KLASSIEKE LITERATUURSTUDIE: GRIEKS-ROMEINSE LITERATUUR

Die vroegste geskrewe Grieks kom in die Helladiese tydperk voor op kleitablette wat in die laat-Bronstydperk (ca. 1400–1100 v.C.) vir administratiewe doeleindes in paleise op Kreta en die Griekse vasteland gebruik is. Hierdie skrifvorm heet Lineêre B, ʼn sillabiese tekenstelsel wat uit die sg. Lineêre A ontwikkel het. Geen literêre of historiese tekste is in Lineêre B oorgelewer nie. Poësie (as LIEDEPIESE gesang of religieuse inkantasie) is mondeling geskep en oorgedra aan ʼn gehoor tydens ʼn  godsdienstige of sekulêre geleentheid.

Die Helleense tydperk strek van ca. 1100–4e eeu v.C. Dit kan weer onderverdeel word in die Argaïese periode (ca. 1100–begin 6e eeu v.C.) en die Klassieke periode (6e-4e eeue v.C.). Die alfabet verskyn in Griekeland in ongeveer 900 v.C. maar sou eers in die 5e eeu v.C. gestandaardiseer en algemeen gebruik word. Die oudste oorblywende voorbeeld is ʼn  inskripsie op ʼn  Attiese kruik van ca. 750–700 v.C. Die vroegste oorgelewerde literatuur is die twee EPOSSE, die Ilias en die Odusseia van Homeros (middel 8e eeu). Hierdie eposse is die kulminasie van vorige eeue se SAGA-vertelling en poësieskepping met ʼn gepaardgaande opbou van tradisie, konvensie en “teorie”. Die epos is in wese ʼn  objektiewe digvorm, en Homeros praat selde in sy eie stem. Sy uitsprake oor die poësie is beperk tot versoeke aan die Muses om inspirasie en hulp met die gegewens, woorde en welluidenheid van sy komposisie (bv. die aanhef van die Ilias en Odus­seia, en die Ilias 2.484–494), en ʼn besef dat die poësie onsterflikheid kan besorg (Il. 6.357–358; Od. 8.579–580). Maar hy bewaar ook die milieu en rol van die sanger (aoidós) wat in die paleise van die vorige eeue die sagas en liedere mondeling aan die lewe gehou en tot die tradisie bygedra het. In sy tekening van Phemios en Demadokos vergestalt Homeros sy siening van die aard en funksie van die poësie. Die sangers verkeer onder die inspirasie van die Muses en Apollo, hulle word met groot respek ontvang en behandel, en bekoor en behaag die gehoor wat soms krities reageer (vgl. veral Od. 1.325–352; 22.342 e.v.; Od. 8.43–106, 248–266, 470–535). Homeros ken ook verskillende digsoorte: die paiãn aan Apollo (Il. 1.458 e.v.), die huwelikslied (Il. 18.493 e.v.), en die treurlied (Il. 24.723 e.v.; Od. 24.60 e.v.).

Waar Homeros genot as die doel van die poësie gesien het, wil Hesiodos van Kumai (Aitolië) en Boiotië (8e eeu) met sy didaktiese eposse, die Werke en dae (Works and Days) (met advies oor gedrag en boerdery) en die Theogonía (Theogony) (oor die genealogie en magte van die gode), sy gehoor leer en opvoed. Hy beroep hom ook op die Muses vir inspirasie (Theog. 1–34), gee die nege dogters van Zeus en Mnemosunê (Geheue) hul name (Theog. 22 e.v.), en besef die bekoorlikheid van woord en stem en die poësie se vermoë om afleiding van smart en sorge te bied (Theog. 37–51, 94–103). In die Werke en dae kom sy eie ervaring en siening tot uiting en word hy so die eerste digter in die Westerse literatuur met ʼn  eie persoonlikheid.

Tussen die 8e en 6e eeu v.C. ontstaan die 33 sg. Homeriese HIMNES, gerig aan verskeie gode. Die himne aan Apollo verwys na die bekorende effek van die koorsang en -dans, asook die nabootsing van spraak (158 e.v.); lg. is die vroegste oorgelewer­de verskyning van hierdie begrip wat aan baie van die kunsskepping en -teorie van die Grieke ten grondslag lê.

Die Griekse lirici in die 7e tot 5e eeu v.C. het in dié meer persoonlike GENRE waarskynlik heelwat oor hulle digterskap besin. Ongelukkig is hulle poësie meestal in ʼn  fragmentariese toestand oorgelewer en skemer net iets van hulle kritiese opvattings na ons deur. Tog kan sekere afleidinge gemaak word. Die LIRIEK as koorsang of solosang (monodie) met lier- en/of fluitbegeleiding, is voor ʼn  gehoor tydens ʼn  openbare geleentheid (soos ʼn  religieuse fees of staatsbegrafnis) of tydens ʼn  meer private geleentheid (soos ʼn  huweliksfees of ʼn  banket) voorgedra. Die algemene term “liriese” poësie is Alexandryns: in die 5e eeu is die term “melies” (melos, “lied”) gebruik en is die bepaalde lirieksoort eerder vernoem na die geleentheid waarvoor dit gekomponeer is. So was daar bv. die paiãn aan Apollo, die dithúrambos aan Dionusos, die skolion (drinklied), erôtikón (liefdeslied), epithalamion en humenaios (huweliksliedere), polemikón (oorlogslied), epinikion (oorwinningslied) en prosôdion (optoglied). Hierdie onderskeidings, wat reeds by Homeros verskyn, impliseer ʼn  teoretiese basis, ʼn  poësieteorie. Daarbenewens het die tegniese vermoëns van die digters (hulle gebruik verskeie metra, temas en vorms én bespeel die lier én komponeer die musiek en choreografie) in so ʼn  mate ontwikkel, dat hulle inderdaad vakmanne, makers (poêtaí) met vaardigheid (sophía, technê) geword het. Die Muses word steeds om inspirasie aangeroep, maar ʼn eie vaardigheid en kunsopvatting gaan daarmee gepaard.

Die skepping en uitvoering van die poësie het geskied in ʼn atmosfeer van wedywering (agôn). Tydens plaaslike en panhelleense feeste het sowel digters as atlete om pryse meegeding. Beoordeling impliseer kriteria en kritiek, maar weinig hiervan het behoue gebly. Hierdie wedywering het ook neerslag gevind in professionalisme, onderlinge wedywering en polemiek. Digters soos Simonides van Keos (ca. 556–468 v.C), Bakchulides van Keos (5e eeu v.C.) en Píndaros van Kunosképhalai naby Thebe in Boiotië (518–438 v.C), het hulle dienste aan heersers en aristokratiese families teen betaling aangebied. Gedigte is vir belangrike geleenthede gekomponeer, bv. epinikia vir die wenners tydens die panhelleense feeste. Die Atheense digter en hervormer, Solon (laat 7e–vroeg 6e eeu v.C), het sy ouer tydgenoot Mimnermos van Kólophon (laat 7e eeu v.C.) in verse gekritiseer vir sy uitermate pessimistiese siening van die ouderdom. Korinna van Tanagra in Boiotië (middel 6e eeu v.C.) het die jong Píndaros berispe omdat hy nie genoeg mite in sy poësie gebruik het nie; en toe hy reageer met ʼn  gedig vol mitologiese verwysings, sou sy hom geadviseer het: “ʼn Mens moet met die hand saai, nie met die hele sak nie” (Plutarchos, Moralia 347f). Simonides was verantwoordelik vir die gesegde: “Skilderkuns is stille poësie, poësie sprekende skilderkuns” (Plutarchos, Moralia 346f), en sou op Píndaros geskimp het toe hy van die “nuwe wyn” praat. Píndaros self sou geantwoord het: “Prys ou wyn, maar nuwe blomme”; hy sou ook teen Bakchulides en sy oom Simonides kritiek gemik het toe hy van kraaie teenoor die arend (Píndaros) gedig het (Olimpiese odes 9.47; 2.87; Nemeïese ode 3.80–82).

