GENERATIEWE METRUM

Die generatiewe benadering tot die metries-ritmiese struktuur van poëtiese taalgebruik word ingelui deur Halle en Keyser (1966) se seminale studie oor prosodiese tegnieke in die poësie van Chaucer. Sowel hierdie eerste studie, as talle wysigings en teenvoorstelle wat òf deur die skrywers self òf deur ander generatiewe metrici geformuleer word, spruit regstreeks of onregstreeks voort uit pogings om die fonologiese komponent van die transformasionele generatiewe grammatika uit te brei. Na analogie van die generatiewe grammatika word ‘n prosodiese teorie gekonsipieer waarin daar d.m.v. ‘n aantal generatiewe reëls gepoog word om dit wat implisiet en informeel was in die tradisionele PROSODIE eksplisiet en formeel te beskryf. So ‘n formele beskrywing binne ‘n generatiewe model lei dan tot die strukturele beskrywing van versreëls, die onderskeiding tussen metrisiteit en onmetrisiteit, die herkenning van grade van metrisiteit of kompleksiteit en die definiëring van stilistiese parameters om vergelykende studies oor metriese verskynsels in die poësie van verskillende digters uit verskillende tydperke te onderneem.

Generatiewe metrici onderskryf die beginsel dat die METRUM ‘n ekstra patroonmatigheid op die reëls vir grammatikale taalgebruik afdruk. Daar word egter terselfdertyd uitgegaan van die veronderstelling dat, alhoewel die digter sekere beperkinge t.o.v. die keuse van woorde en frases in ag neem wanneer hy verse skryf, hy nietemin nie die grammatikale reëls van standaardtaalgebruik verbreek nie. Sonder dat die aard van metriese patroonmatigheid eksplisiet geformuleer hoef te word, kan sowel die digter as die ervare poësieleser daarom onderskei tussen enersyds metriese en onmetriese versreëls en andersyds minder en meer komplekse realiserings van metriese versreëls.

Ten einde sowel ‘n metriese patroonmatigheid as die aktualisering van metrisiteit d.m.v. linguistiese gegewens in ‘n strukturele beskrywing van metriese versreëls te kan verantwoord, konsentreer die meeste generatiewe metrici op ‘n formalisering van die prosodiese reëls wat die konkretisering van die abstrakte jambiese pentameter in afsonderlike gedigte bepaal. Halle en Keyser (1971: 169) se herdefiniëring van die tradisionele weergawe van die jambiese pentameter maak bv. voorsiening vir sowel die abstrakte metriese patroon as die korrespondensiereëls vir die aktualisering daarvan in metriese versreëls:

(1) (a) ABSTRACT METRICAL PATTERN
(W) S WS WS WS WS (X) (X)
where elements enclosed in parentheses may be omitted and where each X-position may be occupied only by an unstressed syllable
(b) CORRESPONDENCE RULES
(i) A position (S, W or X) corresponds to a single syllable
OR
to a sonorant sequence incorporating at most two vowels (immediately adjoining or separated by a sonorant consonant)

DEFINITION: When a fully stressed syllable occurs between two unstressed syllables in the same syntactic constituent within a line of verse, this syllable is called a “stress maximum”
(ii) Fully stressed syllables occur in S-positions only and in all S-positions
OR
Fully stressed syllables occur in S-positions only but not in all S-positions
OR
Stress maxima occur in S-positions only but not in all S-positions.

Die eerste korrespondensiereël in (a) hierbo reguleer die plasing van alle sillabes in die versreël – beklemtoon sowel as onbeklemtoon – in die abstrakte metriese posisies sterk (S), swak (W) en ekstrametries (X). Hierdeur word een van die belangrikste uitkomste van ‘n generatiewe benadering van die metries-ritmiese struktuur van die poësie geïllustreer, aangesien die tradisionele konsep van die voet vervang word deur ‘n reeks posisies in die versreël. Halle en Keyser (1971: 164) herdefinieer die tradisionele jambiese pentameter daarom as “… the meter in which correspon­dence rules assign all syllables in a line, stressed and unstressed, to abstract metrical entities”. Dit is in hierdie verband veelseggend dat die generatiewe metrici onderskei tussen die linguistiese gegewe sillabe en die metriese entiteit posisie: “The syllable is a unit of the line; the metrical position is a unit of the meter” (Freeman, 1969: 195). Hierdie verskil tussen sillabe en posisie word geïllustreer deur die formalisering van die jambiese versreël in (1) (a) hierbo. Soos gesien kan word uit die aantal W’s en S’e bestaan die tipiese jambiese pentameter uit tien posisies, waarvan die ongelyke posisies swak en die gelyke posisies sterk is. ‘n Versreël waarin die jambiese pentameter geaktualiseer word, kan egter wissel tussen nege (die eerste swak posisie nie gerealiseer nie en geen ekstrametriese sillabes nie) en twaalf sillabes (alle swak en sterk posisies gerealiseer met twee bykomende onbeklemtoonde sillabes aan die einde). Daar is dus nie altyd ‘n verhouding van een-tot-een tussen enersyds die sillabe as ‘n versreëleenheid en andersyds die posisie as ‘n abstrakte metriese entiteit nie, sodat korrespondensiereëls nodig is om die verhouding tussen sillabe en posisie te bepaal.

