INTERPRETASIE

Interpretasie is ʼn term wat die geheel van aktiwiteite aandui wat ten doel het om ʼn literêre teks te verklaar of te verduidelik. Dit behels m.a.w. alles wat begrip vir ʼn teks bevorder, in onderskeiding van al daardie aktiwiteite wat spesifiek ten doel het om insig in die waarde van die teks te verskaf, t.w. EVALUERING.

Daar is ʼn hele aantal terme wat as sinonieme of byna-sinonieme vir interpretasie gebruik word. Die vernaamstes is die volgende: verklaring; duiding (veral in die Duitse vorm Deutung, en meer in die besonder immanente Deutung); eksplikasie, veral in die Franse vorm explication de texte; analise; eksegese; HERMENEUTIEK; vertolking en herskepping. ʼn Paar van hulle is egte si­nonieme, maar hul fokus verskil van dié van interpretasie, soms meer, soms minder.

Verklaring lê die naaste aan interpretasie, ook (soos Van Wyk Louw in ʼn Wêreld deur glas aangetoon het) in die sin dat daar twee betekenisse onder die oppervlakte van die term skuilgaan: eerstens verduideliking van die teks in terme van iets anders, en wel ʼn faktor buite hom waarvan hy ʼn “uiting” sou wees; tweedens ʼn interne verheldering of deurligting van die werk. Interpretasie hou wesenlik met lg. verband.

Duiding, sonder meer, d.w.s. sonder nadere kwalifikasie, soos bv. “immanent”, slaan veral op verheldering van iets uit die betekenislaag van die teks, of van die betekenisgeheel daarvan. Vir interpretasie is ʼn teks egter meer as net betekenis.

Dieselfde geld vir die term eksegese, met die verskil dat die betekenismoment “reëls wat geld vir betekenisuitleg” (oorspronklik Bybeluitleg) in die term deurklink. Ook interpretasie betrek die groot sisteemmomente van ʼn teks, maar hy doen dit nie noodwendig so sistematies soos eksegese nie.

Ook eksplikasie slaan hoofsaaklik op betekenisuitleg, maar, sterker as bv. duiding, betrek dit ook faktore uit die ontstaansmilieu van die teks wat, werklik of vermeend, by die betekenis daarvan betrokke is. In vergelyking hiermee is interpretasie basies ʼn in­terne dissipline.

Die fokusverskil wat analise en interpretasie daarop nahou, is dat analise met ʼn spesifieke metode van interpretasie verknoop is, t.w. ontleding, uitmekaarhaal. Sonder appèl aan die geheel van ʼn teks, en dus by implikasie sonder inagneming van sintese, is interpretasie egter nie werklik moontlik nie. Interpretasie is analities én sinteties.

Ook die Hermeneutiek staan na aan interpretasie, maar ook hier staan metode op die voorgrond, en wel ʼn heel spesifieke: die beskouing van werkonderdeel en werkgeheel in hul intieme, byna dialektiese samehang.

Interpretasie kom met die Hermeneutiek ooreen in sy aanvaarding van die sg. “sirkel van begrip”: ʼn deel is alleen vanuit die geheel en die geheel alleen vanuit die dele begryplik, en dit gelyktydig. (Vgl. HERMENEUTIEK.)

Vertolking en herskepping lê in werklikheid op die omtrek van die interpretasieverskynsel. Vertolking is die mins eksterne van die twee. Dit impliseer een van twee dinge: eerstens, die betrokke teks is vaag vir sover dit sy werklike bedoeling betref en die be­trokke Vertolking is die uitlegger se duiding of verduideliking van daardie bedoeling; tweedens, die teks bevat (vanweë sy kompleksiteit) ʼn aantal bedoelings of interpretasiemoontlikhede, en die betrokke lesing verteenwoordig die uitlegger se persoonlike voorkeur of keuse. Die tekortkoming van die begrip vertolking is die meer-as-normale dosis subjektiwiteit wat dit inhou, asook die parafrase-element waarop dit byna onvermydelik sterk steun, m.a.w. die toeleg op hoofsaaklik betekenisse en betekenisverhoudinge.

