RITME (IN DIE POËSIE)

Ritme in die poësie kan nie op sigself beskou word nie, maar moet in die meeste gevalle gesien word in sy verhouding tot ‘n onderliggende regulerende beginsel soos die METRUM of ‘n ander tipe wetmatigheid of patroon wat uit die ritmiese realisering in ‘n spesifieke gedig of groep gedigte geabstraheer kan word. In die meeste studies oor die verskynsel ritme in poëtiese taalgebruik — tradisioneel, temporeel, statisties, STRUKTURALISTIES-linguisties of generatief — word die metrum beskou as ‘n geabstraheerde norm vir die tipering van ‘n oneindige aantal gedigte, terwyl die ritme gelykgestel word met die konkrete realisering van dié verskynsel wat die metries-ritmiese struktuur van afsonderlike gedigte individueel bepaal. Die metrum word dus geabstraheer of afgelei uit die ritmiese struktuur van afsonderlike gedigte.

Verskillende grade van abstraksie kan in hierdie verband onderskei word: ‘n jambe sou op die hoogste vlak van abstrahering bv. na ‘n metriese patroon kon verwys waarin ‘n swakker gerealiseerde sillabe deur ‘n sterker gerealiseerde sillabe gevolg word, ongeag wat die basis van die opeenvolging is — die lengte van sillabes soos in Klassieke verse, die toon soos in swart tale of die sterkte van die klem op die sillabes soos bv. in Duitse, Engelse, Nederlandse en Afrikaanse poësie. ‘n Minder abstrakte omskrywing van metrum sou die jambe in spesifieke tale soos Engels en Afrikaans definieer as die alternering tussen swakker en sterker beklemtoonde sillabes. Met verwysing na “genres in die poësie sou die jambiese pentameter bv. as die metriese skema vir die SONNET geabstraheer kon word; die werklike realisering van hierdie abstrakte model sou egter verskillend wees vir elke enkele sonnet of ander gedig met ‘n jambiese metrum. Om op te som: die metrum verwys na bepaalde vaste patrone wat vir ‘n onbeperkte aantal gedigte geabstraheer kan word — dit illustreer die superponering van ‘n ekstra reëlmaat of patroonvorming op die opeenvolging van sterker en swakker beklemtoonde sillabes in standaardtaalgebruik; die ritme verwys na die werklike realisering van die geabstraheerde metriese patroon in afsonderlike gedigte — dit illustreer sowel ‘n gedeeltelike konkretisering van die metriese reëlmaat as die funksionele afwyking van ‘n metriese norm.

Ten einde die ritme in sy verhouding tot ‘n onderliggende wetmatigheid soos die metrum te kan beskryf, is dit nodig dat die onderliggende (metriese) patroon of reëlmaat, die werklike ritmiese realisering van die patroon of reëlmaat en die reëls of beginsels waarop die kombinasie van die twee berus, in ‘n skandering aangetoon word.

Jakobson (1960: 364) stel die onderlinge afhanklikheid van metrum en ritme soos volg: “… meter — or in more explicit terms, verse design — underlines the structure of any single line — or, in logical terminology, any single verse instance. Design and instance are correlative concepts. The verse design determines the invariant features of the verse instances and sets up the limits of varients.” Hierdie onderskeid wat deur Jakobson getref word tussen enersyds die patroon en andersyds die konkretisering van die patroon in versreëls lê ten grondslag aan generatiewe herdefiniërings van tradisionele PROSODIESE beginsels: “… prosodic analysis must take account of underlying metrical form (or verse design in Jakobson’s terms), the actualization of that form (verse instance), and the rules which relate these levels of representation in a grammar of prosody” (Freeman, 1969: 195). In ‘n uiteensetting van die reëls of beginsels wat (metriese) patroon en ritme met mekaar verbind, word veral die linguistiese gegewens sillabe en klem vir tale soos Afrikaans en Engels in verskillende teorieë met kleiner of groter noukeurigheid beskryf.

