KLASSISISME

Die Klassisisme het reeds in die 4e eeu n.C. as ʼn beperkte maar nogtans intense reaksie teen die Christendom ontstaan. Nie-Christelike geleerdes het Latynse literêre werke, byna as ʼn teken van weerstand teen die Christendom, herwin. As die term Klassisisme gebruik word om ʼn bepaalde literêre tydperk aan te dui, moet ʼn mens toegee dat dié beweging ʼn aanvang geneem het juis toe manuskripte aan die vergetelheid ontruk is. As ons, aan die ander kant, onder die term verstaan “die verkleefdheid van ʼn outeur aan die reëls van die klassieke tradisie” het die tyd­perk veel later eers begin. Dit is moeilik om ʼn afdoende uitspraak hieroor te gee, aangesien die twee strominge uiteindelik saamgesmelt het.

Die Klassisisme was dwarsdeur die MIDDELEEUE werksaam. Die “Ierse wêreld” was ʼn tyd lank die bewaarplek van die klassieke tradisie. Die klassieke dokumente is bewaar deur die Bobbio-klooster, die skool van Verona en die Kolombiese Sentrum van Luxeil. In die 8e eeu het Karel die Grote die Palantynse skool te Aken gevestig. Dié skool is oorheers deur Alcuïnus, ʼn Angel-Saksiese monnik en ʼn leidende figuur in die kulturele herlewing van die Karolingiese tydperk.

Die Kerkvaders en die geleerdes uit die Christelike gemeenskap het dikwels die paganistiese literatuur veroordeel, maar tog het hulle die formalistiese bestudering van die Klassieke as noodsaaklike voorvereiste vir die aanleer van die grammatika beskou. Die eerste voorganger was Augustinus, wat aangevoer het dat die auctores ʼn ondersteunende en voorbereidende funksie het, wat deurslaggewend is en die eerste stap in die verwerwing van die godgeleerdheid vorm.

In die trant van die Klassisisme is werke van wisselende belangrikheid voortgebring, maar dit het die basis van elke studierigting en van kulturele opvoeding gevorm. Selfs die Provensaalse TROEBADOERS en die Franse hofskrywers van die 11e, 12e en ʼn deel van die 13e eeu, wat deur die kritici van die ROMANTIEK as “spontaan” en as “volkskunstenaars” beskryf is, was eintlik, volgens Viscardi, geletterde mense wat deel gehad het aan die erfenis van die klerikale skool. Dié skool was gedurende die Middeleeue die erfgenaam en ywerige bewaker van die klassieke tradisie en het dit aan daaropvolgende eeue oorgedra.

Die PROVENSAALSE poësie is gekenmerk deur ʼn gekunstelde verfyndheid van vorm. Hierdie poësie het ʼn bepaalde metode vir die ophemeling van die liefde voorgeskryf. Dit het sy weerklank in die Siciliaanse poësie gevind, die digters van die Dolce stil nuovo (“die soetvloeiende nuwe styl”) beïnvloed en Petrarca geïnspireer. (Vgl. PETRARKISME.) Net so is die Franse RIDDERROMANS grootliks beïnvloed deur Vergilius en Ovidius, die twee klassieke outeurs wat in dié tyd die meeste gelees en bestudeer is. (Vgl. KLASSIEKE LITERATUURSTUDIE.) Die invloed wat hierdie Provensaalse en Franse digters op die Westerse wêreld gehad het, is ʼn duidelike bewys van hoe die Klassisisme die meeste literêre werke van die tyd deurdring het.

Met die koms van die 13e eeu het die lewe ʼn nuwe betekenis gekry: ʼn toenemende verwerkliking van ideale, eerstens t.o.v. die poësie en later van die ganse literatuur. Hoewel Dante se op­voeding, sy dogma en sy ideale stewig gegrond was op die Christe­like godsdiens, was Vergilius sy meester. Deur hom het Dante die antieke wysheid gedien. Die Humanisme in die kuns en Humanisme as ʼn morele lewenshouding het in werklikheid by Dante begin. Nogtans word dié nuwe era beter in Petrarca beliggaam wat die Antieke as ʼn bron vir morele en literêre onderrig beskou het. Die gedigte van Petrarca was die eerste wat deur die digters van die 15e eeu as model nagevolg is, en dit sou later ʼn invloed op die poësie van die Westerse wêreld uitoefen. Met Petrarca is die geestelike en poëtiese eenheid, wat tipies van Dante se werk was, verbreek: aardse liefde en godsdienstige strewes is geskei, en die breuk sou algaande groter word. In ʼn sekere sin bestaan dieselfde tweedeling tussen die Middeleeuse Klassisisme en die humanistiese Klassisisme: Middeleeuse geleerdes het, gestimuleer deur ʼn behoefte aan kennis en aangetrek deur die status wat die klassieke outeurs in die verlede geniet het, die auctores bestudeer. Dit het nogtans nie verhinder nie dat hulle dié skrywers weens hulle paganistiese opvattings veroordeel het.

