GEESTIGHEID

Die plek en waarde van geestigheid in die literatuur is ‘n saak van wisselende en daarom betreklike belang. Die beoordeling van die waarde van geestigheid binne ‘n bepaalde tydperk is afhanklik van die kunsopvattings wat in daardie tydperk heers. Dit merk ons op nie net in die Engelse literatuur wat in die loop van etlike eeue die waarde van geestigheid (wit) verskillend binne verskillende tydperke beoordeel het nie, maar ook in die Afrikaanse literatuur met sy herwaardering van geestigheid binne die tydsperiode van enkele dekades.

Die rede waarom geestigheid so wisselend na waarde geskat word, is geleë in die werklikheidsbenadering wat deur hierdie verskynsel van die menslike gees gevolg word. Die volgende verklaring wat WAT III van geestig(heid) gee: “bedeel met die gawe om ‘n onverwagte ooreenkoms raak te sien tussen ideë wat nie gewoonlik verbind word nie en die vermoë om dit in oorspronklike, sprankelende styl kernagtig uit te druk”, lig die tweeledige aard van geestigheid uit: as siening en segging wat as ‘n eenheid saam bestaan. Uiteenlopende sake word naas mekaar geplaas op die grondslag van ‘n ooreenkoms (of selfs ooreenkomste) wat ontdek kan word, waardeur ‘n verband tussen die sake gesien word, en vandaar die treffende segging.

Die twis in die Engelse literatuur oor die poetry of wit het gewentel om enersyds die koppeling van die mees uiteenlopende sake wat kon lei tot vergesogte en gekunstelde voorstellings. So verwys dr. Johnson in 1779 in sy essay oor Cowley, waarin hy dit het téén hierdie praktyke van die metaphysicals, na die “discovery of occult resemblances in things apparently unlike… The heterogeneous ideas are yoked by violence together…” (vgl. Daiches, 1956: 245). Andersyds is die metafisiese digter verkwalik vir sy ingewikkelde seggingspatrone, soos Dryden weer hiervan in 1693 skerpsinnig opgemerk het: “(Donne) perplexes the minds of the fair sex with nice speculations of philosophy…” (Kermode, 1969: 121).

Dat geestigheid ‘n funksionele waarde binne ‘n bepaalde tyd en omstandighede kan hê, beteken dat geestigheid nie te alle tye gewens is nie. Om die inherente waarde van geestigheid goed te begryp, moet bepaal word watter teorie van die werklikheidsbenadering by geestigheid ten grondslag lê.

Wil die ondersoeker van die 20e eeu hom egter rekenskap gee van “the name and nature of metaphysical poetry” in die 17e eeu, is hy in hoofsaak op die geskiedenis van die reaksie aangewys (soos blyk uit bv. Dryden en Johnson se opmerkings hierbo). Vergelyk George Williamson (1968: 11 -26) in sy werk A Reader’s Guide to the Metaphysical Poets, waarin langs hierdie omweg tot ‘n rekonstruksie van “the context of metaphysical wit” gekom word. Sodoende word die saak sonder twyfel duideliker, maar die negativisme waarin die reaksie gehul is, kan ‘n mens nouliks laat deurdring na die grondslae van die werklikheidsbenadering van die metaphysicals. (Vgl. METAFISIESE DIGKUNS.)

In die neo-klassieke tydperk (1660-1798), meer bepaald die Augustan Age (1700-1745), wat die rede en good sense (gesonde verstand) vooropgestel het in literêre beskouings, is die ongunstige reaksie op die metaphysical wit te verstane. Waar die meta­physical digter veelal deur skokkende jukstaposisie ‘n verband tussen verskillende synsvlakke gelê het, daar het die kritikus van die neo-klassieke tydperk duidelik sy voorkeur laat blyk vir ‘n verbandlegging binne een en dieselfde vlak. As ‘n voorbeeld van lg. is die essay van Corbyn Morris in 1744, waarin hy ten aanvang stel: “WIT is the lustre resulting from the quick elucida­tion of one Subject, by a just and unexpected arrangement of it with another Subject.” (J)ust beteken volgens die begripsopvatting van die neo-klassieke tydperk dat dit natural moet wees. In terme van die geestige proses beteken dit dan dat daar “always an apparent Chain or Connection” tussen die sake moet wees. Hoe ver verwyder is Morris hier van die praktyke van die metaphysical digter wat “occult resemblances in things apparently unlike” wou ontdek!