In ‘n uiteensetting van hulle skanderingsprosedure onmiddellik na die jambiese pentameter, spesifiseer Halle en Keyser (1971: 170) hoe die korrespondensiereëls in 1 (b) (i) hierbo toegepas word om die verhouding tussen die sillabes in ‘n versreël en hulle korresponderende metriese posisies te bepaal. Die eerste stap is om al die sillabes in die versreël van links na regs te nommer. Ekstrametriese sillabes (X) in òf die begin- òf die eindposisie van die versreël word nie getel nie, maar die weggelate eerste sillabe (W) in ‘n koplose versreël moet wel ingereken word in die telling. Vergelyk die volgende versreëls uit Van Wyk Louw se “Vroegherfs” vir ‘n illustrasie van hierdie eerste stap in ‘n skanderingsprosedure:

1     2   3       4     5    6      7    8   9   10
(2)    (i) in wingerd wat verbruin en witter lug
W  S  W     S     W   S     W  S  W  S
1    2      3      4      5       6  7   8       9      10
(ii)   —   son deurspoel word; elke blom word vrug
W   S     W     S     W      S W  S      W      S

1    2      3      4   5    6  7  8   9 10  11
(iii) Die jaar word ryp in goue akkerblare
W   S     W     S  W   S W S  W S    X

1      2      3   4   5     6     7     8  9  10  11
(iv) my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
W     S     W  S  W  S       W   S  W S    X

Indien daar tien sillabes in ‘n reël is, word ‘n een-tot-een-verhouding tussen posisie en sillabe veronderstel soos in (2) (i) hierbo. Indien die reël slegs nege sillabes het, is ‘n een-tot-een-verhouding tussen sillabe en posisie steeds moontlik as aangeneem word dat die eerste swak posisie nie gevul is nie, sodat ‘n koplose versreël aangetref word soos in (2) (ii) hierbo. Indien die versreël meer as tien sillabes bevat, is daar twee moontlikhede: of die versreël het een of meer ekstrametriese onbeklemtoonde sillabes aan die einde soos in (2) (iii) hierbo, of twee aangrensende sillabes vorm ‘n sonorante reeks en vul slegs een posisie van die metrum soos in (2) (iv) hierbo, waar die laaste twee sillabes van “eindelik” volgens die tweede alternatief in (1) (b) (i) kwalifiseer vir indeling in slegs een posisie van die metrum.

Halle en Keyser (1971) gee hiermee veel noukeuriger aanwysings vir die groepering van sillabes t.o.v. die abstrakte metriese patroon as in enige pregeneratiewe beskrywing van RITME en metrum in die poësie. Die skrywers se skanderingsprosedures sou aangepas kon word vir die beskrywing van alle jambiese versreëls – dus nie slegs vir die jambiese pentameter waar tien posisies die norm is nie, maar vir versreëls met enige aantal gelyke posisies as norm. Ideaal gesien sou die reëls in die generatiewe model van die jambiese pentameter in (1) (b) (i) hierbo dus voorsiening moes maak vir die toekenning van sillabes in metriese posisies vir alle metriese jambiese versreëls en slegs vir metriese jambiese versreëls. Daar is egter ‘n hele aantal volkome metriese versreëls in gedigte met ‘n onderliggende jambiese metrum wat volgens die skanderingsprosedure in (1) hierbo verkeerdelik getipeer sou moes word as onmetries, indien die reëls nie in bepaalde opsigte aangepas word nie. Die belangrikste aanpassings in die reëls vir die toewysing van sillabes aan metriese posisies geld in die eerste plek die voorwaardes waaronder sinalefe (synaloepha, die groepering van twee sillabes in een posisie) en diërese (die toewysing van twee posisies aan een sillabe) veronderstel kan word. Freeman (1969: 197-198) formuleer die volgende voorwaardes vir die keuse om synaloepha toe te pas: i) waar die sillabes bestaan uit twee opeenvolgende vokale, ongeag die woordgrens; ii) waar die sillabes geskei word deur ‘n sonorante konsonant of ‘n stemhebbende frikatief; iii) waar die sillabes bestaan uit ‘n onbeklemtoonde eensillabige woord wat voorafgegaan word deur ‘n beklemtoonde of onbeklemtoonde sillabe. In ‘n sonorante reeks kan daar egter dikwels ‘n ekstra sillabe ingevoeg word, soos in