Gedurende die eerste helfte van die 15e eeu getuig die klassieke Humanisme van ʼn breë verstandelike ontwikkeling: geleerdes het hulle in toenemende mate toegelê op die ontdekking van manuskripte en het hulle kennis gebruik om die foute, wat dik­wels die leringe van skrywers ontsier het en gevolglik ʼn wanindruk van hulle idees kon laat, reg te stel. Die klassieke wêreld het weer eens uit die sfeer van die Skolastisisme en metafisika te voorskyn gekom. Hierdie verandering is grootliks teweeggebring deur die mens se besef van sy vermoëns, wat hom in staat stel om arbiter oor sy eie lotsbestemming te wees. Vir die humaniste het die begrip kennis ook moraliteit, skoonheid en lewenswetenskap ingesluit; die term humanista het nie net die filoloog en die ondersoeker van manuskripte beskryf nie, maar die geleerde wat die antieke opvoeding nastrewe deur die bestudering van klas­sieke skrywers soos Leonardo Bruni, Coluccio Salutati en Poggio Bracciolini wat manuskripte van Quintilianus, Cicero, Lucretius en Statius ontdek het. Florence was die middelpunt van hierdie koorsagtige aktiwiteit, en rondom Cosimo en Lorenzo de Medici het daar manne versamel soos Niccolò Niccoli wat ʼn wyd toegeruste biblioteek as eerste kern van die Biblioteca Laurenziana sou nalaat, Marsilio Ficino wat sy lewe aan ʼn studie van Plato gewy het en Christoforo Landini wat die werk van Dante op stylvolle wyse van aantekeninge voorsien het.

In Rome was die pouslike hof ook ʼn sentrum van groot aktiwiteit: pous Nicolaas V en pous Pius II (Enea Silvio Piccolomini), albei verfynde humaniste, was gashere vir Lorenzo Valla en Pomponio Leto. Humaniste soos Pontano en die Panormita het by die hof van Aragon saamgekom; ander het weer die beskerming van die Gonzagas, Visconti’s, die hertoë van Urbino en verskeie Italiaanse edelmanne geniet. Bracciolini het vir Niccoli met die volgende woorde aangemoedig: “Dit is hoog tyd om wakker te skrik en ons lewe só in te rig dat ons daaglikse leeswerk bevorderlik sal wees vir ons lewe en ons sedes” (my vertaling). Fici­no het ook van hom laat hoor en gewaarsku dat antieke litterae bloot ʼn evokatiewe funksie het wat daarop ingestel is om die gees tot kreatiwiteit aan te spoor. Die kringloop is voltooi: deur die Klassieke het die Humanisme sy eie bydrae tot ʼn herlewing op kulturele en sosiale gebied en die algemene denkrigting gelewer.

Deur middel van fyn definisies het skrywers aldus wette, reëls en regulasies geformuleer wat as onontbeerlik vir ʼn afgeronde kunswerk beskou is. ʼn Keuse is gemaak uit die literêre GENRES wat die klassieke skrywers die meeste gebruik het, en die EPOS en die DRAMA het voorkeur gekry. Die 16e-eeuse kritici het hulle navorsing op al hierdie positiewe afleidings gebaseer om ʼn stel teoretiese beginsels op te stel waarvolgens ʼn skrywer met gerustheid die paadjie kon volg wat deur die klassieke skrywer uitgetrap is.

Gedurende die tweede helfte van die 16e eeu het die kritiese en estetiese denke hoofsaaklik ontwikkel en vorm aangeneem deur die bestudering en bespreking van Aristoteles se Poëtika (Poetics), wat deur Francesco Rovertelli in Latyn vertaal is en in 1548 gepubliseer is met die byvoeging van uitvoerige aantekeninge. In die verlede is Aristoteles se Poëtika, wat deel was van dié filosoof se werke oor “praktiese en poëtiese wetenskappe”, bestudeer en gedeeltelik deur Horatius nageboots. Later, gedurende die Middeleeue, het Averroës die Poëtika geparafraseer en van aan­tekeninge voorsien, maar dié werk se estetiese begrippe het tot op hede nog nooit enige belangstelling geniet nie.

Die teoretici van die RENAISSANCE het taamlik vryelik voortgeborduur op die beginsels van die drie eenhede. Volgens Aristo­teles is dit die beginsel van “eenheid” wat die verskil tussen die literêre en die historiese narratief ten grondslag lê: ʼn literêre narratief bestaan uit ʼn reeks gebeurtenisse wat geselekteer en bewustelik met mekaar verbind is, terwyl ʼn historiese narratief uit ʼn empiriese opeenvolging van toevallige gebeurtenisse bestaan.

