ABSURDE

Die woord absurd het gedurende sy lang woordgeskiedenis, vanaf die kerkvader Tertullianus (3e eeu n.C.) tot by Calvyn, Voltaire en ander, as ‘n uitdrukking van veroordeling gedien, om godsdienstige misstande en politieke tradisies as onversoenbaar met die verstand te brandmerk. Later het sekere digters ‘n positiewe betekenis aan die woord toegeken. So sien Charles Baudelaire (1821-1867) in sy rêve absurde (absurde droom) die middel om, vry van alle logika, ‘n dieper wêreld te skep, wat op die vrye verbeeldingskrag berus, sy eie waarheid besit en slegs vir die kunstenaar toeganklik is. Vir Guillaume Apollinaire (1880-1918) is die paroles absurdes et lyriques (absurde en liriese woorde) hoofbestanddeel van die digkuns omdat dit die ondigterlike alledaagse taal teëgaan. Die term absurde het na die Tweede Wêreldoorlog belangrik geword, eerstens as filosofiese term, en tweedens as versamelnaam vir ‘n groep toneelskrywers van die vyftigerjare van ons eeu.

Vir die Franse eksistensialiste André Malraux, Jean-Paul Sartre en veral Albert Camus, n.a.v. sekere gedagtes van die Deense filosoof Søren Kierkegaard, is die mens sonder sy toedoen in ‘n onverstaanbare en vreemde wêreld geplaas. As ‘n vreemdeling, sonder toevlug tot ‘n goddelike wese, besef hy dat sy bestaan sonder sin, van enige ewige waarhede ontbloot en dus absurd is. Losgemaak van vroeëre onwrikbare etiese stellings en eise, is die mens egter vry om d.m.v. sy eie beslissing sy “eksistensie” te regverdig. Volgens Camus kan die mens òf deur selfmoord hierdie absurde bestaan ontvlug – maar daardeur word slegs een absurde lewe uitgewis, terwyl die absurditeit van die wêreld bly voortbestaan – òf hy kan deur skepping van kunswerke, deur politieke betrokkenheid (Sartre) en solidariteit met sy medemens sy eie eksistensie as ‘n “opstand” (révolte) teen die absurde definieer. Die drie Franse eksistensialiste het in hulle romans en dramas voorbeelde van “absurde werke” geskep, waarin hulle enige metafisiese verklaring van die wêreld vermy: Camus se roman Die buitestaander (The Outsider) gee in ‘n meesterlike en doelbewus plat styl die lewensbeeld van ‘n “mens van ons absurde tyd” weer. Daarteenoor het Sartre en Camus se dramas oor die absurditeit van die menslike bestaan heeltemal konvensioneel gebly. (Vgl. EKSISTENSIALISME IN DIE LITERATUUR.)

Hierdie verlorenheid van die mens in ‘n absurde wêreld word met suiwer teatrale middele oortuigend uitgebeeld in die toneelwerke van ‘n groep dramaturge wat die Engelse kritikus Martin Esslin (1961) onder die naam van The Theatre of the Absurd in ‘n blitsverkoper met dieselfde opskrif saamgevoeg het. Samuel Beckett, Eugène Ionesco, Arthur Adamov, Edward Albee, Harold Pinter, Jean Tardieu, Günter Grass, Roman Weingarten, Francesco Arrabal en Slawomir Mrozek vorm nie eintlik ‘n groep nie, maar staan almal in ‘n AVANT-GARDE posisie teenoor die dramaproduksie van hulle tyd. Die versamelnaam “theatre of the absurd”, waaroor Esslin self ernstige bedenkings uitgespreek het, dreig om bg. dramaturge in ‘n negatiewe lig te stel, veral as die term tot ABSURDE TEATER/DRAMA verkort word. Hierdie avant-gardetoneel weier om oor die absurditeit van die menslike bestaan te redekawel en omskep hierdie absurditeit op ‘n radikale maar logiese wyse in konkrete verhoogaksies. Bo en behalwe die prysgee van tradisionele dramabestanddele soos karakter, intrige en oplossing, beliggaam bv. Ionesco sy sienswyse van die absurde in die ongewone manipulasie van alledaagse gebeurtenisse, die opheffing van aanvaarde teenstellings, die weergawe van onderdrukkingsprosesse (Die les) en die spel met vrye assosiasies. Daarteenoor baseer Beckett sy teater op die beginsel van ‘n eindelose leegheid (l’infini du vide). Sy narrefigure voer ‘n skimagtige bestaan in die “isolasie van ‘n buitestaanderposisie wat nog nie of nie meer banaal is nie” (Daus, 1977). Terwyl Ionesco die beginsel van proliferasie huldig (‘n lyk wat groei, sampioene en stoele wat al hoe meer word), werk Beckett volgens die beginsel van “inkrimping” (blindheid, lewe in ‘n asblik, ens.). Hierdie toneelstukke, wat meestal ‘n struktuur sonder tydsverloop toon, onderstreep veral die ontoereikendheid van die taal: die “absurde” DIALOOG bestaan uit misverstande, dubbelsinnighede, sinoniemreekse of die onsuksesvolle soektog na die regte woord.

Die meeste Franse outeurs van die absurde is uit ander taalgebiede afkomstig en kyk van buite op die taal waarin hulle skryf. Die Ier Beckett, die Roemeen Ionesco, die Kaukasiër Adamov en die Spanjaard Arrabal isoleer dikwels ‘n bepaalde oordragtelike betekenis, neem dit letterlik op en beliggaam hierdie “verkeerde” betekenis in ‘n konkrete toneelsituasie.

Hierdie by uitstek teatrale teater het in die sestigerjare ‘n swaar krisis deurleef. Sy hoofverteenwoordigers het hulle dramaturgie gewysig en “klassiek” geword (Ionesco) of die skryf van dramas laat vaar (Tardieu).

Met hulle konkrete toneelwoordeskat het die outeurs van die absurde gedemonstreer dat die poësie op die planke nie tot die woord beperk is nie, en dat die toneel as ‘n konkrete METAFOOR nie die nabootsing van die werklikheid moet nastreef nie.

(Vgl. ABSURDE DRAMA en EKSISTENSIALISME IN DIE LITERATUUR.)

 

Bibliografie

Bonnefoy, C. 1970. Conversations with Eugène Ionesco (transl. J. Dawson). London: Faber & Faber.

Daus, R. 1977. Das Theater des Absurden in Frankreich. In: Realien zur Literatur. Stuttgart: Metzler.

Esslin, M. 1961. The Theatre of the Absurd. New York: Double-day.

Marwald, J.R. 1968. Zur Bedeutungsentwicklung von frz. Absurde und Absurdite. Proefskrif, Rheinische Friedrich-Wilhelms Universität, Bonn.

P. Haffter