PROVENSAALSE LITERATUUR

Provensaalse literatuur is die literatuur van Suid-Frankryk van die Middeleeue (± van die 11e tot die 13e eeu) geskryf in Provensaals. Die taal vertoon gedurende hierdie tyd ‘n sekere mate van eenheid. Dit staan onder verskeie name bekend soos limousin, langue roman (die taal van die provinsie Romana) en langue occitane (dit is die dialekte van Ou Provence en die taal van die TROEBADOERS). Die algemene term is Provensaals. Volgens Preminger (1979: 677), in die Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics, is die term Provensaals van toepassing op die digters wat die taal gedurende die Middeleeue gekultiveer het. Dit was ‘n literêre taal en het ‘n gekunstelde eenvormigheid vertoon deur die hele streek.

Die Provensaalse literatuur was die eerste nasionale literatuur na die val van die Romeinse Ryk. Die Provensaalse literatuur het ‘n groot invloed uitgeoefen op die literatuur van die buurlande en Italië. “Zij is ook de enige die erin geslaagd is, door bemiddeling van de grote Europese dichters die ze beïnvloedde, voor het Westen bepaalde esthetische en ethische waarden te scheppen, die tot onze dagen voortleven — waarden die weinig of niet schatplichtig zijn aan de Oudheid en van een soort van niet-klassieke Westerse spontaneïteit getuigen”, aldus Vercammen (1972: 71) in die Moderns encyclopedie der wereldliteratuur. Hierdie waardes waarna verwys word, is ‘n nuwe opvatting van die poëtiese styl, ‘n eie liefdesteorie en ‘n klimaat van vrye denke.

Die skrywers van hierdie literatuur was geweldig produktief. Hulle beoefen hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik nie, die liriese vers. Die oudste verhaal in die Provensaalse literatuur is ‘n passieverhaal in digvorm uit die l0e eeu, asook ‘n gedig oor die martelaar Boetius, Mariagedigte en sermoenen (preke). Willem IX van Aquitanië (1071-1127) is die eerste bekende Provensaalse digter en ook die eerste digter van profane poësie. Hierna het die Provensaalse literatuur gebloei, o.a. in die werk van Marcabru, Girant de Borneil, Bernart de Ventadorn, Peire Vidal, Rimbaut d’Auregna, Jaufre Rudel, Raimon de Miraval, Folquet de Marseille, Gaucelm Faidit, Guilhem Figuera en Guirat Riquier wat die laaste van die troebadoers genoem word. Die opvallende is dat die genoemde name meestal die name van troebadoers is — die kuns van die troebadoers vorm deel van die Provensaalse literatuur maar maak nie uitsluitlik die Provensaalse literatuur uit nie. (Vgl. TROEBADOER.)

Kenmerkend van die Provensaalse literatuur is die klem wat op die aanbieding geplaas is, die rimas caras (kostelike rym), verhewe taal, komplekse strofiese vorme en ‘n nuwe tegniek waarin temas langs mekaar geplaas is sonder om dit te verduidelik en presies aan te dui. Banaliteite is doelbewus vermy. Op hierdie wyse verkry die Provensaalse literatuur dikwels iets hermeties. Hieruit vloei die trobar clus voort wat sy hoogbloei in die middel 13e eeu beleef het.

Die trobar clus is poësie wat hermeties is a.g.v. die ongewone idees en die dubbelsinnighede. Die trobar ric hoort ook tot die hermetiese poësie. Hierin val die klem op die oorspronklikheid en rykdom van uitdrukking. In teenstelling hiermee is die trobar leu “oop” en almal kon dit verstaan.

