SURREALISME

Die Surrealisme was meer as net nog een van verskeie strominge in die literatuur en beeldende kunste uit die eerste kwart van die 20e eeu. Dit was ‘n revolusie van waardes wat omtrent elke moontlike kunssoort bygekom en die 20e-eeuse lewe self ten diepste aangetas het.

Die Surrealisme het ontstaan as loot van die DADAISME (die Surrealisme het by Dada se linkeroor uitgespring, het die dadaïs Hans Richter op ‘n keer gesê) maar gegroei tot ‘n outonome kuns, soos uiteengesit deur Breton in sy eerste surrealistiese manifes (Manifeste du Surréalisme, 1924). Sy naam het die Surrealisme te danke aan die profetiese vernuwer en digter, Guillaurrie Apollinaire, wat sy provokatiewe toneelstuk, Les mamelles de Tirésias (1917), in die voorwoord as ‘n “surrealistiese drama” beskryf het. Met die neologisme het hy nie op die bonatuurlike gedui nie maar op die nie-verwante.

Die Surrealisme was nes die Dadaïsme ‘n beweging van gewelddadige opstand teen die dwang van die bewaakte denke, d.w.s. teen die begrensing van kennis en ervaring deur die tirannie van ‘n logiese, estetiese, sosio-morele bewussyn. Maar, anders as Dada se kom-ons-breek-alles-af-en-kyk-wat-bly-oor-rebellie, was die Surrealisme gerig op ‘n stelselmatige bemoeiing met die onbekende terreine van die gees, soos die onbewuste. Was Dada se wanorde en absurditeite nie juis die uiting van magte wat die mens nog altyd onderdruk het en tog sy diepste psigiese werklikhede uitmaak nie, wonders en monsters en al? Met die psigoanalise en okkultisme as wegwysers het die Surrealisme geestestoestande soos die droom en hallusinasie verken en later selfs ‘n sentrale navorsingsburo gestig waar lede verskynsels soos primitiewe mites, drogbeelde van kranksinniges, visioene van senuweelyers, skisofrenie, histerie, hipnose (soos die sg. hipnotiese “slape” wat surrealiste soos Crevel en Péret beoefen en opgeteken het), e.d.m. konbestudeer.

Die Surrealisme was dus allereers ‘n avontuur van die gees, en nie ‘n skool met ‘n stel kliniese beginsels nie. Dit was te bevrydend en verkennend om ‘n uitgesoekte kunsgenre te dien en slegs die literatuur en visuele kunste as doel na te streef. Hierop dui ook die uiteenlopende aard van sy bronne – filosofies-psigologies (Freud, Hegel), wetenskaplik (Einstein), sosio-polities (die Eerste Wêreldoorlog en die Russiese Revolusie) én poëties (veral Frans). Die Surrealisme was die versamelpunt van estetiese ervaringe en *neo-romantiese en *simbolistiese werkinge wat die Franse poësie al sedert Baudelaire deurtrek en die aksent verskuif het van “hart” na “siel” en van uitdrukking na openbaring. Nerval, Rimbaud, Lautréamont, Alfred Jarry, Apollinaire (en verder terug selfe De Sade!) was almal heroute van die Surrealisme, nes William Blake en Edgar Allan Poe en van die Duitse ROMANTICI. Daarby is dit geen toeval nie dat die Surrealisme hom laat geld het in ‘n tyd toe al die kunste (literatuur, musiek, ballet, KUBISME, FUTURISME, ens.) sonder grense deurmekaar geloop het.