Horatius is beskou as die tweede vader van die literêre kritiek in die Renaissance. Volgens hom is die belangrikste wet wat in die literêre werk in ag geneem moet word, dié van eenheid, en die digter moet onder geen omstandighede dié beginsel verontagsaam nie. Deur hierdie riglyne te volg, sal die ware digter die ideale doel van die poësie bereik, dit is delectare e prodesse en miscere utile dulci. Die bestudering van hierdie skrywers het ʼn belangrike uitwerking gehad in Italië, maar veral in ander Europese lande waar die Klassisisme òf sáám met die Italiaanse beweging òf daarná gefloreer het. Die kritici en geleerdes het begin om die Poëtika van Aristoteles en die Ars poetica (On the Art of Poetry) van Horatius van aantekeninge te voorsien. Die gevolg van hulle studies was die omskrywing van ʼn komplekse literêre teorie wat meer in ooreenstemming met die intellektuele neigings van die tyd as met die oorspronklike klassieke denke was. So ontstaan dan die poëtika van die Klassisisme: ʼn stel reëls en voorskrifte wat oor die algemeen betrekking gehad het op die kunssmaak, maar in die besonder op die literatuur self.

In sy werk Arte poetica het Minturno weggebreek van die teoretiese benadering en ʼn soort gematigde Aristoteleanisme aangebied: in die voorstelling van sy karakter jaag die digter nie ʼn morele doel na nie, maar deur die uitbeelding van sowel deugde as euwels, verskaf hy die moontlikheid aan sy lesers om hulleself op ʼn aangename manier op te voed.

Giulio Cesare Scaligero het die Italiaanse estetika van die tweede helfte van die 16e eeu omskryf. Sy Poëtika bestaan uit sewe boeke. Volgens hom hoef die digter nie net die werklikheid lewensgetrou uit te beeld nie, maar hy mag dit, na sy eie goeddunke, selfs idealiseer. Boonop is die doel van die literêre werk nie slegs om na te boots nie, maar ook om te onderrig. Die gevolge van Scaligero se spekulasies oor die estetika het groot opslae in Frankryk gemaak.

Ludovico Castelvetro is die derde geleerde teoretikus en vertolker van die poëtika van die 16e eeu. Hy is die outeur van die La poetica d’Aristotele vulgarizzata esposta da L.C. Die taak van die digter is nie om feite uit die werklikheid lewensgetrou weer te gee nie, maar eerder om dit te beskryf soos dit moontlik kon gewees het: die geskiedskrywing verskil van die literêre werk daarin dat dit gebeurtenisse beskryf wat werklik plaasgevind het; die literêre werk beskryf gebeurtenisse wat moontlik in die toekoms kan plaasvind. Castelvetro formuleer die wet van eenheid van tyd en plek wat later, nie net in Italië nie, maar ook in Frankryk en Engeland as die sine qua non vir die drama beskou is. As ʼn mens in ag neem dat die TRAGEDIE binne ʼn beperkte tydsomvang en die beperkte ruimte van die eng sirkel van die verhoog voor ʼn gehoor afspeel, moet die gebeurtenisse dienooreenkomstig aangepas word: “Tragiese lotsveranderinge kan nie meer as een dag op een plek omvat nie”. Onder die begrip imitasie word die nabootsing van die waarskynlike verstaan; dit is ʼn gelukkige middeweg tussen die universele begrip van die filosoof en die historikus se werklikheidsgetrouheid.

Agtereenvolgens word gekyk hoe die Klassisisme hom in Frank­ryk, Duitsland, Engeland, Spanje, Holland en Portugal gemanifesteer het.

Die Franse veroweringsoorloë in Italië neem aan die einde van die 15e eeu, met die inval van Karel VIII, ʼn aanvang en duur voort, nie altyd met welslae nie, tot met die verdrag van Cateau Cambrésis in 1559. Een voordelige gevolg van die oorloë was dat Frankryk in besit gekom het van die Italiaanse en klassieke kultuurerfenis. Frans I en sy suster Margeretha, asook Catharina de Medici, die vrou van die troonopvolger, het deur hulle ondersteuning, aanmoediging en beskerming ʼn aktiewe aandeel in hierdie nuwe literêre bedrywighede gehad. Behalwe die koninklike hof, was Lyon ʼn kultuursentrum, die bron van ʼn wêreldlike en sosiale idealisme, van die PETRARKISME en van die Neo-Platonisme – in Lyon is Il cortegiano vir die eerste keer vertaal.

François Rabelais het die humaniste van sy tyd gedomineer. Hier­die swerwende geestelike, wat dikwels na Italië gereis het, het ʼn Middeleeuse opvoeding ontvang. Later het hy dié opvoeding die voorwerp van bespotting en gekskeerdery gemaak. Hy het homself onderskei as ʼn kenner van Grieks en die Griekse skry­wers. As vriend van menige humanis, het hy voortdurend met Erasmus gekorrespondeer.

Clément Marot het verskeie tekste van Latynse skrywers vertaal en ook gedigte in ʼn klassieke vorm geskryf.

Pierre de Ronsard wou die klassieke poësie deel maak van die Franse literatuur en het met dié doel ʼn program gevolg wat deur sy vriend en medewerker, Joachim Du Bellay, opgestel is. Du Bellay is deur Bembo, maar veral deur die Dialoghi delle lingue van Speroni geïnspireer om sy La défense et illustration de la langue française te skryf. Hierin het hy beweer dat Frans die moontlikhede besit om Grieks en Latyn te ewenaar, maar dat dit nodig sal wees om dié taal te veredel m.b.v. klassieke en tegniese vernuwings wat deur die meesterwerke uit die verlede geïnspireer is. Hierdie werk sou die manifes word van daardie sewe digters, met Ronsard as leier, wat as groep as La pléiade bekend gestaan het. Ronsard sou ook ʼn onvermoeide yweraar van die Franse Humanisme word.