Belangrik is ook die feit dat die poësie-musiek die basis van die Griekse opvoeding (paideia) tot die tyd van Plato gevorm het. Poësie, en nie prosa nie, was, naas mondelinge vertelling, die medium vir die bewaring en oordrag van die gemeenskap se geskiedenis, kennis, ervaring en selfbewussyn. In dié opset moes heelwat kritiese evaluering van die digkuns en digters plaasgevind het. Met die verlies van die grootste gedeelte van die liriese poësie het hierdie materiaal verlore gegaan, behalwe waar latere prosaskrywers die oorgelewerde tradisie opgeteken het.

Píndaros bied ons gelukkig in sy poësie ʼn vollediger beeld van sy opvattinge oor die poësie en sy digterskap. Naas inspirasie plaas hy natuurlike aanleg (phuá) bo aangeleerde tegnieke (technê) (Ol. 1.4; 2.83–86; 9.22-28, 100; Nem. 3.26–29, 40; 5.20); hy is “profeet van die Muses” (fr. 150 Snell); die digterwoord bied onsterflikheid aan die kortstondige heldedaad op die slagveld of in die stadion (Nem. 4.1 e.v.); en ernstige poësie het ʼn  verantwoordelikheid; om die waarheid te verkondig (Ol. 1.30–35, 52–53; Nem. 7.11 e.v.).

Die filosoof-wetenskaplikes van Miletos (o.a. Anaximandros en Anaximenes) was verantwoordelik vir die vroegste gebruik van geskrewe prosa vir hulle teorieë in die laat 7e tot middel 6e eeu v.C. Maar dit is eers met die atomistiese filosoof Demokritos van Abdera (in die laaste helfte 5e-–vroeë 4e eeu v.C) dat enige uit­sprake oor die poësie behoue gebly het. Hy onderskryf nog die noodsaaklikheid van die goddelike inspirasie. Die digter en filosoof Xenophanes van Kolophon (ca. 565–470 v.C.) lewer in sy poësie kritiek teen Homeros en Hesiodos se antropomorfistiese uitbeelding van die gode (fr. 11) en pleit dat die rol van die digter in die samelewing waardevoller moet wees as dié van die atleet of soldaat (fr. 2). As verweer interpreteer ander kritici die Homeriese gedigte ALLEGORIES. In albei benaderinge lê die kriterium van die morele of etiese waarde van die gedig opgesluit.

Die tragediedigters, veral die Atheense Aíschulos (525/4–456 v.C.), Sophokles (ca. 496–406 v.C.) en Euripides (ca. 485–c. 406 v.C.), moes oor hulle kuns besin het, maar die TRAGEDIE is soos die epos ʼn  genre wat die digter min ruimte bied om in sy eie persoon te praat. Implisiete teorie en kritiek teen voorgangers en tydgenote is egter nog, anders as vandag, deur tydgenootlike gehore gesnap, maar het grotendeels vir ons verlore gegaan. Die werke self vertoon veranderings (bv. wat die rol van die koor en die aard van karaktertekening betref), wat ook die veranderende smaak en opvattings van die samelewing weerspieël. Aristoteles skryf aan Aíschulos die instelling van ʼn  tweede akteur, aan Sophokles die instelling van ʼn  derde akteur en ʼn  geskilderde dekor, en aan Euripides ʼn  meer realistiese tekening van die KARAKTER as mens toe (Poêtika 1449a 15; 1460b 35). ʼn  Verlore traktaat oor die koor word aan Sophokles toegeskryf.

In die 5e eeu v.C. ontwaak die Atheense intellek en kritiese denke. Naas die poësie kry ook die gesproke prosa (die redenaarskuns) en ander kunsvorms teoretiese en kritiese aandag. Teen die 4e eeu bereik die prosa in gesproke en geskrewe vorms (retoriek en historiografie) ʼn  hoogtepunt in die werk van die sofiste en redenaars. Met die toenemende demokrasie word die redenaars­kuns, veral in die volkshowe, al hoe belangriker en die studie van die taal en die effektiefste taalgebruik om gehore te oorreed, floreer. Die filosofies-morele benadering kompeteer nou met die retoriese teorieë oor vorm, styl en inhoud, wat tot in laat-Romeinse tye steeds die opvoeding sou domineer. Protagoras van Ábdera (uit die vroeg 5e eeu v.C.) konsentreer veral op die taalkunde; Gorgias van Leontini (ca. 483–376 v.C.) behandel in sy toesprake die mag van die woord (logos) om in die poësie én prosa (toesprake) ʼn  illusie te skep en gehore te bekoor, en word so die eerste kritikus wat oor prosastyl teoretiseer; en Isokrates van Athene (436–338 v.C.) het die filosofies-morele en retoriese benaderings probeer versoen. Hy beïnvloed as leermeester die opvoeding en die retories-literêre teorie. Sy vlot prosa, met lang periodiese en balanserende sinne en sinsdele, plaas hom met Lusias van Sirakuse (ca. 459–380 v.C.) wat ʼn  eenvoudiger en meer beheerste styl gebruik het, en Demosthenes van Athene (384–322 v.C.), die grootste Griekse redenaar, aan die spits van Griekse prosaskrywers wat as modelle beskou is. Ten spyte van al hul foute (slimheid, oppervlakkigheid, effekbejag) het die Sofiste die teoretiese besinning oor taal as kommunikasiemedium in prosa en vers, in mondelinge en geskrewe vorm, bevorder.

Die KOMEDIE is in wese ʼn  kritiese genre wat vrylik aanvalle loods op alle aspekte van die samelewing, insluitend vroeëre en tyd­genootlike skrywers en hul werke. Ongelukkig het van die Griekse komedie, naas titels en fragmente, net werke van Aristophanes van Athene (ca. 450–385 v.C.) in die geheel behoue gebly. Hy word allerweë as die eerste belangrike literêre kritikus beskou. In sy komedies betrek hy die EPOS, LIRIEKTRAGEDIE en komedie. Die poësie is vir hom ʼn  beskawingsinvloed. Twee van sy teikens is die Sofisme of nuwe kennis, en die verandering of agteruitgang van die poësie. Veral Euripides en Kinesias word as verteenwoordigers van hierdie tendense die slagoffers van sy karikatuurkuns (Acharniërs, Wolke, Voëls, Paddas, Thesmophoriazusai). (In Engels is lg. werke bekend as The Acharnians, The Clouds, The Birds, The Frogs, Thesmophoriazusae.). In die Wolke bv., dryf hy die spot met die Sofiste se retoriek as misleiding en hulle kennis as net oppervlakkige slimheid. In die Paddas (830–1481) verskyn die bekende toneel waar die meriete en foute van Aischulos en Euripides deur Dionusos opgeweeg en beoordeel word. Van belang is die agonale strukturering, die analise en vergelyking van bepaalde aspekte, die positiewe en negatiewe kritiek, en die kriteria waarvolgens Dionusos aan Aischulos die oorwinning toeken. Euripides se sentimentaliteit en realisme, sy aandag aan afwykende gedrag, sy Sofisme en soeke na sensasie is, ten spyte van sy taalvernuf en vermoë om van sy karakters regte mense te maak, nie genoeg om teen Aischulos se morele rol as digter-opvoeder op te weeg nie. Dionusos se oordeel is uiteindelik subjektief: hy verkies ʼn  kuns wat die stadstaat en goeie burgerskap bevorder bo ʼn  kuns wat alles in die samelewing intellektueel bevraagteken.

