LIED

Die spontaanste LIRIESE literêre produk waarin op skynbaar ongedwonge wyse stemminge van vreugde, verering, smart of verrukking tot uitdrukking gebring word, is die lied. So ken ons die lied vandag: as ʼn literêre produk wat geskryf is om gelees te word. Vroeër was die lied egter, soos die naam aandui, veronderstel om gesing te word, selfs in gevalle waar dit sterk verhalend was – sang begelei op die lier. Woord en musiek het hand aan hand gegaan. Die teksskrywer was tegelyk musikant en sanger, en so kry ons in die Middeleeuse TROEBADOERKUNS: hoofse minneliedere (ook oggendliedere, dialoogliedere en dansliedere) wat tussen die 11e en die 13e eeu in Suid-Frankryk bloei en vandaar oor Europa versprei, o.a. deur bemiddeling van die minnesangers in Duitsland en die minstrele in Nederland. Woord en melodie het mekaar wedersyds gevoed. Dikwels is gedigte op bestaande melodieë gekomponeer en menige lied van Hooft en Bredero (17e eeu) gee ook die wysie aan waarop dit gesing moet word (“op de vooys”). Trouens, tot in die 18e eeu is gedigte wat op bekende wysies gemaak is, vir die eerste keer in liedboeke gepubliseer.

Teen daardie tyd het die digter as skepper in sy eie reg van die lied as literêre produk egter lankal sy eie pad begin loop. En tog het die literêre lied hom nog altyd dikwels tot toonsetting geleen, soos blyk uit die talle kunsliedere van bv. Schubert, Schumann, Brahms en Wolff, waar woord en sang op sy beste ʼn simbiotiese verhouding aangaan. Ook in Suid-Afrika word liedere dikwels getoonset, o.a. deur Rosa Nepgen en Pieter de Villiers. Die literêre lied het dus onbetwisbare singmoontlikhede, wat saamhang met sy liriese aanslag, sy reëlmatige strofebou en sterk metriese gang.

In die lied word daar verskillende onderskeidinge getref. So kry ons die ongekunstelde volksliedjies, soos bv. “Pollie ons gaan Pêrel toe” of “Daar kom die wa”. (Vgl. in dié verband S.J. du Toit se Suid-Afrikaanse volkspoësie en S.P.E. Boshoff en L.J. du Plessis se Afrikaanse volksliedjies.) Party van hierdie liedjies is baie oud.

Wanneer hier van volksliedere gepraat word, liedjies wat spontaan uit die volk voortkom, minne-, piekniek- en dansliedjies, moet hulle nie verwar word nie met waardige, patriotiese volksliedere, soos bv. “Die Stem”, waarin ʼn volk se ideale en strewes beliggaam word.

ʼn Ander indeling is dié wat vir die Middelnederlandse lied gegeld het, nl. die tussen geestelike en wêreldlike liedere. As geestelike liedere het bv. gegeld Kersliedere en paasliedere; as wêreldlike liedere weer liefdesliedere en historiese liedere, beroemde liedere, eintlik BALLADES, soos “Heer Halewijn” en “Het daghet inden Oosten”.

Besondere vermelding verdien die Nederlandse Geuseliedere, ruwe volksliedere uit die 16e en 17e eeu, waarin tot uitdrukking kom dit wat geleef het in die volk tydens sy heroïese stryd teen Spanje – ʼn bewys dat die lied ook ʼn sterk nasionale en strydvaardige karakter kan hê.

Afgesien van die onderskeidinge wat reeds ter sprake gebring is, word liedere dikwels op grond van hulle onderwerp ingedeel in arbeidsliedere, liefdesliedere, drinkliedere, natuurliedere, wiegeliedere, ens. Kortom, die lied gee uitdrukking aan dit wat oor die algemeen baie na aan die mens se hart lê. Daarom dat elke taal sy liedereskat oplewer. So sien ons dat die lied in Nederland dwarsdeur die geskiedenis floreer, vanaf die Middeleeue, oor die Renaissance tot en met Gorter, Boutens en Leopold waar die lied hoogtepunte bereik.

Miskien kan hier ook as besondere lied melding gemaak word van die dodesang (Eng.: dirge, afgelei van die Latyn dirige (Domine) – rig my, Heer, synde die eerste woorde van die antifoon as deel van die Rooms-Katolieke begrafnisliturgie). As literêre soort gaan dié treurlied terug op die Griekse epikedion, ʼn treurlied (by die lyk van ʼn afgestorwene), die trenodie (herinneringslied) en die Romeinse nenia (begrafnislied) wat geskryf is in die heksameter of in die ELEGIESE distigon om met fluitbegeleiding tydens ʼn begrafnisprosessie gesing te word.

In latere literature het hierdie soort gedig die gedaante aangeneem van ʼn kort eenvoudige klaagliedjie met volksliedeienskappe, ʼn lied wat meermale in Shakespeare-dramas voorkom, soos bv. die beroemde “Full fathom five” (uit The Tempest) en “Fear no more the heat o’ the sun” (uit Cymbeline). Mooi voorbeelde is ook in Webster se werk te vind, bv. “Hark now everything is still’ uit The Duchess of Malfi en “Call for the robin-redbreast and the wren” uit Vittoria Corombona.

In Afrikaans is die lied ook wyd beoefen, veral deur Leipoldt wat met sy “Slampamperliedjies” ʼn eie genre geskep het, lied­jies waarin doodgewone natuurdinge dikwels iets raaiselagtigs word. Baie bekend is ook W.E.G. Louw se “Nagliedjies”, terwyl baie van Boerneef se Krokos en Palissandryne eweneens ʼn duidelike liedkarakter vertoon. Menige “klip” uit Van Wyk Louw se Klipwerk sal ook as ʼn spot-, dans-, dreig- of liefdesliedjie kan geld.

(Vgl. ook CHANSON en KABARET (LITERÊRE/ARTISTIEKE).)

 

Bibliografie

Edmonds, J.M. 1922. Lyra graeca I. London: Heinemann.

Edmonds, J.M. 1924. Lyra graeca II. London: Heinemann.