HUMOR

Die term humor (Lat.: (h)umōrem, humores (mv.): vog, humiditeit) dui in die alledaagse taal op die lagwekkende, die grappig-vermaaklike, maar dit moet nie as sinoniem met die komiese (in die sin van klugtig, oppervlakkig-grapperig) geïnterpreteer word nie, want dit behels ʼn simpatieke begrip vir die “wisselvallighede en disharmonieë van die lewe en die onvolkomenhede en teenstrydighede in die menslike natuur” (Die Afrikaanse Woordeboek, dl. 4, H-I: 455). Om met Schopenhauer te praat: “Humor is agter die skerts verskole erns.”

Soos die geval is met baie literêre terme het ook humor ʼn in­teressante betekenisverandering ondergaan. Aanvanklik het dit niks te doen gehad met die lagwekkende nie. As gespesialiseerde begrip het dit sy oorsprong in die Latynse woord humōrem gehad. In sy humorale patologie verwys Hippokrates na vier hu­mores, d.w.s. liggaamsvogte, te wete bloed, slym (flegma), geel gal en swart gal, wat die menslike geaardheid beheers. In die ideale mens met die volmaakte humeur is die vier humores in behoorlike ewewig aanwesig. Na gelang van die oorheersing van een van die vier is ʼn mens blymoedig-optimisties, flegmaties en dus onverstoorbaar kalm, choleries, d.w.s. ongeduldig en opvlieënd, melancholies of swaarmoedig. Hierdie fisiologiese teorie leef van­dag nog voort in uitdrukkings soos sleg of goedgehumeurd, geel van jaloesie, swart van woede.

Gedurende die Middeleeue vervaag die mediese konnotasie en die begrip verkry die primêre betekenis van individuele tempera­ment of disposisie. In Engeland word humor as die ruling pas­sion geïnterpreteer en verkry dit die implikasie van die eksentrieke. Vanuit hierdie betekenis ontwikkel die moderne implikasies van hierdie begrip. As Shakespeare se Shylock-karakter sê: “It is my humour”, gee hy te kenne: dit is my geaardheid.

Eers in die 18e eeu word humor met lag geassosieer en die term humoristies gebruik om die joviale, gemoedelike (lag) te onderskei van die SATIRIESE, spottende en bespottende. Onder die lemma humor word in talle letterkundige woordeboeke (vgl. Shipley et al. se Dictionary of World Literature) aandag gegee aan filosofiese teorieë m.b.t. lag. Vir Shipley word humor nie geassosieer met vreugde en geluk in die algemeen nie; humor is essensieel die sekondêre lag – dit hang saam met die spesifieke vorm van emosionele vreugde wat beleef word in ervaringe wat frustrerend en onaangenaam sou wees as hulle ernstig opgeneem word.

P.H. Esser omskryf humor in die Christelijke encyclopedie as die neiging om die “vrolijkmakende” in die gebeurtenis of handeling die meeste te laat “uitkom”. In dié sin behoort dit tot die komiese: tot die elemente in die literatuur wat daarop gerig is om te amuseer of  ʼn gevoel van vrolikheid by die leser of gehoor te laat ontstaan. Plato het egter reeds al opgemerk dat die siel by die KOMEDIE ʼn gemengde gevoel van pyn en genot ervaar.

In A Handbook to Literature maak Holman (1975: 260) ʼn onderskeid tussen humor as ʼn “comical mode that (is) sympathetic, tolerant, and warmly aware of the depths of human nature, as opposed to the intellectual, satiric, intolerant quality associated with wit”. Die humoristiese uiting verskyn nie in die netjiese EPIGRAMMATIESE vorm van die geestige opmerking nie.

Die essensie van die komplekse literêre term humor word deur verskillende mense verskillend ervaar: “The essence of humour is sensibility; warm, tender fellow-feeling with all forms of ex­istence”, sê Carlyle (1907: 14). Vir George Eliot (in die Diction­ary of Literary Terms (Shaw, 1972: 188)) is dit “thinking in jest while feeling in earnest”; Leslie Stephen (in Scott (1967: 133) se Current Literary Terms) beweer dit is “the faculty which al­ways keeps us in mind of the absurdity which is the shadow of sublimity”. S. Leacock (1937: 11) skryf: “Humour may be de­fined as the kindly contemplation of the incongruities of life, and the artistic expression thereof, met die klem op “human kindli­ness”. Vir F.E.J. Malherbe (1924) is die lag van die humor ” ʼn ingetoë glimlag, die stille lag van begrip en meegevoel, wat dikwels die droewige kante van die lewe raak en ons dan laat praat van ‘die lag met die traan’.” Vir Grové (1988: 55), in die Letter­kundige sakwoordeboek, dui die woord in die literatuur vandag op ʼn “wyse lewenshouding wat ʼn subtiele balans bewaar tus­sen geestigheid en weemoed”.