Na so ʼn goeie begin het die kulturele vernuwing betrokke geraak by die geweld van die burgeroorloë. Nogtans was die kritiese gees van die nuwe kultuurstroming in staat om bo die partypolitiek uit te styg en standpunt in te neem vir die regte van die vrye mens en die superioriteit van die beginsel van godsdienstige verdraagsaamheid.

In sy Essais openbaar Michel de Montaigne homself veral as ʼn skerpsinnige psigoloog, deurdat hy oorlewerings uit die klassieke oudheid met sy eie herinneringe en lewenservaringe vermeng. Die mens is sy hoofonderwerp van bespreking. Sy denke beweeg vanaf ʼn skolastiese Stoïsisme, getint met die Epikurisme, tot ʼn uitgesproke skeptisisme wat gebaseer is op die vraag Que sais-je? (Wie is ek?) Met hierdie vraag moet die mens probeer om homself te ontdek en die Latynse weergawe van die woorde op die tempel van Apollo, Nosce te ipsum (ken jouself), wat Sokrates aan sy volgelinge uitgewys het, in herinnering roep. Die mens moet homself beheer volgens die natuur, maar hom laat lei deur sy verstand en ervaring, en met die nodige respek vir die religieuse, sosiale en politieke tradisies.

Die klassieke leer van die drie eenhede van Aristoteles word in 1631 deur die Akademie aanvaar. Dit het talryke polemieke tot gevolg gehad – selfs Corneille, wat ten minste nog altyd lippediens aan die Klassisisme bewys het, kon nie help om betrokke te raak nie. In hierdie stadium is die bestudering van literêre teorieë hervat. Dit kon voortbou op die winste van die navorsing wat reeds in Italië oor die drie Poëtikas gedoen is. Die gevolgtrekkings waartoe Minturno, Castelvetro en Scaligero gekom het, word nou in ʼn nuwe lig aanskou en gee aanleiding tot driftige literêre besprekings tussen verskillende groepe geleerdes. Die Académie Française is later met die toestemming van die koning en kardinaal De Richelieu deur hierdie geleerdes gestig.

Vir René Descartes was die fundamentele beginsel vir ʼn mens om sy eie bestaan te begryp, sy eie innerlike ervaring. Sy helder prosa dra die stempel van die klassieke Franse geskrifte, wat ook gekenmerk word deur logiese ordening en die neiging om gemoedstoestande en die sielelewe van die mens op ʼn logiese wyse te analiseer.

Die jaar 1660 lui die Goue Eeu van die Franse klassieke letterkunde in toe die vier voortreflikste Franse digters aan die hof van koning Lodewyk XVI vergader het.

By Molière (J.B. Poquelin) word sy jarelange ervaring en sy onfeilbare aanvoeling vir die teater gekombineer met die gawes van ʼn eersterangse skrywer. Hy het ʼn oog gehad vir sake van ʼn morele aard wat hy dikwels in die vorm van ʼn satire uitgedruk het. Hy ontbloot alle menslike tekortkominge, en terselfdertyd kritiseer en spot hy op subtiele wyse met die vooroordele van die mens.

Die FABELS van J. de la Fontaine is meesterstukke (hoewel in afgeleide vorm) wat spreekwoordelike volkswysheid in ʼn hoogs literêre vorm oordra. Behalwe sy fabels het La Fontaine ook ʼn aantal kort gedigte in ʼn klassieke styl geskryf.

Nicolaas Boileau, bekend as Régent du Parnasse, was ʼn fynproewer t.o.v. sy literêre voorkeure; hy het ook probeer om die ernstige en lesenswaardige literatuur te bevorder. In sy werk L’art poétique verduidelik Boileau die noodsaaklikheid van selfkritiek; ʼn poëtiese styl mag nie dor en onvrugbaar wees nie, maar ook nie oordadig en vertonerig nie. Ten opsigte van die tragedie handhaaf hy die beginsel van die drie eenhede. Boileau se roem berus op die feit dat hy die bepaler van die poëtika van die klassieke tydperk en Klassisisme self was, dit is die nabootsing van die natuur in die lig van die rede.

Gedurende die jaar 1687 kom die hele kwessie van die Klassisisme onder die soeklig: in die beroemde werk Querelle des anciens et des modernes word die outeurs van die 17e eeu as die meerderes van die Griekse en Latynse skrywers beskou. Die Querelle vernietig die ontsag waarmee die skrywers van die klassieke oudheid bejeën is, en slaag ook daarin om die eerbied vir gesag en tradisie aan te tas. Op hierdie manier word die weg gebaan vir ʼn denkrigting wat uiteindelik op die *Verligting sou uitloop.