Die filosowe van die laat 5e en die 4e eeu v.C. is verantwoordelik vir reuseskredes in die ontwikkeling van die literatuurteorie. Sokrates van Athene (469–399 v.C.) skryf self niks nie; sy teorieë en idees is deur veral Plato en Xenophon opgeteken en met hulle eie vermeng, sodat dit moeilik is om die egte Sokratiese bydraes te peil. Die digter-filosoof, Plato van Athene (ca. 429–347 v.C.), behandel egter in werk na werk allerlei probleme en aspekte van die literêre kunswerk. Hy formuleer die eerste werklike literatuur­teorie waarin die literêre kunswerk as verskynsel en objek van studie benader word. In die Apologia (Apology) (bv. 22b) en Ion (bv. 533d–535c) behandel hy die rol van die goddelike inspirasie in die mimetiese skepping en herskepping (voordrag deur ʼn RAPSODIS) van die poësie en kontrasteer hierdie toestand van beswyming, ekstase en irrasionaliteit met die rede en wetenskaplike kennis. In die Gorgias (bv. 453a–466d) en Staat (Republic) (bv. 376–398) ondersoek hy die rol van die retoriek teenoor dié van die poësie en filosofie in die opvoeding. Waar die poësie ten minste geïnspireer is, het die retoriek met sy doel van oorreding geen aanspraak op waarheid of morele onderskeid tussen goed en kwaad nie. Die filosofie oortref sowel die poësie as die reto­riek as basis vir die opvoeding van die jeug. Plato was bewus van die skoonheid van die kunste, maar ook van die mag van die poësie-musiek (mousikê) om die morele karakter van die samele­wing te beïnvloed. Hy pleit bv. dat die skone en goeie in die kuns uitgebeeld moet word (Staat 401b). Maar uiteindelik vind hy vir digters geen plek in sy ideale staat nie. Sy beweegredes was hoofsaaklik eerstens dat die kunswerk net ʼn  slegte afbeelding (mímêsis) van ʼn  voorwerp is, wat reeds ʼn  onvolmaakte kopie (eidos) van die idee (idéa) is (as voorbeeld noem hy die ideële Bed, die bed wat die skrynwerker maak, en die bed wat die skilder maak); en tweedens dat die poësie-musiek en ook die drama die laer emosies prikkel en dus die rede versteur (595–607d; 393c–398a). Hiermee bevraagteken hy die sentrale rol wat die poësie in die opvoeding speel (bv. 387b). Hy maak daarom ook beswaar teen die gedrag van die gode in Homeros, en bepleit sensuur vir die literatuur en kuns (Wette (Laws) 801d; 816d–e). In die Phaidros (Phaedrus) verwerp hy die allegoriese interpretasie van die mite wat verdedigers van Homeros gebruik het (229b) en bespreek aspekte van die literêre kunswerk: die digter se waansin tydens inspirasie (245a); die onderskeid tussen vorm en in­houd, en die skryf van goeie poësie én prosa (250 e.v.); die tekortkominge van die Sofiste (258d e.v.) en die noodsaaklikheid vir die redenaar om werklike kennis van sy onderwerp en die menslike psige op te doen en nie net by tegniese vaardighede te bly nie (266d–274a). In die Wette keer hy terug na die opvoedkundige rol van die mousikê as kulturele ontspanning wat die psige ontlaai en burgers gebalanseerd en rasioneel hou (653d–656a); hy stel estetiese genot as die doel van die kuns (658a–668c); hy neem stelling in teen die instrumentale musiek (d.w.s. sonder woorde en dansbewegings) (669e); en hy bekla die agteruitgang van die poësie a.g.v. die begeerte om die massa te behaag (700a–701b).

Aristoteles van Stagiros (384–322 v.C.) verbeter op Plato se teorie. In sy Politiká (Politics) ondersoek hy ook die rol van die mousikê in die samelewing (1339a–1341b). Hy sien die poësie as relevant vir die staat en beskou die opvoedkundige rol daarvan as die belangrikste, alhoewel hy ook ʼn  mate van sensuur vir die beskerming van die jeug voorstel (1336a–b). Hy onderskryf soos Plato die ontspanningswaarde van die kunswerk, dat dit deur die verskaffing van plesier die psigiese balans herstel deur van oortollige emosie ontslae te raak. Dié terapeutiese funksie van die kuns sal Aristoteles ontwikkel deur die begrip kátharsis in te voer. Hy gaan verder as Plato as hy ook ʼn  kulturele rol vir die kunswerk vind in vryetydsbesteding, vir suiwer geluk en estetiese plesier.

Die Retoriká (Rhetoric) en Poêtiká (Poetics) bevat die meeste van Aristoteles se literatuurteorie. Eersgenoemde werk behandel veral die prosastyl, die kuns van goed spreek en skryf, bedoel vir redenaar én digter. Soos Plato lewer hy kritiek op die retore wat net op tegniek staatmaak en net in die howe optree, i.p.v. van die middele van oorreding na te speur en in die politiek toe te pas. In boek I en II bespreek hy die soort kennis van die menslike psige en emosies wat deur redenaars benodig word en die effektiwiteit van sekere argumente. Hy onderskei dan drie tipes redevoering: die deliberatiewe, wat op oorreding en die toekoms gerig is, die forensiese, wat met feite, die verlede en aanklag en verweer te make het, en die epideiktiese, wat op lof en kritiek op die hede konsentreer. In boek III word styl en struktuur en die beginsel van gepastheid volgens die geleentheid bespreek en bekla hy die agteruitgang van die poësie.

In die Poêtiká konsentreer Aristoteles op die tragedie en, by wyse van vergelyking, op die epos en (in ʼn  mindere mate) die geskiedskrywing. Fundamenteel vir sy bespreking is die MIMESIS nabootsing. Alle kuns is mímêsis; kunsvorms verskil in die middele (die waarmee), voorwerpe (die wat) en wyse (die hoe) van nabootsing. Vir die literêre kunswerk is die woord, ritme en musiek in verskeie kombinasies ter sprake. Mímêsis, wat saam met die gevoel vir ritme en melodie ʼn  natuurlike behoefte van die mens is, speel op twee vlakke ʼn  rol: in die nabootsing van die lewe, d.w.s. die skeppingsproses, en die nabootsing deur die akteur of uitvoerende kunstenaar in die herskeppingsproses voor ʼn  gehoor, wat dan die nabootsing moet herken.

In die loop van die traktaat kom sekere kernterme ter sprake: hamartía, ʼn  intellektuele oordeelsfout of morele tekortkoming wat die tragiese figuur se ondergang bring; anagnôrisis (herkenning) en peripeteia (ommekeer) wat insig en veranderde omstandighede meebring; en kátharsis, ʼn  purgasie (eerder as reiniging) van die gehoor se emosionele lading. Die Griekse tragedie het ses elemente: die intrige, KARAKTERS, taal, denke, visuele inkleding en musiek.

Die Poëtika het ʼn  wye en langdurige invloed op die literatuur­teorie uitgeoefen en is ook aan waninterpretasie onderwerp (bv. oor die sg. drie “eenhede” van die tragedie: tyd, ruimte, intrige). Heelwat probleme van die interpretasie van die teks is te wyte aan die bondige en kriptiese formulering, wat suggereer dat Aristo­teles die stof in lesings verder toegelig en uitgebrei het. Daar is aanduidings dat hy in ʼn  verlore werk die komedie bespreek het.

Op die Helladiese en Helleense tydperk (vgl. hierbo) volg die Hellenistiese tydperk (4e eeu–30 v.C.). Die oorwinnings van Alexander die Grote het die Griekse taal en kultuur in die Midde-Ooste versprei. Na sy dood in 323 v.C. word sy ryk in drie dele verdeel: Griekeland, onder Macedoniese hegemonie en met Athene as kwynende stadstaat en kultuursentrum; Sirië, met Antiochië en Pergamon as kultuursentra; en Egipte, met Alexan­drië as kultuursentrum. Die stadstaat (dorp plus omgewing) word vervang deur die groot kosmopolitiese stad en dinastiese regeerders.