In dié nuwe denk- en kunsrevolusie was die poësie nietemin bestem om ‘n loodsrol te speel. Woordkunstenaars wat tydelik of blywend aan die Surrealisme meegedoen het, maak ‘n indrukwekkende lys uit: André Breton, Paul Eluard, Louis Aragon, Ben­jamin Péret, Philippe Soupault, Robert Desnos, Pierre Reverdy, Raymond Crevel, Michel Leiris, Jacques Prévert, Raymond Queneau, René Char, Antonin Artaud (ook die skepper van die sg. “teater van wreedheid”), terwyl Jean Cocteau, Blaise Cendrars en Jules Supervielle ‘n verwante idioom ontgin het. Onder die vernaamste plastiese kunstenaars van die Surrealisme, wat sy eerste uitstalling in 1925 het en tref met tegnieke van werktuiglikheid, COLLAGE, montage, fivttage, e.s.m., was Max Ernst, Hans Arp, Yves Tanguy, Alberto Giacometti, René Magritte, Paul Klee, Giorgio de Chirico (wat saam met Marc Chagall al in 1911―1912 in ‘n surrealistiese idioom gewerk het), Juan Miró, Paul Delvaux, Salvador Dali met sy “paranoïes-kritiese” styl en Pablo Picasso (wat o.m. ook die surrealistiese stuk Le désir attrapé par la queue geskryf het). Ander sunealiste was Man Ray (fotografie) en Luis Bunuel (films, soos Un chien andalou), terwyl Man Ray, Duchamp en Richter ook die film as medium van antikultuur wou inspan (Virmaux & Virmaux, 1976: 13). Selfs musici soos Erik Satie, Prokofjev, Bartok en Ravel het surrealistiese aksente verraai.

In sy eerste Manifeste du Surréalisme (1924) het André Breton díé stroming só probeer raakvat: “Suiwer psigiese werktuiglikheid waardeur ‘n mens óf mondeling óf skriftelik of op enige ander wyse die ware funksionering van die gedagte wil uitdruk. Diktaat van die gedagte, sonder enige beheer deur die rede, sonder enige estetiese en morele vooringenomendheid” (in Lagarde & Michard, 1973: 343).

As mediese student het Breton die skok van die oorlog aan die front meegemaak en in verskeie neuroklinieke gewerk, en die ervarings, saam met die invloed van Baudelaire en Mallarmé, het van hom ‘n vroeë dadaïs gemaak. Maar vir Breton moes die poësie êrens heen lei, en hy het die teoretikus van die ontluikende surrealistiese groepering binne Dada geword. Dit was Breton wat saam met Aragon en Soupault die Dada-tydskrif Littérature oorgeneem en op die Dada-kongres van 1922 van Tzara-hulle weggebreek het. Dit was hy wat die Eerste surrealistiese manifes uitgegee het, wat die surrealistiese saak onvermoeid verdedig het (“Légitime défense”) en die nuwe kuns in sy prosatreffer, Nadja, verwoord het. Dit was hy wat sy makkers geëkskommunikeer het toe hulle volgens hom afgewyk het. Dit was hy wat – saam met enkele ou kollegas soos Péret – die Surrealisme tot sy dood in 1966 aan die lewe gehou het.

Van 1924 af het die Surrealisme hom laat geld in uitdagende openbare skermutselings met reaksionêre denke en kuns (soos die skokpamflet teen die patriarg Anatole France met dié se dood in 1924). Die Messiaanse rol wat die Surrealisme vir hom opgeëis het, het vele polemieke, moleste en vuisslanery afgegee. Anders as Dada, het die Surrealisme vroeg oorgeslaan in ‘n sosio-politieke betrokkenheid. Deur die gees te bevry en die mens se opvatting van die werklikheid te revolusioneer, wou hy die mens self bevry. Die tydskrif Littérature het verander na La Révolution Surréaliste (Die surrealistiese revolusie) en later, na Breton se tweede, sg. “betrokke” Manifes, in 1929, na Le Surréalisme au service de la Révolution (Die Surrealisme in diens van die revolusie). Daarom was dit eintlik vanselfsprekend dat die surrealiste hulle tot Marx se filosofie van opstand (soos uitgedruk in die Oktober-Revolusie van 1917) aangetrokke sou voel en met die kommuniste sou flirteer (Gaunt, 1949: 282). Maar dit was ewe vanselfsprekend dat die onbegrensde vryheid van verbeelding en assosiasie, wat die Surrealisme beliggaam het, en die ideologiese begrensdheid van die dialektiese materialisme nie lank sou klaarkom nie. Aksentverskille en spanninge het die Surrealisme feitlik uit die staanspoor in twee kampe verdeel: dié wat van die Surrealisme ‘n politieke beweging wou maak en dié wat dit tot ‘n kunsstroming wou beperk. Enersyds is die Surrealisme na 1930 kragtig verruim deur die bykom van nuwe talente soos Salvador Dali, met sy berugte paranoïes-kritiese styl, Luis Bunuel, George Hugnet, René Char en Georges Sadoul. Andersyds het die eenheid van die beweging uitmekaargespat onder die druk van politieke betrokkenheid, soos Eluard, die groot liefdesdigter van die Surrealisme (vgl. sy “Capitale de la douleur”), en Aragon se aansluiting by die Kommunisme. Aan die een kant het die surrealiste ontstuimig betoog teen dinge soos Kolonialisme, Fascisme, die naderende oorlog, en aan die ander kant hoogs skeppende literatuur en skilderkuns beoefen. Daarby het periodieke surrealistiese uitstallings van die beweging se voorste eksponente in Parys, Londen, New York, Praag, Kopenhagen en Japan byeengebring.

