SONNET

Die sonnet (Lat.: sonare: om te klink; It.: sonnetto: ‘n geluidjie) is ‘n liriese digvorm bestaande uit veertien reëls waarvan elk in Italiaans gewoonlik elf, in Frans gewoonlik twaalf en in Engels gewoonlik tien lettergrepe bevat. Die maat is jambies, en die rym is georganiseer volgens die een of ander min of meer vaste skema.

Die sonnet is Italiaans van oorsprong en daar word betreklik algemeen aanvaar dat dit ontwikkel het uit die Italiaanse strombotto, ‘n eenstrofige gedig wat in veral twee gedaantes voorgekom het, nl. ‘n 8-reëlige (Siciliaanse) en ‘n 6-reëlige (Toskaanse) strofe, waarvan die rymskema kan wissel van geval tot geval. Verder word vermoed dat die sonnet vroeg in die 13e eeu aan die hof van Frederik II in Sicilië ontstaan het. Daar is ook bronne wat daarop wys dat die sonnet vroeg in die 13e eeu onder Provensaalse TROEBADOERS sy verskyning gemaak het. Die eerste naam wat as sonnettis genoem word, is die van die Siciliaan Giacomo da Lentino. Daar is ook ander tydgenootlike name, soos Guitone d’Arezzo (1230–1294), digters wat bygedra het om die rymskema te stabiliseer voordat dit in die beroemde Beatrice-sonnette van Dante (1265–1321) en veral die Laura-sonnette van Petrarca (1304–1374) sy finale beslag gekry het en wel as 14-reëlige gedig bestaande uit ‘n oktaaf van twee kwatryne en ‘n sestet van twee tersette of tersines met die rymskema abba abba cdc cdc, of wat die sestet betref ook: cde cde. Hierdie vorm staan dan ook bekend as die Petrarkaanse of reëlmatige of Italiaanse sonnet. (Vgl. PETRARKISME.)

Met hierdie hegte klankpatroon, met slegs twee ryme in die oktaaf en dikwels ook in die sestet, is dit duidelik waarom die digvorm, soos sy naam aandui, met klank in verband gebring word en soms ook as klinkdig bekend staan.

Hierdie streng sonnetbou is nie bloot ‘n uiterlike saak of leë vernufspel nie. In ‘n goeie sonnet word die innerlike beweging van spanning en ontspanning, eb en vloed, deur die uiterlike opset gesteun. In die oktaaf met sy streng klankbinding word ‘n bepaalde situasie gestel, waarna ons dan met die aanvang van die sestet die ommekeer kry, die sg. volta. Hierdie wending kan kom in die vorm van ‘n toepassing, ‘n teenstelling, ‘n samevatting, ‘n bepeinsing, in elk geval die een of ander verdieping in perspektief. Dit kan natuurlik gebeur dat die innerlike beweging, die golf en teëgolf, nie presies met die oktaaf en die sestet saamval nie, met die gevolg dat daar met estetiese effek ‘n spanning tussen die uiterlike patroon en die innerlike drif ontstaan. Binne die beperkende raamwerk van die sonnet sal die groot digter steeds sy vryheid kan handhaaf.

Van Italië af het die sonnet gedurende die Renaissance oor alle Wes-Europese lande versprei. In Engeland is die vorm in die vroeë 16e eeu ingevoer deur Wyatt (1503–1542) en Surrey (1517–1547), en hulle is deur ‘n lang ry groot sonnetdigters gevolg: Shakespeare, Spenser, Milton. In Spanje kan die naam genoem word van Lope de Vega (1562–1635); in Frankryk dié van Du Bellay (1522–1560) met sy Antiquites de Rome (32 sonnette) en Regrets (191 sonnette) en Ronsard (1524–1555). In Duitsland was daar G.R. Weckherlin (1584–1655) en in Nederland o.a. P.C. Hooft (1581–1647). In Italië self: Tasso (1544–1595) en Michelangelo (1475–1564).

