MARINISME

Die marinisme het ontstaan n.a.v. die skryfstyl van die Italiaanse BAROKDIGTER Giambattista Marino. Die styl is gekenmerk deur hiperbole, METAFORE, onnatuurlike beelde en woordspelings. Ma­rino is in sy werk beïnvloed deur Ariosto en Tasso. Sy bekendste werk wat die tipiese kenmerke van die marinisme weerspieël, is sy lang ode “L’adone”. (Vgl. SECENTISMO.)

Marino het ʼn groot invloed op Italiaanse digters uitgeoefen, veral op Claudio Achillini, wat sy grootste aanhanger was. In Duitsland het hy Hofmannswaldau beïnvloed. Die marinisme het ook ʼn invloed gehad op die Engelse METAFISIESE DIGTERS soos lord Herbert van Cherbury, Thomas Stanley, sir Edward Swinburne en Richard Crashaw.

Die marinisme kan vergelyk word met die Spaanse GONGORISME.

Raadpleeg ook:

Denzler, P.-M. 1988. Mannerisms in Marinism, Gongorism, Preciosity, Euphuism and Mannerism: a Rhetorical Analysis. Dissertation Abstracts International, 49(3).

 
Anna-Marie Bisschoff