Die Tweede Wêreldoorlog het die Surrealisme saam met Breton laat uitwyk na die VSA en vernaamlik na New York, waar Breton saam met Duchamp, Masson, Tanguy, Man Ray, Matta, Seligmann, Arshile Gorki en ‘n paar ander bekeerlinge gewerk het en waar kunstenaars soos Chagall, Mondriaan, Léger, Zadkine, Calder, Lipschitz, en later Jackson Pollock, David Hare, Motherwell en ander ‘n verrykende invloed sou bydra (Audoin, 1974: 101).

In die na-oorlogse wêreld is die Surrealisme as “formele” beweging vroeg ingehaal deur die nuwe denke van EKSISTENSIALISTIESE bewustheid en engagement (vgl. BETROKKE LITERATUUR) en nuwe denkmeesters soos Camus en Sartre. Kenners het dit selfs by geleentheid dood verklaar. Maar die Surrealisme het bly meepraat, veral in sy opsienbare uitstallings (1947, 1959, 1965) en tydskrifte (Le Surréalisme, même, Neon, VVV, ens.), tot in die HUMOR van Saint-Germain-des-Prés se KABARETTE en die slagspreuke van die studente-opstande van Mei 1968. Dit was nietemin nie as filosofie nie, maar as medium van bevryding, as styl, dat die Surrealisme op sy eeu sou ingryp.

Omdat die Surrealisme by die egte, innerlike waarheid, die intieme, dieper lewe van die Ek wou uitkom, het dit uiteraard ‘n kultus van die suiwer spontane, ‘n avontuur van openbaring en beswering geword. Die kunstenaar, en by name die digter, was soos ‘n Rimbaud van ouds, siener, profeet, vuursteler, Prometheus. Poësie was “towenaarskap”; poësie was, soos Uys Krige dit mooi in sy Eluard en die Surrealisme (1962: 15) raakvat, ‘n besetenheid met die woord, ‘n besetenheid “om die woord te herontdek, te hersien, hom te herstel in sy eerste glans, sy oerbetekenis en krag”. Daarom wou die surrealiste – en hier het die laat 19e eeu al kosbare aanvoorwerk gedoen – veral met die taal as draer van ‘n verstarde lewensvisie en van die tegniese moets en moenies wat voorafgaande skole as min of meer vanselfsprekend aanvaar het, wegdoen. Taalreëls en strofe- en versvorme, ritmiese en harmoniese effekte en rym wat die oorspronklike suiwerheid van die skeppende impuls aangetas het, moes wyk voor die “los” idioom, die vrye assosiasie en die gesplete beeld (Bigsby, 1972: 61), voor die verrassing van die nie-logiese en nie-chronologiese, en voor tipografiese innovasies.

Die Surrealisme, met sy wesentlike drang na “rasionele” kennis van die “irrasionele”, was tot groot hoogte ‘n verwarde, teenstrydige woeling, maar sy blinkste verdienste was om die grense van menswees onbepaald uit te skuif.

