde praat van oom Gert. Die sielkundige desintegrasie van die VERTELLER in D.J. Opperman se “Ballade van die Grysland” word geïntensiveer deur die streng tektoniek van die gedig: drie afdelings van sewe strofes elk, geskryf in driereëlige strofes.

‘n Bruikbare term om die integrasie tussen die kommunikatiewe elemente van die literêre werk mee te beskryf, is die begrip IKONISITEIT. Ikonisiteit kom daarop neer dat wat kognitief, konatief en affektief in die literêre werk gesê word, ook in een of meer van die ander, nie-signifikatiewe kommunikatiewe elemente, gekommunikeer word. Ikonisiteit is waarskynlik die mees distinktiewe literêre kenmerk. As Van Wyk Louw dit in “Die beiteltjie” het oor ‘n beiteltjie wat klink, is dit ikonies uitgedruk in die hoë klankrykheid van die gedig, van die beginvers af, nog voor daar gesê word die beiteltjie “klink”:

ek kry ‘n klein klein beiteltjie

k k        k      k

ei      ei    ei

Soos daar klankikonisiteit is, kan daar ikonisiteit in ál die ander elemente van die literêre werk wees. As M. Nijhoff ‘n simultaneïteit van gebeure wil beskryf in “De pen op papier”, dan druk hy dit deur sintaktiese ikonisiteit uit, deurdat hy ‘n sin gebruik wat oor etlike bladsye strek. As Breytenbach in “3.25 (die graf vol vere)” (Lotus) ‘n liefdesversteuring wil uitdruk, is dit iko­nies gekommunikeer deurdat die woord liefde, wat in ‘n vaste verhouding met ander sake soos die wind en die see in die eerste vier strofes verskyn, in die patroon verplaas word ná strofe vier en uiteindelik in die slotstrofe verdwyn. Die saakverhoudingspatroon is ikonies van die semantiese deskripsie.

Die literêre werk het, samevattend, dus ‘n aantal fundamentele elemente of wesenskenmerke wat sy aard bepaal en wat saaklik daarop neerkom dat die literêre teks ‘n kommunikasie is van ‘n bepaalde gebeure met of deur figure in ‘n bepaalde tyd of ruimte, in soveel moontlik taalelemente (betekenis, klank, ritme, sintaksis, woordvorming, ens.), vanuit ‘n bepaalde perspektief gesien en vertel en ingebou in ‘n bepaalde patroon. Al hierdie elemente is kokommunikatief: hulle sê almal dieselfde saak, of omgekeerd: dieselfde saak word deur almal gesamentlik gelyktydig en “een-stemmig” gekommunikeer.

Ons kan hierdie omskrywing van geen ander teks of mondelinge uiting gee nie. Hierdie koëksistensie van kommunikatiewe elemente bepaal as sodanig of op sigself nog nie of die werk goed of sleg gaan wees nie. Die waarde van die literêre werk hang af van in hoe ‘n hoë mate elkeen van hierdie elemente geëksploiteer is, hoeveel daarvan geëksploiteer is en hoe hulle met mekaar geïntegreer en georganiseer is tot ‘n geheel. Literêre waarde hang af van hoeveel kommunikatiewe elemente integraal kokommu­nikatief is. Verder hang die waarde van die literêre werk selfs ook af van die besondere kenmerke of pluselemente wat tot die fundamentele kenmerke toegevoeg is.

Tot die besondere of pluselemente moet ook gereken word die kognitiewe of noëtiese, affektiewe en konatiewe aspekte van die werk wat tot die mens appelleer, d.w.s. watter idees, gevoelens, intensies, ens. in die werk hom aanspreek, maar sekere opvattings, oortuigings, konvensies en dergelike verloor mettertyd hulle waarde, en daarmee saam kan die literêre werk in sy totaliteit op die agtergrond raak.

Per slot van rekening is die distinktief literêre eienskap die konfigurasie, koëksistensie of kokommunikasie van die literêre elemente, hulle totale kommunikasie of sinkretisme. Ons sou sekere literêre elemente ook in ander tekste kon kry, bv. die rym in die Gesange, of polisemie in raaisels en grappe, mooi prosa in ‘n preekbundel, ruimtelike elemente in ‘n koerantberig. Maar ons weet van geen ander taalteks wat soos die literêre teks ‘n to­tale kommunikasie (‘n term van Brooks & Warren, 1976) van hierdie elemente is nie. Daarom is ‘n vereiste vir ‘n literêre beskrywing en evaluering dan ook ‘n integrale beskrywing en beoordeling.

Belangrike sleutelbronne is Kant (1915 en 1929) se uitsprake oor die literatuur, en ewe belangrik vanuit ‘n ander standpunt is Sartre (1965). Spesifiek oor die aard van die literatuur skryf Ingarden (1973a en 1973b) vroeg reeds in geskrifte wat geskiedenis gemaak het, ook Muller (1939) en Pollock (1942). Van resenter datum is Lotman (1970/1972), Escarpit (1968 en 1973), Lyas (1969), Beardsley (1973), Hernadi (1978), Lerner (1960), Mooij (1979) en Wellek (1973), ook saam met Warren (1949/1963). Spesifiek oor die aard van die poësie skryf Grabe (1978). Vanuit die taalhandelingsteorie skryf Ohmann (1971), Pratt (1977) en Searle (1974/1975). Van algemene belang is Beardsley (1958), Brady et al. (1973), Brooks en Warren (1976), Garvin (1964), Cloete 0984), Kayser (1948/1967), Maatje (1970/1974). Soos Kant en Sartre het verskillende ander filosowe hulle oor die literatuur uitgelaat: Witt­genstein (1953) en Heidegger (1950/1972). Spesifiek oor die aard van mondelinge literatuur in Afrikaans skryf Prinsloo (1987).