1              1  2
“vorm” of “vorem”, sodat dit soms nodig is om twee posisies aan een sillabe toe te ken waar die gereduseerde [ ə ] in standaardtaalgebruik weggeval het. Vergelyk die volgende gevalle waar synaloepha en diërese in onderskeidelik wasige en vorm in die skandering aangetoon word:

1    2   3    4   5   6   7 8    9
(3)     (i) leef sy nou in die wasige damp
W   S   W   S  W  S  W     S

1   2     3       45678   9

(ii) in die vorm van ‘n koperklokkie
W  S  W   S W   S   W  S W   S    X

Verdere aanpassings by die Halle-Keyser-reëls soos in (1) hierbo gestipuleer, geld enersyds die gelyktydige toepassing van verskeie alternatiewe soos koploosheid, diërese en ‘n ekstrametriese sillabe soos in (3) (ii) hierbo en andersyds die noodsaak om sintaktiese grense binne versreëls metries aan te dui, soos in die volgende twee gevalle:

1      2  3     4    5     6     7      8        9   10      11
(4)    (i)    van waterblomme; en skeemrings wit soos graan
W   S  W   S     X  W       S    W      S    W     S
1      2        3    4         5       6      7    8  9
(ii) What makes him tick? Each night now I tie
W    S       W   S   W  S      W      S  W S

In die eerste geval kom die ekstrametriese sillabe aan die einde van die sintaktiese snit en nie aan die einde van die versreël voor nie; in die tweede geval word die weggelate of ongevulde W-posisie eweneens aan die begin van die tweede sintaktiese eenheid en nie aan die begin van die versreël aangetref nie.

Korrespondensiereël (1) (b) (ii) in Halle-Keyser se herdefiniëring van die jambiese pentameter hierbo, spesifiseer in watter posisies van die onderliggende jambiese metrum beklemtoonde sil­labes mag voorkom of nie mag voorkom nie. Die verskillende alternatiewe onder die tweede korrespondensiereël maak dit dus moontlik om te onderskei tussen metriese en onmetriese versreëls. Trouens, die alternatiewe is sodanig gegradeer dat hulle steeds groter afwykende of komplekser versreëls beskryf totdat ‘n graad van onmetrisiteit bereik word. Vergelyk die volgende skanderings van versreëls.

/          /           /           /          /
(5)    (i) The curfew tolls the knell of parting day
W     S  W    S    W    S    W   S W     S
/           /             /                           /
(ii) For living men in terror of their lives
W  S  W    S    W S  W  S   W     S
/            /           /               /                  /
(iii) Flags on a map assert that troops were sent
W     S W S    W  S    W     S       W     S
/                  /           /           /             /            /
(iv) *Ode to the West Wind by Percy Byssche Shelley
W     S W    S        W    S  W  S      W        S     X
* = onmetriese versreël

In ooreenstemming met die eerste alternatief onder (1) (b) (ii), kom beklemtoonde sillabes in (5) (i) hierbo slegs voor in S-posisies en alle S-posisies word deur beklemtoonde sillabes gevul. In terme van tradisionele prosodiese reëls word alle metriese iktusse deur beklemtoonde sillabes geaktualiseer in volmaakte ooreenstem­ming met die eise van die onderliggende jambiese metrum. Alle metriese iktusse in ‘n versreël word egter nie altyd deur beklem­toonde sillabes geaktualiseer nie, soos aangetoon word in (5) (ii) hierbo, waar die tweede alternatief in die Halle-Keyser-reëls van (1) (b) (ii) geïllustreer word. Die feit dat of nie beklemtoon word in ‘n S-posisie nie, registreer ‘n geringe afwyking van die jambiese metrum en sorg vir die nodige afwisseling in wat andersins maklik in ‘n gedig ‘n te eentonige reëlmaat kan word.