In Alexandrië skep Ptolemaios I Sôtêr (ca. 367/6–283/2 v.C.) en sy seun Ptolemaios II Philadelphos (285–246 v.C.) die beroemde Mouseion (tempel van die Muses) met sy biblioteek. Dit word die middelpunt van literatuur, kuns, filosofie en wetenskap. Toe dit in 47 v.C. verwoes is, was daar ongeveer 700 000 boekrolle. Dit is herstel en was tot die moord op Hupatia in 415 n.C. kultuursentrum en bewaarder van die skatte van die antieke wêreld.

In en om Alexandrië ontwikkel die eerste werklike boekkultuur. ʼn  Reeks beroemde bibliotekarisse is deels daarvoor verantwoordelik.

Geleerdes en skrywers versamel, kopieer, redigeer, katalogiseer, bestudeer en kommentarieer tekste. Literêre werke word in genres gesistematiseer en teoreties verantwoord, boekindelings (bv. Homeros se Ilias en Odusseia) word gemaak; en taalkundige en literêre studies, tesame met uitsprake en polemieke oor skrywers floreer. In ʼn  groot mate kry die literatuurteorie in al sy aspekte hier sy eerste beslag. Die figuur van Kallímachos versinnebeeld die gees en aktiwiteite van die periode: digter, polemikus, kritikus, literator (hy stel ʼn  katalogus van 120 boekdele op, die Pinakes, van genres, skrywers en werke, omvang en eerste reëls van werke, en biografieë).

Die literatuur word veral gekenmerk deur eksperimentering en vernuwing, individualisme, en geleerde verwysings en inhoud (doctrina). Wat vorm betref, is korter digsoorte soos die kort epos (epúllion), die EPIGRAM, wat nou ʼn literêre dig vorm word, en die liriek in die algemeen (die term lurikós word nou gebruik) veral gewild; technopaignia, gedigte in die vorm van hul tema (bv. Die byl, Die eier, Die vlerk), kom nou voor – ʼn  sprekende bewys dat die poësie nou gelees is (vgl. KONKRETE POËSIE en IKOON EN IKONISITEIT). Daar is ook vermenging van genres, en stigiese en polimetriese verse vervang die strofiese versbou van vroeër. Resitasie vervang grotendeels sang as wyse van voordrag. Ook wat tema betref, het vernuwing ingetree: ongewone mites (plaaslike variante of minder bekende gedeeltes van bekende MITES) is betrek; die liefde word op ʼn  romantiese wyse behandel met meer aandag aan die sielkundige motivering van die karakters (vir die vroeër digters was die liefde ʼn eksterne mag wat die individu teister); ander tipes as die geïdealiseerde gode, helde en atlete kry aandag: kinders, bejaardes, slawe, nie-Grieke (bárbaroi); die natuur word met meer simpatie betrek in plaas daarvan dat dit as dekor vir menslike handeling dien. Die taalgebruik word die bewuste woordkuns van leestekste: ironie, die ongewone, kompaktheid van uitdrukking, metriese slimheid, daag gedurig die leser uit.

Die versameling en uitbreiding van kennis in die biblioteek kan nie anders nie as om die skeppende kunstenaars te beïnvloed. Afgesien van wetenskaplike traktate in prosa en didaktiese gedigte, het ook ander digvorms die kennis en geleerdheid betrek. Geleer­de, selfs obskure verwysings het die klein, ingeligte leserskring intellektueel uitgedaag en gestimuleer. Die geleerde digter (doctus poeta) betree die literatuurgeskiedenis.

Daar is steeds religieuse en sekulêre geleenthede waar poësie opgevoer en gesing is, maar in sy oordrag – wat ook sy aard en bestanddele bepaal – is dit nou literatuur in die letterlike sin van die woord.

Min tekste het uit die 3e en 2e eeu v.C. behoue gebly. Vir die literatuurbeskouing is ons op die praktyk van die outeurs self en op aanhalings en verwysings deur latere skrywers aangewese. Onder die digters heers polemieke en uitsprake oor die poësie word in gedigte gemaak. Kallimachos (ca. 300–ca. 240 v.C), wat die eerste literatuurgeskiedenis in sy Pinakes opstel, sou verantwoordelik gewees het vir die uitspraak: ” ʼn  Groot boek is ʼn  groot euwel” (Athenaios 72a). In sy himne aan Apollo (2. 105–113) spreek hy sy voorkeur uit vir ʼn  helder stroompie bo die modderige Eufraat, en in ʼn  fragment (1.25–30 Pfeiffer) beveel hy eie paadjies bo hoofweë aan. In die proloog tot sy Aitia (“Oorspronge”) regverdig hy sy standpunt teen kritici. Die pastoraaldigter Theokritos van Sicilië en Kos (uit die laat 4e–3e eeu v.C.) skaar hom by Kallímachos as hy in sy Idille 7 dit het teen “huise soos berge”. Aan die ander kant het Apollonios van Rhodos, wat in ca. 260 v.C. hoofbibliotekaris in Alexandrië was, die ou tradisie verteenwoordig en was hy volgens oorlewering met Kallímachos in ʼn  literêre twis betrokke. En tog beslaan sy epos, die Argonautika, oor Jason en die Goue Vlies, net vier boeke. Daar is wel elemente van die Homeriese epos, maar die nuwe literêre milieu is te bespeur o.a. in die nuuskierigheid oor en vertoon van nuwe kennis en die psigologiese uitbeelding van Medea.

Die werk van die bibliotekarisse, wat veral op teksuitgawes, kommentaar op digters soos Homeros, Hesiodos en die lirici en op taal- en genre-aangeleenthede gekonsentreer het, asook dié van talle ander geleerdes wat besig was met navorsing oor o.a. die taal en literatuur, soos bv. Theophrastos van Eresos (ca. 370–288/5 v.C), Apollodoros van Athene (ca. 180–120 of 110 v.C.) en Dionusios van Thrakië (ca. 170–90 v.C), was meer akkuraat en wetenskaplik as dié van bv. Krates van Mallos (2e eeu), hoof van die biblioteek van Pergamon, wat in 168 v.C. Rome besoek en lesings gegee het. Slegs een traktaat oor die teorie en kritiek het uit die Hellenistiese tyd na ons deurgekom, nl. dié “Oor styl” onder die naam van ʼn  sekere Demetrios (ca. 270 v.C.). Dit bou essensieel voort op die werk van Aristoteles en sy leerling Theophrastos in die identifisering van vier stylsoorte of stylkwaliteite wat die stof , woordgebruik (lexis) en woordrangskikking (súnthesis) behels: die indrukwekkende of verhewe styl, die elegante of gepoleerde styl, die eenvoudige styl en die intense of kragtige styl. Dié stylsoorte moet deur die redenaar volgens die geleentheid of gehoor aangewend word. Demetrios behandel ook die lang periodiese sin, die stylfigure, gevatheid en die briefstyl.

Een van die mees konstante debatte, wat veral vanaf die 1e eeu v.C. ontstaan en ook Romeinse retorici soos Cicero en Quintilianus later betrek, was tussen die voorstanders van die Attisisme, ʼn  suiwer en beheerste styl, en dié van die Asianisme, ʼn  ryk en bloemryke styl. Die Attisiste in Alexandrië, omring deur verskeie kulture, bepleit die behoud van korrekte en eenvoudige Attiese Grieks – ʼn  stryd wat sou uitloop op die koinê, die “algemene” Grieks van die Nuwe Testament.

Filosowe eerder as retore bevorder die literatuurteorie. Die lede van die Akademie en die Peripatetici bou voort op die opvattings van onderskeidelik Plato, Aristoteles en Theophrastos, terwyl die Stoïsyne die vorm en inhoud van die literêre werk skei: die vorm of inkleding van bv. die poësie wat op emosionele effek afgestem was, is as irrasioneel beskou teenoor die rasionele inhoud. Die irrasionele inkleding is dan allegories vertolk om die rasionele terug te vind.

