MONDELINGE LITERATUUR

Mondelinge literatuur is tradisionele LITERATUUR wat mondeling oorgelewer word. Soos met die begrip literatuur is dit moeilik om die domein van die mondelinge literatuur af te baken. In breë trekke kan dit beskou word as dié terrein van die FOLKLORE wat soms verbale kuns genoem word. Die klem wat op “kuns” en “literatuur” geplaas word skakel skynbaar kort gememoriseerde stukkies soos spreekwoorde en kinderrympies uit ten gunste van die groter vorms van skeppende werk soos die VOLKSVERHALE, die EPOS of die LIED. Ruth Finnegan het egter in haar oorsig Oral Literature in Africa (1970) gedigte, liedere, rympies, prosavertellings, SPREUKERAAISELS en die redenaarskuns ingesluit en in besonderhede bespreek.

Al die vorms van mondelinge literatuur kan as folklore beskou word, maar nie alle vorms van folklore sal deurgaan as mondelinge literatuur nie. Die professionele folkloris mag hom besig hou met tradisionele kuns en handwerk, met gebruike en seremonies, sowel as met volksverhale, liedere of spreuke. Slegs die lg. drie kan as mondelinge literatuur beskou word, omdat die teks van die voordrag of optrede geredelik as ‘n vorm van literatuur herken kan word. Volksverhale sowel as KORTVERHALE en ROMANS is prosavertellings; eposse wat mondeling oorgedra is, soos die wat onder ongeletterde Joego-Slawiese landbouers van die 20e eeu opgeteken is, toon vorm-ooreenkomste met literêre eposse soos Vergilius se Aeneïs en Milton se Paradise Lost. Die term mondelinge literatuur word gebruik om die tradisionele mondelinge oordrag van ‘n teks, in onderskeiding van die geskrewe literatuur wat deur ‘n geletterde skrywer voortgebring word, aan te dui.

Besware teen dié term word soms geopper deur diegene wat die gebruik van die term “literatuur” (uit die Latyn littera: ‘n letter) uitsluitlik vir geskrewe tekste reserveer, of deur diegene wat meen dat “volksprodukte” nie met die literêre prestasies van outeurs soos Shakespeare, Wordsworth en Dickens vergelyk kan word nie. Nie een van die twee besware is steekhoudend nie: etimologiese pedanterie behoort nie die uitbreiding van die term “literatuur” tot die werk van ongeskooldes te verhinder nie. Daar bestaan nou afdoende bewys dat hierdie ongeskooldes werke van buitengewone literêre gehalte kan voortbring. Die kritiek dat die gebruik van die term mondelinge literatuur ‘n rigiede onderskeid tussen mondelinge en geskrewe literatuur uitlok, het meer om die lyf. Aangesien albei uitdrukkingswyses “literatuur” is, word aangevoer, moet ons nie in terme van ‘n tweedeling dink nie, maar eerder van ‘n kontinuum met mondelinge werke aan die een kant en geskrewe werke aan die ander kant van die spektrum van die oorkoepelende literatuur.

As die kritikus sy inhibisies en vooroordele in so ‘n mate kan tersyde stel dat hy ‘n EPOS wat gesing word of ‘n volksverhaal op dieselfde manier as ‘n roman of geskrewe gedig as ‘n vergestalting van die literatuur kan beskou, dan moet hy tog egter toegee dat daar verskille in die oordrag en die ontvangs van mondelinge literatuur bestaan, wat waarskynlik ‘n ander stel kriteria vir die waardering daarvan nodig maak. Mondelinge literatuur is in wese ‘n uitvoerende kuns: dit kan slegs binne ‘n sosiale situasie bestaan. ‘n Digter kan ‘n gedig in die afsondering van sy studeerkamer skryf; as dit gepubliseer word, bestaan dit onafhanklik van die digter en kan dit in boekvorm lê en wag op ‘n leser wat dit moontlik in afsondering, selfs ná die dood van die digter, kan lees. Die waardering van ‘n gedig kan oor die algemeen as ‘n asosiale handeling beskryf word. Die digter moet met ‘n geïmpliseerde leser d.m.v. woorde op papier kommunikeer. (Vgl. LESERTIPES.) Die voordrag van ‘n gedig, aan die ander kant, is in wese ‘n sosiale handeling: die digter is omring deur ‘n gehoor wat reageer op sy voorkoms, die klank van sy woorde en die gemeenskaplike ervaring binne die sosiale konteks van die uitvoering. Die gedig het bestaansreg slegs deur die voordrag van die digter, wat die woorde wat hy uiter met mimiek, gebaar en intonasie kan aanvul en wat die ontvangs van sy gedig deur die reaksies van sy gehoor voor hom kan peil. Die kommunikasie is onmiddellik. By ‘n geskrewe gedig kan ‘n hoeveelheid tyd verloop tussen die skeppingsproses, die publikasie en *resepsie van die gedig: by die mondelinge gedig val die voordrag en die waardering van die gedig en selfs ook die ontstaan daarvan saam. Die leser kan na ‘n geskrewe teks terugkeer en daaroor nadink om sy insig te verdiep; die gehoor by ‘n mondelinge voordrag moet onmiddellik daarop reageer, want al wat oor is ná die uitvoering, is hulle vervlietende herinnering daaraan. Verba volant, scripta manent: gesproke woorde vlieg weg, maar geskrewe letters bly.