Wanneer beklemtoonde sillabes voorkom in W-posisies van die metrum, word egter ‘n veel meer gemarkeerde afwyking van die onderliggende metrum geregistreer as wanneer nie alle S-posisiesdeur beklemtoonde sillabes gerealiseer word nie. Ten einde aan te toon onder watter omstandighede W-posisies van die metrum in metriese versreëls gerealiseer word deur beklemtoonde sillabes, onderskei Halle en Keyser (1971) tussen enersyds sillabes wat linguisties klem dra (fully stressed syllables) en andersyds sillabes wat maksimale klem dra (maximum stress).

Soos gesien kan word in die definisie van maksimale klem in (1), kan so ‘n klem slegs bepaal word indien drie sillabes in ag geneem word. ‘n Maksimale klem kom slegs voor tussen twee onbeklemtoonde sillabes en word in metriese versreëls ook slegs in S-posisies van die metrum aangetref. Alhoewel die klem op “flags” in (5) (iii) hierbo in ‘n W-posisie voorkom, is die reël nietemin nie onmetries nie, omdat die eerste posisie in die versreël nie voorafgegaan word deur ‘n onbeklemtoonde sillabe nie. In tradisionele terme word ‘n bekende toelaatbare afwyking van die metrum soos trogeïese inversie in die eerste voet van ‘n jambiese versreël deur so ‘n definiëring van maksimale klem verantwoord. Die feit dat die afwyking van die metrum dubbel onderstreep word in teenstelling tot die enkelonderstreping van of in (5) (ii), maak dit moontlik om die verskil in die graduele afwyking numeries uit te druk.

‘n Verdere toename in die gemarkeerdheid van ‘n afwyking van die metrum lei tot onmetrisiteit as ‘n maksimale klem voorkom in ‘n W-posisie van die metrum soos by die eerste lettergreep van “Percy” in (5) (iv) hierbo. Weer eens word die gemarkeerdheid van die afwyking numeries uitgedruk d.m.v. drie onderstrepings, waar die diagonale streep aandui dat die afwyking onmetries is.

Dit is duidelik dat ‘n generatiewe herdefiniëring van die jambiese pentameter bepaalde voordele inhou vir die beskrywing van die metries-ritmiese struktuur van versreëls: i) sowel die onderliggende abstrakte metrum (in die vorm van die simbole W, S en X) as die aktualisering van hierdie metrum (in die vorm van linguisties vasstelbare klem) kan in die skandering van versreëls aangedui word; ii) daarbenewens is dit ook moontlik om die verhouding tussen die onderliggende metrum en die ritmiese realisering daarvan aan te dui, aangesien elke versreël se kompleksiteite numeries uitgedruk word sodat tussen minder en meer komplekse realiserings van die metrum onderskei kan word; iii) laastens word ook gespesifiseer watter graad van afwyking nie meer toelaatbaar is nie, sodat die poësieleser ‘n maatstaf het waarvolgens hy kan onderskei tussen metriese en onmetriese versreëls.

