EKSISTENSIALISME IN DIE LITERATUUR

Die Eksistensialisme is ‘n filosofiese standpunt waarvolgens die mens gekonfronteer word met die absurditeit van die lewe waaraan sin slegs gegee kan word indien hy daarin slaag om dit self te skep.

Die historiese agtergrond vir hierdie soort denke is die besef in die 19e eeu dat die vaste verwysingspunt vir die sin van die mens se lewe besig is om te verdwyn. Dit kan beskryf word in terme van die verval van ‘n transendente tweede wêreld wat deur die Idealisme van Plato en die Christendom in aansyn geroep is en 2 500 jaar lank in stand gehou is. Aangesien sin met hierdie tweede wêreld verbind was, het die verval daarvan tot ‘n ervaring van sinloosheid en nihilisme aanleiding gegee. Nietzsche en Kierkegaard het elkeen op sy eie manier in die 19e eeu hieraan uitdrukking gegee. Nietzsche beskryf dit as ‘n ervaring van “die dood van God” wat oorwin kan word deur die “wil tot mag”. Vir Kierkegaard kan sin alleen gegee word deur die subjektiwiteit en intensiteit van ‘n “sprong in die geloof”. Sowel die wil as die geloof staan negatief t.o.v. die rede.

In die 20e eeu kom hierdie verlies van ‘n vaste verwysingspunt veral na die Eerste en Tweede Wêreldoorloe in verskillende gestaltes na vore: die ervaring van leegheid, die verbrokkeling van die tyd, die onvermydelikheid van die dood, die nutteloosheid van die lewe, die afwys van objektiwiteit, gebrek aan kommunikasie, absurditeit, wanhoop, angs, gevallenheid en eensaamheid.

Hierteenoor word gestel begrippe soos vasberadenheid, goeie trou, outentieke bestaan, opstand, geloof en beslissing – almal houdinge wat streng persoonlik is en waardeur die subjek sin probeer skep in sy lewe. Hierdie aktiwiteite kan egter nie daarin slaag om die verlore vaste verwysingspunte te herstel nie. Wel illus­treer dit die moeilike taak van die mens om sy eie lewe te konstitueer.

Volgens die Eksistensialisme moet die mens totale verantwoordelikheid vir sy lewe aanvaar. In hierdie sin moet hy gedurig met homself besig wees. Hy ervaar sy lewe as ‘n geworpenheid – “uit die groot omringende nag is hy uitgestoot in die ligkringetjie van die lewe” (Brink, 1969: 75) – maar in dié ligkring moet hy lewe en volhard in ‘n lewe sender uitsig. Hy moet sy uniekheid handhaaf teen alle aanslae van buite wat hom tot ‘n nommer reduseer, hom ‘n rat in ‘n masjien maak. Vir hom is die hoe van sy ervaring belangriker as die wat van sy insigte. Daarom die klem op deurleefde werklikheid teenoor abstrakte teorieë, op persoonlike besluitneming teenoor onpersoonlike algemeenhede, op menslike gewaarwording teenoor vryblywende kennisname. Daarom is die doel van die eksistensialistiese skrywer om die leser te betrek by die uniekheid van sy eie bestaan. Hy word in die problematiek van sy eie bestaan ingelei, sonder dat daar enige antwoorde gegee word.

So ontken Sartre dat die mens ‘n essensiële natuur het en met sy slagsin: “eksistensie gaan essensie vooraf”, roep hy die mens op om, in die afwesigheid van vaste verwysingspunte en van ewige essensies, gedurig sy eie bestaan te ontwerp. Idealisme wat met essensies werk, is ‘n mistifikasie omdat dit die mens bind aan waardes wat reeds gegee is en wat ontken dat die mens die skepper van sy eie waardes is.

Name wat met die Eksistensialisme in die 20e eeu verbind word, is die volgende: Jaspers, Heidegger, Sartre, Simone de Beauvoir, Camus, Unamuno, Sjestof, Marcel, Tillich en Buber. Die klem val soms anders, maar die grondtoon van menslike besluitneming bly dieselfde.

