RAAISEL

Die raaisel (Lat.: enigma; Gr.: griphos; OE: opinion) is in wese ‘n metafoor wat die verwantskap tussen onverwante onderwerpe vestig, bv.: “Ek het ‘n perdjie met ‘n lange, lange stertjie. Hoe verder ek ry, hoe korter word sy stertjie.” Die antwoord is dan ‘n naald en garing. ‘n Verwantskap word so gelê tussen twee onverwante voorwerpe, genaamd die perdjie en die naald en garing.

Ouer raaisels is dikwels in versvorm, soos bg., en dus ‘n eenvoudige literêre vorm.

Die raaisel is een van die oudste literêre vorme en kom in alle tale voor. Oor die oorsprong daarvan bestaan verskeie teorieë. In die Moderne encyclopedie der wereldliteratuur sê Meertens (1972: 140) dat een teorie aanneem dat die raaisel sy oorsprong het in Josef se uitleg van Farao se droom. Volgens ‘n ander teorie kan dit teruggevoer word na die mitiese inwydingsrituele van geheime vergaderings of tot die mens se aangetrokkenheid tot die spel. Meertens self is van mening dat raaisels gebore is uit die primitiewe mens, wat nog op assosiatiewe wyse gedink het, en uit sy verwondering met die wêreld waarin hy geleef het.

Die vroegste raaisels kom in die Oosterse literatuur voor. In die Griekse literatuur kom dit sedert Homeros se tyd voor in die vorm van orakelspreuke. Dit kom ook dikwels voor in die Oud-Engelse literatuur. In Frankryk was dit baie gewild in die 17e en 18e eeu en so ook in Duitsland, maar veral in Italië in die 19e eeu.

Raaisels wentel soms om bepaalde geleenthede, bv. die huwelik, geboorte, begrafnis en die wisseling van die seisoene.

Om ‘n raaisel op te los, moet ‘n mens logies dink, maar ook ‘n ryke verbeelding hê, “omdat het de alledaagse dingen van het leven rondom ons in een zodanige vorm beschrijft dat ze raadselachtig schijnen, door b.v. maar een deel der eigenschappen of juist de minst in het oog vallende op te sommen, of die eigenschappen in metaforische zin te beschrijven” (Meertens, 1972: 140).

Vroeër het die raaisel ‘n groter deel van die alledaagse lewe uitgemaak as vandag. In die Klassieke Oudheid en in die Middeleeue is daar raaiselwedstryde gehou. Raaisels pas verder aan by die tyd en die gebruike van ‘n bepaalde volk.

Raaisels kom in verskillende vorme voor, bv. die letterraaisel, die beeldraaisel, die palindroom en die anagram.

Verder kan ‘n onderskeid getref word tussen die literêre raaisel en die volksraaisel. Die literêre raaisel kom vir die eerste keer voor in Latyn in Simphonius se honderd poëtiese raaisels uit die 5e eeu. Die literêre raaisel het veral voorgekom in die Bisantynse, vroeë Middeleeuse en Renaissancistiese Latynse literatuur.

Daar bestaan talle raaiselversamelings, o.a. in Sanskrit (bv. in die Rigveda), in Hebreeus (bv. Simson se raaisel aan die Filistyne), in Arabies (bv. dié van Al-Hariri), in Latyn en in talle Europese tale: Een van die grootste raaiselversamelings is Nicolas Reusner se Aenigmatographia (1602).

Die raaisel is een van die eenvoudige vorme wat Jolles (1956) onderskei. As sodanig is die raaisel die grondvorm van die speurverhaal.

(Vgl. EINFACHE FORMEN.)

 

Bibliografie

Finnegan, R. 1970. Oral Literature in Africa. London: Oxford University Press.

Georges, R.A. and Dundes, A. 1963. Towards a Structural Definition of the Riddle. Journal of American Folklore, 76.

Gowlett, D.F. 1975. Common Bantu Riddles. African Studies, 33(2).

Harries, L. 1976. On the Deep Structure of Riddles. Journal of American Folklore, 88.

Jolles, A. 1930/1956. Einfache Formen. Halle: Niemeyer.

Anna-Marie Bisschoff