Wat die presiese aard van die metaphysical poetry was, bly dus maar vir die ondersoeker van die 20e eeu ‘n netelige probleem. Die teorieë daaroor is uiteenlopend. Joseph A. Mazzeo (in Kermode, 1969: 158) merk in ‘n opstel “Modern theories of metaphysical poetry” hieroor op: “… the curious fact (is) that there is no body of critical literature in English on the metaphysical movement written when that movement, under various names, such as ‘concettismo’, ‘marinismo’, and ‘gongorismo’, was flourish­ing throughout Europe.” (Vgl. CONCEPTISMOMARINISME en GONGORISME.)

Die naaste aan ‘n kontemporêre teorie oor die Engelse metaphysi­cal poetry, was die reaksie wat gevolg het op die praktyk van die metaphysicals, deur manne soos Dryden, Walsch, Walton en Johnson in die 17e en 18e eeu. Die reaksie was van meet af aan negatief, want waarskynlik was die uitwasse teen hierdie tyd al so oorheersend dat die kritici verhinder is om genoegsaam te onderskei tussen ‘n Donne en ‘n Cleveland.

Nog eens: watter voorveronderstellinge was agter die werksaamhede van die metaphysical poets? Dis hier waar ons moet let op die beskouinge van Mazzeo, wat heel waarskynlik geldigheid besit (soos blyk uit verskillende navorsers van die RENAISSANCE en BAROK wat direk aansluit by Mazzeo se ondersoeke). Mazzeo (1964: 29-59) het twee merkwaardige artikels in die vyftigerjare geskryf, nl. “A seventeenth-century theory of metaphysical poetry” en “Metaphysical poetry and the poetic of correspondence”, waarin hy ‘n poëtika geformuleer het op grond van die teoretiese uitsprake van Italiaanse en Spaanse 17e-eeuse skrywers wie se menings as model kan dien vir die metaphysical poetry van die 17e eeu.

Mazzeo se ondersoek kom daarop neer dat die metaphysical digter se doel in ooreenstemming was met die wêreldsiening van die Renaissance, wat ontdekkend op soek was na ooreenkomste (korrespondensies) tussen al die verskillende synsvlakke van die kosmos (vgl. Tillyard, 1970 en Duncan, 1969: 13). Die verkenning daarvan het veelal die vorm aangeneem van ‘n concetti/conceit (oor die geskiedenis en aard van die conceit, vgl. Ruthven, 1969). ‘n Conceit word gevorm deur die ingegno, d.w.s. geestige vermoë. Kortom: “The poetic of correspondences implies an un­derlying belief in the unity and connection of all things” (Mazzeo, 1964: 58).

Die herwaardering van metaphysical poetry in die 20e eeu, waarmee begin is deur T.S. Eliot in sy opstel “The metaphysical poets” (Kermode, 1969), het nog steeds gehandel oor die vraagstuk van die skokkende jukstaposisies. Die metaphysical poets se analitiese styl, n.a.v. Johnson se beswaar dat hulle te geleerd is en die leser slegs verwar, verdedig Eliot hier soos volg: “After the dissocia­tion, they put the material together again in a new unity” (in Ker­mode, 1969: 130). Ware metaphysical poetry beteken “to view emotional experience in terms of its implicit metaphysical and theological mysteries” (Warnke, 1961: 8). Of soos ook Warnke (1961: 10) daarvan sê, dat Donne e.a. die vermoë gehad het om “each experience in the light of total reality” te sien. Vir die NEW CRITICS, soos Brooks e.a., was die waarde van die optrede van die metaphysicals dat dit ‘n inklusiewe kyk op die werklikheid gebring het (vgl. verder in Wimsatt & Brooks, 1962: 646).