As gevolg van die fisieke werklikheid van die uitvoeringsituasie, die feit dat die vertolker direk kommunikeer en sy gehoor gewoonlik aan hom bekend is omdat hulle uit dieselfde sosiale struktuur kom, is die mondelinge literatuur geneig om swaar te steun op sosiaal aanvaarde gevoelswaardes. Clichés, stereotiepe elemente, standaardsituasies sowel as herhalings kom veelvuldig voor, omdat die uitvoerende kunstenaar deel het aan die lewende tradisie wat kommunikasie d.m.v. die aanvaarde kunsvorm bevorder. In die wêreld se volksverhale is die wrede stiefma en onskuldige kinders wat ongehoorsaam aan hulle ouers is, maar deur diere uit die verknorsing gehelp word, bekende figure; die helde is gewoonlik bomenslik dapper of besit toormiddele; gebeurtenisse word dikwels drie maal herhaal. Die uitvoerende kunstenaar kies materiaal wat die gemeenskaplike besit van al die voordraers uit sy gemeenskap is; hy het immers sy vaardigheid aangeleer deur ander kunstenaars dop te hou — hy aanvaar die tradisionele styl, tegnieke en materiaal. Dit maak egter nog nie noodwendig van hom ‘n slaaf van die tradisie nie, omdat daar nog ruimte is om sy skeppende talent in dieselfde mate as ‘n skrywer van literêre werke te gebruik. So is die intriges van Chaucer of Shakespeare wel tradisioneel, maar wat hulle daarvan gemaak het, is oorspronklik. Die mondelinge kunstenaar “erf” sy stof, maar dit staan hom vry om dit na sy goeddunke kunstig te omvorm: hy is ‘n tradisionele skeppende kunstenaar.

Daar kan wel teëgewerp word dat die persoon wat ‘n teks soos bv. Sarie Marais of Thirty days hath September presies weergee soos hy dit gehoor het, deel het aan ‘n tradisie, maar dat hy nie werklik kreatief besig is nie. Met betrekking tot die teks mag dit wel waar wees, maar ‘n voordrag bestaan altyd uit veel meer as die woorde wat by die geleentheid gebruik word. Verskillende opvoerings van Hamlet gebruik bv. presies dieselfde teks sonder om noodwendig dieselfde effek te hê; die effek is nie net van die woorde afhanklik nie, maar van die uitvoering in sy geheel. Alan Dundes (1962) toon aan hoe ons in die definiëring van folkloristiese aspekte van die teks (d.w.s. die woorde wat deur die uitvoerende kunstenaar en soms ook deur ‘n mede-speler en/of die gehoor gebruik word) altyd die tekstuur (d.w.s. die klank- en visuele effekte soos die kleredrag, ritme, klankkleur van die stem en instrumentale begeleiding) en die konteks (d.w.s. die sosiale omstandighede waarin die opvoering plaasvind, die samestelling van die gehoor, ens.) in ag moet neem. Kreatiwiteit kan nog altyd ‘n rol speel, of die teks nou bepaald vas is of nie: die sukses van ‘n grap hang nie net van die storie of die sg. trefreël af nie, maar van die wyse waarop die grap vertel word.

Die term “vaste” TEKS, waarin die woorde van uitvoering tot uitvoering dieselfde bly, staan teenoor “vrye” teks, waarin die uitvoerder die woorde tydens sy optrede verander. In die Engelse tradisie van kinderrympies soos “Baa, baa, black sheep” word “vaste” tekste gewoonlik gebruik, terwyl die grapverteller weer van die “vrye” teks, met behoud van die storie en die trefreël, gebruik maak en die woorde volgens die bepaalde omstandighede van opeenvolgende vertellings kan wysig. Die onderskeid tussen “geïmproviseerde” en “gememoriseerde” uitvoerings staan sentraal in die teorieë van Milman Parry en Albert Lord. Hulle teorieë oorheers die studieterrein van die mondelinge literatuur in so ‘n mate dat bg. terme soms slegs gebruik word om na hulle navorsing te verwys of na studies wat daardeur beïnvloed is.