Grade van klem en die bepaling van metriese iktus figureer o.a. in tradisionele, statistiese, generatiewe en strukturalisties-linguistiese teorieë baie prominent. Al die genoemde teorieë onderskryf die beginsel dat klem ‘n linguistiese realisering van die ritme is, terwyl iktus beskou word as behorende tot die abstrakte metrum: “While the first term (i.d. “strong stress”) applies to the description of the actual linguistic stresses in a line (rhythm), the second term (d.i. “ictus”) refers to the abstract metrical pattern (meter)” (Tarlinskaja, 1973: 250). Oor die graad van klem (primêr, sekondêr of tersiêr) wat vir die realisering van ‘n metriese iktus sterk genoeg sou wees, bestaan daar verskil van mening. Vir sommige metrici is slegs primêr beklemtoonde sillabes metries signifikant; vir ander kan ook sekondêre en selfs tersiêre klem in bepaalde linguistiese opeenvolgings ‘n metriese iktus realiseer. In alle teorieë kan primêr beklemtoonde sillabes maklik geïdentifiseer word — die leksikale of woordklem van een- en meersillabige vorm- of hoofkategoriewoorde soos selfstandige naamwoorde, hoofwerkwoorde, byvoeglike naamwoorde en sommige bywoorde is ‘n vaste linguistiese gegewe en sal op ‘n voorspelbare wyse metriese iktus realiseer. Die probleem lê egter by die vind van objektiewe kriteria waarvolgens die sekondêre en tersiêre beklemtoonde sillabes van hoofkategoriewoorde of die eensillabige funksie- òf subkategoriewoorde soos voorsetsels, voornaamwoorde, hulp- en koppelwerkwoorde, voegwoorde, telwoorde en lidwoorde metries signifikant kan wees.

Metrici het wel twee maniere uitgewys waarop objektiewe kriteria vir die genoemde gevalle vasgestel sou kon word: 1) die aanvaarding van ‘n binêre linguistiese indeling van alle sillabes in òf beklemtoon òf onbeklemtoon om metriese iktus te realiseer of nie te realiseer nie; 2) die erkenning van die moontlikheid van relatiewe klem t.o.v. linguisties beklemtoonde en onbeklemtoonde sillabes en ‘n onderskrywing van die beginsel dat promovering of demovering van sillabes kan voorkom na gelang van die eise van die onderliggende metriese patroon. Tot die eerste groep hoort ‘n statistikus soos Bailey (1975) en die GENERATIEWE METRICI Halle & Keyser (1971); die tweede groep word hoofsaaklik verteenwoordig deur tradisionaliste soos bv. Wimsatt & Beardsley (1959) en Coetzee (1972).

Die objektiwiteit van die bostaande uitgangspunte waarborg egter nie betroubaarheid nie: enersyds is ‘n konsentrasie op linguistiese vasstelbare leksikale klem onvoldoende vir die realisering van metriese iktus; andersyds lei ‘n onoordeelkundige toepassing van die beginsel van relatiewe klem by die veronderstelde afdwingbare krag van die metriese patroon tot ‘n geforseerde realisering van metriese iktus. Sommige metrici soos Beaver (1971), Chatman (1965) en Tarlinskaja (1976) probeer om die bg. linguistiese eksaktheid en metriese buigbaarheid met mekaar te versoen deur òf metriese beginsels te gebruik as ‘n korrektief op linguistiese reëls (Tarlinskaja), òf deur te poog om metriese patroonmatigheid linguisties te verklaar (Beaver). Dergelike pogings om die probleem van subkategoriewoorde en bykomende klem in meerlettergrepige hoofkategoriewoorde op te los, lei wel (veral in die geval van Tarlinskaja) tot ‘n redelike betroubare realisering van metriese prominensie vir alle potensieel sterk posisies van die metrum. Vir potensieel swak posisies van die metriese patroon kan daar egter begryplikerwys nie vanuit die eise van die metrum voorsiening gemaak word nie, sodat daar volgens Gräbe (1984), afgesien van ‘n ekstralinguistiese kriterium soos die metrum, ook op ekstrametriese kriteria soos metaforiese konstruksies, sintaktiese organisasie of klankpatrone vir die signalering van prominente sillabes in die metries-ritmiese struktuur van ‘n gedig gelet sal moet word. Metries signifikante sillabes is dan òf voorspelbaar prominent volgens linguistiese kriteria wat geld vir enige gedig in ‘n spesifieke taal òf wisselend prominent volgens ekstralinguistiese en ekstrametriese kriteria wat vir elke gedig afsonderlik vasgestel moet word.

