MEMOIRES

Memoires (Fr.: lewensherinnering) is verhale, verslae of berigte van die lewe van òf die memoireskrywer self òf die lewe van ʼn ander persoon waarby hy betrokke was. Dit kan ook ʼn verslag van ʼn bepaalde tyd wees. In A Handbook to Literature noem Holman (1981: 263) dit ʼn “form of autobiographical writing”. Memoires verskil van die outobiografie in dié opsig dat memoires te doen het met gebeure en persone wat nie net om die memoireskrywer wentel nie, terwyl die outobiografie sterk klem lê op die innerlike en private lewe van die betrokke persoon: “Memoirs customarily give some prominence to personalities and actions other than the writer’s own: some are hardly more than accounts of historical occurrences that have come directly within the view of their recorders. The autobiography proper is a connected narrative of the author’s life, with stress laid on in­trospection, or on the significance of his life against a wider back­ground”, aldus Shipley (1964: 32) in die Dictionary of World Literature. Memoires vertel dus van die bepaalde persoon se ervaringe, sy insigte, sy ontmoetings met ander mense en tipeer ook die tydgees. Dit word op onderhoudende wyse gedoen en grens sowel aan ʼn historiese dokument as aan die LITERATUUR. Die memoireskrywer kan iemand onbekend wees, maar dit is dik­wels ʼn bekende persoon.

Gedurende die Klassieke Oudheid was memoires en die outobio­grafie baie nou met mekaar vervleg. Van die vroegste vorme van memoires is Ion van Chios se reisdagboek (430 v.C.) en Xenophones se herinneringe aan Sokrates. Gedurende die Hellenistiese tyd skryf heersers hulle eie memoires wat getipeer word deur selfverheerliking, bv. keiser Augustus, Cicero en Caesar. Die skryf van memoires was veral gewild by die Franse, en in hulle hande het dit ʼn selfstandige GENRE geword, bv. G. de Villehardouin se Histoire de la conquete de Constantinople (13e eeu), J. de Joinville se Vie de Saint Louis (14e eeu), P. de Commutes se Commentates, J.-A. de Thou se Historia mei temporis (17e eeu) en D’Aubigné se Histoire universelle (17e eeu). In die 18e eeu verskyn die memoires van o.a. Saint-Simon en Richelieu, in die 19e eeu dié van Chateaubriand en Talleyrand en in die 20e eeu dié van Clemencau en De Gaulle.

ʼn Resente vorm van memoireskrywing is die mémoires parlées. Dit is memoires in dialoog- of monoloogvorm wat vir die radio of televisie voorgedra word, bv. dié van Gide en Claudel. Dit word dan op een of ander manier bewaar.

Die term memoires word soms as sinoniem vir outobiografie gebruik. Dit is in werklikheid, soos aangetoon, nie dieselfde nie.

 
Anna-Marie Bisschoff