Die Italiaanse Humanisme is gedurende die 15e eeu na Duitsland gebring deur geestelikes wat deelgeneem het aan die konsilies van Konstanz (1416) en Basel (1431). Die uitvinding van die drukkuns maak die verspreiding van die werke van klassieke outeurs moontlik. Dié werke is dan vertaal en bestudeer. Literêre werke is steeds in Latyn geskryf, maar pogings is aangewend om ʼn klassieke soepelheid te gee aan werke wat in Duits geskryf is.

Konrad Celtis, wie se regte naam Bichel was, word beskou as ʼn gesaghebbende op die gebied. As ware humanis ontdek hy ʼn Romeinse aardrykskundige kaart van Europa (Tabula peutingeriana). Een van die verdienstes van Bichel was dat hy verskillende kultuurverenigings gestig het. Een daarvan was bekend as die Sodalitas Litteraria Rhenana.

Die Duitse Humanisme het rondom die universiteite gesentreer. Die hoofsentrum was Heidelberg, waar ʼn groep studente begin het om gedigte in hulle moedertaal te skryf. Julius Wilhelm Zincgref, ʼn begaafde jong digter, het ʼn bloemlesing saamgestel waarin gedigte van verskillende lede van die groep gepubliseer is. Dit sluit sy eie gedig oor oorlog in, wat miskien die mooiste van almal is.

George Rudolf Weckerlin was ook ʼn lid van die Heidelberggroep. Hy het so onder die indruk van die uitwerking van die Renais­sance in Frankryk en Engeland gekom dat hy probeer het om die idees daarvan in Duitsland in te voer. Hy was die eerste Duitse digter wat sonnette en aleksandrynse verse geskryf het. In 1617 het prins Ludwig van Anhalt-Göthen ʼn akademie of ʼn vereniging, geskoei op die lees van die Accademia della Crusca, gestig. Hy noem dit “Die fruchtbringende Gesellschaft”. Die vernaamste doel van die vereniging was om die Duitse taal suiwer te hou.

In 1618 het Martin Opitz die Buch von der Deutschen Poeterey gepubliseer wat tot met die eerste helfte van die 18e eeu ʼn groot invloed op die Duitse poësie uitgeoefen het. Opitz het die literêre teorieë van die Renaissance bekend gestel. Hy is, op grand van sy tesis Aristarchus sive contemptu Linguae Teutonicae (Aristarchus, of oor veragting vir die Duitse taal), waarin hy die moontlikhede ondersoek om die Duitse taal te veredel, tot die Heidelbergse Universiteit toegelaat. Opitz het Holland in 1620 besoek en met die beroemde Hollandse geleerde, Daniël Heinsius, kennis gemaak. Opitz is in Wenen deur Ferdinand II as hofdigter bekroon. Soos ander teoretici uit die Renaissance het Opitz die idee van digterlike inspirasie verwerp: ʼn digter moet begaafd wees, maar hy moet hom ook neerlê by die reëls wat uit die klas­sieke tradisie voortvloei. Die Klassieke moet òf nageboots òf aangepas word.

Na Opitz kom die literêre periode wat later as die BAROK be­kend sou staan. Nogtans vind daar gedurende die 18e eeu ʼn herlewing van die Klassisisme plaas. Johann Christoph Gottsched was die leidende figuur hiervan. Hy het, deur diepgaande kritiese ondersoeke, nuwe beginsels vir die teater en die poësie opgestel. Hierin volg hy in die voetspore van Boileau en ander Franse skrywers. Hy was teen die spontane volksteater gekant (COMMEDIA DELL’ARTE). Hy het sy idees uiteengesit in Eine critische Dichtkunst für Deutschen, waarin hy ʼn pleidooi gelewer het vir die aanneming van die reëls van die Franse literêre kritiek met die doel om nuwe lewe in die Duitse taal en literatuur in te blaas en dit te organiseer.

Johann Joachim Winckelmann het deur sy bestudering van Griekse skrywers ʼn grondige kennis van die geskiedenis, filosofie en lite­ratuur besit. Hy het ʼn verskeidenheid werk gelewer wat veral van literêre belang vir die Duitse klassieke era was.

Johann Christian Hölderlin is nog ʼn digter wat Winckelmann se liefde vir die antieke Griekeland gedeel het; hy het oor die terugkeer van ʼn Griekse beskawing gedroom en hierdie wêreld in Hyperion beskryf.

In 1786 het Johann Wolfgang Goethe sy droom om Italië te be­soek, verwesenlik. Rome onthul aan hom daardie klassieke wêreld wat hy as so voortreflik beskou het. Hierdie besoek was sonder twyfel van deurslaggewende belang in sy lewe. In 1794 maak hy kennis met Friedrich Schiller, met wie hy ʼn lewenslange verbintenis sou hê. Goethe se belangrikste werke is: Iphigenie, Hermann und Dorothea, Tasso en Romeinse elegieë. Sy grootste werk, Faust, het voortgekom uit universele idees en getuig van diep­gaande emosionele betrokkenheid.