‘n Metries prominente of signifikante sillabe kan in die lig van die voorafgaande opmerkings getipeer word as ‘n sillabe wat in enige posisie van die metrum (sterk of swak) volgens linguistiese en/of ekstralinguistiese kriteria kwalifiseer vir klem. Ten opsigte van die linguistiese gegewe klem kan die werklike ritmiese realisering van die onderliggende (metriese) patroon of reëlmaat dan afgelees word uit die plasing van prominente sillabes in ‘n versreël, wat òf as ondersteuning vir òf as afwyking van die metrum kan funksioneer. Om hierdie ritmiese realisering van die onderliggende (metriese) patroon in poëtiese taalgebruik aan te dui, is dit nodig dat die patroon self ook in ‘n deskriptiewe skandering van ‘n gedig verteenwoordig word. Die opeenvolging van non-iktusse en iktusse in ‘n VERSREëL met ‘n onderliggende jambiese metrum kan bv. volgens ‘n generatiewe skanderingsprosedure (Halle & Keyser, 1971) voorgestel word as ‘n reeks alternerende swak (aangedui met die simbool W) en sterk (aangedui met die simbool S) posisies. Die voordeel van ‘n vervanging van metriese iktusse en non-iktusse deur sterk en swak posisies in die versreël, is dat enige onderliggende patroon daardeur aangedui kan word — ongeag of dit (nog) herkenbaar is as een van die klassieke metriese patrone en of nie-metriese beginsels (soos sintaktiese indelings en woordgrense bv.) funksioneer om ‘n onderliggende patroon te impliseer.

‘n Betroubare deskriptiewe skandering van die metries-ritmiese struktuur van ‘n gedig behoort te lei tot die identifisering van metriese en ritmiese vooropstelling, wat as belangrike leidrade in die geheelstruktuur van ‘n gedig kan kommunikeer. Enersyds is metriese vooropstelling ‘n aanduiding van die neiging tot die superponering van ‘n ekstra patroonmatigheid op grammatikale taalgebruik; andersyds registreer ritmiese vooropstelling die funksionele afwyking van so ‘n (metriese) patroonmatigheid of konvensionele norm in die metries-ritmiese struktuur van poëtiese taalgebruik.

Die metriese voorspelling van leksikale items hang in die eerste plek ten nouste saam met die voorkoms van wisselende klem (in die skandering aangedui met (/)) in die S-posisie van ‘n versreël. Aangesien wisselende klem in hierdie geval afhanklik is van ekstralinguistiese kriteria, kan alle woorde wat as gevolg van hulle metriese status in ‘n gerealiseerde S-posisie gereleveer word, beskou word as metries vooropgestelde leksikale items met ‘n potensieel beduidende informatiewe bydrae tot die INTERPRETASIE van die gedig. Onder hierdie groep woorde ressorteer dan linguisties onbeklemtoonde een- en meersillabige subkategoriewoorde wat in S-posisies beklemtoon word. Een- en meersillabige hoofkategoriewoorde word normaalweg nie metries vooropgestel in S-posisies nie, aangesien die voorspelbare klem (in die skandering aangedui as /) berus op linguistiese en nie metriese kriteria nie. Wanneer meer as een S-posisie van ‘n meersillabige hoofkategoriewoord beklemtoon is (voorspelbaar en/of wisselend) kan só ‘n woord egter wel beskou word as metries vooropgestel. Dit is laastens ook moontlik dat ‘n hoofkategoriewoord metries vooropgestel kan word in ‘n omgewing waar dit kontrasteer met ongerealiseerde S-posisies soos uit die skandering van die volgende versreël afgelees kan word:

(1)   in die geruís van die aándwínd    S/P     K
WSW WSWS    8/8     4
= metries ongerealiseerde S-posisie
—    = afwyking van die metrum in ‘n gerealiseerde W-posisie
W    = potensieel swak posisie van die metrum
S     = potensieel sterk posisie van die metrum
S/P = sillabe en posisie
K     = aantal kompleksiteite in die versreël numeries uitgedruk

Die ongerealiseerde S-posisies gevul deur die aan weerskante van die gerealiseerde S-posisie in “geruis” maak hierdie woord baie opvallender as wat dit sou gewees het in ‘n jambiese versreël met alle S-posisies deur beklemtoonde sillabes gevul.