Soos die sonnet deur verskillende digters in verskillende tale beoefen is, het daar baie variasies in die rymskema ingetree. Alle tale het, om maar een faktor te noem, nie ewe veel rymmoontlikhede nie. Party van die afwykinge het ook weer geyk geraak, en so ‘n afwyking het in enkele gevalle die naam van sy sterkste beoefenaar aangeneem. So kry ons in Engeland die sg. Milton-sonnet, wat die Petrarkaanse model in die oktaaf volg maar in die sestet nie ‘n vaste rympatroon handhaaf nie en meermale ook die gedagtegang van die oktaaf af laat “oorloop” in die sestet. Daar is ook gevalle aan te toon waar hy wel in oktaaf én sestet getrou gebly het aan die Petrarkaanse model (“When I consider how my light is spent”).

Die belangrikste afwyking van die Petrarkaanse model kry ons in die skema wat deur Surrey gevestig en deur Shakespeare tot groot hoogtes gevoer is. Vandaar die Shakespeariaanse sonnet bestaande uit drie kwatryne met kruisrym en ‘n paarsgewys rymende koeplet: abab cdcd efef gg. Spenser het in die sg. Spenser-sonnet die ryme verminder en so die kwatryne rymmatig ineen laat loop: abab bcbc cdcd ee – ‘n patroon wat veel navolging gevind het.

Die sonnet bied ryk moontlikhede: vir godsdienstige poësie (vgl. byvoorbeeld Revius se passiesonnette en Donne se “Holy sonnets”), vir natuurpoësie, vir vaderlandse poësie, vir ELEGIESE poësie, maar bowenal vir liefdespoësie. Die sonnet leen hom tot plastiese beelding, maar ook tot kontemplasie, en daar is haas nie ‘n sentiment te bedink wat oor die jare nog nie in die sonnet sy neerslae gevind het nie.

En tog het die sonnet na die Renaissance sy populariteit verloor. In sommige kringe is hy selfs as digvorm bespot. So spreek Ten Kate hom bv. in ‘n spotsonnet toe: “Geverfde pop, met rinkelen omhangen,/ Gebulte jonkvrouw in uw staal’ korset,/ Lamsaligste aller vormen, stijf sonnet …”

Sedert die Romantiek het die sonnet weer verlore terrein herwin en in alle Wes-Europese lande hoë vlugte geneem: in Engeland met Wordsworth, Shelley, Keats en Auden; in Frankryk met Gautier, Baudelaire, Leconte de Lisle, De Hérédia, Mallarmé, Verlaine, Rimbaud en Valéry; in Duitsland met Stefan George, Von Hofmannsthal en Rilke; in Nederland met Perk, Kloos, Verwey, Goiter, Boutens, Bloem, Nijhoff, Aafjes en Achterberg – ‘n aanduiding van die moontlikhede en aanpasbaarheid van hierdie vorm.

Ook in Afrikaans is die sonnet met groot vrug aangewend, deur bv. Leipoldt, Wassenaar, W.E.G. Louw en N.P. Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Opperman en Peter Blum. Beroemde sonnette is ook meermale in Afrikaans vertaal.

By ‘n bespreking van die sonnet moet ook na die sonnettekrans verwys word. Streng genome is dit ‘n reeks van vyftien sonnette waarvan die tweede een aanvang met die laaste reël van die eerste, die derde met die laaste reël van die tweede, ens., terwyl die laaste sonnet dan bestaan uit die aanvangsreëls van die vorige veertien – ‘n haas onmoontlike opdrag wat tot maakwerk kan lei. ‘n Sonnettekrans in breër sin is ‘n groep sonnette wat deur ‘n bepaalde persoon geïnspireer is en ‘n bepaalde, deurlopende tema (die Iiefde, bv.) na vore bring. Van die soort sonnettekranse bestaan daar beroemde voorbeelde, bv. Dante se Vita nuova, Petrarca se Canzoniere, Sidney se Astrophel and Stella (16e eeu), Perk se Mathilde-siklus (19e eeu) en Rilke se Sonnetten an Orpheus (20e eeu).

 

Bibliografie

Belcher, R.K. 1969. Grondslae van die sonnetvorm. Kaapstad:
HAUM.

Jasinski, M. 1970. Histoire du sonnet en France. Genève: Slatkine.

Mönch, W. 1955. Das Sonnet: Gestalt und Geschichte. Heidelberg: Kerle.

Tomlinson, C. 1970. The Sonnet: its Origin, Structure and Place in Poetry. London: Folcroft Press.

 
A.P. Grové