Die Surrealisme was die één geestelike punt waar lewe en dood, verlede en toekoms, die kommunikeerbare en die onkommunikeerbare, kon ophou om teenstrydig te wees. Sy aggressiewe opstand van die gees teen die verstarring van intellektualisme het ‘n saak aan die gang gesit wat vandag soos daaglikse brood geword het. So algeheel het die Surrealisme in die naoorlogse wêreld opgegaan, dat min kunstenaars en kunsvorme, en daarmee saam min vlakke van die samelewing, daaraan ontsnap het: die woordkuns van Frederico Garcia Lorca, Franz Kafka, Herman Hesse, James Joyce, Dylan Thomas, Henry Miller, William Burroughs, Saint-John Perse, Pablo Neruda en sy mede-Suid-Amerikaners; die INNERLIKE MONOLOOG, die Franse *nouveau roman en ons eie poësie sedert veral Breyten Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet en sy aandrang op “die Onderbewuste, die onuitputlike onverwerkte” (1976: 54); die ABSURDE TEATER van Beckett, Ionesco, Genet en, in ons midde, André P. Brink en Chris Barnard; Julian Beck se Living Theatre, die films van grotes soos Godard, Clair, Polanski, Resnais, Bergman, Antonioni, Fellini; Jackson Pollock, Amerikaanse action painting, die abstrakte EKSPRESSIONISME en nie-figuratiewe kuns en dié se neerslag ook by Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Alexis Preller, Judith Mason, e.a.; Henry Moore se beeldhouwerk; die ballet, popkuns, reklame en stadsargitektuur; happenings en strokiesprente; fotografiese truuks en fotomontage, taalspeletjies, Van der Merwegrappe, Goon Show-humor, improvisasie; modes en meubels, dié is alles deel van André Breton-hulle se surrealistiese erfenis.

Deur die sigbare wêreld en die tydruimtelike te hersien, deur te protesteer teen die ontmensing van die mens in ‘n eeu van groeiende materialisme, deur die uiting van gevoel te verinnig en die verwoording van die liefde en die erotiese te verruim, het die Surrealisme hom laat geld as een van die grootste humanismes van alle tye.

Oor die Surrealisme gee Duplessis (1961), Fowlie (1960) en Nadeau (1964) die beste uiteensettings. Kyk ook Audoin (1974) en Gaunt (1949). Die verband met verwante bewegings soos Dada word goed aangedui deur Ades (1974), Bigsby (1972) en Picon (1983).

(Vgl. DADA.)

 

Bibliografie

Ades, D. 1974. Dada and Surrealism. London: Thames & Hudson.

Alquie, F. 1955. Philosophie du Surrealisme. Paris: Flammarion.

Audoin, P. 1974. Les surréalistes. Paris: Seuil.

Bigsby, C.W.E. 1972. Dada and Surrealism. London: Methuen.

Breton, A. 1972. Manifestoes of Surrealism (transl. Richard Seaver & Helen R. Lane). Ann Arbor: University of Michigan Press.

Breytenbach, B. 1976. Voetskrif. Johannesburg: Perskor.

Duplessis, Y. 1961. Le Surrealisme. Paris: Presses Universitaires de France.

Fowlie, W. 1960. Age of Surrealism. Bloomington: Indiana University Press.

Gaunt, W. 1949. The March of the Moderns: London: Cape.

Huyghe, R. & Rudel, J. 1970. L’art et le monde modeme. Paris: Larousse.

Krige, U. 1962. Eluard en die Surrealisme. Kaapstad: HAUM.

Lagarde, A. & Michard, L. 1973. XXe siècle. Paris: Bordas.

Lanson, G. & Tuffrau, P. 1953. Histoire de la littérature Francaise. Paris: Hachette.

Matthews, J. 1966. Surrealism and the Novel. Ann Arbor: University of Michigan Press.

Meiring, E. 1976 Die Surrealisme het grense verskuif. Die Burger, Jul. 1.

Nadeau, M. 1964. Histoire du Surrealisme, suivie de documents surréalistes. Paris: Seuil.

Picon, G. 1983. Surrealists and Surrealism, 1919―39. London: Macmillan.

Raymond, M. 1947. De Baudelaire an Surrealisme. Paris: Corti.

Stander, H.L. 1974. ‘n Verkenning van die Surrealisme en Zen-Boeddhisme in Die ysterkoei moet sweet. M.A.-verhandeling, PU vir CHO, Potchefstroom.

Waldberg, P. 1965. Surrealism. London: Thames & Hudson.

Virmaux, A. & Virmaux, O. 1976. Les Surréalistes et le cinéma. Paris: Seghers.

 
E. Meiring