Die humoris glimlag simpatiek en begrypend oor die betreklikheid van menslike waardes, trouens die betreklikheid van alles mensliks; oor die “disharmonieë van die lewe en die onvolkomen­hede en teenstrydighede in die menslike natuur”; hy glimlag oor die ongerymdhede in die menslike gedrag en situasie. Anders as in die geval van wit (wat altyd verbaal is) kan ʼn mens praat van ʼn humoristiese handeling, ʼn humoristiese karakter en ʼn hu­moristiese situasie. Falstaff (Shakespeare: Henry IV) is ʼn pragtige voorbeeld van ʼn humoristiese karakter sowel wat voorkoms, handeling en situasie betref. Ook Pablo (Uys Krige: Die goue kring) is ʼn humoristiese skepping. Humor behels die sametrekking van verskillende komponente, waarvan die volgende uitgesonder kan word: ʼn gevoel vir IRONIE, bewustheid van die ABSURDE, die sien van die werklikheid in die lig van idealiteit, ʼn oog en ʼn gevoel vir verrassende teenstellings, speelse wendinge of berekende ongerymdhede. Kwaadwilligheid en geniepsigheid, die blootlegging van werklike lyding of die degradering van die heilige behoort nie tot die sfeer van die humor nie. Die mildheid van humor word uitnemend uitgedruk deur Leacock se vergelyking dat humor die teenswoordige besien in dieselfde sagte lig waarmee ons die verlede sien. Waar ironie en SARKASME skei, versoen humor.

Kunstenaars wat humor in die literatuur tot sy reg laat kom het, is o.a.: Chaucer, veral die proloog van die Canterbury Tales, later Swift, Sterne, Goldsmith en Dickens. Mark Twain se Huckle­berry Finn, Cervantes se Don Quijote, Hildebrand (Nicolaas Beets) se Camera Obscura is besonder bekend vir die humor daarin aanwesig. In die Afrikaanse literatuur is humoriste soos C. Louis Leipoldt (vgl. “Oom Gert vertel”), C.J. Langenhoven (vgl. Sonde met die bure), Jochem van Bruggen (vgl. die Ampie-romans), A.G. Visser, Mikro (vgl. sy Toiings-skeppinge), J. van Melle (vgl. Die joiner) en Dalene Matthee (vgl. Fiela se kind).

Tradisioneel word humor gesien as goedaardiger, minder geniepsig, verdraagsamer as GEESTIGHEID (wit), en die humoris as jovialer, vriendeliker, ʼn positiewer waarnemer van die menslike onvolkomenhede as die satiris; in hierdie bespreking is die idee ook telkens beklemtoon dat humor wortel in ʼn gesindheid van “liefdevolle bedagsaamheid” en “begrypende simpatie”. In ons eietydse literatuur, die sg. absurde literatuur, kry ons egter te doen met swart humor (black humour): “the exploitation for comic purposes of events and situations which would normally be regard­ed with horror, revulsion or pity … The situations in which (Beck­ett’s) characters find themselves may be painful, even hopeless; time and again, however, he makes us laugh grimly with them as they reveal the macabre or grotesque side of their predica­ment or that of their fellow sufferers. ‘Nothing is funnier than unhappiness’ says one of the characters in Endgame”, aldus Murray (1978: 185) in Literary Criticism: A Glossary of Major Terms.

 

Bibliografie

Carlyle, T. 1907. Jean Paul Friedrich Richter. In: Carlyle, T. Crit­ical and Miscellaneous Essays. Vol. 1. London: Chapman & Hall.

Empson, W. 1951. The Structure of Complex Words. London: Chatto & Windus.

Hazlitt, W. 1913. Lectures on the English Comic Writers. Lon­don: Dent.

Herd, H. (ed.). 1947. Great Humorous Stories: The English Col­lection. London: Fleet.

Johl, J. 1988. Ironie. Pretoria: HAUM-Literêr.

Lauter, P. 1964. Theories of Comedy. New York: Doubleday.

Leacock, S. 1937. Humour and Humanity. London: Butterworth.

Malherbe, F.E.J. 1924. Humor in die algemeen en sy uiting in die Afrikaanse letterkunde. Amsterdam: Swets & Zeitlinger.

Priestley, J.B. 1976. English Humour. London: Heinemann.

Rourke, C. 1953. American Humour. New York: Doubleday.

Sypher, W. (ed.). 1956. Comedy. New York: Doubleday.

 

Réna Pretorius