Uit sy ondersoek na tradisionele epiteta in die Homeriese eposse, lei Milman Parry af dat die diksie van die antieke Griekse gedigte ‘n direkte gevolg was van die deelname aan ‘n mondelinge tradisie. Om die tegnieke en prosesse van die mondelinge maak en oordrag van ‘n gedig te probeer verstaan, het Parry en sy student, Albert Lord, Joego-Slawië in 1934 en 1935 besoek; hulle wou eerstehandse kennis oor die Serwo-Kroatiese mondelinge epos inwin. Parry het voor sy vroeë dood in 1935 ‘n aantal voorlopige studies gepubliseer. Lord het daarna voortgegaan om volgens die riglyne wat deur Parry neergelê is, te werk. Lord se The Singer of Tales (1960) het een van die klassieke tekste vir studente van die mondelinge literatuur geword. Lord beweer dat die Joego-Slawiese guslar bewus ‘n lang leertyd deurmaak om die kuns te bemeester om lang verhalende gedigte met begeleiding van ‘n eensnarige instrument, bekend as die gusle, voor te dra. Die METRUM van die tradisionele poësie is nogal onbuigbaar: elke VERSREëL bestaan uit tien sillabes met ‘n sesuur na die vierde sillabe. Om sy verhaal binne die tradisionele metriese beperkinge te kan vertel, moet die guslar in beheer wees van as ‘t ware ‘n subgrammatika van sy alledaagse taal, ‘n variant wat hom in staat sal stel om die idees wat essensieel is aan die verhaal in metriese eenhede weer te gee. Hierdie woorde, frases of sinsdele wat essensiële idees in afgebakende metriese eenhede weergee, noem Lord “formules”. Elke formule kan weer op sy beurt die basis vorm vir die hele nuwe frasesisteem of “formuleagtige” uitdrukkings, gemodelleer op die sg. formules; daarom kan die formules nie beskou word as verstarde clichés nie; d.i. eerder veelsydige werktuie in die hande van ‘n skeppende kunstenaar, wat hom in staat stel om sy idees in metriese taal uit te druk. Metriese versreëls word saamgestel uit formules en formuleagtige uitdrukkings; ‘n lied in sy geheel word saamgestel deur gebruikmaking van temas of afgebakende tradisionele narratiewe eenhede, geykte beskrywings van debatte, veldslae, reise, e.s.m. Die guslar wat oor hierdie linguistiese gereedskap beskik, is in staat om toereikende metriese liedere te komponeer.

Die tradisionele formules, formuleagtige uitdrukkings en temas is nie slegs nuttig vir die guslar nie, hulle is vir hom noodsaaklik, want die guslar komponeer nie sy lied vooraf en memoriseer dit dan nie; hy dra ook nie liedere voor wat hy woordeliks van ‘n ander guslar geleer het nie. Die “vaste” teks bestaan nie vir die guslar nie: hy skep elke verhaal terwyl hy optree, en om dit vir hom moontlik te maak om sy gedigte spontaan voort te bring, het hy die formules, formuleagtige uitdrukkings en temas nodig wat so bruikbaar was vir tallose sangers wat hom in dié tradisie voorafgegaan het. Elke uitvoering is dus uniek, verbaal verskillend, want elke lied word gekomponeer terwyl die guslar voor sy gehoor sit. Lord (1960: 5) skryf: “With oral poetry we are dealing with a particular and distinctive process in which oral learning, oral composition, and oral transmission almost merge; they seem to be different facets of the same process.” As ‘n guslar, deur na die uitvoering van ‘n ander sanger te luister, ‘n nuwe lied by sy repertorium voeg, is wat hy leer nie die woorde nie, maar die buitelyne van die intrige; die storie bly in die oordrag min of meer dieselfde, maar die woorde vorm deel van die tradisie van vrye improvisasie en sal van sanger tot sanger verskil, selfs by dieselfde sanger van een uitvoering na die volgende.

Lord beweer verder dat die metode en styl ontwerp is om die uitvoering en oordrag van ‘n lied vir ongeletterde sangers te vergemaklik. By die sanger wat kan skryf, ontwikkel die konsep van ‘n vaste teks, van ‘n “korrekte” weergawe, en hy verloor dan die vermoë om gedurende ‘n uitvoering op die tradisionele mondelinge manier te komponeer. Die formules, die formuleagtige uitdrukkings en temas wat vir die ongeletterde digter noodsaaklike gereedskap is om op spontane wyse gedurende ‘n uitvoering ‘n gedig te maak, is oorbodig vir die geletterde digter wat kan besin oor die opbou van sy gedig. Lord voer dus aan dat ‘n ontleding van die formuleagtige inhoud van enige teks die oorsprong daarvan kan verraai: ‘n hoë voorkomssyfer van formules dui op ‘n mondelinge uitvoering deur ‘n ongeletterde sanger wat sy gedig waarskynlik aan ‘n skrywer gedikteer het; ‘n lae voorkomssyfer van formules dui op die produk van ‘n geletterde outeur.

