PUNTDIG

‘n Puntdig is ‘n bondige gedig waarin emosionele oordele of gedagtes verwoord word. Dit is meestal anekdoties en geestig van karakter. Die slot hou ‘n verrassing in. Dit is dikwels ook in die vorm van ‘n koeplet geskryf. Die inhoud van die puntdig is gewoonlik werklikheidsgebonde. Dit bevat dikwels woordspelings. Die puntdig was veral in die Klassieke tyd in Griekeland gewild.

By die Grieke was die puntdig oorspronklik ‘n inskripsie op monumente, grafstene, altare en wygeskenke. In die 6e eeu n.C. het dit sy funksionele karakter verloor en het dit ‘n gewone digvorm geword. In Griekeland was Simonides van Chios die grondlegger daarvan.

Bekende beoefenaars van die puntdig is Martialis, Voltaire, Prior, Jonson en Coleridge. In Nederlands is Huygens ‘n bekende beoefenaar van die puntdig. In Afrikaans is dit beoefen deur bv. A.G. Visser en C.J. Langenhoven.

Verskeie glossaria gee puntdig en *epigram as sinonieme aan. In Engels tref ‘n mens net epigram aan.

Bibliografie

Huygens, C. 1956. Dichten op de knie. 500 sneldichten. Den Haag: Bakker.

Beum, R. 1985. Reason and love; the epigram. Dalhousie Review, 65(1).

 
Anna-Marie Bisschoff