Die ritmiese vooropstelling van leksikale items word bepaal deur die voorkoms van voorspelbare of wisselende klem in die W-posisies van ‘n versreël — dus ‘n realisering van klem téén die verwagting van die onderliggende (metriese) patroon. Alle beklemtoonde eensillabige hoof- en subkategoriewoorde in W-posisies van die versreël kan beskou word as ritmies vooropgestelde leksikale items met ‘n potensieel beduidende informatiewe bydrae tot die dekodering van die gedig. (Vgl. KODE.) Meersillabige hoof- en subkategoriewoorde waarvan een of meer klemtone in ‘n W-posisie van die versreël voorkom, kan eweneens beskou word as ritmies vooropgestelde leksikale items.

Metriese en ritmiese vooropstelling is egter nie slegs beperk tot die relevering van woorde nie, maar betrek ook bv. die benadrukking van frases en versreëls. ‘n Opeenhoping van klemtone strek gewoonlik oor meer as een woord en die ritmiese vertraging wat daardeur bewerkstellig word dien in die reël om die semantiese gewig van die benadrukte gedeelte voorop te stel. Versreëls en sintaktiese gedeeltes kan ook gerealiseer word as minder of meer komplekse realiserings van die onderliggende patroon. ‘n Versreël met ‘n opvallend hoë aantal afwykinge van die metrum kan funksioneer om die semantiese inhoud van so ‘n gedeelte te aksentueer. Dikwels word op dié manier trouens bepaalde aksentverskuiwings in die semantiese inhoud van ‘n gedig ritmies gesignaleer.

Uit die voorafgaande opmerkings oor metriese en ritmiese vooropstelling kan die besondere bydrae van die metries-ritmiese struktuur in ‘n ondersoek na die informatiewe waarde van intratekstuele relasies in die poësie getipeer word as enersyds die relevering van sleutelwoorde en/of sleutelpassasies en andersyds ‘n onderskeid tussen semanties vergelykbare informasie deur die omlyning van aksentverskuiwings in ‘n gedig. (Vgl. RITME (IN DIE PROSA) en GENERATIEWE METRUM.)

Bibliografie

Bailey, J. 1975. Toward a Statistical Analysis of English verse: The Iambic Pentameter of Ten Poets. Lisse: The Peter de Ridder Press.

Beaver, J. 1971. Current metrical issues. College English, 33.

Chatman, R. 1965. A Theory of Meter. The Hague: Mouton.

Coetzee, A.J. 1972. Ritme en skandering: ‘n ondersoek na ritmiese sisteem in uitgesoekte Afrikaanse gedigte. Kaapstad: Tafelberg.

Freeman, D.C. 1969. Metrical position constituency and generative metrics. Language and style, 2.

Gräbe, I. 1984. Aspekte van poëtiese taalgebruik: teoretiese verkenning en toepassing. Potchefstroom: PU vir CHO.

Halle, M. & Keyser, S.J. 1971. Illustration and defense of a theory of the iambic pentameter. College English, 33.

Jakobson, R. 1960. Concluding statement: linguistics and poetics. In: Sebeok, T. Style in language. Cambridge: MIT.

Tarlinskaja, M.G. 1973. The syllabic structure and meter of English verse from the thirteenth through the nineteenth century. Language and style, 6.

Tarlinskaja, M.G. 1976. English verse: theory and history. De Proprietatibus Litterarum, series practica 117. The Hague: Mouton.

Wimsatt, W.K. & Beardsley, M.C. 1959. The concept of meter: an exercise in abstraction. PMLA, 74.

Raadpleeg ook:

Cureton, R.D. 1985. Rhythm: A multilevel analysis. Style, 19(2).

Tarlinskaja, M. 1984. Rhythm-Morphology-Syntax-Rhythm. Style, 18(1).

Tarlinskaja, M. 1987. Rhythm and meaning: ‘Rhythmical figures’ in English iambic pentameter, their grammar, and their links with semantics. Style, 21(3).

 
Ina Gräbe