Die teorieë van Parry en Lord het die grootste invloed gehad op die bestudering van die KLASSIEKE en MIDDELEEUSE Europese literatuur. Die afgelope twee dekades het ‘n heftige debat gewoed oor die geldigheid en toepaslikheid van die Joego-Slawiese navorsing op literature wat in tyd en ruimte ver daarvan verwyder is. Vandag betwyfel geleerdes in die algemeen die geldigheid van die metode van uitgebreide vergelykende toepassings, en baie van die gevolgtrekkings word nie meer so geredelik aanvaar nie. Wat die metodologie betref, reageer die geleerdes teen die veronderstelling van sommige van die ekstremiste wat deur Parry en Lord beïnvloed is, nl. dat daar uit die navorsing in Joego-Slawië ‘n universele model van die mondelinge digter na vore kom wat van toepassing sou wees op alle mondelinge digters, ongeag hulle plek van herkoms. Wat die ander gevolgtrekkings betref, is die meeste geleerdes nou bereid om gememoriseerde tekste as mondelinge poësie te aanvaar, en min glo dat geletterdheid en die vermoë om mondelinge poësie tydens ‘n uitvoering te lewer, onverenigbaar is. Nogtans het Parry en Lord waardevolle navorsing gedoen en is hulle werk steeds invloedryk. Studente betrokke by verskillende navorsingsgebiede het aandag bestee aan die aard en funksie van daardie herhaalde frases wat Parry en Lord formules genoem het, en hulle konsep van die improvisasie het die benadering tot die ontstaan en oordrag van die mondelinge teks ingrypend verander. Vandag handel die besprekings rondom die mondelinge literatuur in die algemeen oor ander sake as dié wat in die werk van Parry en Lord beklemtoon is, maar ‘n mens moet toegee dat hierdie werk die impetus vir die debatte van hierdie eeu verskaf het.

Een geleerde wat Lord se invloed op hom erken, is Walter J. Ong. Gerugsteun deur die werk van Marshall McLuhan oor die kommunikasierevolusie wat deur die massamedia teweeggebring is, en die werk van Eric Havelock oor die gevolge van die ontwikkeling van die geletterdheid in ou Griekeland, probeer Ong om die gevolge van die opeenvolgende uitvindings van die alfabet en die boekdrukkuns op die mens se gees op te teken. Hy beskryf ‘n toestand van “primary orality” onder diegene wat glad nie met die skryfkuns in aanraking kom nie; in hierdie staat dink die mens in terme van stereotiepes en formules (maar nie so onbuigsaam omskryf soos Lord se formules nie). Die geestestegnieke wat by die bewaring en oproeping van inligting betrokke is, word onherroeplik verander as die mens in aanraking kom met die vernuwings wat deur die alfabetiese skrif, die drukkuns en moderne media soos die televisie en die bandopnemer teweeggebring word.

Met die lg. twee media keer die kommunikasie terug na ‘n mondelinge vlak, omdat die woorde hier gehoor eerder as gelees word; Ong noem hierdie staat “secondary orality”. Die mondelinge tegnieke wat by primêre oraliteit betrokke is, gaan nie onmiddellik verlore by die kennismaking met die drukkuns nie, maar bly funksioneer as neerslag in die nuwe kommunikasiemedium. Die gebruik van tradisionele, patroonmatige taal, wat deur die gewilde gemeenplasige boeke uit die Middeleeue en die RENAISSANCE aangemoedig is, is slegs deur die ROMANTIEK ernstig bedreig. Die bewering propageer ‘n vars en individuele segswyse. Ong se teorieë, as dit aanvaar kan word, verskaf die geestelike konteks waarin mondelinge literatuur tuisgebring kan word.

Folkloriste uit die Finse skool se bemoeienis met die oorspronge van tekste en, meer onlangs, die STRUKTURALISTIESE analise van tekste, was baie meer invloedryk in die moderne studie van mondelinge literatuur. Die aanvoorwerk vir die Finse metode vir die bestudering van ‘n volksverhaal is deur die Finne, Julius en Kaarle Krohn (vader en seun) en Antti Aarne gedoen, en dit is uitgebrei deur hulle grootste aanhanger, die Amerikaner Stith Thompson. Hierdie metode poog om die geskiedenis van bepaalde volksverhale en sprokies te rekonstrueer en om die veranderings te bestudeer wat hulle ondergaan by die wisseling van tyd en ruimtelike omstandighede. Thompson onderskei tussen die verhaaltipe, waaronder hy ‘n tradisionele verhaal verstaan wat onafhanklik bestaan, soos Aspoestertjie, en die MOTIEF wat hy beskou as die kleinste onderdeel van die verhaal wat die vermoë het om in die tradisie te bly voortbestaan. Motiewe kan bv. die akteurs van die verhaal (soos ‘n reus of ‘n stiefma), voorwerpe (soos towerbone, of ‘n pampoen wat in ‘n koets verander) of gebeurtenisse wees. Thompson het Aarne se katalogus van tipes in The Types of the Folktale uitgebrei en ook ses volumes getitel Motif Index of Folk Literature saamgestel. Albei die werke was standaardnaslaanbronne vir ‘n hele geslag geleerdes wat mondelinge literatuur bestudeer het, en is nog steeds bruikbaar as ‘n gerieflike universele kortpad om herhalende elemente in die folklore na te gaan. Die bruikbaarheid van die Finse metode berus in ‘n groot mate op die omvattende uitbreiding van sy verwysingsinstrumentarium m.b.t. volksverhale en SPROKIES dwarsoor die wêreld. Tot op hede het slegs ‘n paar geleerdes die tegniek op materiaal uit Afrika toegepas. Die betekenis van die metode self is besig om af te neem namate die ondersoekfokus vanaf die teks na die konteks verskuif.