Friedrich Schiller is die derde verteenwoordiger van die klassieke tydperk. Aanvanklik was hy ʼn aanhanger van die Sturm und Drang-beweging, maar Kant se filosofie van idealisme en Goethe se vriendskap het hom tot ʼn klassieke ideaal met romantiese bowetone oorgehaal. Die digbundel Über naïve und sentimentalische Dichtung van 1795 het poëtiese uitdrukking gegee aan hierdie vervolmaakte ideaal van waardigheid en skoonheid. Goethe en Schiller het albei beroemde BALLADES geskryf. Hulle samewerking in Schiller se tydskrif Die Horen (1795–1797) het hulle die gevierde “grootse paar” van die Duitse Klassisisme gemaak.

Teen die einde van die 15e eeu word die eerste tekens van die Italiaanse Humanisme in Engeland sigbaar. Om die ware betekenis van die Engelse Renaissance te begryp, moet ʼn mens die destydse godsdienstige vernuwing sien as ʼn vorm van opstand teen die Middeleeuse en skolastiese Klassisisme wat dit voorafgegaan het. Die Renaissance in Engeland is vertroebel deur die gevolge van die Protestantse Hervorming en besit nie die paganistiese sereniteit wat so eie aan die Klassisisme is nie. As gevolg van die bestudering van Latyn en Grieks is die antieke en die Italiaanse kulture ontdek. Die Engelse humaniste het die klassieke universalisme en die nuwe opvatting oor die mens se waarde gemaklik geabsorbeer, maar ook hulle eie oorspronklike idees bygevoeg. Thomas More was die vernaamste verteenwoordiger van die Humanisme en universalisme wat in Engeland ʼn religieuse en opvoedkundige kleur gehad het.

Van die bekendste digters wie se poësie die regte toon van die outentieke Italiaanse Humanisme getref het, was die twee “Albionese (Engelse) Petrarcaniste”, Sir Thomas Wyatt, wat Petrarca vertaal en nageboots het, en Henry Howard, wat die tweede en vierde boek van die Aeneïs herskryf het en daarvoor vir die eerste keer die vrye versvorm gebruik het.

Die tweede helfte van die 16e eeu word gekenmerk deur ʼn groot bedrywigheid aan die vertalersfront. Al die groot klassieke skrywers se tekste sowel as dié van Franse en Italiaanse skrywers word in Engels vertaal. Die vertaling van Seneca se werk sou die grondtrekke van die Elizabethaanse tragedie voorsien. Il cortegiano (1528) en Il principe (1561) is gretig gelees; Hoby vertaal Il cor­tegiano (1561) en Peterson Il galateo (1558).

Philip Sidney, Edmund Spenser en John Lyly het werke geskryf wat met die klassieke modelle vergelykbaar is. Lyly het sterk onder die invloed van Boccaccio en die geskrifte van die 16e eeu in Italië gestaan toe hy Euphues, ʼn tipiese Engelse vermenging van die Klassisisme, geskryf het (vgl. EUFUÏSME). Sidney, ʼn adellike howeling en ʼn vriend van Giordano Bruno, skryf ʼn versameling sonnette, Astrophel and Stella, wat hom die titel “Engelse Petrarca” besorg het. Hy het ʼn groot affiniteit vir die gees van die Italiaanse Renaissance gehad, en in navolging van die riglyne wat deur Scaligero neergelê is, skryf hy An Apology for Poetry, ʼn essay waarin hy die verskillende aspekte van die kritiek van die Italiaanse Renaissance onder die soeklig geplaas het. Hy ondersoek ook die stand van die Engelse poësie op daardie tydstip. Deur die Aristoteleaanse opvatting van die poëtika te volg, kom hy ook tot Scaligero se gevolgtrekking dat ʼn mens morele waarheid op ʼn aangename wyse moet onderrig.

George Chapman se vertalings van die Ilias en die Odusseia is beroemd, al is hulle enigsins hoogdrawend. Sy tragedies openbaar ʼn gesofistikeerde humanistiese kultuur, maar dit is asof sy karakters losstaan van die handeling, omdat die skrywer hulle as woordvoerders vir filosofiese teorieë, afkomstig van Seneca e.a. klassieke skrywers, gebruik.

Ben Jonson het twee Romeinse tragedies en talryke komedies in die klassieke gees geskryf. Hoewel hy ʼn Augustynse ante litteram was, was sy temperament dié van ʼn volbloed Elizabethaan, strydlustig en betrokke by polemieke en met ʼn onbedwingbare drang om tot die waarheid deur te dring.