Die teorie van die redenaarskuns sistematiseer vroeëre opvattings en indelings: die vyf afdelings van die retoriek (heúresis/inventio: stofinsameling; taxis/dispositio: rangskikking; lexis/elocutio: styl; hupókrisis/actio: voordrag; mnêmê/memoria: geheue); die vier deugde van styl (eklogê/hellenidzein/latinitas: korrekte taalgebruik; saphêneia/luciditas: helderheid; prepon/decorum: paslikheid; exergasía/ornamentum: versiering; suntomialbrevitas: bondigheid); en die vier dele vir ʼn  toespraak (prooímion/exordi­um: aanvang; próthesis/diégêsis/narratio: uitleg van gegewens; pistis/probatio: bewysvoering of argumentasie; epílogos/peroratio: opsomming).

Die Romeinse tydperk strek van die 2e eeu v.C. tot die 5e eeu n.C.

Korinthe word in 146 v.C. deur die Romeine verwoes en by die provinsie Macedonië gevoeg; in 30 v.C. word Egipte en in 27 v.C. word Achaia Romeinse provinsies. Periodes van ekonomiese en sosiale verval word afgewissel met tye van vrede en kulturele ontwikkeling, soos bv. onder keisers Hadrianus (117–138 n.C), Antoninus Pius (138–161 n.C.) en Marcus Aurelius (161–180 n.C). Met die stigting van Konstantinopel in 324 n.C. deur keiser Konstantyn word die weg voorberei vir die oorgang tot die Bisantynse tydperk. In 529 n.C. sluit keiser Justinianus die universiteit van Athene.

Die retoriek oorheers die literatuurkunde en opvoeding: dit neem die filosofie se plek in. Die “Klassieke” word nagestreef en die Attisisme werk behoudend in teen die Asianisme. Retoriese toesprake vervang die ou poësievorms soos die enkomion (loflied) en daar is ʼn toenemende gekunsteldheid en effekbejag.

Teen die 1e eeu n.C. verskyn die codex van perkament as draer van die nuwe Christelike literatuur. Die ou papirusrol sou tot die 3e eeu n.C. voortduur en beskou word as draer van die “heidense” literatuur. Hierdie faktor het tot die verlies van ontelbare Griekse en Latynse literêre werke bygedra: talle werke op papirus is nie op die duursamer perkament oorgeskryf nie.

In die tydperk van die Republiek word Polúbios van Megalópo­lis (200–118 v.C.) in 168 v.C. as gyselaar na Rome gebring, waar hy die leermeester van die jongere Scipio word en sy geskiedenis van Rome skryf. In die twaalfde boek daarvan verskyn sy belangrike bydrae tot die teorie van die historiografie. Hy propageer aandag aan die waarheid eerder as retoriese effekbejag. Hiervoor is die gebruik van dokumentasie en ooggetuies en ʼn  begrip van politieke gebeure en kousaliteitsverbande noodsaaklik.

Van die filosoof-digter Philodemos van Gádara (ca. 110–ca. 40/35) se werk is saam met sy biblioteek teruggevind in die verkoolde papirusrolle wat gevind is gedurende opgrawings by Herculaneum, wat saam met Pompeii in 79 n.C. deur ʼn  uitbarsting van Vesuvius begrawe is. Hy beïnvloed Romeinse skrywers soos bv. Vergilius. Al was die teks in ʼn  fragmentariese toestand en moes dit met konjektuurwerk gerestoureer word, laat dit ons ten minste besef dat Philodemos ʼn oorspronklike teoretikus was wat teen die heersende opvattings van voorgangers sy eie gesigspunte gestel het. Sy Poêtika oor die poësie en Rhetorika oor die prosa bevat heelwat wat interessant is. Die poësie verskaf genot, en sy didaktiese funksie is sekondêr; die poësie is nie ʼn  mímêsis van die lewe, d.w.s. direkte beeld van feite nie en kan dus nie as ʼn betroubare bron van kennis beskou word nie; FANTASIE en verbeelding speel ook ʼn  rol; die gedig is ʼn eenheid, en die vertolker moet nie vorm (styl) of inhoud (tema) as aparte aspekte bespreek nie; poësieskepping en -interpretasie is intellektuele eerder as emo­sionele prosesse; goeie karakter is nie ʼn vereiste vir ʼn  goeie digter of redenaar nie; hy probeer (tevergeefs) om die retoriek uit die opvoeding en die literatuurteorie te verwyder deur die sofis, politikus, filosoof en redenaar van mekaar te onderskei; en daar is sekere standaarde en algemene reëls en beginsels vir goeie styl in die poësie en prosa (geskrewe en gesproke).

Die grootste Griekse literatuurwetenskaplike gedurende die vroeë keiserryk is Dionusios van Halikarnassos (einde 1e eeu v.C–1e eeu n.C), wat tussen 30 v.C. en 8 n.C. in Rome werksaam was. Sy werk oor die literêre teks word gekenmerk deur vergelykende kritiek, weliswaar nog naïef, oorvereenvoudig en op arbitrêre kriteria gebaseer, maar gegrond op analise van bepaalde passasies. Die orator-opleiding is steeds in sy opvoedkundige denke sentraal, maar hy vertoon ʼn  historiese sin wat literatuurgeskiedenis in wording is. ʼn  Reeks werke bevat sy teoretiese en kritiese opvattings: Dinarchos, Brief aan Pompeius, Thukudides, Eerste en Tweede brief aan Ammaeus en Oor nabootsing. In lg. onder­skei hy tussen oppervlakkige, swak en goeie nabootsing (wat op kreatiewe wedywering uitloop) van ander skrywers. Sy drie relevantste werke is Die antieke redenaars (Commentaries on the Attic Orators), Demosthenes (On the admirable style of Demosthenes) en Woordrangskikking (Arrangement of Words). Die eerste is ʼn  betoog teen die Asianisme en bespreek die redenaars (bv. Lusias, Isaios en Demosthenes) wat as modelle vir die jong redenaar voorgehou behoort te word. In die tweede word die drie stylvlakke (hoog, middel en laag) m.b.t. hulle taalgebruik (lexis), sinstruktuur (taxis) en woordrangskikking of-plasing (súnthesis) behandel en Thukudides, Lusias en Demosthenes word as voorbeelde bespreek. Woordorde is ook die tema van sy grootste werk, die sg. De compositione verborum. Hierin word die rol van die klank, sinstruktuur (van die geskrewe en die gesproke woord) en die sinsritme in die súnthesis in detail bespreek. Ook die verskillende stylsoorte kom aan die beurt: die streng styl, statig en bondig, soos ruwe rotsblokke (bv. die poësie van Píndaros); die elegante styl, glad en beweeglik, soos ʼn  rivier (bv. die poësie van Sappho); en die intermediêre styl, êrens tussen die ander twee en die beste om na te streef (bv. die werk van Homeros, Sophokles, Heródotos, Demosthenes, Plato en Aristoteles). In sy vergelyking en beoordeling van skrywers is Dionusios geneig om formules te gebruik, maar hy probeer onpartydig bly deur goeie en slegte eienskappe te belig, en sy liefde vir die literatuur skemer oral deur.

Die ander groot figuur van die Griekse literatuurwetenskap van die Romeinse tyd is naam- en datumloos. Hy heet tradisioneel Longinos en word òf in die 1e eeu òf in die 3e eeu n.C. geplaas. Sy werk, Oor verhewenheid (On the Sublime), waarvan ongeveer twee derdes behoue is, is een van die merkwaardigste geskrifte oor teorie en kritiek uit die Klassieke Oudheid. Dit slaan ʼn  heel nuwe rigting in deur te vra na dié eienskappe wat litera­tuur tot hoogtepunte voer, die gehoor of leser meevoer, en mense van verskeie tale, lande en tye ʼn  universele erkenning van “groot” daaroor laat uitspreek. Volgens Longinos is daar vyf sulke faktore: (1) ʼn  kragtige intellektuele konsepsie en verbeelding; (2) ʼn  sterk en geïnspireerde emosie; (3) die aanwending van spraak- en gedagtefigure (bv. die *metafoor); (4) edele woordgebruik; en (5) woordplasing. Die werk van Homeros, Sappho, Plato, Demosthenes en Cicero word in detail aan analise onderwerp. Verrassend moderne gesigspunte en stellings kenmerk sy werk. Hy beskou ʼn  sintese van natuurlike aanleg en aangeleerde tegniek as noodsaaklik, alhoewel hy eg. as die belangrikste beskou: ʼn geniale werk met tegniese foute is immers verkieslik bo ʼn  middelmatige werk wat tegnies foutloos is. Hy vestig die aandag op die skeppende gees eerder as sy produk en gebruik vernuwend en met sensitiwiteit die ou idees en terme.