‘n Strukturele ondersoek van tekste word mettertyd meer aanvaarbaar vir wetenskaplikes. Dié tegniek word veral verbind met die name van Claude Lévi-Strauss en Vladimir Propp, hoewel hulle benaderings verskil. Die beginsel wat albei benaderings aanvaar, is egter dat daar ‘n DIEPTESTRUKTUUR onderliggend aan die OPPERVLAKTESTRUKTUUR van ‘n teks bestaan. Die struktuur van baie tekste, sowel as van tale, seremonies of denkprosesse, kan herken word en geassosieer word met soortgelyke strukture binne die tradisie en dwarsdeur die wêreld. Lévi-Strauss sonder pare elemente in ‘n teks wat in opposisie tot mekaar staan, af (soos hitte en koue of lewe en dood); Propp (1908) het ‘n geselekteerde groep Russiese sprokies ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom dat elke verhaal dieselfde struktuur vertoon en ‘n keuse maak uit slegs 31 moontlike handelinge (“functions”), wat altyd in dieselfde lineêre volgorde voorkom. Lévi-Strauss se opvattings is toegepas in die bestudering van die MITE en verhale veral in die Ou Testament, sy opvattings is ook invloedryk in die Antropologie. Propp het, veral a.g.v. die toepassing van sy idees op Noord-Amerikaanse Indiaanse volksverhale deur Alan Dundes, ‘n nog groter invloed op die bestudering van mondelinge literatuur uitgeoefen. Proppiaanse ontledings van Suid-Oostelike Bantoetradisies is deur geleerdes onderneem, wat bevind het dat Propp se teorieë in die algemeen op plaaslike fenomene toepaslik is.

As ‘n reaksie teen die grootliks teksgeoriënteerde ondersoeke van diegene wat volgens die Finse of die strukturalistiese metode werk, en aangespoor deur vooruitgang op die gebied van die sosiolinguistiek, het ‘n aantal Amerikaanse geleerdes hulle aandag gevestig op die folklore binne ‘n konteks, op die teks as taalhandeling en op die rol wat mondelinge literatuur in die maatskappy speel. Dell Hymes het, in die vormingsproses van sy benadering tot die etnografie van kommunikasie, grootliks uit linguistiese navorsing geput. Geleerdes wat deur Hymes beïnvloed is, analiseer die interaksie tussen gespreksgenote in ‘n diskoers en hulle soek na daardie formuleagtige tekens wat “paragrawe” of “oorgange” in die spraak bepaal en wat op die moeilike kwessie van die onderskeid tussen mondelinge prosa en mondelinge poësie lig kan werp. Richard Bauman, Roger Abrahams, Dan Ben-Amos e.a. het die teks as taalhandeling verken, en die klem verskuif, in Bauman se woorde, vanaf “the things of folklore” na “the doings of folklore”. Baie van hierdie studies soek na die betekenis van die handeling binne sy kulturele konteks en maak dus grootliks gebruik van antropologiese, etnografiese en sosiologiese tegnieke. Die hedendaagse studie van mondelinge literatuur het in wese interdissiplinêr geword.