Met die herstel van die Engelse monargie is die gewoontes, maniere en estetiese waardes van die Franse hof in Engeland ingevoer. John Dryden, die vader van die Engelse kritiek, het die Aeneïs en verskillende Latynse skrywers soos Juvenalis, Horatius, Ovidius en Theocritos se werke vertaal. Die Engelse Klassisisme bereik ʼn hoogtepunt gedurende die bewind van koningin Anne, ʼn tydperk wat bekend gestaan het as die Augustan Age. Alexander Pope was by uitstek die digter van hierdie vorm van die Klas­sisisme: hy skryf die Essay on Criticism, ʼn didaktiese gedig. Hierdie genre het tot dusver in die Engelse literatuur ontbreek. Sy leermeester was Boileau, en Pope het sy aanbevelings getrou nagevolg deur bv. van konvensionele digterlike fraserings, gebaseer op die elegante klassieke model, in sy poësie gebruik te maak. Pope se meesterstuk is sy vertaling van die Ilias in heroïese koeplette. Sy elegante en beheerste styl en sy vermoë om met kort en kristalheldere reëls die mees verwikkelde gedagtegang saam te vat, onderskei Pope as die grootste digter van die klas­sieke skool.

Die opbloei van die Renaissance in Spanje het gedurende die tweede helfte van die 15e eeu begin. Die beweging het sy eksklusiewe individualisme behou, omdat die Inkwisisie ʼn demper van enige sterk liberalistiese idees was en die skrywers nie beskermhere gehad het nie.

Elio Antonio de Nebrija, wat die eerste Latynse grammatika vir Spaanssprekendes saamgestel het, was ʼn voortreflike figuur onder die Spaanse humaniste. Luis Vives, ʼn begaafde humanis, het die Somnium Scipionis (Scipio se droom) van aantekeninge voorsien, en op aanbeveling van Erasmus voltooi hy ʼn studie oor Augustinus se De civitate Dei.

Twee groot Spaanse digters, Juan Boscan Almogaver en Garcilaso de la Vega verteenwoordig die periode wat bekend staan as die Sigli de Oro; trouens, die publikasie van hulle poësie in boekvorm in 1543 dagteken die begin van die tydperk. Garcilaso ver­teenwoordig die tipiese welopgevoede Renaissancis, Castiglione se howeling. Hy het op intieme voet verkeer met Karel V en het in die oorlog gesneuwel. Sy gedigte is na sy dood deur Boscan se vrou gepubliseer. Die digter Boscan self is intussen ook dood. Garcilaso verteenwoordig die ideale van die klassieke Renaissance.

In Nederland het Geert Groote, ʼn minder belangrike skrywer, ʼn opvoedkundige beweging met die naam “Broeders des gemenen levens” gestig. Hulle sou die weg baan vir toekomstige Nederlandse humaniste soos Rudolf Huisman en Erasmus.

Gedurende die 15e eeu is literêre verenigings, bekend as REDERYKERSKAMERS, gestig. Die lede staan bekend as die Rederykers en het tot so laat as die 16e eeu ʼn invloed op die literêre produksie uitgeoefen.

Met die werk van Mathijs de Castelein, wat De comst van rhetoriken in 1540 geskryf het, begin die Humanisme, wat ʼn opvallende filosofiese en religieuse inslag gehad het, in Holland uitbrei. Skrywers uit die Rederykersgroep vertaal die werk van Erasmus uit Latyn; hy self het weinig vertroue in die moedertaal gehad.

Van der Noot kan as die eerste werklike pionier van die Hollandse Renaissancepoësie beskou word. Amsterdam was die sentrum van die Renaissancepoësie; die beroemdste neo-Latynse skrywers en geleerdes soos Daniël Heinsius en Hugo Grotius, die groot juris en grondlegger van die moderne internasionale regstelsel, het egter in Leiden, die fokuspunt van die humanistiese studie, vergader. Die digters van die 17e eeu, die Goue Eeu, nl. Hooft, Bredero en Vondel, bring hulle vormingsjare in Amster­dam deur. Pieter Corneliszoon Hooft was ʼn ywerige student van die Klassieke en het poësie in Frans en Italiaans geskryf, maar het nogtans groot ontsag vir die moedertaal gehad en talle werke in die moedertaal geskryf. Na uitgebreide reise en ʼn indringende bestudering van die Klassieke, skryf hy die pastorale gedig Granida, waarin hy Il Pastor Fido van Guarini naboots. Soos Hooft, behoort Bredero tot die Amsterdamse Rederykerskamer, De Egelantier, maar sy poësie hou eerder verband met die alledaagse bestaan as met Hooft se meer intellektuele klassisistiese literatuur. Sy drama, Het Moortje, is ʼn verwerking van Terentius se Eunuchus. Vondel het hom grondig toegelê op die bestude­ring van Grieks en Latyn en die werk van die Franse skrywer Du Bartas. Hy skryf onder klassieke invloed sy eerste drama oor die Israeliete se uittog uit Egipte, Het pascha, wat ʼn toespeling is op die moontlike bevryding van die suidelike Nederlande uit die mag van die Spanjaarde. Sy grootste tragedie, Lucifer, het waarskynlik Milton se Paradise Lost beïnvloed. Vondel was ʼn eklektiese volgeling van Aristoteles, Horatius, Scaliger, Heinsius, Grotius en Ronsard. Sy groot dramatiese oeuvre is diepgaande deur die Klassisisme beïnvloed.