Belangrike bydraes wat hierdie inskrywing aanvul, is IKOON EN IKONISITEIT, TAALHANDELING EN DIE LITERATUUR en VISUELE MOMENTE IN DIE LITERATUUR.

Raadpleeg vir ander sienings van literatuur ook:

BETROKKE LITERATUUR, EVALUERING (LITERêRE), FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR, IDEOLOGIEKRITIEK, KUNSGREEP, LITERATUURSOSIOLOGIE, LITERATUURTEORIE EN KOMPARATISME, MARXISME EN DIE LITERATUUR, MONDELINGE LITERATUUR, OUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK, POST-FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR, RESEPSIETEORIE, SEMIOTIEK, SISTEEM (LITERÊRE), STILISTIEK OP TAALKUNDIGE GRONDSLAG, asook die bydraes oor belangrike 20e-eeuse literatuur-teoretiese skole, soos RUSSIESE FORMALISME, STRUKTURALISME, NEW CRITICISM, NOUVELLE CRITIQUEPRACTICAL CRITICISM en POST-STRUKTURALISME.

Belangrike skakelbydraes is ook dié oor die genres, nl. DRAMA, EPIEK, KORTVERHAALLIRIEK en ROMAN.

Bibliografie

Beardsley, M.C. 1958. Aesthetics: Problems in the Philosophy of Criticism. New York: Harcourt, Brace & World.

Beardsley, M.C. 1973. The concept of literature. In: Brady, F., Palmer, J. & Price, M. (eds). Literary Theory and Structure. Lon­don: Yale University Press.

Brooks, C. & Warren, R.P. 1976. Understanding Poetry. New York: Holt, Rinehart & Winston.

Cloete, T.T. 1984. Wat is literatuur? Potchefstroom: PU vir CHO.

Escarpit, R. 1968. The sociology of literature. In: International Encyclopedia of the Social Sciences, 9.

Escarpit, R. (red.). 1973. Dictionnaire international des termes littéraires. Den Haag: Mouton.

Frye, N. 1966. Anatomy of Criticism. Princeton: Princeton Univer­sity Press.

Garvin, P.L. 1964. A Prague School Reader on Esthetics, Liter­ary Structure, and Style. Washington: Georgetown University Press.

Gräbe, I. 1978. Teorieë oor hoofaspekte van poëtiese taalgebruik: verkenning en toepassing. Potchefstroom: PU vir CHO.

Heidegger, M. 1950/1972. Holzwege. Frankfurt am Main: Klostermann.

Hernadi, P. (ed.). 1978. What is Literature? Bloomington: In­diana University Press.

Ingarden, R. 1973a. The Cognition of the Literary Work of Art (transl. Ruth Ann Cowley & K.R. Olson). Evanston: North­western University Press.

Ingarden, R. 1973b. The Literary Work of Art: An Investigation on the Borderlines of Ontology, Logic, and the Theory of Litera­ture (transl. G. Grobowicz). Evanston: Northwestern Universi­ty Press.

Kant, I. 1915. Sämtliche Werke. Leipzig: Meineer.

Kant, I. 1929. Selections. New York: Scribner.

Kayser, W. 1948/1967. Das sprachliche Kunstwerk. Bern: Francke.

Lerner, L. 1960. The Truest Poetry: An Essay on the Question: What is Literature?. London: Hamilton.

Lotman, J. 1970/1972. Die Struktur literarischer Texte. Munchen: W. Fink.

Lyas, C..A. 1969. The semantic definition of literature. The Journal of Philosophy, 66.

Maatje, F.C. 1970/1974. Literatuurwetenschap: grondslagen van een theorie van het literaire werk. Utrecht: Oosthoek.

Mooij, J.J.A. 1979. Tekst en lezer: opstellen over algemene problemen van die literatuurstudie. Amsterdam: Polak & Van Gennep.

Müller, G. 1939. Über die Seinsweise von Dichtung. Deutsche Vierteljahrschrift fur Literaturwissenschaft und Geistesgeschichte, 17.

Ohmann, R. 1971. Speech acts and the definition of literature. Philosophy and Rhetoric, 4.

Pollock, T.C. 1942. The Nature of Literature, Its Relation to Science, Language and Human Experience. Princeton: Princeton University Press.

Pratt, M.L. 1977. Toward a Speech Act Theory of Literary Dis­course. Bloomington: Indiana University Press.

Prinsloo, S.M.C. 1987. Die struktuur van die mondelinge vertelling in Afrikaans. D.Litt.-proefskrif, PU vir CHO, Potchef­stroom.

Sartre, J.-P. 1965. What is Literature? (transl. B. Frechtman). New York: Harper & Row.

Searle, J.R. 1974/1975. The logical status of fictional discourse. New Literary History, 6.

Wellek, R. & Warren, A. 1949/1963. Theory of Literature. Lon­don: Cape.

Wellek, R. 1973. Literature and its cognates. In: The Dictionary of the History of Ideas, 3.

Wittgenstein, L. 1953. Philosophical Investigations (transl. G.E.M. Anscombe). Oxford: Blackwell.

 

T.T. Cloete