Maar enige ondersoek van geestigheid sal onvolledig wees as nie ook gewys word op die verband van geestigheid met die grappige, die EPIGRAMMATIESE nie. Lewis (1960: 86-110) het binne die verband van die Engelse literatuur greepsgewys aangetoon hoe wit in die 17e eeu en verder as ‘t ware vanself uitgeloop het op die beoefening van die intellektuele grap. Die geestige persoon se spelvermoë kom hiermee na vore, selfs in gevalle van uiterste erns, soos Donne wat hom die volgende woordspeling by die dood van sy vrou veroorloof het: “John Donne, Anne Donne, Un-donne”. Dat geestigheid met grappigheid geassosieer word, verbaas ook nie, want die tipiese stylfiguur van geestigheid, nl. die conceit, het dieselfde meganisme as die intellektuele grap (vgl. Kermode, 1969: 31). Dit beteken enersyds dat ons ‘n presieuse soort geestigheid vind (vers de société), soos in Huygens se sneldichten met hulle gevatte kuriositeit, of Donne se “The flea” wat dui op ‘n deurgevoerde spitsvondigheid; andersyds vind ons dan nog Huygens se sonnetreeks “Heylige daghen” of Donne se “Batter my heart, three personed God”, wat met skerp aksente en ‘n paradoksale ingesteldheid dui op die allergewigtigste bedoeling. Voeg hierby Freud se studie van die grap, wat onderskei het tussen die onskuldige en tendensieuse (gevaarlike) grap. In lg. gee die opduiking van die onbewuste aanleiding tot ‘n skokkende waardebesef.

In die Afrikaanse literatuur, meer bepaald die poësie, het die waardering van geestigheid ‘n ontwikkeling tot gevolg. Omstandighede binne die ontwikkeling van die Afrikaanse poësie was bepalend vir die inherente en funksionele waarde van geestigheid. Binne sy totale omvang van ietwat meer as ‘n eeu kon die Afrikaanse poësie rekenskap gee van bykans al die verskillende fasette van geestigheid wat aangetref word in die Westerse tale.

Waarom geestigheid in die Afrikaanse literatuur eers vanaf die vyftigerjare deur veral die opstelle van Grobler (1962: 64-73) en Van Wyk Louw (1972: 105-138) sterk onder die aandag gekom het, kan aan ‘n verskeidenheid redes toegeskryf word. Geestigheid binne die verband van die Eerste Beweging is deur die kritici veelal geassosieer met die grappige. Hiervan is daar bewustelik deur die werke van die Driemanskap en Marais afskeid geneem; vanweë ‘n nuwe toekomsgerigtheid wat van ‘n byna algehele erns getuig het, het daar ‘n nuwe gees begin waai in die Afrikaanse poësie (vgl. Preller se inleiding tot Die vlakte en ander gedigte). Die “hoër attribuut” wat nagestreef is, het beteken dat daar voortaan ‘n afsydigheid sou bestaan teenoor die grappigheid van bv. Melt Brink. Dit het gelei tot die veredeling van die Afrikaanse taal tesame met ‘n proses van verinniging wat begin intree het by hierdie digters, wat voortgesit is deur die Twintigers en in die belydenispoësie van die Dertigers gekulmineer het. En so is die eintlike waarde van A.G. Visser se geestigheid uit die oog verloor, waarmee hy in die twintigerjare die voorafgaande erns van sy tydgenote gelykgemaak het. (Vgl. veral in “Lotos-land”.)

‘n Verdere rede waarom geestigheid so laat verskyn het in die hoofstroom van die Afrikaanse literatuur, moet gesoek word in die aanvanklike rigtinggewende kritiek oor die “komiese”. Geestigheid is hier binne die tradisie van die ROMANTIEK sonder meer gelykgestel met “grappigheid”. Hierdeur is die reikwydte van geestigheid oor die hoof gesien. Geestigheid op sigself is nie ondersoek nie maar slegs soos dit saamhang met HUMOR, waarby dit dus ingesluit word. Hiervolgens beklee geestigheid ‘n mindere posisie. Malherbe (1932: 41-60), die hoofwoordvoerder, laat dan ook duidelik blyk dat geestigheid vir hom ‘n beperkte waarde het: hy omskryf dit as die “woordkomiese”, wat deur hom behandel word in die hoofstuk “Die komiese”.