Lodewijk Meyer se vereniging, “Nil Volentibus Arduum”, is reeds in 1669 gestig met die doel om die klassieke drama aan die Hollandse teater bekend te stel en om die Nederlandse taal te vervolmaak. Met Boileau se Art poétique as teoretiese model, skryf hulle vervolgens in 1667 hulle eie manifes, Horatius’ dichtkunst op onze tijd en zeden gepast. Die beginsels van hierdie gemoderniseerde Horatiaanse poëtika sluit heldere, vloeiende verse en die wenslikheid van ʼn soet en melodieuse styl in.

Huydecoper het drie dramas in ʼn klassieke styl geskryf, waarvan Achilles (1719) die belangrikste was. Nog ʼn klassisistiese skrywer, Lucas Rotgans, skryf in 1705 sy Aeneas en Turnus, wat beskou word as ʼn belangrike Nederlandse klassieke drama.

Die klassieke tydperk in Portugal beleef in die 16e eeu sy suiwerste opbloei. Na sy reise in Italië (1521) gaan ʼn sterk Italiaanse in­vloed uit van die digter Francisco de Sá de Miranda. Hy voer nuwe idees in wat van Italië afkomstig is – die elflettergrepige reël, nuwe versvorms en liriese subgenres, asook die hantering van die klassieke komedie wat in prosavorm geskryf is.

Die Klassisisme in Portugal hou hom voortdurend besig met die vervolmaking van die vorm. Die Keltiese mitologie van die romances de cavaleria (ridderromans) word ook oorskadu deur die paganistiese legendes van die Antieke.

Die literatuur spits hom nou oor die algemeen toe op die waarneming van die opgevoede, gekultiveerde mens. Die wêreldse dinge word vermy; selfs bees- of skaapwagters, as dit nog uitgebeeld word, verwoord grootse gedagtes, maar dan in die tipiese taal van hulle sosiale stand. Die voortdurende gebruik van geleerde Latynse woorde en ʼn verwaarlosing van verwante Portugese woorde is veral opvallend in Camões se werk.
Die literatuur van die Portugese Klassisisme getuig van ʼn sterk invloed van klassieke skrywers soos Plato, Aristoteles, Plautus, Terentius, Vergilius en Horatius.

Die vernaamste klassisiste is Antōonio Ferreira met sy tragedie A castro en Sá de Miranda met sy Cleōpatra. Laasgenoemde is die eerste bekende poging in die Portugese literatuur om ʼn klas­sieke tragedie te skryf. Sá de Miranda skryf ook die komedies Estrageiros en Vilhapandos. In sy werke Anfitrioes, El rei selenco en Filodema is Luis de Camões onder die invloed van Plautus. Die hoogtepunt van die klassieke poësie is inderdaad sy Os lusiadas. Dit volg die klassieke idioom met ʼn sterk Vergiliaanse invloed noukeurig na: die patriotiese en die klassieke elemente, afgewissel deur die tussenkoms van paganistiese figure soos Ve­nus, Jupiter en Bacchus word verder vermeng met Christelike en Middeleeuse elemente.

 

Bibliografie

Bell, A.F.G. 1970. Portuguese Literature. Oxford: Oxford Univer­sity Press.

Bignone, E. 1948. Il libro delta letteratura latina. Firenze: Le Monnier.

Bompiani. 1949. Dizionario letterario delle opere e dei personaggi. Milano: Bompiani.

Bonfantini, M. 1965. Storia delta letteratura francese. Verona: Mondadori.

Brenan, G. 1965. The Literature of the Spanish People. Cam­bridge: Cambridge University Press.

Brereton,  G.   1976.  A  Short History of French Literature. Harmondsworth: Penguin.

De Sanctis, F. 1961. Storia delta letterature italiana. Verona: Mon­dadori.

Gordon, G.S. 1912. English Literature and the Classics. Oxford: Oxford University Press.

Lamanna, P. 1947. Storia della filosofia. Firenze: Le Monnier.

Magnus, L. 1927. English Literature in its Foreign Relations, 1300–1800. New York: Kegan, Trench & Trubner.

Meijer, P.R. 1978. Literature of the Low Countries. The Hague: Nijhoff.

Northup, G.T. 1971. An Introduction to Spanish Literature. Chica­go: University of Chicago Press.

Perotta, G. 1942. Storia della letteratura greca. Milano: Principato.

Robertson, J.G. 1970. A History of German Literature. London: Blackwood.

Sapegno, N. 1959. Europa: antologia di autori italiani e stranieri. Roma: Bajes.

Secretan, D. 1973. Classicism. London: Methuen.

Thomson, J.A.F. 1980. Classical Influences on English Prose. London: Allen & Unwin.

Valgimigli, M. (ed.). Aristoteles: la poetica. Roma: Laterza.

Viscardi, A. 1967. Le letterature d’oc e d’oil. Firenze: Sansoni.

Weevers, T. 1960. Poetry of the Netherlands in its European Con­text. London: University of London Press.

Ziolkowski, T. 1980. The Classical German Elegy. Princeton: Princeton University Press.

 
Anna E. Masselli en Janet Carter