Die wetenskaplike bestudering van mondelinge literatuur in Afrika het met die koms van die Europese sendelinge ‘n aanvang geneem. Baie van hulle wou die inboorlingtradisies, as uitdrukking van ‘n inheemse kultuur, opteken. Sommige vroeë sendelinge, geleerdes of regeerders het die folklore van die swart mense versamel en gepubliseer, onder invloed van soortgelyke versamelings Europese folkloristiese tradisies in die 19e eeu. Op hierdie gebied was Wilhelm Bleek, Henry Callaway en George McCall Theal pioniers; James Stuart se aantekeninge oor die Zoeloetradisies is ook van uiterste belang. Die vroeë beklemtoning van die folklore van die swart mense word bevestig deur die inhoud van die Folklore Journal wat vanaf 1879 tot 1880 in Kaapstad verskyn het. Hierin oorheers die swart folklore, waarskynlik omdat die Britse geleerdes van daardie tyd onder die indruk was dat die folklore oorblyfsels van primitiewe tydperke is; dit is eers onlangs dat geleerdes besef het dat die mondelinge literatuur nie uitsluitlik in onontwikkelde plattelandse gebiede floreer nie. Hierdie vroeë nadruk op die swart Suid-Afrikaanse folklore het in die algemeen behoue gebly. Vergelykenderwys bestaan daar baie min wetenskaplike werke oor die Afrikaanse folklore, en nog minder oor Suid-Afrikaanse Engelse verhale of liedere. Die Afrikaanse diens van SATV het ‘n uitstekende dokumentêre program Van gister en eergister oor die Afrikaanse lied aangebied, en professor Abel Coetzee het veral in die Tydskrif vir volkskunde en volkstaal standhoudend pionierswerk gedoen in die dokumentasie van die Afrikaanse folklore. Ons weet egter veel meer van die mondelinge literatuur van die swart inwoners van Suid-Afrika as van die van die blankes. Om die waarheid te sê, bevat A.C. Partridge se versameling Folklore of Southern Africa slegs swart volksverhale, asof die Afrikaans- en Engelssprekendes nie verhale vertel, liedjies sing of raaisels vra nie.

Hoewel daar in ‘n beperkte mate aandag gegee is aan die swart Suid-Afrikaner se redevoering, raaisels, liedere, spreuke en persoonlike herinneringe, is dit hulle volksverhale en mondelinge poësie wat intensief bestudeer is. ‘n Aantal versamelings volksverhale, veral van die Xhosa en Sotho, is gepubliseer, maar heelwat hiervan is bloot beskrywend. Scheub het ‘n reeks artikels geskryf oor die vaardigheid van ‘n voortreflike Gcaleka-storieverteller, Nongenile Mazithathu Zenani, en Neethling (1979) het op verdienstelike wyse Propp se metodes van analise op sy versameling Xhosa-verhale toegepas; ‘n verhandeling deur Mofokeng en artikels deur Cope en Hammond-Tooke vul die skraps lys wetenskaplike studies oor die Suid-Afrikaanse volksverhale enigsins aan.

Die mondelinge poësie van swart Suid-Afrika word oorheers deur prysliedere; lang verhalende gedigte (EPOSSE) bestaan nie in die mondelinge tradisie nie, hoewel Rycroft ‘n Zoeloelied van prinses Constance Magogo, wat hy ‘n BALLADE noem, gepubliseer het. In 1970 (p. 121) skryf Ruth Finnegan: “The praise poems of the Bantu peoples of South Africa are one of the most specialized and complex forms of poetry to be found in Africa. Many examples have been published in the original or in translation (though as yet these are probably only a fragment of what could be found), and there is a large literature about them in South Africa.” Sedertdien het nog verdere studies verskyn, sodat haar bewerings vandag selfs meer akkuraat is. Groot versamelings mondelinge Sotho-, Tswana- en Zoeloepoësie is reeds gepubliseer, en ‘n groot aantal artikels oor Zoeloe-, Sotho-, Xhosa- en Pedi-eulogieë (prysgedigte of lofliedere) is geskryf. Baie van hierdie werk konsentreer op die prysliedere aan konings en hooggeplaastes, geskep deur hofdigters, maar daar is ook al aandag gegee aan prysliedere aan die stam en aan die gedigte wat deur gewone mense geskep is. Die meeste van die vroeë kommentators is slegs daarin geïnteresseer om die onduidelike historiese verwysings wat hierdie gedigte kenmerk, uit te lê. Onlangs het sommige geleerdes egter probeer om die poësie binne sy konteks te bestudeer en oor die rituele, politieke en sosiale belang daarvan geskryf. Die tradisie van mondelinge poësie onder die swart mense in Suid-Afrika is oor die algemeen nog sterk. ‘n Studie van hierdie prysliedere kan ‘n beter begrip van die aard van die prysliedere as sodanig teweegbring, nie net in Suid-Afrika en in Afrika nie, maar ook m.b.t. die in die klassieke wêreld en in die Middeleeuse Europa, in ou Israel en Indië, in Noord-Amerika en Polinesië; Suid-Afrikaanse geleerdes staan gereed om ‘n belangrike bydrae tot die begrip van mondelinge literatuur te lewer.

 

Bibliografie

Aarne, A. & Thompson, S. 1961. The Types of the Folktale. Helsinki: Folklore Fellows Communications 184.

Bascom, W.R. 1955. Verbal art. Journal of American Folklore, 68.

Bauman, R. 1975. Verbal art as performance. American Anthropologist, 11.

Bauman, R. & Sherzer, J. (eds). 1974. Explorations in the Ethnography of Speaking. Cambridge: Cambridge University Press.

Ben-Amos, D. 1975. Folklore in African society. Research in African Literatures, 6.

Ben-Amos, D. & Goldstein, K. (eds). 1975. Folklore: Performance and Communication. The Hague: Mouton.