Die Eksistensialisme in die literatuur kan op verskillende maniere aangedui word: in terme van òf die lewensbeskouing van die skrywer, òf die gedrag van sy karakters, òf wat die skrywer met die leser wil doen. Die eksistensialistiese filosofie van ‘n skrywer speel onvermydelik ‘n rol in die wyse waarop hy die wêreld sien. Die gedrag van karakters kan in konkrete situasies verbeeldingryke illustrasies wees van ‘n grondstemming van die onontwykbaarheid van menslike besluitneming en die weerstand wat hy in die samelewing in hierdie verband ervaar. Maar die klem kan ook val op die reaksie van die leser. Die eksistensialistiese skry­wer sal die leser persoonlik wil betrek by die gedrag van die karak­ters. Hy wil nie vermaak nie, maar irriteer en lastige vrae stel. Hy wil twyfel introduseer en die leser betrek by vryheid as die noodoproep van sy eie bestaan. “Successful existential works will be not diversions but obsessions” (Kleppner, 1964: 209). Vir die leser word dit dan ook ‘n verbeeldingryke dramatiese ervaring waarin hy die kontingensie van sy eie bestaan kan herken. In die literatuur is hierdie klimaat reeds teenwoordig in die 19e eeu in die werk van Dostoevski (1821-1881), wie se karakters soms psigologiese dieptes bereik wat in eksistensialistiese terme verstaan kan word.

In die 20e eeu is dit veral in die Duitse en Franse literatuur dat eksistensialistiese sleutelfigure soos Kafka, Sartre en Camus na vore tree. In Kafka se Der Prozess (1924) ontmoet ons ‘n persoon wat onverklaarbaar betrokke raak by ‘n oordeel wat deur ‘n geheimsinnige regspraak op ‘n verskeidenheid van plekke voltrek word. Sentraal staan ‘n onbekende wet wat hom skuldig verklaar. Das Schloss (1926) handel oor K. wat op weg is na ‘n kasteel. Hy bly in die dorp waar gesprekke plaasvind wat geen rigting aandui nie. Antwoorde sal gegee word in die kasteel maar niemand bereik dit ooit nie. Hierdie werke illustreer die eksisten­sialistiese klimaat van ‘n individu wat stry teen anonieme magte wat met die betekenis van sy lewe te doen kan hê, maar wat nooit geken word nie. Op hierdie wyse word elke gewone handeling begelei deur ‘n onsekerheid wat die uitsigloosheid van die lewe intensiveer.

Sartre is die skrywer wat hom die volledigste met die Eksisten­sialisme identifiseer. Hy is nie net as eksistensialistiese filosoof bekend nie, maar ook as roman- en toneelskrywer wie se karakters sy stelreël illustreer dat eksistensie essensie voorafgaan. Be­kend is veral sy toneelstuk  Huis-clos (1944) waarvolgens die hel gesien word as ‘n ander mens van wie ek nie kan ontsnap uit ‘n geslote ruimte waar ‘n mens nooit slaap nie, met die gevolg dat ek gedurig deur sy blik gefikseer word tot ‘n objek wat die afwesigheid van my vryheid demonstreer. Van hom kan ook die volgende dramas genoem word: Les mouches (1943), Lesjeux sont faits (1947), Marts sans sépultures (1947), Les mains sales (1949) en Le diable et le bon Dieu (1951). Sy romans is: La nausée (1938), Le mur (1939) en Le chemins de la liberté (1947-1949).

In Camus se werk het ons met ‘n wêreld te doen wat nie deur die mens verstaan kan word nie en wat gevolglik as absurd er­vaar word. Die ABSURDE bestaan juis in dié ervaring van onbegryplikheid –  ‘n kortsluiting tussen mens en wêreld. Die mens moet hom egter nie hierby neerlê nie maar in opstand self be­tekenis aan sy lewe gee. So sien hy self sy skryfkuns as ‘n voorbeeld van singewing in ‘n absurde wêreld. Daar is ‘n nou verband tussen Camus se “eksistensialistiese” uitkyk en sy literêre werk. Dit is vanselfsprekend in die werk van ‘n skrywer wat beweer: “As jy ‘n filosoof wil wees, skryf romans.” Sy siening van absurditeit, wat die basiese probleem van Le mythe de Sisyphe is, word uitgebeeld in Le malentendu, Caligula en L’étranger. Sy filosofie van opstand, soos verwoord in L’homme revolté, word teruggevind in La peste en Les justes. Die idee van solidariteit bly dialekties verskuil in La chute en L’exil et le royaume. Degenaar het in sy werk Die wêreld van Albert Camus die rol van die drie eksistensialistiese kategorieë, nl. absurditeit, opstand en solidariteit, in die filosofiese en literêre arbeid van Camus aangetoon.

