SECENTISMO

Die woord secentismo is afgelei uit die Italiaanse seicento : seshonderd: (1 000+)600: 17e eeu.

Die secentismo was ‘n reaksie teen die KLASSISISME. Dit toon ‘n besondere voorliefde vir concetti; daarom staan die tendens soms ook bekend as concettismo. Die secentismo toon ‘n verband met die CULTERANISMO, die PRÉCIOSITÉ en die EUFUÏSME.

Die secentismo is sinoniem met die MARINISME: “G.B. Marino (1569—1625), author of L’Adone, a poem of more than 5 000 strophes in 20 cantos, gave it greatest vogue”, aldus Shipley in die Dictionary of World Literature (1964: 367). L’adone. handel oor die valse religie en moraliteit van die tyd. Opvallende stylkenmerke is die gebruik van die METAFOOR, die voorkoms van die ongewone en onverwagte, subtiele kunsmatighede, vernuftige teenstellings, *geestigheid en – soos genoem – concetti.

Die kenmerke van die secentismo het die beste in die EPIGRAM tot uitdrukking gekom.

Die secentismo word beskou as ‘n tendens met ‘n negatiewe betekenis juis omdat dit in alle opsigte so buitensporig en flambojant was. Onlangser navorsing het egter getoon dat die secentismo tog ‘n eie bydrae tot die literatuur gelewer het.

(Vgl. BAROK.)

 
Anna-Marie Bisschoff