Beidelman, T.O. 1972. Approaches to the study of African oral literature, with a reply by Ruth Finnegan. Africa, 42.

Bleek, W.H.I. & Lloyd, L.C. 1911. Specimens of Bushman Folklore. London: George Allen.

Bouws, J. 1958. Die Afrikaanse volkslied. Johannesburg: FAK.

Bowra, C.M. 1952. Heroic Poetry. London: Macmillan.

Callaway, H. 1868. Nursery Tales, Traditions, and Histories of the Zulus. Nendeln: Kraus.

Cantrell, J.V. 1978. Folk-tales from Mpondoland. Pretoria: UNISA.

Chadwick, H.M. & Chadwick, N.K. 1932-1940. The Growth of Literature. Cambridge: Cambridge University Press. 3 vols.

Coetzee, A. 1960. Die Afrikaanse volkskultuur. inleiding tot die studie van volkskunde. Amsterdam: Balkema.

Cope, T. (edr). 1968. Izibongo: Zulu Praise Poems. Oxford: Clarendon Press.

Cope, T. 1978. Towards an appreciation of Zulu folktales as literary art. In: Argyle, J. & Preston-Whyte, E. (eds). Social System and Tradition in Southern Africa: Essays in Honour of Eileen Krige. Cape Town: Oxford University Press.

Damane, M. & Sanders, P.B. (eds). 1974. Lithoko: Sotho Praise-poems. Oxford: Clarendon Press.

Dorson, R.M. 1972. Africa and the folklorist. In: Dorson, R.M. (ed.). African Folklore. Bloomington, Ind.: Indiana University Press.

Dundes, A. 1962. From etic to emic units in the structural study of folktales. Journal of American Folklore, 75.

Dundes, A. 1964. The Morphology of North American Indian Tales. Helsinki: Folklore Fellows Communications 195.

Dundes, A. (ed.). 1965. The Study of Folklore. Englewood Cliffs, N.J.: Prentice-Hall.

Dundes, A. 1980. Interpreting Folklore. Bloomington: Indiana University Press.

Du Toit, S.J. 1924. Suid-Afrikaanse volkspoësie: bydrae tot die Suid-Afrikaanse volkskunde. Amsterdam: Swets & Zeitlinger.

Finnegan, R. 1970. Oral Literature in Africa. Oxford: Clarendon Press.

Finnegan, R. 1977. Oral Poetry: Its Nature, Significance and Social Context. Cambridge: Cambridge University Press.

Foley, J.M. 1980. Oral literature: premises and problems. Choice, 17.

Goody, J. (ed.). 1968. Literacy in Traditional Societies. Cambridge: Cambridge University Press.

Grant, E.W. 1927-9. The izibongo of the Zulu chiefs. Bantu Studies, 3.

Guma, S.M. 1967. The Form, Content and Technique of Traditional Literature in Southern Sotho. Pretoria: Van Schaik.

Gumperz, J. & Hymes, D. (eds). 1964. The ethnography of communication. American Anthropologist, 66.

Gunner, E. 1976. Forgotten men: Zulu bards and praising at the time of the Zulu kings. African Languages/Langues Africaines, 2.

Gunner, E. 1979. Songs of innocence and experience: women as composers and performers of izibongo, Zulu praise poetry. Research in African Literatures, 10.

Hammond-Tooke, W.D. 1977. Lévi-Strauss in a garden of millet: the structural analysis of a Zulu folktale. Man, 12.

Hatto, A.T. (ed.). 1980. Traditions of Heroic and Epic Poetry. Vol. 1. London: Modern Humanities Research Association.

Havelock, E.A. 1963. Preface to Plato. Oxford: Blackwell.

Havelock, E.A. 1982. The Literate Revolution in Greece and its Consequences. Princeton, N.J.: Princeton University Press.

Jordan, A.C. 1973. Tales from Southern Africa. Berkeley: University of California Press.

Kunene, D.P. 1971. Heroic Poetry of the Basotho. Oxford: Clarendon Press.

Lévi-Strauss, C. 1955. The structural study of myth. In: Sebeok, T.A. (ed.). Myth: A Symposium. Bloomington, Ind.: Indiana University Press.

Lord, A.B. 1960. The Singer of Tales. Cambridge, Mass.: Harvard University Press.

Lord, A. 1975. Perspectives on recent work on oral literature. In: Duggon, J.J. (ed.). Oral Literature: Seven Essays. Edinburgh: Scottish Academic Press.

McAllister, P.A. 1981. Umsindleko: A Gcaleka Ritual of Incorporation. Grahamstown: Institute of Social and Economic Research, Rhodes University.

McLuhan, M. 1962. The Gutenberg Galaxy: The Making of Typographic Man. Toronto: University of Toronto Press.

Mofokeng, S.M. 1951. A study of folktales in Sotho. M.A.-thesis, University of the Witwatersrand, Johannesburg.

