EUFUÏSME

Eufuïsme (Gr.: ryklik geseën deur die natuur) verwys na die bloemryke, gekunstelde styl wat in die Engelse BAROK voorgekom het, veral in die tagtigerjare van die 16e eeu: “The court ladies cultivated it for social conversation, and such writers as Robert Greene and Thomas Lodge used it in their novels (as Menophon and Rosalynde)”, aldus Holman (1981: 175) in A Handbook to Literature. Die term is afgelei van die naam van John Lyly se sg. prosaroman Euphues wat van 1578-1580 in twee dele verskyn het (Euphues, the Anatomy of Wyt en Euphues and his England). Kenmerkend van die eufuïsme is die gebalanseerde sinskonstruksies, alliterasies, uitgesponne vergelykings, metafore, teenstellings, retoriese vrae en beelde, vernuftige woordspelings, en die baie mitologiese en historiese verwysings. Onder invloed van Plinius en Erasmus het Lyly ook van baie natuurhistoriese beelde gebruik gemaak. Vergelyk Preminger (1979: 259) in die Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics: “In general, eu­phuism is a highly analytical style which ceaselessly dissects, catalogues, compares, and contrasts; it aspires thereby to represent the polite discourse of urbane and elegant persons.”

Die term eufuïsme is deur Gabriel Harvey gemunt in sy Advertisement for Papp-Hatchet (1589) toe hy dit i.v.m. Lyly se style in Euphues gebruik het.

Voorlopers van die eufuïsme was Sir Thomas North se vertaling van Guevara se roman El relor de principes (in Eng.: The dial of the princes), Lord Berners se vertaling van Froissart se Chronicle (1523, 1525) en George Pettie se Petite Palace of Pleasure (1576). Die eufuïsme kom ook voor in Shakespeare se vroeëre werk. Later parodieer hy dit in Henry W en Richard II. Sir Walter Scott het dieselfde gedoen in The Monastery.

Lyly het die eufuïsme nie self bedink nie; “rather he combined and popularized elements which others had developed” (Holman, 1981: 174). Lyly is ook beïnvloed deur Renaissancistiese geskrifte wat gehandel het oor die opvoeding van ‘n howeling of prins. Hy is ook beïnvloed deur hierdie werke se beklemtoning van elegante spraak en optrede. Vandaar die naam Euphues wat “goed ontwikkel” beteken.

Die eufuïsme met sy oorladenheid is dikwels afgekeur as styl, maar dit het op die toneel verskyn toe skrywers aan die eksperimenteer was met die prosastyl; die eufuïsme het vir hulle gewys dat die prosa iets kragtigs is. Dit het ‘n groot invloed gehad op die prosa van die Elizabethane; ook op die prosa van die 16e en 17e eeu in die algemeen. In Nederland is Johan van Heemskerck daardeur beïnvloed.

Anna-Marie Bisschoff