(Hersien Mei 2025)
Eenvoudige omskryf is ‘n prosagedig (Fr.: poème en prose) ‘n teks wat in prosavorm geskryf of gedruk is, maar eienskappe vertoon wat tipies van die poësie is, soos rym, ritme, ander soorte klankherhaling, beeldrykheid, sterk patroonmatigheid, herhaling, volgehoue intensiteit en kompaktheid van segging. Die saak is egter nie so eenvoudig nie: “( ) if the broad classifications we call ‘poetry’ and ‘prose’ are more elusive than we would often assume, then the prose poem may be a demonstration of how certain kinds of literary works are unclassifiable, or perhaps even extra-generic – in this case, both poetic and prosaic at once” (Hetherington & Atherton, 2015). ‘n Ander definisie lui: “The prose poem is a poem written in prose rather than verse. On the page it can look like a paragraph or fragmented short story, but it acts like a poem. It works in sentences rather than lines” (Lehman, 2003).
In ‘n prosagedig word geen vaste ritmiese patroon gevestig nie, maar dit is ook waar van baie ‘suiwer’ gedigte. Prosagedigte moet onderskei word van die vrye vers (vers libre) en liriese prosa: vrye verse is in gedigvorm gedruk en, anders as liriese prosa, is prosagedigte meestal kort. Hierdie genre oefen ‘n groot invloed uit op die literatuur, want die vrye vers, die bewussynstroomtegniek en die neiging tot die vermenging van genres hou verband met die prosagedig.
Die prosagedig is ‘n hibridiese vorm, kontroversieel, en esteties en polities revolusionêr. Dit is geskik vir ʼn wye reeks uitdrukkings en persepsies, vanaf ambivalente emosies tot by realistiese weergawes en verhale. Dit bied ʼn sekere visie aan wat soms stomp afgesluit word. Emosies word ellipties aangebied, wat dit verdiep en intenser maak. Ekstatiese uitings word soms verbind met metaforiese en ontologiese wêrelde. Die doel daarvan is om iets tot stand te bring wat nie binne die gewone digterlike konvensies uitgedruk kan word nie. Dit lyk soms doelbewus selfvoldaan, maar is veral kort. Soms speel dit in op interessante ruimtes. Dit kan ook sterk intertekstueel en polities wees. Dit is nie poëtiese in die gewone sin van die woord nie, en kan soms oorgaan in ʼn essay-vorm (Greene et al., 2012).
Breyten Breytenbach se Op weg na kû (2019) bevat ʼn hele paar prosagedigte . Een van die korteres is 8.11 (p. 188):
tristesse is maar net heimwee/hunkering na wat nooit geken is nie, na die droë beddings van jakkalsriviere waar die maan vergeefs ʼn ewebeeld kom soek. intussen sal ons soos Japanse skilders van ouds landskappe uitruil. sodat ons mekaar nie hoef te vergeet nie. die maan wat hier by my in ink versuip sal by jou agter die berge ʼn gloed bloei, kristalliseer in waterklip – versteende verstand! – om jou hemel te kom verruim (p. 188).
Die teks word nie in verse verdeel nie, maar bevat baie klankherhaling – veral van die aa en die ee en die f. In drie kernwoorde – uitruil, versuip, verruim – word die ui herhaal. Die sinne begin nie met hoofletters nie, wat aandui dat dit nie gewone prosa is nie. Daarby bevat die teks ʼn reeks treffende beelde van die maan: die maan “[kom soek] vergeefs ʼn ewebeeld”, dit “[versuip] in ink” (ʼn mooi beeld vir die donker), dit “kristalliseer in waterklip” (heel paradoksaal) en dit word uitgeroep tot “versteende verstand”. Kortom, die teks vertoon tipiese trekke van ʼn gedig, soos klankherhaling en beelding, maar dit word in lopende reëls, as prosa, aangebied.
Die teks pas dus goed in Abrahms & Harpham (2015:318) se kort en kragtige definisie van die prosagedig: “Prose poems are compact, rhythmic, and usually sonorous compositions which exploit the poetic resources of language for poetic ends but are written as a continuous sequence of sentences without line breaks.” Prosagedigte is ‘n vorm tussen prosa en poësie. Sommige prosadigters (of digterprosaïste?) is onseker watter genre hulle nou eintlik beoefen (Hetherington & Atherton, 2015). Dit is daarom gepas dat dié twee skrywers van die prosagedig as “Janus-faced” praat: prosagedigte kyk in die rigting van die poësie sowel as die prosa.
Prosagedigte het in die 19de eeu op die voorgrond getree in reaksie op die streng konvensies van die 18de-eeuse Franse neoklassissime en die streng reëls vir die onderskeid tussen prosa en poësie. ‘n Klompie Franse skrywers – spesifiek Charles Baudelaire en Arthur Rimbaud – die sg. moderne prosagedig aan die Europese letterkunde bekendgestel het. In der waarheid het heel vroeëre skrywers hierdie vorm reeds gedeeltelik beoefen ”to problematise traditional traditional poetic prosody, once this aim was achieved prose poetry remained a significant contemporary literary form” (Hetherington & Atherton, 2015).
