LIRIEK

‘n Geykte onderskeiding in die literatuur is die wat getref word tussen EPIEK, liriek en dramatiek, ‘n onderskeiding wat ons deels van die Grieke geërf het en wat tot vandag toe nog, ten spyte van probleme, besware en veranderde omstandighede, ‘n sekere geldigheid besit. (Vgl. GENRE.)

Volgens die grondbetekenis van die woorde was die EPOS (Gr.: epos: rede, verhaal) ‘n verhalende gedig wat voor ‘n groter of kleiner gehoor voorgedra is. Die liriese gedig (wat verband hou met Gr.: Lyra: ‘n lier) is sangerig van aard en inderdaad oorspronklik bedoel  om met musiekbegeleiding gesing te word,  terwyl  die DRAMA (Gr.: dran: om te handel) bedoel is om handelend  ten tonele gebring te word. Waar die literatuur vroeër ‘n openbare aangeleentheid was, was die manier van aanbieding (voordrag, sang, opvoering) dus minstens net so deurslaggewend as die bou of die strekking van die werke, en die toestand sou voortduur tot met die uitvinding van die boekdrukkuns wat die verspreiding en besit van literatuurprodukte en die selfstandige lees van liedere en verhale en selfs dramatiese werke moontlik gemaak het. Nou het daar gaandeweg minder klem op die aanbiedingswyse geval en is die wesenskenmerke van die epiek, liriek en dramatiek skerper omlyn.

So sien ons vandag die liriese kunswerk as subjektief in teenstelling met die meer objektiewe aard van bv. die dramatiese werk; as ‘n (gewoonlik betreklik kort) gedig waarin ‘n persoonlike stemming of belewing, dikwels belydend, tot uitdrukking gebring word. Die liriese gedig word dan ook dikwels vanuit ‘n ek-standpunt geskryf, d.w.s. met die skepping of implisiete skepping van ‘n ek-figuur wat dikwels (verkeerdelik) sonder meer met die persoon van die digter geïdentifiseer word. Selfs in gevalle waar bekende lewensfeite van ‘n digter die leser uitlok om die liriese gedig as ‘n direkte uiting van die digter as mens te sien (soos in die geval van Eugène Marais, Totius of Elisabeth Eybers), is dit nog gevaarlik om ‘n direkte brug tussen die kunswerk en sy skepper te probeer slaan. Die kunswerk het sy eie struktuur en organisasie, en sy subjektiwiteit kan slegs met die voorbehoud aanvaar word.

Met die skerper onderskeiding waarvan hierbo sprake was, het die liriese poësie in verskillende soorte en vorme uiteengeval, soorte en vorme wat elk ‘n eie geskiedenis en karakter het en waarvan die ELEGIE, die EPIGRAM, die Franse BALLADE, die HEKELDIG, die HIMNE, die KWATRYN, die LIED, die ODE, die RONDEEL en die SONNET die belangrikste is.

Uit die bespreking van die soorte/vorme blyk dat die bou in sommige gevalle, in ander gevalle weer die gees daarvan, van onderskeidende belang is. Verder is dit duidelik dat hierdie verskyningsvorme van die liriek glad nie altyd so subjektief van aard is nie; dat van hulle ‘n sterk epiese of dramatiese element bevat en dat ‘n vorm soos bv. die sonnet soms liries van aanslag, ander kere plasties en objektief-beeldend kan wees.

Die mees distinktiewe kenmerk van die liriek is dat dit in versvorm geskryf is en dat die taalklank en -ritme hierin veel intensiewer geëksploiteer word as in die prosa (ROMAN, NOVELLE, KORTVERHAAL) of in die drama.

In die bespreking van die vernaamste liriese vorme wat hierbo genoem is, blyk die besondere aard van elkeen.

Ander aspekte van die liriek word bespreek in BEELDSPRAAK, GENERATIEWE METRUM, KLANK, METAFOOR, METRUM, PROSODIE, RITME (IN DIE POËSIE)RYM, SATIRE, SIKLUS IN DIE POËSÏE, SINESTESIE, SINTAKSIS (VAN DIE POëSIE), STROFE, VERS LIBRE,  VERS (REëL) en  VISUELE MOMENTE IN DIE LITERATUUR.  Daarnaas word bydraes gewy aan ‘n hele klomp verskillende subgenres soos BALLADE, ELEGIE, HEKELDIG, HIMNE, KONKRETE POËSIE, KWATRYN, LEERDIG, LIED, METAFISIESE DIGKUNS, ODE, POÉSIE PURE, PROSAGEDIG, PUNTDIG, RONDEEL, SONNET, SPEELSE POËSIEVILLANELLE en VIRELAI.

(Vgl. LIED, HIMNE, ODE, ELEGIEEPIGRAM en HEKELDIG.)

 

Bibliografie

Asmuth, B. 1972. Aspekte der Lyrik, mit einer Einfürung in die Verslehre. Düsseldorff: Bertelsmann Universitätsverlag.

Gerber, D.E. (red.). 1997. A Companion to the Greek Lyric Poets. Leiden, New York & Köln: Brill.

Harvey, A.E. 1955. The classification of Greek lyric poetry. Classical Quarterly 49:157­75.

Henderson, W.J. 2004. Op Griekse Lier. Vroeë Griekse liriese poësie, vertaal en toegelig. Pretoria: Protea Boekhuis.

Killy, W. 1972. Elemente der Lyrik. 2de uitgawe. München: C.H. Beck.

 

A.P. Grové