Mzolo, D. 1980. Zulu clan praises: structural and functional aspects. In: Wentzel, P.J. (ed.). Third Africa Languages Congress of Unisa. Pretoria: UNISA.

Neethling, S.J. 1979. Die Xhosa iintsomi: ‘n strukturele benadering. D.Litt.-tesis, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Nyembezi, C.L. 1954. Zulu Proverbs. Johannesburg: Witwatersrand University Press.

Oinas, F.J. (ed.). 1978. Heroic Epic and Saga: An Introduction to the World’s Great Folk Epics. Bloomington, Ind.: Indiana University Press.

Ong, W.J. 1970. The Presence of the Word: Some Prolegomena for Cultural and Religious History. New York: Simon & Schuster.

Ong, W.J. 1971. Rhetoric, Romance, and Technology: Studies in the Interaction of Expression and Culture. Ithaca, N.Y.: Cornell University Press.

Ong, W.J. & Ong, S.J. 1977. Interfaces of the Word: Studies in the Evolution of Consciousness and Culture. Ithaca, N.Y.: Cornell University Press.

Opland, J. 1974. Praise poems and historical sources. In: Derricourt, R. & Saunders, C. (eds). Beyond the Cape frontier: Studies in the History of the Transkei and Ciskei. London: Longman.

Opland, J. 1975. Imbongi nezibongo: the Xhosa tribal poet and the contemporary poetic tradition. PMLA, 90.

Opland, J. 1980. From horseback to monastic cell: the impact on English literature of the introduction of writing. In: Miles, J.D. (ed.). Old English Literature in Context. Cambridge: Brewer.

Opland, J. 1983. Xhosa Oral Poetry: Aspects of a Black South African Tradition. New York: Cambridge University Press.

Parry, A. (ed.). 1971. The Making of Homeric verse: The Collected Papers of Milman Parry. Oxford: Clarendon Press.

Partridge, A.C. (ed.). 1973. Folklore of South Africa. Cape Town: Purnell.

Paredes, A. & Bauman, R. (eds). 1972. Toward New Perspectives in Folklore. Austin: University of Texas Press.

Pollard, T.S. 1980. ‘n Stilistiese analise van die Tswanaprysgedig. M.A.-verhandeling, PU vir CHO, Potchefstroom.

Propp, V. 1968. Morphology of the Folktale. Austin: University of Texas Press.

Rycroft, D.K. 1960. Melodic features in Zulu eulogistic recitation. African Language Studies, 1.

Rycroft, D.K. 1975. The Zulu ballad of Nomagundwane with translation, annotation and musical transcription. African Language Studies, 16.

Rycroft, D.K’. 1975—6. The Zulu bow-songs of Princess Magogo. African Music, 5(4).

Rycroft, D.K. 1980. The question of metre in Southern African praise poetry. In: Wentzel, P.J. (ed.). Third Africa Languages Congress of Unisa. Pretoria: UNISA.

Schapera, I. (ed.). 1965. Praise-poems of Tswana Chiefs. Oxford: Clarendon Press.

Scheub, H. 1972. The art of Nongenile Mazikhathu Zenani, a Gcaleka ntsomi performer. In: Dorson, R.M. (ed.). African Folklore. Bloomington, Ind.: Indiana University Press.

Scheub, H. 1975. The Xhosa “intsomi”. Oxford: Clarendon Press.

Sobukwe, R.M. 1971. A collection of Xhosa riddles. African Studies, 30.

Theal, G. McC. 1882. Kaffir Folklore. London: Sonnenschein.

Thompson, S. 1955-1958. Motif index of Folk Literature. Bloomington, Ind.: Indiana University Press. 6 vols.

Thompson, S. 1977. The Folktale. Berkeley: University of California Press.

Tracey, H. 1948. Lalela Zulu: 100 Zulu Lyrics. Johannesburg: African Music Society.

Van Rooyen, G.H. & Pellissier, S.H. 1954. Raai raai riepa of die Afrikaanse raaiselboek. Pretoria: Van Schaik.

Van Warmelo, N.J. (ed.). 1938. History of Matiwane and the ama-Ngwane Tribe. Ethnological publications 7. Pretoria: Department of Native Affairs.

Wainright, A.T. 1979. The praises of Xhosa mineworkers. M.A.-thesis, UNISA, Pretoria.

Wainwright, A.T. 1980. The Xhosa imbongi at home and on the mines. In: Wentzel, P.J. (ed.). Third Africa Languages Congress of Unisa. Pretoria: UNISA.

Watts, A.C. 1969. The Lyre and the Harp: A Comparative Reconsideration of Oral Tradition in Homer and Old English epic Poetry. New Haven: We University Press.

Webb, C. de B. & Wright, J.B. (eds). 1976. The James Stuart archive of Recorded Oral Evidence relating to the History of the Zulu and Neighbouring Peoples. Pietermaritzburg: University of Natal Press. 3 vols.

 
J. Opland