Liriese genres wat in die Provensaalse literatuur beoefen is, is die canso (Provensaalse liefdeslied), sirvente (satiries-politiese lied), die pastourelle (idilliese lied), die joe partit en tenso (dialoogliedere), die alba (oggend- of wagterlied) en die planh (klaaglied). Op die gebied van die prosa is vidas (biografiese sketse) en razos (kommentare) beoefen. Die latere NOVELLA het sy ontstaan aan die ontwikkeling van hierdie twee vorme te danke. Voorbeelde van prosawerke is Jaufre, Girart de Rouissillon, Flamenca, waarin jaloesie die hooftema is.
Teen die 14e eeu is nie meer so geweldig geproduseer nie. Die kwaliteit van die werk was toe ook aan die afneem. Daar verskyn wel ‘n paar verhandelings oor versifikasie of grammatika en ensiklopediese werke soos Breviari d’amor, geskryf deur die Franciskaanse monnik Matfré Ermengaut. Hierin behandel hy onderwerpe soos die liefde, astronomie en teologie.

Die religieuse literatuur het gedurende die later deel van die Middeleeue op groter skaal voorgekom, maar was van minderwaardige gehalte.

Die hooftema van die Provensaalse literatuur is die hoofse liefde. Kenmerkend van hierdie liefde in die Provensaalse literatuur is die vryer opvatting daaromtrent. Vercammen (1972: 72) praat van ‘n “erotiese naturalisme” wat ‘n klimaat van vrye denke geskep het in die 12e en 13e eeu. Dit moet dus onderskei word van die meer ortodokse ridderlike liefde.

Die Provensaalse literatuur het ‘n bloeitydperk van twee eeue beleef. Daarna het die verval ingetree wat hoofsaaklik toe te skryf is aan die kruistog teen die Albigense wat in die 13e eeu plaasgevind het: “Deze was in het begin wel zuiver godsdienstig, maar nadien werd hij een politieke, militaire kwestie en kreeg het uitzicht van een strijd tegen taal en kultuur” (en dus vanselfeprekend die literatuur) (Vercammen, 1972: 72). (Vgl. TROEBADOER.)

 

Bibliografie

Appel, C. 1930. Provenzalische Chrestomathie mit Abriss der Formenlehre und Glossar. 6. verb Aufl. Leipzig: Reisland.

Appel, C. 1967. Provenzalische Inedita auspariser Handschriften. Wiesbaden: Sandig.

Bee, P. 1970. Novelle anthologie de la lyrique occitane du Moyen Age: inition a la langue et à la poésie des troubadours. Avignon: Aubanel.

Camproux, C. 1953. Histoire de la littérature occitane. Paris: Payot.

Lafont, R. 1970. Renaissance du Sud: essai sur la littérature occitane du temps de Henri IV Paris: Gallimard.

Lafont, R. & Anatole, C. 1970. Nouvelle histoire de la literature occitane. Paris: Presses Universitaires de France.

Leal, L.A. de V. 1971. A philological and literary analysis of Provencal troubadour poetry. M.A.-thesis, PU for CHE, Potchefstroom.

Marshall, J.H. (ed.). 1972. The “razos de trobar” of Raimon Vidal and Associated Texts. London: Oxford University Press.

Monteverdi, A. 1956. La poesia provenzale in Italia. Roma: Ateneo.

Nostradame, J. de. 1971. Les vies des plus célèbres et anciens poètes provencaux, qui ont fleuri des temps des comtes de Provence. Hildesheim: Olms.

Pirot, F. 1972. Recherches sur les connaissances littéraires des troubadours occitans et Catalans des Xlle et XlIIe siècles: les “sirventes-ensenhamens” de Guerau de Cabrera, Guirant de Calanson et Bertrand de Paris. Barcelona: Real Academia de Buenas Letras.

Ricketts, P. (réd.). 1964. Les poésies de Guilhem de Montanhagol: troubadour provencal du XlIIe siècle. Toronto: Pontifical Institute of Mediaeval Studies.

Rouquette, J. 1968. La littérature d’oc. 2e ed. Paris: Presses Universitaires de France.

 
Anna-Marie Bisschoff