BALLADE

Daar is minstens twee digsoorte wat as ballades (vgl. Lat.: ballare: om te dans) bekend staan, digsoorte wat wesenlik van mekaar verskil, hoewel hulle albei, soos die naam aandui, verband hou met die dans.

Die eerste soort is epies van aard: dit vertel ‘n (dikwels tragiese) verhaal en wel op ‘n snel, springende trant wat min ruimte laat vir besonderhede en breë motiverings. Hier word ‘n direkte, helder taal gebruik, soms ook die direkte rede, vraag en antwoord. Verder word hierdie ballade gekenmerk deur die gebruik van refrein-reëls e.a. herhalingselemente soos kleure en getalle wat aan die liedagtige vertelling iets van ‘n dramatiese en liriese karakter gee.

Hierdie epiese ballade het histories in twee fases aan die bod gekom.

Eerstens is daar die Middeleeuse volksballades (soms ook liedere genoem) waarvan ons ‘n ryk skat in die Engelse wêreld het (bv. “Chevy Chase”, “Sir Patrick Spens”, “Edward”) en ook in Middelnederlands (“Lied van Halewijn”, “Het daghet inden oosten”, “Het waren twee coninghs kinderen”). Dit is volkspoësie wat oorspronklik waarskynlik deur swerwende sangers met dans en musiek voorgedra is, liedere waarvan ons die skeppers nie ken nie en wat van mond tot mond oorgedra is. (Vgl. TROEBADOER) Hierdie ballades is meermale in 4-reëlige strofes opgebou (wat die verhaaltempo bevorder) terwyl hulle na die onderwerp gekarakteriseer kan word as liedere van stryd, bloed, wraak en liefde, met ‘n vae historiese, FOLKLORISTIESE of bonatuurlike verhaalagtergrond.

Tweedens is daar onder die epiese ballade die romantiese bal­lade wat tydens die ROMANTIEK in verskillende lande bewus literêr beoefen is, in Engeland bv. deur Coleridge (“The rime of the ancient mariner”) en Keats (“La belle dame sans merci”); in Duitsland o.a. deur Gottfried Bürger (“Lenore”) en deur Goethe (“Erlkönig”), voorbeelde wat ‘n mens die huiweringwekkende van die ballade laat voel.

Teen die agtergrond van hierdie wesenlik epiese ballades kan die Franse ballade in reliëf geplaas word. Hier het ons ‘n liriese digsoort met ‘n streng uiterlike patroon. (In Engels word hierdie digvorm ‘n “ballade” genoem in teenstelling met die benaming “ballad” vir die volks- of romantiese ballade.)

Die Franse ballade, wat waarskynlik uit ou Provensaalse digvorme (RONDEEL, VIRELAI) ontwikkel het, het in die 14e en 15e eeu in Frankryk tot rypheid gekom en die LIRIEK oorheers. Digters soos Guillaume de Machaut en Eustache Deschamps het in die 14e eeu finaliteit aan die vorm gegee en dit gepopulariseer. In die volgende eeu het veral drie digters dit tot ‘n hoogtepunt gevoer: Christine de Pisan (1363-1430) (wie se haas bedwelmende ballade “Alleen ben ik en zoek alleen te wezen” treffend deur Leopold vertaal is), Charles d’Orléans (1394-1465) met sy nogal satiriese ballades, en veral die “vervloekte” Francois Villon (1431-1463) van wie verskeie ballades wêreldberoemd geword het: “Ballade des dames du temps jadis” (geskryf op die bekende tema: Ubi sunt qui ante nos in mundo fuere? – Waar is die wat voor ons in die wêreld was?), “Ballade pour prier nostre Dame” en “L’epitaphe Villon”, wat Villon as ‘t ware onder die galg geskryf het. Al drie hierdie ballades is deur Uys Krige in Afrikaans vertaal onder die titels: “Ballade van die dames van weleer”, “Ballade” (aan onse Liewe Vrou) en “Grafskrif”.

Normaalweg bestaan die Franse ballade uit drie 8-reëlige strofes, almal met dieselfde rymskema, gevolg deur ‘n 4-reëlige boodskap: die envoi, ook Prince genoem, omdat die vors of die regter (in Middeleeuse literêre kompetisies) of God hierin direk aangespreek word. Sowel die strofes as die boodskap eindig op dieselfde reël, die stokreël, ‘n reël wat deur die herhaling ‘n sekere fataliteit aan die gedig gee, soos blyk uit die aangehaalde reël van De Pisan, of in die Krige-vertaling: “Maar waar’s die sneeu van voorverlede jaar?” Die herhalingsmomente is hier dus veel sterker formeel bepaald as in die volks- of romantiese ballade.

Die skema sien dus so daaruit: ababbcbC/ ababbcbC/ ababbcbC/bcbC, waar die hoofletter die posisie van die stokreël aandui. Soms het die ballade 10- of 12-reëlige strofes en ‘n boodskap van vyf of ses reëls i.p.v. vier, dog die aantal ryme bly beperk, gaan vier nie te bowe nie, en die rympatroon bly in al drie die strofes presies dieselfde – almal faktore wat die digter se vindingrykheid tot die uiterste toets.

Met die koms van die Renaissance is die ballade deur ander vorme verdring. In die 17e eeu is daar selfs met minagting na die ballade verwys. Buite Frankryk is hierdie digvorm ook maar sporadies beoefen. In Engeland word darem die naam van John Gower (1330-1408) genoem, wat ‘n reeks ballades (in Frans) geskryf het; ook Chaucer (13407-1400) met ‘n ballade soos “Complainte to his purse”. Maar werklik ingeslaan het die vorm nie.

In die laaste eeu of wat is daar egter weer enkele tekens van ‘n hernude belangstelling. In Engeland is daar bv. Austin Dobson (1840-1921) met sy “Ballade to Queen Elizabeth”, William Henley, Swinburne, Rossetti en Andrew Lang, terwyl ons in Nederland ‘n paar groot name kan noem (hoewel daar oor die algemeen taamlik vry met die vorm omgegaan is): Slauerhoff (met sy “Ballade” van digters wat geen plek op aarde kon vind nie en van wie Villon een was), Nijhoff met sy “Het steenen kindje” (waar die onthutsende “staar” van die kindjie, die ongebore woord, aan die stokreël iets beklemmends gee), Werumeus Buning met ‘n hele aantal ballades, waaronder “Ballade van den grooten dorst” en “Ballade van den boer”, W. Hessels met “Ballade van ‘s levens vreemdheid”.

In Afrikaans het die Franse ballade ook enkele spore gelaat, bv. by Leipoldt (“Ballade van Broer Blindeman”, “Ballade van die ryk prins”), by A.G. Visser (“Ballade van die roos”, “As Kersfees kom”), by Uys Krige (naas vertalings, gedigte soos “Romanza”, “Ballade van die groot begeer”), by Van Wyk Louw (“Ballade vir Jan se fees”).

 

Bibliografie

Entwistle, W. 1951. European Balladry. Oxford: Clarendon.

Friedman, A.B. 1961. The Ballad Revival. Chicago: Chicago University Press.

Gerould, G. 1957. The Ballad of Tradition. New York: Oxford University Press.

Gummere, F.B. 1894. Old English Ballads. Boston: Ginn.

Jeanroy, A. 1925. Origines de la poésie lyrique en France. Paris: Champion.

Mulder, H.A. 1939. Die ballade. In: Mulder, H.A. Opstelle oor poesie. Pretoria: Van Schaik.

 

A.P. Grové