Nes vertolking, is herskepping iets wat sowel in die uitvoerende as die interpreterende kunste voorkom, en, eweas vertolking – maar in ʼn nog sterker mate – is die oorsaak van die beperkte bruikbaarheid hiervan in literêre interpretasie die subjektiwiteit daarvan en die feitelike reduseer van die teks tot paraphrasable core.

Afgesien van genoemde onderskeide tussen interpretasie en sy sinoniememakkers, onderskei dit hom nog van die meeste van hulle in iets heel bepaalds. Interpretasie tree in ʼn veld in waar daar ʼn vraag gestel word of gestel is. Daar is ʼn leesversperring wat eers deurbreek moet word voor ʼn mens ʼn duidelike beeld van die teks kan vorm. Interpretasie is wesenlik antwoord-op-ʼn-vraag. In hierdie “geklemdheid” onderskei dit hom van die meeste van sy sinoniememakkers. In vergelyking met hom is hulle vryer aktiwiteite.

Die “probleem” waarvan daar sprake is, kan ʼn onderdeel van die teks betref, maar ook die geheel. Dit kan m.b.t. een van die betekenende sisteme van die teks wees (ʼn reël se betekenis, die implikasie van ʼn beeld) maar ook m.b.t. ʼn nie-betekenende (bv.: “hoekom gaan die gedig hier meteens oor tot die tersinerymskema, m.a.w. hoekom laat val hy nou die koepletrymskema?”).

Om ʼn antwoord op lg. soort probleem te gee, moet interpretasie betekenende én nie-betekenende momente van die teks op mekaar betrek. Sonder dat die kwalifisering of nuansering van “tema” deur “*vorm” in ag geneem is, kan geen bevredigende antwoord op die vraag wat ontstaan het, gegee word nie.

Die besef van hierdie intieme samehang van die “tematiese” en die “vormlike” in ʼn geslaagde kunsteks het in die loop van die tyd ʼn nuwe betekenismoment in die term interpretasie ingedra. Na gelang die literatuurstudie die ingewikkelde aard van selfs die eenvoudigste literêre teks ingesien het (hoofsaaklik n.a.v. die insig in die veelsydige rol wat die taal in sy volle omvang – dus nie net as betekenisdraer nie – in die literêre teks speel), is be­sef dat elke beskrywing van ʼn literêre teks in werklikheid ʼn in­terpretasie is. Interpretasie het op dié manier haas sinoniem met analise geword.

Hierdie ontwikkeling verklaar die plek wat interpretasie in die hele veld van literêre aktiwiteite inneem. Gewoonlik word daar onderskei tussen drie groot begrippe wanneer daar sprake is van die ensiklopedie van die sinchrone literêre dissiplines: beskrywing, interpretasie en evaluering. Hiervolgens neem interpretasie ʼn tussenposisie tussen beskrywing en evaluering in, vorm dit die punt van oorgang tussen die beskrywende en die waardebepalende fases van die literêre ondersoek. In werklikheid bestaan daar geen literêr-sistematiese plek tussen beskrywing en evaluering nie. As dié terreinverdeling geldigheid sou moes hê, sou dit beteken het dat interpretasie gereserveer sou wees vir aktiwiteite soos studie van die teks “in die lig van” bepaalde – onvermydelik buiteliggende – entiteite (ontstaanstyd, ontstaansruimte, skrywerspsige, die sosiale Unter- of Überbau van die werk, e.d.). Daarteenoor staan die ervaringsfeit dat interpretasie in die sentrum van literêre studie staan.

Die verhouding lê dan ook in werklikheid anders. Interpretasie neem wel ʼn skakelende of middelposisie in, maar die skakeling is nie tussen evaluering en beskrywing nie, maar tussen evalue­ring aan die een kant en daardie vertakkings van die literêre studie wat die struktuurmiddele van die literêre teks in hul algemeenheid identifiseer en tipeer (bv. “die” versreël, “die” strofe, “die” rym, e.d.) en die kodes wat by teksskepping betrokke is, aan die ander kant. Tussen hierdie twee is interpretasie die beskrywende fase van die literêre avontuur, en wel beskrywing wat op die ge­heel van die (individuele) teks afgestem is. Dit heg na die kant van die tipologie deurdat dit dié se algemene begrippe gebruik in sy bepaling van hoe hulle op spesifieke wyse in individuele tekste geïnternaliseer is en na die kant van evaluering deurdat dit aan die kritiek beskrewe waardegehele vir eksplisiete waardeskatting beskikbaar stel.

