BIOGRAFIE

(Gr.: bios: lewe + graphein: om te skryf) is ‘n lewensbeskrywing. Die woord word vir die eerste keer aangetref by Damascius in die Vita Isidori (5e-6e eeu). As genre behoort die biografie tot die geskiedskrywing sowel as tot die literatuur. In die biografie word die lewe van “een belangrijk historisch persoon behandelt, nauwkeurig getekend in tijd en omgewing, met de ontwikkeling van zijn zieleleven en zijn uiterlijke daden”, aldus Ros in Modeme encyclopedie der wereldliteratuur (1963:420). As literêre genre kan dit die vorm aanneem van ‘n ROMANNOVELLE of SKETS (dit is die sg. vie romancée).

Die biograaf maak gebruik van dokumente; hy strewe na ‘n absoluut outentieke en noukeurige weergawe van die betrokke persoon se lewe: “Brede visie is misplaatst, alles moet zich rondom de historische figuur centraliseren” (Ros et al., 1963: 420).

Die voorkoms van die biografie as verskynsel spruit uit die mens se “commemorative instinct – the universal desire to keep alive the memories of those who by character and exploits have dis­tinguished themselves from the mass of mankind” (Lee, 1971: 7).

Die biografie kom al sedert die Klassieke Oudheid as genre voor. Die biograaf se benadering was nog altyd filosofies, moreel, polities, ens. van aard en het die persoon waaroor die biografie handel as ‘n voorbeeld van die betrokke benadering gesien. Die biograaf het ook altyd ‘n verheerlikende of moraliserende toon aangeslaan.

Onder invloed van Aristoteles en sy volgelinge het ‘n belangstelling vir die biografie in die 3e eeu v.C. begin. Dié belangstelling het veral om wysgere gesentreer maar het gou ook uitgebrei na kunstenaars, geleerdes, politici en militariste. Arixtosenus word as die grondlegger van die genre beskou. Ander belangrike biograwe was Chamaeleon, Satyrus en Hermippus, hoewel hulle (t.o.v. die biografiese stof self) “in hoge mate onbetrouwbaar” (Ros et al., 1963: 420) is. Historiese gegewens is aangevul uit “anekdotes en die biograaf se verbeelding. Bekende biograwe van Rome is Varro, Salustius, Cornelius Nepos, Suetonius Tacitus en Plutarchos. Laasgenoemde het gesê dat hy nie ‘n historikus is nie maar ‘n biograaf. Die groot figure uit die verlede moet vir die leser as voorbeeld dien; selfs negatiewe voorbeelde kan hulle nut hê.

Voorbeelde van biografieë uit die Klassieke tyd is Xenophon se Agesilaus, Cyrus se Cyropaedie, Isokrates se Euagoras en Philostratos II en Eunapius se beskrywing van die lewens van die Sofiste.

Vroeg-Christelike biografiese elemente tref ‘n mens aan in die Handelinge van die heilige Apostels, die evangelies van die sinoptici, die apokriewe boeke en die geskiedenis van die martelare. Kenmerkend van die Vroeg-Christelike biografie is die onderbeklemtoning van die psige van die mens, omdat dit gaan oor God se werk in die lewe van die mens. Pontius se Vita Cypriani word as die oudste Christelike biografie beskou.

In die Vroeg-Christelike biografie kom bepaalde temas aan die orde sodat die persoon waarom die biografie gaan ‘n tipe eerder as ‘n individuele persoonlikheid word. Selfs die legendariese kom hierin voor, bv. Augustinus se outobiografiese Confessiones en Gregorius van Nyssa se Life of Moses.

Die hagiografie (lewensgeskiedenis van ‘n heilige) is ook ‘n biografie, bv. Athanasius se Vita Antonii. In die hagiografie val die klem op die etiese. Verder speel die verhouding mens tot God ‘n belangrike rol: “… het gaat om zijn eigen persoonlijke kwaliteiten, dat het paradijs en de hemelse stad zijn eigenlijke vaderland zijn en dat zijn afkomst bepaald wordt door zijn kindschap Gods; dat geestelijke gaven eerder geprezen dienen te worden dan uiter­lijke schoonheid”, aldus Van Looy (1980: 359) in Modeme encyclopedie der wereldliteratuur.
Voorbeelde van Vroeg-Christelike biografieë is Palladius se Historia Lausiaca, Sulpicius Severus se Vita Martini, Gregorius die Grote se Life of Ambrose en Possidius se Life of Augustine.