Voorlopers van die moderne prosagedig sluit in die digterlike prosa van die Bybel, die Klassieke en volkslirieke, die gepoëtikaliseerde prosa van romantici soos Chateaubriand en die prosa-gedeeltes van William Wordsworth se Lyrical Ballads; sowel as die vermenging van vers en prosa in werke soos Maurice de Guérin se “Le Centaure” en Ludwig Tieck se Reisegedichte eines Kranken.
Aloysius Bertrand (skrywersnaam van Louis Jacques Napoléon Bertrand) se bundel Gaspard de la Nuit: fantasies à la manière de Rembrandt et de Calot (1842), ‘n bundel nostalgiese prosagedigte, word oor die algemeen as die eerste bewuste poging beskou om prosagedigte te skryf. Kritiek wat bv. op Bertrand se prosagedigte geopper kan word, is dat hy te veel van stereotipe romantiese konvensies gebruik maak. Nietemin het Baudelaire Bertrand erken as die eerste skrywer van prosagedigte in Frankryk (Greene et al., 2012).
Baudelaire het egter baanbrekerswerk verrig met sy Petits poèms en prose (1869), Arthur Rimbaud met sy Illuminations (1886) en Stéphane Mallarmé met sy Divagations (Omswerwinge, 1897). Die prosagedig geniet in Frankryk uiteindelik wye aansien en aanvaarding as digvorm.
Bertrand se prosagedigte het waarskynlik ook ‘n invloed uitgeoefen op die poësie van die Simboliste en die Surrealiste: in Duitsland het Novalis, Hölderlin (Hyperion), Stefan George, Nietzsche (Also sprach Zarathustra) en Rilke prosagedigte geskryf. In Engeland is die prosagedig beoefen deur o.a. Oscar Wilde en T.S. Eliot. In Nederland het sowel prosaskrywers as digters (o.a. Lodewijk van Deyssel, Aart van der Leeuw, Hendrik Marsman, Paul van Ostaijen en Ferdinand Bordewijk) prosagedigte geskryf. Latere beoefenaars daarvan is Bert Schierbeek (De blinde zwemmers, 1955) en Hans Andreus (Empedocles de Ander, 1955)..
In Afrikaans kom die prosagedig voor by Eugène Marais (Dwaalstories), Uys Krige, Jan Rabie (21 en Dakkamer), Hennie Aucamp, Breyten Breytenbach (bv. “Die boenk” in Katastrofes en Mouroir) en by T.T. Cloete in Die waarheid gelieg. Orgie van André P. Brink is deels ook ‘n prosagedig. Moderne prosagedigte in Afrikaans is bv. “Klassieke tweespraak” van Charl-Pierre Naudé wat in sy bundel In die geheim van die dag (2004) verskyn. Die titel verwys na ʼn tweespraak tussen Horatius en Catullus. Opvallende poëtiese kenmerke in hierdie prosagedig is die rym, halfrym en beelde wat eggo’s van mekaar vorm. Fransi Philips se Die horlosie se wysers val af (1983) is kortverhale wat ook prosagedigte is. Plaasroman II van Toast Coetzer kan op grond van sy herhaling van s, m, en w, die talle metafore en personifikasies ook as ‘n prosagedig beskou word, hoewel dit meer prosa as gedig is. In Kaar van Marlene van Niekerk verskyn ‘n klompie prosagedigte. So ook in Breyten Breytenbach se jongste digbundels, bv.”toe ek hom sien” in Die beginsel van stof (2011). Bernard Odendaal “Haar beduidehand, die linker” uit Nootvat.Kwashaal.Stapel (2021) is ook ʼn prosagedig.
Anna-Marie le Roux
Hein Viljoen (met hulp van CoPilot)
Bibliografie
Abrahms, M.H. & Harpham, G.G. 2015. 11th ed. A Glossary of Literary Terms. Stamford: Cengage Learning.
Atherton, C., & Hetherington, P. 2020. Prose Poetry: An Introduction. Princeton: Princeton University Press.
Bernard, S. 1959. La poème en prose de Baudelaire jusqu’a nos jours. Paris: Nizet.
Glatch, S. 2021. What is a Prose Poem? Understanding Prose Poetry. Writers.Com.
Greene, R., et al. 2012. The Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics. New Jersey: Princeton University Press.
Hetherington, P. & Atherton Cassandra. 2015. “Unconscionable Mystification”. The International Journal for the Practice of Creative Writing, November.
Lehman, D., ed. 2003. Introduction to Great American Prose Poems: From Poe to the Present. New York City: Scriber.
Monroe, J. 1987. A Poverty of Objects: The Prose Poem and the Politics of Genre. Ithaca: Cornell University Press.
Pieterse, H. J. 2006. H.J. Pieterse resenseeer Charl-Pierre Naudé se In die geheim van die dag. LitNet Seminaarkamer.
Van der Berg, Danelle. 2016. Die verskillende verskyningsvorme van die narratiewe poësie by Charl-Pierre Naudé en Loftus Marais (M.A. Stellenbosch.)
Van Deyssel, L. 2009. Menschen en Bergen, proza-gedicht; Elektronische editie met tekstvarianten (W. Van der Weij, red.). Huygens Instituut – KNAW.