Bykomend moet onthou word dat Visser se bydrae op sigself nie voldoende was om ‘n afsonderlike ondersoek te regverdig na die plek en waarde van geestigheid nie. Bowendien was daar in teenstelling met die voortgesette besinning en uitnemende tradisie van geestigheid in die Engelse poësie, in die Nederlandse poësie nouliks iets van gelyke formaat waarna in die Afrikaanse literatuur teruggekeer kon word. Die teendeel word veeleer gevind: die knutselwerk van die retoriekers en die onbesielde predikantpoësie het meegehelp dat alle intellektuele poësie onder verdenking geplaas is. Figure soos Staring, De Schoolmeester en Piet Paaltjes was alleenstaande gevalle, en hulle aanslag was te lig. Die aansluiting van 17e-eeuse digters soos Huygens by die metaphysical tradisie, is op ‘n latere tydstip eers aangetoon (vgl. bv. Warnke, 1961).

Van Wyk Louw se onderskeid tussen “poësie van die intellek” en “poësie van die emosie” wat hy in die plek wou stel van die tradisionele onderskeid tussen “geestige poësie” en “ernstige poësie”, was uit die aard van Visser se geestigheid ietwat misplaas. Die laat los van die erns is juis die kenmerk van Visser se geestigheid. Hierdeur is Visser die egte *parodiemaker wat heel vermaaklik geparasiteer het op die voorafgaande erns. Deur uit te gaan van ‘n bepaalde ernstige lewensvorm wat hy ligweg gehekel het, kon hy sprankelend wees – iets wat in ‘n mindere mate reeds aanwesig was by Pulvermacher en C.W. Joubert.

Opperman (1974: 15) se opvatting van geestigheid, soos vervat in sy onmiddellike reaksie op Van Wyk Louw se Visseropstelle, nl.: “Die verbinding van die geestige en ernstige lewer juis vir ons die beste letterkunde”, kan aan die hand van selfs vroeë Afrikaanse poësie geïllustreer word. By Leipoldt word dikwels vanuit ‘n eksistensiële situasie wrange humor en felle *ironie op die grondslag van geestigheid bereik (vgl. die reëls uit ” ‘n Nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie”: “Daar is jou plek, by die graffies daar – / Twee in een kissie, ‘n bruilofspaar!”). En by Toon van den Heever vind ons ook flitse wat onmiskenbaar dui op ‘n metafisiese werkwyse (bv. met die reël uit “Berusting”: “Waar keisers en kwepers ryp en val”).

Dat geestigheid binne die Afrikaanse literatuur juis in die vyftigerjare herwaardeer is, val saam met die hernude belangstelling vir geestigheid in al sy volheid. Eerstens, wat Van Wyk Louw self betref: Nuwe verse (1954) lui ‘n meer speelse benadering t.o.v. die werklikheid by hierdie digter in, wat voortgesit word deur Tristia (1962), waarin geestigheid in samewerking met die spel, ironie, PARADOKS en SATIRE tot grootse gestaltegewing kom. Elisabeth Eybers kom in hierdie jare met Die helder halfjaar (1956) na vore, waarin ‘n duidelike metaphysical aanslag te bespeur is met die verbintenis van geestigheid en ironie (vgl. veral “Wespark” en “Huiskat”). Hoewel nie so uitbundig nie, sit Eybers hierdie sterk analitiese tendens voort in latere bundels, soos bv. blyk in “Alternatief ” en “Paarrym” uit Kruis of munt (1973). Selfs by W.E.G. Louw vind ons met “Ballade van die wêreld se beloop” uit Bybels en Babels (1956) ‘n speels-geestige benadering waarmee wrangheid in bedwang gehou word. Uit die aard van sy ligte aanslag was ‘n sekere vorm van geestigheid altyd aanwesig in die poësie van Uys Krige. En I.D. du Plessis se satiriese bundel Skermutseling en skote (1948) vertoon in meer as een geval ‘n geestige inslag.