Plutarchos van Chaironeia (ca. 50–ca. 120 n.C.) skryf opstelle wat in sy Moralia versamel is. Teoretikus was hy nie, maar sy essays bied allerlei gegewens oor die lewens en werke van skry­wers. Die opstelle weerspieël grotendeels die smaak van sy tyd, bv. in sy voorkeur vir Menandros bo Aristophanes (Mor. 853a e.v.), en in sy gebruik van die morele waarde as kriterium in die beoordeling van ʼn  werk (Mor. 14d e.v.).

Tussen die 1e en 3e eeu n.C. ontwikkel ʼn  fase wat bekend staan as die Tweede Sofistiek – ʼn  herlewing van die ideale en praktyk van die Attiese sofiste van die 5e en 4e eeu v.C. Die hoofsentra van die beweging was Efese, Smirna, Pergamon (in die Romeinse provinsie Asia) en Antiochië (in die provinsie Sirië). Die nuwe sofiste was professionele verhoogredenaars wat rondgereis en teen besoldiging by amptelike geleenthede opgetree en groot roem verwerf het. Van hulle het ook leerstoele in die retoriek beklee. Hulle het probeer om die suiwer Attiese Grieks teen die Asianisme te herstel en te handhaaf. Dit was ʼn vergeefse stryd wat kunsmatig en akademies ʼn vorm van Grieks probeer beskerm het wat in toenemende mate van die gesproke taal verwyder geraak het. Hulle dra ook min by tot teorie en kritiek. Onder die belangrikste figure was Dio Cocceianus van Prusa, ook genoem Chrusóstomos (ca. 40–120 n.C.), ʼn  reisende stoïsynse filosoof van wie tagtig toesprake behoue gebly het. In die twaalfde rede vgl. hy die beeldhoukuns met die poësie; in die agtiende verskaf hy aanbevole leesstof vir voornemende redenaars tesame met motiverings wat op kritiek van die genoemde outeurs neerkom;  en in die twee-en-vyftigste vergelyk hy verskeie verwerkings van die Philoktêtês-mite deur tragediedigters. ʼn Ander noemenswaardige figuur is Lucianus van Samosata (Sirië) (ca. 120–180 n.C.): ʼn nie-Griekse sofis en satirikus wat met gevatheid en ironie die tydgenootlike literatuur en retoriek, asook die opvattings van die sofiste aangeval het. In sy werk Die skryf van geskiedenis stel hy die soeke na waarheid bo genotverskaffing as die historikus se doel en onderskei hy die geskiedskrywing van die retoriek. Mindere literatuurkundige bydraes is gelewer deur Aelius Aristides van Musia en Smirna (129–189? n.C.), Flavius Philostratos (ca. 170–244/249 n.C.), Hermogenes van Tarsus (2e eeu), wat almal oor aspekte van styl en retoriek geskryf het, en Aristides Quintilianus (3e–4e eeu n.C.) wat ook ʼn  belangrike bron oor die antieke musiekteorie is.

In die 3e eeu lewer enkele skrywers kompilasiewerke wat heelwat informasie verskaf oor bestaande opvattings (i.v.m. genres, styl, taal), oor skrywers se lewe en werk en oor sosiale, politieke en godsdienstige aangeleenthede. Oorspronklik en altyd betroubaar is hulle nie, maar in baie gevalle is hulle die enigste bestaande bronne vir bepaalde gegewens en selfs van fragmente van liriese en elegiese digters. Hier is Athenaios van Naukratis en Diogenes Laertius die belangrikste voorbeelde. Die werk van Proklos, die Chrestomatheia, is vir ons bewaar in die Bibliotheka van Photios, ʼn Bisantynse geleerde en patriarg van Konstantinopel (858–867 en 878–886); dit is die hoofbron vir ons kennis van die Alexandrynse kategorieë van die Griekse liriekvorms. Die beroemde Neoplatonis, Plotinos (205–270), herformuleer die mímêsis-teorie van Plato om die intelligensie van die skeppende kunstenaar te akkommodeer.

Uit die 5e eeu n.C. kom die werk van twee samestellers: die ensiklopedis Johannes Stobaeus met sy Anthologion, en die leksikograaf Hesuchios van Alexandrië. Albei is nuttige bronne van die antieke Griekse literatuurkunde vir die student.

Wat die Romeinse literatuur en literatuurondersoek betref, is dit in ʼn baie groot mate ʼn voortbouing op die Griekse, Klassieke en Alexandrynse. Teorieë en kritiese metodes is oorgeneem, geherformuleer, aangepas en vir die nuwe taalsituasie relevant gemaak. Hierdie proses het dus ook vernuwing en eie bydraes behels, maar steeds binne die raamwerk wat deur die Griekse teoretici gestel is. Dus imitatio én aemulatio. Die retoriek oorheers in die opvoeding en druk sy stempel af op die politieke en hofredevoering, op die werk van die onderwysers (grammatici) en op die literatuur en literatuurondersoek. Die skrywer van Latyn het dus altyd ʼn bewuste kuns vir ʼn gehoor van “ingewydes” beoefen.

Verskeie periodes kan onderskei word. Eerstens die Republiek tot 30 v.C. Krates van Mallos se besoek aan Rome in 169 v.C. was belangrik vir die ontwikkeling van die Romeinse literatuur. Daar was reeds vroeër ʼn inheemse, eie tradisie van kuns- en veral poësieskepping, maar die invloed wat van die kontak met die Griekse beskawing in die 2e eeu v.C. uitgegaan het, het die Latynse teorie en praktyk eeue lank bepaal. Aanvanklik is Griekse werke vertaal of verwerk en word weinig literatuurteorie gevind. Dit is eers met die komedieskrywer Titus Maccius Plautus (ca. 250–184 v.C.) dat daar kritiese standpuntinname verskyn. Hy wyk nl. af van die gebruik om in die proloog van ʼn komedie die ontknoping van die intrige vooraf aan te kondig. Sy opvolger, Publius Terentius Afer (ca. 190–ca. 159 v.C.), lid van die Scipiokring van Filhellene, gaan ʼn stap verder en gebruik die proloog om sy werkwyse van die contaminatio (d.w.s. die sintese van ver­skeie Griekse komedies om één te vorm) asook sy kalmer en subtieler HUMOR te verdedig. Bydraes van ander is weens verlies van hulle werk onbepaalbaar. Die satirikus, Gaius Lucilius (180–103 v.C.), behandel in bestaande fragmente van sy werk aspekte van styl en taalgebruik. Die werk van die grootste Romeinse geleerde van sy tyd, Marcus Terentius Varro (116–27 v.C.), het volgens antieke getuienis 490 boeke behels, waarvan ons 55 titels ken. Daar bestaan nog net sy werk oor die Latynse taal en literatuur (De lingua latina) en oor die landbou (De re rustica). In eg. behandel hy die twis tussen die Anomaliste (wat op die onreëlmatighede van taal gekonsentreer het en dus die gebruik, en nie reëlmatigheid nie, as kriterium vir goeie taalgebruik gestel het) en die Analogiste (wat algemene beginsels van taalgebruik afgelei en as wetmatighede gestel het). Hy verduidelik ook die rol van die grammatici in die opvoeding van die jeug, nl. lees (lectio), vertolking (narratio), tekskritiek (emendatio) en evaluering (indicium), en die drie stylsoorte (oorvloedig, eenvoudig en middel) aan die hand van voorbeelde. ʼn Anonieme traktaat, die Auctor ad Herennium (ca. 80 v.C.) verskaf ʼn Latynse retoriese terminologie en bespreek voorbeelde.