ʼn Mens kan verskillende interpretasiepole in die loop van die geskiedenis onderskei. Aan die een kant is daar die meer objektiewe interpretasieskole en aan die ander kant die meer subjektiewes. Tussen die twee neem ʼn groot spektrum van benaderings hul plekke in, met meerdere of mindere aanleuning na een of die ander kant.

Objektiewe interpretasie in sy suiwer vorm is blote beskrywing. ʼn Mens sou dit ook literêre statistiek kon noem. Dit bly benede sinvolle teksverheldering omdat die dinamiese wisselspel van die verskillende sisteemmomente van die teks (bv. “vormlike” en “tematiese” momente) intuïsie, of, soos dit ook genoem word, ” ʼn filologiese sprong” van die kant van die interpreteerder vereis.

Subjektiewe interpretasie ontken die bestaan van die kunsteks buite die kennende subjek. Hiervolgens is die interpretasie die teks, wat onhoudbaar is, want alle interpretasie of “weergawe” van ʼn teks is in laaste instansie “parafrase”, en dus nie die teks self nie. Die verskil wat aan die begin gemaak is tussen interpretasie en evaluasie, moet in dié verband egter in gedagte gehou word.

Die bevredigendste oplossing van die probleem van die verhouding van subjek en objek in interpretasie is waarskynlik deur Wellek en Warren (1949: 261) gegee: “… (T)he poem is not only a cause, or a potential cause, of the reader’s ‘poetic experience’ but a specif­ic, highly organized control of the reader’s experience, so that the experience is most fittingly described as an experience of the poem.”

ʼn Ander groot vraagstuk in die geskiedenis van interpretasie is: wat presies omsluit die literêre teks? Ook hier word veral twee polêre skole vertoon.

Aan die een kant is daar diegene wat hulle stel op die standpunt dat alles van ʼn teks in sy taalvergestalting aanwesig is. Alles wat hy vir sy bestaan nodig het, is in sy taal neergeslaan, en in prinsipe dus ook alles wat vir sy verstaan nodig is. Dis die sg. “*outonomie”-standpunt.

Aan die ander kant is daar diegene wat die teks as teken sien, d.w.s. as saamtrefpunt van allerlei *kodes of konvensies waaraan die teks, bewus of onbewus, maar veral onbewus appelleer. Die kodes is sowel nie-artistiek (sosiaal, ekonomies, e.d.) as artistiek (GENRES, e.d.). In sy moderne gedaante is dit die standpunt van veral die Neo-Strukturalisme.

In verband met hierdie probleem lê die waarheid nie in die middel nie. Die oplossing word verskaf via die toetsvraag: Hoe eksplisiet word die faktor waarvoor ʼn saak uitgemaak word, deur die teks benut? Enige spesifiek-menslike aktiwiteit speel hom in ʼn kulturele veld af, en skeppende en interpreterende aktiwiteite speel hulle in ʼn veld van (gewoonlik onuitgesproke) vooronderstellings of afsprake af. Vir ʼn groot deel van ons aktiwiteite is daardie vooronderstellings en afsprake nie ter sprake in die be­trokke handelinge nie. Hulle bestaan “onderwaters”, en is daarom sekondêr of indirek, omdat hulle nie tot bewuste deelnemers van die daarstelling gemaak is nie.

Volgens die Neo-Strukturalisme het die reëlende kodes en kon­vensies veel meer as sekondêre of indirekte status. Een gevolg hiervan is dat hierdie faktore in interpretasie dikwels oor-geëksplisiteer word. Die teks word maklik gereduseer tot blote wegspringpunt in ʼn avontuur van ontdekking en blootlegging van reëlende kodes en ander bepalers van ʼn sisteem-aard.