In die vyftigerjare debuteer Peter Blum met Steenbok tot Poolsee (1955). Die geestigheid behels hier o.m. die drang na die eksperimentele (“Woordafleiding”), fyn satire (“Kaapse sonnette”) en die metaphysical geselsstyl in die gedigreeks “Wat die hart van vol is”.

Onder die geslag van Veertig is dit Opperman met sy omvattende visie en vermoë tot ironisering by wie die poëtika van korrespondensies in bundel na bundel op verskillende wyses tot uiting kom. Vergelyk slegs die epigrammatiese spel van Kuns-mis (1964), of die soms verbysterende metamorfose op die wyse van die geestige in Edms. Bpk. (1970).

By S.J. Pretorius gaan dit in sy latere poësie om die saambring van blykbaar onversoenbare teenstellings, soos die stryd tussen gees en vlees (“Kentaur”) en dié tussen droom en werklikheid (“Die mummie”). In die geval van Ernst van Heerden word die emosie van ontsteltenis by die besef van liggaamlike aftakeling beheer deur die geestige vermoë (vgl. “Operasie” en “Voëlverskrikker”).

In die sestigerjare kry die geestig-satiriese poësie ‘n nuwe aansien met die sosio-politieke verse van Adam Small (bv. “Doemanie”). Dit is veral deur die volgehoue satirisering van M.M. Walters dat, soos by Visser, die Afrikaner-werklikheid tot klankbord gemaak word vir ‘n geestig-satiriese instelling. Maar veel durwender en dus ook skerper as by Visser is Walters se geestige slaankrag (soos blyk in “Kerkkoor” en “Vakansie in die Vrystaat “).

Sedertdien is daar by bykans alle moderne Afrikaanse digters op een of ander wyse sprake van geestige elemente. So bv. is daar die drang na die paradoks en selfironisering by I.L. de Villiers (“Huisbesoek”); by Leon Strydom word die geestige effek vernuftig bereik d.m.v. die spel en verwysing, en by Breyten Breytenbach is “Ikoon” ‘n illustrasie van geestig-SURREALISTIESE ontluistering. Ietwat terug in die verloop van die geskiedenis van die Afrikaanse poësie vind ons die uitviering van die aweregse element by Barend Toerien (“Die tante”) en in die jare sewentig vind ons by Wilma Stockenström ‘n nugter-NATURALISTIESE bejeëning (“Dame in pelsjas”). Een van die heel jonger digters, Lu­cas Malan, toon dat hy ook veel baat gevind het by die Afrikaanse geestige tradisie (vgl. sy “Anatomieles” met Elisabeth Eybers se “Röntgenfoto”). In die geleerde poësie van Joan Hambidge is daar in meer as een gedig ‘n geestig-metafisiese inslag te be­speur.

Van die jonger Afrikaanse digters wat rondom die tagtigerjare gedebuteer het, is Daniel Hugo sekerlik die digter wie se oeuvre in die teken van geestigheid staan. Hugo het ‘n natuurlike geestige talent, soos ons dit laas by Visser aangetref het, maar dan ook gekombineer met die ontnugtering en beeldingsvermoë van ‘n Opperman. By Hugo tref ons woordsekuurheid aan in allerlei (satiries-)geestige voorstellinge (vgl. “Korrespondensies” uit Vuurdoring). Van Hugo is daar ook die bloemlesing Speelse verse, verse waarin die spel-element dikwels gepaard gaan met gees­tigheid. Aan die einde van die tagtigerjare word die limerickvorm lustig beoefen deur Philip de Vos en Ellen Botha.

Van die ingrypendste besinnings en ‘n boeiende illustrasie van wat die jukstaposisionele werkwyse kan behels, kom voor in T.T. Cloete se Angelliera (1980) en Jukstaposisie (1982).