Die werk van Marcus Tullius Cicero (106–43 v.C.) steun meestal op Griekse voorgangers, en gaan hoofsaaklik oor die redenaarskuns as hoogste vorm van literêre uiting. Daar is min direkte of volgehoue literatuurteorie of -kritiek as sodanig: die opvoeding en opleiding van die redenaar bly primêr. Cicero het nie veel smaak of liefde vir die poësie van sy tyd gehad nie: hy het die ouer digters soos Ennius verkies bo die jonger geslag, die sg. “nuwe digters” (poetae novi), waaronder ook die liriese digter Catullus getel kan word. Cicero sou volgens Seneca (Epist. 49.5) gesê het dat hy selfs in ʼn tweede lewe nie vir liriese poësie tyd sou vind nie. In ʼn gedig (“Carmen 49”) verwys Catullus dalk neerhalend en ironies na Cicero se eie digpogings wat, te oordeel aan die enkele oorblywende fragmente, nie ʼn  groot bydrae tot die Latynse literatuur was nie.

Cicero se opvattings oor die retoriek (soos ook oor die filosofie) is grotendeels eklekties en gemik op die algemene opvoeding van die redenaar in die filosofie, politiek, geskiedenis, regte en reto­riek. Sy belangrikste teoretiese werke is die Brutus, ʼn geskiedenis van die Romeinse redenaarskuns, die De oratore, wat die aard en wese van die redenaarskuns en opleiding van die redenaar betrek, en die Orator, waarin hy sy eie, oorwegend Asianistiese styl en teorieë verdedig. Meer spesifiek bespreek hy die voordele van die Asianisme teenoor die Attisisme (bv. Orat. 22–32; De optimo genere oratorum), die drie stylsoorte en die ideale orator (Orat. 75–121), die drie doelwitte van die redenaar, nl. onderrig (docēre, probáre), behaag (delectáre, conciliare) en beïnvloed (fléctere, movēre), en woordrangskikking (collocatio). In De oratore (2.216–90) gee hy een van die volledigste behandelings van die aard en gebruik van GEESTIGHEID in die Klassieke Oudheid.

Die tweede periode is die Augusteïese wat strek van 30 v.C. tot 14 n.C.

Onder die keiser Augustus floreer die Latynse literatuur in wat gewoonlik die Klassieke (of Goue) periode genoem word.

Literêre “kringe” soos dié rondom Gaius Maecenas of Marcus Valerius Messalla Corvinus, asook die keiser Augustus se rap­port met en ondersteuning van digters soos Vergilius en Horatius, is simptomaties van die destydse literatuuraktiwiteite, sowel skeppend as krities. Die digters bely hulle imitatio en aemulatio van Griekse modelle, maar vertoon ook ʼn  vertroue in hulle vakmanskap en gekose genre, en ook ʼn  bewustheid van hulle positiewe rol in die samelewing.

Van die teoretiese bydraes wat behoue gebly het, is dié van Quintus Horatius Flaccus (64–8 v.C.) die volledigste en belangrikste. Self lirikus en satirikus van die eerste rang, teoretiseer hy oor die digterskap in verskeie gedigte in sy versameling Sermones (“Geselsstukke”). In Satire 1.4 beskou hy die SATIRE as genre, en in dié proses lewer hy kritiek op sy voorganger Lucilius. Laasgenoemde het te veel geskryf sonder om dit af te werk, en sy tipe satire was te skerp en nydig (vgl. ook Sat. 1.10). In Brief 1.1 verduidelik hy dat hy die liriese poësie verlaat het om hom toe te lê op die etiese vraagstukke van die alledaagse lewe, soos in sy Ser­mones vergestalt. Ander versbriewe sny literêre probleme aan: sy weiering om lofpoësie vir Augustus te skryf, en sy afkeer van die mode om die ou digters te aanbid ten koste van begrip vir die jonger digters (Epi. 2.1); die eise wat die “hoë” poësie aan die digter stel (taalvernuwing, selfkritiek, herskepping, dissipline, sosiale rol) en hom derhalwe na die “filosofie” (d.w.s. Sermones) laat keer (Epi. 2.2); en die regverdiging van sy liriese gedigte, Odes I-III, wat ʼn  swak ontvangs met hulle publikasie gekry het, asook die werking van die ingenium (aangebore talent) en ars (aangeleerde tegniek), en die digter se rol in die samelewing (Epi. 2.19). In sy sg. Ars poetica (Epistula ad Pisones of On the Art of Poetry) gee hy aandag aan die drama en epos. Vorige Griekse teoretiese beskouinge (bv. van Aristoteles, Neoptólemos van Paros en Philodemos) word eklekties gebruik en vir die Romeinse situasie relevant gemaak. Die hooftemas wat ter sprake kom is: die eenheid van die gedig; ars; die keuse van stof en woorde (reëls 1–41); woordrangskikking en woordegebruik, veral i.v.m. genre en styl (42–118), stof en karaktertekening in drama en epos (119–152); drama: karakters, handeling, die vyf bedrywe, die deus ex machina, die aantal akteurs, die koor, musiek, die saterspel, versmaat, ars, die Griekse en Romeinse drama (153–294); die digter: sy opleiding, kwalifikasies en doelwitte (lering en genot); die perfekte en mal digter (perfectus en versanus poeta); standaarde; die voordele van die poësie vir die mensdom; die literatuurkritiek en die rol van die kritikus; PARODIE van die mal digter (295–476).

Die ander bydraes uit hierdie periode is beperk tot enkele fasette of idees. Lucius Annaeus Seneca, die Ouere (ca. 57 v.C. –ca. 37 n.C), verskaf informasie oor die twee vorms van deklamasie wat in die retoreskole as oefeninge gefigureer het: die controversia, waarin ʼn standpunt in ʼn denkbeeldige hofsaak verdedig word, en die suasoria, waarin raad aan historiese of denkbeeldige persone oor ʼn  bepaalde optrede of krisis gegee word. Vanuit sy ballingskap langs die Swartsee verdedig Publius Ovidius Naso (43 v.C. –17 n.C.) sy poësie teen die aanklag van onsedelikheid deur o.a. die wêreld binne die gedig van die werklike lewe van die digter te skei (bv. Tristia 2.353 e.v.; 4.10.1–64).

Derdens is daar die “Silwer”-periode (1e–2e eeu n.C.).

Met die verandering van Augustus se verligte prinsipaat na ʼn  politieke bestel waarin die keisers al hoe meer despoties opgetree het, is die vrye en individuele kunsskepping geïnhibeer. Die praktiese rol van die redenaar in hof, senaat en forum verminder in die aangesig van outokratiese keisers. Die redenaarskuns word ʼn opleiding in teoretiese oefeninge, en die stof en taal raak verwyderd van die alledaagse lewe. Die literêre smaak verander in ʼn samelewing van toenemende welvaart: die gepunte styl met sy kort sinne, antitetiese gedagteontwikkeling en geneigdheid tot slim kwinkslae (sententiae) verdring die voller en gladder klas­sieke styl in die prosa en poësie. Vir konserwatiewe stiliste was dit ʼn agteruitgang van die literatuur en retoriek, en ons benaming “silwer” (teenoor die voorafgaande “goue” tydperk) bestendig hierdie opvatting en lei tot die miskenning van heelwat meriete in die literatuur en literatuurkunde van hierdie periode.