Halle-Keyser (1971) se voorstel vir ‘n generatiewe beskrywing van die metries-ritmiese struktuur van versreëls, sowel as talle aanvullings en/of alternatiewe voorstelle binne ‘n generatiewe raamwerk, is egter onbetroubaar sover dit veral die omskrywing van iktus of metries prominente sillabes betref. Die probleem lê veral by die skrywers se uitgangspunt dat die digter nie die reëls van standaardtaalgebruik buig of verbreek wanneer die ekstra reëlmaat van die metrum in ag geneem word nie. Metriese prominensie word in so ‘n opvatting slegs linguisties bepaalbaar, want die digter werk met ‘n linguisties egegewe soos leksikale klem: “… the poet does not violate the linguistic givens of his language but rather incorporates them into a metrical pattern which, while extralinguistic in that the pattern is not a fact of the spoken lan­guage, is nonetheless perfectly compatible with the linguistic givens of the spoken language” (Halle & Keyser, 1966: 188). Die enkele grootste leemte wat die konsentrasie op leksikale klem tot gevolg het, is dat daar geen voorsiening gemaak word vir die beklemtoning van subkategoriewoorde soos voorsetsels, voornaamwoorde, voegwoorde, lidwoorde, ens. nie. Alhoewel die skrywers dus ‘n objektiewe maatstaf vir die bepaling van metriese iktus benut, is dit nietemin nie ‘n betroubare maatstaf nie, aangesien lank nie alle metriese iktusse deur die leksikale klem op hoofkategoriewoorde soos selfstandige naamwoorde, werkwoorde en byvoeglike naamwoorde gedek word nie. Binne generatiewe benaderings verteenwoordig Beaver (1971a: 19) se reëls vir fraseklem die uitgebreidste poging om ‘n objektiewe maatstaf vir die vasstelling van klem op subkategoriewoorde te vind. Hierdie reëls (waaronder die second alternating stress rule, die nuclear stress rule en die stress exchange rule) lei egter uiteindelik tot ‘n byna volkome ooreenstemming met die eise van die onderliggende metrum, sodat Beaver se gesofistikeerde reëls vir fraseklem feitlik neerkom op ‘n onderskrywing van die standpunt van tradisionele metrici soos Wimsatt (1970), waar aanvaar word dat die onderliggende metrum ‘n objektiewe maatstaf is vir die signalering van metriese iktus. Die verskil is dat tradisionele metrici sonder meer die beginsel aanvaar dat die digter die reëls vir klem in standaardtaalgebruik buig, terwyl Beaver probeer aantoon dat die (afdwingbare) reëlmaat van die metrum linguisties verklaar kan word.

Alhoewel Beaver se reëls linguisties gesproke ‘n belangrike aanvulling by die Halle-Keyser-reëls vir leksikale klem is, gaan ‘n belangrike wins van die Halle-Keyser-voorstel verlore, aangesien daar in die Beaver-skandering byna geen verskil tussen die onderliggende metrum en die ritmiese aktualisering daarvan deur die linguistiese gegewens, sillabe en klem, gesignaleer word nie. Dit lyk asof ekstralinguistiese kriteria, soos die signalering van metriese iktusse deur metaforiese, sintaktiese of klankmatige vooropstelling, benut sal moet word in die vasstelling van klem op subkategoriewoorde. Hiervolgens kan dan drie tipes sillabes onderskei word: dié met linguisties vasstelbare leksikale klem, dié wat slegs in ‘n spesifieke gedig weens ekstra linguistiese be-ginsels klem verkry en dié wat onbeklemtoon gelaat word (Grabe, 1984: 581-590).

Die Halle-Keyser-voorstel moet ook uitgebrei word t.o.v. die aantoon van metriese en ritmiese vooropstelling. Die skrywers konsentreer slegs op die onderskeiding van minder of meer komplekse versreëls. Hulle skandering, mits die nodige aanpassing t.o.v. veral metriese iktus aangebring is, sou egter ook gebruik kon word om woorde, frases en sinne te onderskei wat òf opval weens ‘n ooreenstemming met die metrum (metriese vooropstelling) òf juis as afwykinge van die metrum die aandag trek (ritmiese vooropstelling). ‘n Generatiewe herdefiniëring van prosodiese beginsels bied dus ‘n potensieel bruikbare model vir die beskrywing van metriese versreëls en die onderskeiding van metriese en ritmiese vooropstelling in ‘n gedig (Gräbe, 1984: 590-600).

(Vgl. METRUM.)

 

Bibliografie

Beaver, J. 1971a. Current metrical issues. College English, 33.

Beaver, J. 1971b. The rules of stress in English verse. Language, 47.

Beaver, J. 1974. Generative metrics: the present outlook. Poetics, 12.

Freeman, D.C. 1969. Metrical position constituency and generative metrics. Language and style, 2.

Gräbe, I. 1984. Aspekte van poëtiese taalgebruik. Teoretiese verkenning en toepassing. Potchefstroom: PU vir CHO.

Halle, M. & Keyser, S.J. 1966. Chaucer and the study of prosody. College English, 28.

Halle, M. & Keyser, S.J. 1971. Illustration and defense of a theory of the iambic pentameter. College English, 33.

Van Jaarsveld, G.J. 1981. Enkele opmerkings oor die jambiese patroon in Leipoldtverse. In: Van Rensburg, M.C.J, (red.). Opstelle oor Leipoldt. Bloemfontein: UOVS.147.

Wimsatt, W.K. 1970. The rule and the norm:.Halle and Keyser on Chaucer’s meter. College English, 31.

 

Ina Gräbe