Die afgelope ongeveer twee dekades is outonomie-interpretasie onder swaar kritiekdruk, veral van die kant van die Neo-Struk­turalisme en die Post-strukturalisme. Immanente Deutung sou die kunsteks verskraal tot “bloot taal”; dit sou ook suiwer “formalisties” wees.

Dis in die lig hiervan nodig om die aard en funksionering van taal duidelik te besef.

Die woord wys altyd uit na iets, iets in die werklikheid – of daar­die werklikheid iets eksterns of iets interns m.b.t. die gebruiker is, dit maak nie saak nie. Taal het eenvoudig per definisie ʼn saaklike grondslag. Taalgebruik is nooit “net woorde” nie.

Die heenwysing van taal bestryk ʼn wye spektrum – die hele spektrum van konjunkte, disjunkte en ajunkte gebruik van die betekenis van die woord. Dit behels benoeming én spel, betrek taalsisteem én taalkonvensie, dus ook die sosiaal-historiese kodes en konvensies waarbinne die situasie tot stand gekom het. Alles wat relevant is vir ʼn teks, is in sy struktuur geregistreer, tot aan die toespelings en die aanleunings toe. Daarom kan Van Wyk Louw sê: ” ʼn Kunswerk kan nie ‘verklaar’ word uit enigiets behalwe sy struktuur nie” (1958a: 104). ʼn Voller, meer ter sake interpretasie as “immanente duiding” is in prinsipe nie moontlik nie.

Die metodiek van literêre interpretasie word vir hom deur die voorgenoemde geaardheid van die literêre werk ingegee.

Eerstens: omdat die geslaagde kunsteks so ʼn hoë mate van eenheid het, kan onderdeel en geheel in ʼn wedersyds beligtende funksie t.o.v. mekaar benut word. Die geheelgeaardheid van die teks kan gebruik word om ʼn onsekerheid aangaande ʼn onderdeel op te los, terwyl, om die presiese gewig en draagkrag van ʼn onder­deel in die geheel te bepaal, dit teen die geheel besien of geëvalueer kan word.

Tweedens: omdat die literêre teks, veral die gedig, uit die gehele woord tot stand kom en nie net uit die betekenismoment daarvan nie, kan die betekenismomente en die nie-betekenismomente van die gedig as interpretasie-kontroles vir mekaar benut word. Ter sake interpretasie is die beskouing van tema in terme van STRUKTUUR en struktuur in terme van tema. Dit verskaf aan die interpreteerder ʼn dubbele kontrolebasis.

Derdens: die heg-gestruktureerdheid van die taal maak analise onvermydelik, maar ook moontlik. Die eenheid van die teks skryf egter ook sintese voor. Ook in hierdie opsig is immanente inter­pretasie ryk en omvattend.

In die geskiedenis van die na vore tree van interpretasie as kritiese dissipline, is ʼn paar groot periodes of stuwings onderskeibaar. Veral die Hermeneutiek, die STILISTIEK en die Neo-Strukturalisme het belangrike bydraes gelewer.

Die belangrikheid van die Hermeneutiek is geleë in sy bydrae tot die konsep van “die filologiese sirkel van begrype”, wat Leo Spitzer (1948: 19) as interpretatiewe operasie so beskryf: “…to work from the surface to the ‘inward life-centre’ of the work of art: first observing details about the superficial appearance of the particular work (and the ‘ideas’ expressed by a poet are, also, only one of the superficial traits in a work of art); then, group­ing  these details and seeking to integrate them into a creative prin­ciple which may have been present in the soul of the artist, and finally, making the return trip to all the other groups of observa­tions in order to find whether the ‘inward form’ one has tenta­tively constructed gives an account of the whole.”

Die Stilistiek (basies ʼn STRUKTURALISTIESE dissipline) se bydrae is geleë in die aandag aan die taal in sy volle omvang – d.w.s. nie net as betekenis nie – en aan die geringste boumoment van die teks.