Die jonger Lucius Annaeus Seneca (ca. 4 of 1 v.C. –65 n.C.) be­handel in sy Epistulae morales veral stylprobleme: die verband van styl met karakter en tydsgees (114), styl as die inkleding van gedagte (115), en die styl van die filosoof (100). Hy verdedig die nuwe puntige styl aan die hand van analise en voorbeelde (40; 100) en deur sy eie praktyk. Ook in die tyd van Nero skryf die enigmatiese Petronius Arbiter sy Satyricon, waarvan die Cena Trimalchionis (“Ete by Trimalchio”) die gedeelte is wat die beste bewaar is. Daarin word o.a. die spot gedryf met die absurditeite van die retoriese deklamasie (1–4), die agteruitgang van die smaak word betreur (83) en die ware digter word gedefinieer (118). In lg. bespreking kom die bekende verwysing na Horatius se curiosa felicitas (“sorgsame vindingrykheid”) voor wat aan sowel die ars as die ingenium in hierdie lirikus se poësie erkenning gee.

Marcus Fabius Quintilianus (ca. 35–ca. 100 n.C.) strewe in sy teoretiese werke daarna om die klassieke styl van Cicero te herstel. Ten spyte van sy gesag as eerste professor in die retoriek in Rome en die gehalte van sy werk, was sy invloed beperk en sy stryd vergeefs. Eers in die Renaissance gaan daar werklike invloed van sy werk uit.

Sy groot werk is die Institutio oratorio, die “Opleiding van die redenaar”, waarin ʼn  oorsig van die hele veld van die Griekse en Romeinse retoriek en opvoeding, tesame met sy eie menings en ervarings as leermeester, in twaalf boeke aangebied word. Die opleiding van die redenaar word geskets, wat ʼn  beeld van die Romeinse opvoedingstelsel gee. Boek 1 en 2 behandel die algemene beginsels en elemente van die opvoeding, gebruik as kriterium vir korrekte taal, en gee verskeie definisies en vorms van die retoriek. Hy wys op die foute van die deklamasie-oefeninge en pleit dat hulle aan die werklikheid gekoppel moet bly (2.10). Boek 3 tot 7 behandel die vyf aspekte van uitdrukking: inventio (die versameling van stof en argumente), dispositio (die uiteensetting daarvan), elocutio (styl), memoria (die rol van geheue) en pronuntiatio (die voordrag), asook die drie soorte retoriek (forensiese of hofretoriek, deliberatiewe of filosofiese, en epideiktiese of vertoonretoriek) en die drie funksies van die redenaar (officia oratoris), nl. om te bewys (probáre), te behaag (delectáre) en te oorreed of te beïnvloed (movēre). Boek 8 en 9 konsentreer op die verhouding van styl tot tema, en op die vier styldeugde: suiwer taalgebruik (latinitas), helderheid (luciditas), versiering (ornamentum) en gepastheid (decorum), asook die figure van denke en taal (bv. die METAFOOR) en woordplasing met inagneming van klank, sinstruktuur en ritme. Die tydgenootlike styl word implisiet en eksplisiet (8, praefatio) aangeval. Boek 10 gaan oor lees, skryf en praat en behels ʼn vergelykende oorsig van Griekse en Latynse outeurs wat as aanbevole leeswerk vir die voornemende en praktiserende redenaar aangebied word, asook die probleem van die nabootsing (imitatio) van modelle. Boek 11 brei uit oor decorum, memoria en pronuntiatio, en boek 12 gee ʼn beeld van die ideale orator as goeie mens. Vir die literatuurteorie en -kritiek is veral boek 10 se beoordeling van Griekse en Latynse skrywers belangrik, omdat dit aan die hedendaagse student vir sy studie van daardie skrywers ʼn voorbeeld van klassieke evaluering en kriteria verskaf.

Aan die groot geskiedskrywer en kunsprosaïs, Cornelius Taci­tus (ca. 56–113 n.C), word die Dialoog oor die redenaars (Dialogus de oratoribus)  toegeskryf. Dit handel oor die verhouding tussen die retoriek en die poësie en bespreek o.a. die oorsake vir die agteruitgang van die redenaarskuns, die tekortkominge van tydgenootlike redenaars en die ou teenoor die nuwe stylsoorte.

Die literêre briewe van Gaius Plinius Caecilius Secundus (ca. 61–ca. 112 n.C.), leerling van Quintilianus, versinnebeeld die vrugteloosheid van die groot leermeester se ideaal om die Klas­sieke te herstel; die jongere Plinius skryf ook in die nuwe styl. Hy verdedig dit eksplisiet (1.20). Alhoewel daar min oorspronklike literêre idees by Plinius te vinde is, verskaf hy tog ʼn belangrike insig in die aard en rol van skrywers se openbare voordrag van hulle werke (2.19) – een van die wyses waarop die Latynse skrywers hulle werk aan ʼn  wyer publiek bekend gestel het. Vergilius en Horatius het aan Augustus en die keiserlike familie uit hulle werk voorgelees, maar Horatius het geweier om van die openbare voordrag gebruik te maak. Plinius skryf ook oor moraliteit en verhewenheid in die poësie (4.14; 9.26).

Nog drie figure verdien die aandag: Gaius Suetonius Tranquillus (gebore ca. 69 n.C.), wat in sy De viris illustribus (“Oor beroemde manne”) o.a. biografiese gegewens oor skrywers soos Terentius, Vergilius en Horatius opgeteken het; Aulus Gellius (ca. 130–180 n.C.), wat skrywers met mekaar vergelyk het (9.9; 12.2; 17.10); en Marcus Cornelius Fronto (2e eeu), die leermeester van die filosoof-keiser Marcus Aurelius, wat uit protes teen die styl van Seneca terug na die argaïese Latyn van vóór-Cicero en vóór-Griekse invloed wou gaan – ʼn  poging wat net so kunsmatig en vrugteloos was as Quintilianus se Klassisisme, en wat die finale skeiding tussen die literêre en gesproke Latyn goed illustreer.

Die volgende fase, daarmee ʼn  vernuwing en bevraagtekening van die uitgediende idees in die literatuurteorie en -kritiek, sou van ʼn  nuwe front kom: die Christenskrywers soos die kerkvader Augustinus en die digter Prudentius.

 

Bibliografie

Atkins, J.W.H. 1934. Literary Criticism in Antiquity. London: Methuen.

Brink, C.O. 1963. Horace on Poetry: Prolegomena to the Literary Epistles. Cambridge: Cambridge University Press.

Brink, C.O. 1971. Horace on Poetry: The ‘Ars poetica’. Cambridge: Cambridge University Press.

Easterling, P.E. & Knox, B.M.W. 1985. The Cambridge History of Classical Literature. I: Greek Literature. Cambridge: Cambridge University Press.

Fantuzzi, M. & Hunter, R. 2004. Tradition and Innovation in Hellenistic Poetry. Cambridge: University Press.

Fränkel, H. 1975. Early Greek Poetry and Philosophy (transl. M. Hadas & J. Willis). Oxford: Blackwell.

Gentili, B. 1990. Poetry and its Public in Ancient Greece from Homer to the Fifth Century. Vert. deur A.T. Cole. Baltimore & London: Johns Hopkins University Press.

Grube, G.M.A. 1965. The Greek and Roman Critics. London: Methuen.

Harriot, R. 1969. Poetry and Criticism before Plato. London: Methuen.

Havelock, E.A. 1963. Preface to Plato. Oxford: Blackwell.

Janssen, H.H. 1956. Latijnse Letterkunde. Haarlem: De Erven F. Bohn N.V.

Kenney, E.J. (ed.). 1982. The Cambridge History of Classical Literature: II Latin literature. Cambridge: Cambridge University Press.

Lesky, A. 1966. A History of Greek Literature (transl. J. Willis & C de Heer). London: Methuen.

Rose, H.J. 1956. A Handbook of Greek Literature. London: Methuen.

Rose, H.J. 1936/1958. A Handbook of Latin Literature. London: Methuen.

Russell, D.A. & Winterbottom, M. (eds). 1972. Ancient Literary Criticism: The Principal Texts in New Translations. Oxford: Claren­don Press.

 

 
W.J. Henderson