Die Eksistensialisme kom in die Afrikaanse literatuur voor in die periode vanaf die Tweede Wêreldoorlog. Die volgende skrywers word genoem: Willem van der Berg (Reisigers na nêrens); W.A. de Klerk (Die wolkemaker en Die uur van verlange); Anna M. Louw (Die onverdeelde uur en Kroniek van Perdepoort); Elsa Joubert (Ons wag op die kaptein); Jan Rabie (21 en Mens-alleen; Rabie, wat L’étranger van Camus in Afrikaans vertaal het, noem self die Eksistensialisme as een van die rigtings wat hom beïnvloed het); Dolf van Niekerk (Die son struikel); Etienne Leroux (Die mugu, Hilaria, Sewe dae by die Silbersteins en Een vir Azazel); Chris Barnard (Dwaal, Die swanesang van majoor Sommer, Mahala en Duiwel-in-die-bos); André P. Brink (Lobola vir die lewe en Die ambassadeur). In sy toneelstuk Elders mooiweer en warm volg Brink Huis-clos sterk na. Bartho Smit (Christine) beweer self dat sy Putsonderwater die geloofskrisis van die Westerse mens uitbeeld. Wat die ABSURDE TEATER betref, kan ook nog genoem word Barnard se Pa, maak vir my ‘n vlieër Pa en Iemand om voor nag te sê, George Louw se Die generaal en Brink se Bagasie, wat sterk steun op die werke van Ionesco en Beckett, waarin woorde gesien word as geluide sonder betekenis. Op die basis van bg. werke kan beweer word dat die volgende eksisten­sialistiese temas in die Afrikaanse literatuur na vore kom: die ervaring van reisigers na nêrens te wees, die geworpenheid van karakters in onontwykbare situasies wat hulle nie begryp nie, die onvermoë van woorde om betekenis tot stand te bring, die vryheidsprobleem, geloofskrisis, absurditeit, vraagstelling omtrent die sin van die lewe, die ervaring dat die lewe ‘n gedurige soeke is, en veral outsiderskap, wat die geïsoleerdheid van die BUITESTAANDER sterk beklemtoon.

 

Bibliografie

 

Barnes, W. 1968. The Philosophy and Literature of Existentialism. Woodbury, N.Y.: Barron’s Educational Series.

Barrett, W. 1958. Existentialism as a Symptom of Men’s Contemporary Crisis. In: Hopper, S.R. (ed.). Spiritual Problems in Contemporary Literature. New York: Harper.

Bedford, M. 1963. Existentialism and Creativity. New York: Philosophical Library.

Brink, A.P. 1969. Aspekte van die nuwe prosa. Pretoria: Academica.

Degenaar, J.J. 1962. Eksistensie en gestalte. Johannesburg: Simondium.

Degenaar, J.J. 1966. Die wêreld van Albert Camus. Johannes­burg: APB.

Dresden, S. 1946. Existensie-philosophie en literatuurbeschouwing. Amsterdam: Meulenhoff.

Kern, E. 1970. Existential Thought and Fictional Technique: Kier­kegaard, Sartre and Beckett. New Haven: Yale University Press.

Kleppner, A.M. 1964. Philosophy and the literary medium: the existentialist predicament. Journal of Aesthetics and Art Criti­cism, 23.

McElroy, D.D. 1965. The Study of Literature. An Existential Ap­praisal. New York: Philosophical Library.

McElroy, D.D. 1968. Existentialism and Modern Literature: An Essay in Existential Criticism. New York: Greenwood.

Sartre, J-P. 1948. Existentialism and Humanism (transl. P. Mairet). London: Methuen.

Satre, J-P. 1948. Qu ‘est-ce que la littérature? Paris: Gallimard.

J.J. Degenaar