Waar geestigheid aan die begin van die Afrikaanse poësie as ‘n toevallige bestanddeel beskou is, word vandag terdeë besef hoe ingeweef dit is in van die beste poësie wat Afrikaans opgelewer het. Die Afrikaanse tradisie van geestigheid is skeppend werksaam saam met aanverwante verskynsels, soos die spel, ironie en paradoks. Voorop staan die verrassing: deur bymekaar te bring wat nie bymekaar hoort nie, word in die lewe en literatuur onvermoede perspektiewe ontdek.

Wat die ontwikkeling van geestigheid in die Engelse literatuur betref, word verwys na Lewis (1960) se insiggewende artikel. Spesifiek m.b.t. “metaphysical wit” bestaan daar talle studies, bv. dié van Duncan (1969). Mazzeo (1964) ondersoek in ‘n tweetal artikels die filosofiese voorveronderstellinge wat aanwesig was by “metaphysical wit”. In die Afrikaanse literatuur het Malherbe (1932) hom getoon as ‘n voorstander van die ou opvatting van geestigheid. Hierteenoor lei Grobler (1962) en Van Wyk Louw (1972) se bespreking tot ‘n herwaardering van geestigheid in die Afrikaanse literatuur. Schutte (1975) bied in sy proefskrif ‘n omvattende bespreking van geestigheid, deur o.a. die verskillende soorte geestigheid vas te stel.

(Vgl. METAFISIESE DIGKUNS.)

 

Bibliografie

Daiches, D. 1956. Critical Approaches to Literature. Englewood Cliffs, N.Y.: Prentice-Hall.

Duncan, J.E. 1969. The Revival of Metaphysical Poetry. New York: Octagon.

Freud, S. 1971. Jokes and their Relation to the Unconscious. London: Hogarth Press.

Grobler, P. du P. 1962. Verkenning. Kaapstad: Human & Rousseau.

Hugo, D. (samest.). 1988. Speelse verse. Kaapstad: Tafelberg.

Kermode, F. 1969. The Metaphysical Poets. New York: Fawcett.

Lewis, C.S. 1960. Studies in Words. Cambridge: Cambridge University Press.

Louw, N.P. van Wyk. 1972. Opstelle oor ons ouer digters. Kaapstad: Human & Rousseau.

Malherbe, F.E.J. 1932. Humor in die algemeen en sy uiting in die Afrikaanse letterkunde. Amsterdam: Swets & Zeitlinger.

Mazzeo, J. A. 1964. Renaissance and Seventeenth Century Studies. New York: Columbia University Press.

Morris, C. 1972. An Essay Towards Fixing the True Standards of Wit, Humor, Raillery, Satire, and Ridicule. New York: Ams Press.

Opperman, D.J. 1974. Naaldekoker. Kaapstad: Tafelberg.

Pretorius, R. 1964. ‘Wespark’: ironie as poëtiese middel. Standpunte, 17(4).

Ruthven, K.K. 1969. The Conceit. London: Methuen.

Schutte, H.J. 1975. Geestigheid as literêre perspektief – ‘n literatuur-teoretiese ondersoek met spesiale verwysing na die ontwikkeling van geestigheid in die Afrikaanse poësie. D. Litt.-proefskrif, PU vir CHO, Potchefstroom.

Schutte, H.J. 1978. Visser as parodiemaker. Tydskrif vir letterkunde, 16(2).

Schutte, H.J. 1984. ‘n Poëtika van korrespondensies: Angelliera en Jukstaposisie. In: Viljoen, H. et al. (red.). In teen die groot vergeet. Potchefstroom: PU vir CHO.

Tillyard, E.M.W. 1970. The Elizabethan World Picture. Harmondsworth: Penguin.

Viljoen, H. et al. (red.). 1984. In teen die groot vergeet. Potchefstroom: PU vir CHO.

Warnke, F.J. 1961. European Metaphysical Poets. London: Thames & Hudson.

Wimsatt, W.K. & Brooks, C. 1962. Literary Criticism – a Short History. New York: Knopf.

 

H.J. Schutte