In die Italiaanse RENAISSANCE kom die biografie as kunsvorm sterk na vore, bv. Boccaccio se lewensbeskrywing van Dante (Vita di Dante) en Vasari se lewensbeskrywing van Italiaanse kunstenaars, genaamd Le vite de’ più eccellenti pittori, scultori, e architetti (Lives of the Artists) (1550).

In Engels is J. Boswell se biografie Life of Johnson (1971) baie beroemd. In die Nederlandse Renaissance kom die biografie ook sterk na vore, bv. Geeraert Brandt se biografiee van Vondel (Leven van Vondel, 1682), Hooft (Leven van Hooft, 1677) en De Ruyter (Leven van De Ruyter).

In die moderne biografie val die klem op die individualiteit van die persoon waaroor die biografie handel en die anekdote verval: “He asserts by choosing the form that he deals in fact, not fiction” se Fowler (1973: 23) in A Dictionary of Modem Critical Terms. Die biograaf poog om die lewe van die betrokke persoon so getrou en noukeurig moontlik weer te gee. Hy maak gebruik van historiese dokumente en nagelate briewe. ‘n Biograaf kan ook te veel navorsingsmateriaal tot sy beskikking hê, sodat sy taak geweldig gekompliseerd raak. ‘n Ander probleem waarmee hy te kampe kan hê, is die feit dat “the biographer cannot always expect the complicity of his chosen subject” (Shelston, 1977: 10). Maar al het die biograaf wye toegang tot sy bronne, is dit nog so dat “it remains impossible to evade the ultimate question about the nature of the truth that he tells” (Shelston, 1977: 11).

Nie enige persoon is geskik as onderwerp vir ‘n biografie nie: “Firstly, the subject-matter, the character and achievement out of which the biography is to be woven, must be capable of moving the interest of posterity” (Lee, 1971:9). Verder moet die skryfstyl van die biograaf van so ‘n aard wees dat dit die tyd kan oorleef. Dit moet dus nie deurspek wees van dinge wat dit aan ‘n bepaalde tyd koppel nie. Geskikte onderwerpmateriaal en ‘n paslike styl moet mekaar aanvul: “Good treatment will not compensate for a bad theme, nor will a good theme compensate for bad treatment” (Lee, 1971: 10).

Volgens Lee (1971: 18) moet die biografie nie in diens staan van die etiek, geskiedenis of wetenskap nie. As hierdie aspekte voorkom, is dit bloot toevallig. Die biografie is ‘n outonome veld. In hierdie opsig staan die moderne biografie in kontras tot die Klassieke en Vroeg-Christelike biografie.

Die egte biografie laat geen ruimte vir sentimentaliteit nie, omdat dit die waarheid omtrent die betrokke persoon se lewe skade kan aandoen. Hierom word sekere aspekte liefs verswyg wat andersins aan die lig sou kom.
Verder moet die goeie biografie nie te lank wees nie en dit moet ook nie verheerlikend van aard wees nie. Net soos sentimentaliteit die outentisiteit van die biografie in die wiele ry, benadeel verheerliking dit. Volgens Lee (1971: 39) is uitgesponnenheid ‘n wydverspreide tekortkoming. Daar bestaan geen vasgestelde lengte vir die biografie nie. Dit hang af van die hoeveelheid navorsingsmateriaal wat die biograaf tot sy beskikking het, die belangrikheid van die persoon oor wie die biografie handel en die intrinsieke biografiese waarde van die beskikbare materiaal. Indien daar ‘n tekortkoming by enige van dié aspekte is, kan geen lang biografie geskryf word nie. Al sou daar egter ‘n oorvloed by al die sake bestaan, moet die biograaf nogtans waak teen oormatige uitgesponnenheid, anders verloor die biografie sy boeikrag: “Let the biographer note down every detail in fulness and at length. But before offering this labour to the world, let him excise every detail that does not make for graphic portrayal of character and exploit. No mere impressionist sketch satisfies the conditions of adequate biography. But personality is not transmitted on the biographic canvas through over-crowded detail” (Lee, 1971: 41).

In Afrikaans kan Gustav Preller se biografieë oor Retief (Piet Retief: 1906) en Pretorius (Andries Pretorius: 1938) genoem word.

 

Bibliografie

Dresden, S. 1956. De structuur van de biografie. Daamen: Bakker.

Lee, S. 1971. Principles of Biography: The Leslie Stephen Lecture. Folcroft: Folcroft Library Editions.

Shelston, A. 1977. Biography. London: Methuen. (The Critical Idiom.)

Raadpleeg ook:

Aaron, D. (ed.). 1978. Studies in Biography. London: Cambridge.

Kannemeyer, J.C. 1989. Getuigskrifte. Kaapstad: Jutalit.

Anna-Marie Bisschoff