Die Neo-Strukturalisme het veral geprikkel tot ʼn bewustheid van die voorondersteldes van die teks, bv. die kodes wat die gemeen­skap waarin die werk ontstaan het en op wie dit gerig is, bewus of onbewus beheers, hetsy sosiaal, artistiek of in watter opsig ook al.

Die Stilistiek en die Neo-Strukturalisme het albei in ʼn sekere sin uit die hermeneutiese tradisie gespruit, maar elkeen het ʼn bepaalde faset van “die dubbele filologiese sirkel” vir sy besondere rekening geneem en uitgebou: die Stilistiek die objektiewe sirkel (die taal), die Neo-Strukturalisme die subjektiewe (die si­tuasie van die sender, as lid van ʼn bepaalde gemeenskap in ʼn bepaalde tyd van sy bestaan en gerig op dié gemeenskap). Die Stilistiek het soms tot oor-interpretasie gelei, terwyl die Neo-Strukturalisme die gevaar wat Van Wyk Louw (1958b: 77) voorsien het (in sy ekstreemste vorm die verklaar van die kunswerk as “die kwaak uit die bloedmoeras van die liggaam”) meer as eens in vervulling laat gaan het.

Enkele epogmakende analises in die geskiedenis van interpretasie. meer bepaald van die onlangse dekades, is Emil Staiger se inter­pretasie van “Auf eine Lampe” van Mörike (1951), W.Gs. Hellinga en H.v.d.M. Scholtz sʼn van “Om mijn oud woonhuis” van J.H. Leopold (1955) en, wat die prosa betref, Roland Barthes sʼn van Balzac se Sarrasine (1970).

Goeie oorsigte van korter en langer omvang oor die aard en problematiek van interpretasie is te vinde by o.a. Mooij (1970), Van Gorp et al. (1986) en Fowler (1973); wat Afrikaans betref, veral Van Wyk Louw (1958a en 1958b). Interpretasies wat tot uitgebreide debatte aanleiding gegee het, was o.a. dié van Scholtz (1950) van ʼn gedig van Eugène Marais (vgl. Standpunte, N.R., 5(3) en 9(5) – 10(6)); Staiger (1951) van ʼn gedig van Mörike (vgl. die gedagtewisseling tussen Staiger, Heidegger en Spitzer in Trivium, 9(1 & 3)); Barthes (1970) van Sarrasine van Balzac en Cloete (in Cloete et al., 1985) van “Die eland” van Wilma Stockenström (vgl. die alternatiewe interpretasies van o.a. Gräbe: Spits, 2(1) en Van Rensburg: Spits, 2(1) en Roodt & Wiehahn (1988)).

 

Bibliografie

Barthes, R. 1970. S/Z. Paris: Seuil.

Cloete, T.T. et al. 1985. Gids by die literatuurstudie. Pretoria: HAUM-Literêr.

Hellinga, W. Gs. & Scholtz, H. van der Merwe. 1955. Kreatiewe analise van taalgebruik: prinsipes van Stilistiek op linguistiese grondslag. Amsterdam: Noord-Hollandsche Uitgevers Maatschapij

Louw, N.P. van Wyk. 1958a. Swaarte- en ligpunte. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Louw, N.P. van Wyk. 1958b. ʼn Wêreld deur glas. Kaapstad: Na­sionale Boekhandel.

Mooij, J.J. A. 1970. Text en lezer: opstellen over algemene problemen der literatuurstudie. Amsterdam: Athenaeum.

Roodt. P.H. & Wiehahn, R. (reds.). 1988. Teks en tendens. Verrigtinge van die 1986 — Hoofkongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging. Hillcrest: Owen Burgess.

Scholtz, M. 1978. Die teken as teiken. Kaapstad: Tafelberg.

Spitzer, L. 1948. Linguistics and Literary History. Princeton: Princeton University Press.

Staiger, E. 1951. Die Kunst der Interpretation. Groningen: Wolters.

Van Rensburg, F.I.J, et al. (reds.). 1985-. Spits. Kritiese meningblad onder redaksie van die departement Afrikaans-Nederlands. RAU. Johannesburg: RAU.

Wellek, R. & Warren. A. 1949. Theory of Literature. New York: Harcourt.

 
F.I.J. van Rensburg